| ||||
Johann Rossouw *Redakteur Die geleidelike verengelsing van die Afrikaanse universiteite – wat so raak beskryf word met die term “Histories Afrikaanse Universiteite” (HAU’s) – is nou sowat tien jaar lank aan die gang. Gedurende die tweede helfte van die 1990’s het ’n klein groepie Afrikaanse intellektuele – hoofsaaklik Afrikaners om presies te wees – hieroor alarm begin maak. Destyds is minstens twee openbare byeenkomste gehou om oor die saak te besin, die een in Oudtshoorn, die ander te Hammanskraal, gefasiliteer deur Fragmente: Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek. Hierdie alarm het nie hond haaraf gemaak nie. Om die waarheid te sê, is hierdie alarms dikwels verdag gemaak of afgelag. Twee ministeriële komitees oor taal en universiteite, onderskeidelik onder voorsitterskap van Neville Alexander en Jakes Gerwel, het gekom en gegaan. Die verengelsing van hierdie universiteite het voortgeduur. Langs die pad was daar verskeie belangrike bakens, bakens wat ’n mens miskien gevegsbakens kan noem, tye toe die groepie intellektuele probeer het om die gang van die stroom te verlê. Een so ’n baken was die hersiening van die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) in 2002. Nog so ’n baken was die poging om die uitbreiding van dubbelmediumonderrig, oftewel die T-opsie, na derdejaarsvlak aan die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die US vanaf 2006 te stuit. Die verengelsing van hierdie universiteite het voortgeduur. (’n Tussenopmerking: dit is inderdaad gepas om van gevegsbakens te praat, aangesien dit telkens gegaan het om ’n verbete geveg van die groepie intellektuele teen die proses van verengelsing, ’n proses waarvan die onderliggende keiharde ideologiese voorkeure telkens versteek is agter beroepe op die onvermydelikheid daarvan – die oudste ideologiese truuk van die moderne tyd, waarin kritieke veranderinge as onskuldige tegniese sake voorgestel word. Telkens is die versetvegters dan ook voorgestel as emosioneel, onverdraagsaam, regs, reaksionêr, onverdraagsaam, oudmodies, in so ’n mate dat om ’n taalstryder genoem te word, die grootste skeldnaam denkbaar is. Daarenteen was diegene wat die proses gedryf het, telkens voorgestel as rasioneel, besadig, realisties en dies meer, alles byeengebring onder die groot noemer van bestuur – die groot moderne kenmerk van die gebrek aan demokrasie, deelname of, les bes, goeie bestuur, goeie bestuur synde onmoontlik sonder die goeie oordeel, wat op sy beurt onmoontlik is sonder die praktiese wysheid voortspruitend uit ’n lewe in en ’n verbondenheid aan ’n gemeenskap. Niemand het ooit vir goeie bestuur gesterf nie, maar die logika onderliggend aan bestuur is sonder uitsondering in die moderne tyd ’n voorvereiste vir stelselmatige verwoesting, geweld en onderdrukking.) Van al die gevegsbakens sedert die tweede helfte van die 1990’s is die een wat die uitbreiding van dubbelmediumonderrig aan die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die US merk, moontlik die belangrikste, en wel om die volgende redes: 1) Dit het groter openbare teenstand as enige ander stap van verengelsing aan Afrikaanse universiteite sedert 1995 ontlok; 2) Hierdie teenstand het oor talle historiese verdelingslyne gestrek; 3) Dit het betrekking op die instelling wat die voorwaarde vir die skepping van ’n Afrikaner-intelligentsia was; 4) Dit het steeds misluk om die bepaalde stap van verengelsing te stuit As ek hier die woord ”misluk” gebruik, is dit met ’n bepaalde kwalifikasie: as daad van gemeenskapsmobilisasie was dit moontlik saam met die weerstand teen die naamsverandering van Pretoria die belangrikste burgerlike sukses onder Afrikaners in die besonder sedert 1995, ofskoon dit steeds nie daarin kon slaag om die teiken van protes te behaal nie. Ek gebruik ook die woord misluk, omdat juis hierdie spesifieke mislukking, wat tog ’n sukses was, diegene noop wat werklik erns met ’n Afrikaanse universiteit het om bestek op te neem oor die pad vorentoe. As ons dit nie doen nie, loop ons die gevaar om telkens te lyk soos die samoerai’s wat aan die laaste groot slag van hulle roemryke geskiedenis in 1867 deelgeneem… en meesal glorieryk omgekom het. Of, om ’n voorbeeld nader aan ons te gee, soos die Bittereinders in die Anglo-Boereoorlog, wat uiteindelik met die feit gekonfronteer is dat om op daardie bepaalde manier die stryd voort te sit, uiteindelik tot die uitwissing van hulle gemeenskap self sou lei. Uit hierdie historiese voorbeelde kan ons aflei dat dat ’n geveg, hoe edel ook al, onder sekere omstandighede uiteindelik skouspelagtig, dog noodlottig reaksionêr kan word. Die geveg rondom die toekoms van Afrikaanse universiteite het moontlik presies nou so ’n punt bereik, want laat ons geen illusies hê oor die simboliek van juis die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die US wat kies om te verengels nie: die kennis wat aan hierdie fakulteit oorgedra word, is nie in die eerste plek oor wat jy kan doen nie (soos in die natuurwetenskappe), maar oor wie jy is. Die vraag oor wie jy is, oor wie ons is, is dan ook die een wat in die eerste plek in 1857 tot die stigting van die voorloper van die US, die Victoriakollege vir die opleiding van Afrikaanse predikante, aanleiding gegee het: hier was die eerste impuls om die toekoms van ’n sekere soort Afrikaner – Christelik en Afrikaans – te verseker (met al die foute wat by maklike, alte maklike nabetragting gemaak is). Die stand van enige gemeenskap hang in die eerste plek van sy simboliese inhoude af, dit wat gebeur op religieuse, estetiese en politieke vlak, daardie dinge wat op universiteit in die fakulteite van lettere en teologie geïnstitusionaliseer word. (Hier moet ons dus ook nie die besondere ironie miskyk nie van die Fakulteit Teologie van die US, wat reeds enkele jare gelede stil-stil en sonder enige noemenswaardige openbare protes die weg van dubbelmediumonderrig gekies het.) Kortom, ek wil beweer dat die verengelsing van hierdie twee fakulteite aan juis die US nie in die eerste plek te make het met sake soos groter toeganklikheid, begrotings, bestuur of dergelike tegnokratiese of polities korrekte (en soms selfs verdienstelike argumente) nie. Dit gaan ook nie in die eerste plek om ’n verbete wil by die deurvoerders van hierdie proses om Engels te wees nie. Ek is trouens oortuig dat die verskillende apologete van die proses ernstig is as hulle sê, “Ons wil nie die universiteit verengels nie”. Nee, waarom dit hier gaan, is die weiering of, in sagter vorm, die onwilligheid om ’n Afrikaner te wees. Ek sê spesifiek om ’n Afrikaner te wees, omdat die belangrikste drywers van hierdie proses feitlik deur die bank Afrikaners (en meesal Afrikanermans in hulle vyftigs) is, oftewel presies daardie groep wat vandag kollektief in Suid-Afrika onder die grootste simboliese druk van die orde verkeer. Miskien is dit omdat hulle, synde steeds aktief in die professionele lewe, die nouste met die vorige bedeling verbind kan word, die mees verdagte is, die groep op wie die grootste onus rus om hulle lojaliteit aan die nuwe bedeling te bewys, wie se professionele en materiële oorlewing selfs van hierdie bewys afhang. Kan dit die rede wees waarom soveel van hulle dan so hard en duidelik hul lojaliteit teenoor die huidige bedeling betuig? Of hul weersin in die vorige bedeling? Tot op die punt waar hulle volkome eerloos optree, en juis daardie slaafse aanvaarding van gesag beliggaam wat vir Afrikaners so fataal in die vorige bedeling was. En is dit dan vreemd dat soveel van hulle met soveel selfontkenning optree, transformasie teologies verstaan as ’n nimmereindigende proses van innerlike verandering, waarvan die allerbelangrikste aspek gesindheid is? Dit sou maklik wees om hierdie groep te hard te oordeel, soos talle mense dan ook doen. Maar dit sou te maklik wees, omdat dit nie vra wat agter hulle optrede sit nie – en waarom dit soveel stilswyende instemming by baie Afrikaners, veral jongmense, vind. Onder talle moontlike redes wat ek hier kan aanvoer, wil ek die een uitsonder wat die voorsitter van die FAK, Danie Goosen, uitgelig het in sy opening van die FAK-kongres verlede September, naamlik dat die meeste Afrikaners die werklikheid vandag as ’n ramp ervaar (1). Hierdie rampbewussyn spruit voort uit die heimlike aanvaarding dat ons, Afrikaners, uiteindelik misluk het, en dan veral in die politiek (wat dan ook verklaar waarom Afrikaners juis so apolities geword het). Hierdie rampbewussyn manifesteer in talle vorme van patologiese gedrag: onttrekking aan die openbare lewe, groeiende kollektiewe depressie, groeiende dwelmmisbruik onder jongmense, die obsessie met finansiële sukses, die onwilligheid om te dink, en so meer. Al hierdie simptome is deel van Afrikaners se kollektiewe simboliese ellende, ’n toestand wat uit die onlangse politieke mislukking van apartheid voortspruit en wat, as dit nie opgelos word nie, lei tot verskillende vorme van ontvlugting, waarvan bogenoemde simptome almal voorbeelde is. In meer banale politieke terme kan ’n mens dit verwoord deur te sê dat waar Afrikaners se etniese identiteit vir hulle by verskeie geleenthede – die Groot Trek, die stigting van die verskillende republieke in die 19de en 20ste eeu, die herbouing na die Anglo-Boereoorlog – ’n bron van inspirasie en skepping was, dit vandag vir die meeste van ons ’n bron van depressie en ontvlugting is. Die ironie is dat daardie Afrikaner(man)s wat wel nog gesagsposisies in die huidige bedeling beklee, dit slegs kan doen deur die relativering, ontkenning of selfs afswering van hulle etno-linguistiese identiteit – wat gereeld vertaal word in emosionele of irrasionele aanvalle op juis daardie Afrikaners wat téén die tyd in poog om nuut oor ons te dink. Hierdie spanning is geensins nuut in die geskiedenis van Afrikaners nie – dit is trouens tekenend van enige klein etno-linguistiese gemeenskap waarvan die voortbestaan nooit sonder meer as gegewe aanvaar kan word nie. Dit is ook nie ’n spanning wat ooit opgelos sal word nie, en waarin die versoeking van diegene wat verskillende grade van keuse vir of teen hulle etno-linguistiese identiteit maak om mekaar toe te takel, gerus met vrug weerstaan kan word. Van groter belang vir die vraag na die toekoms van die Afrikaanse universiteit is die volgende: in soverre die poging om alle instellings in Suid-Afrika op grond van rassekwotas in te rig (ook bekend as transformasie en demografiese verteenwoordigendheid) voortduur, sal die daardie Afrikaner(man)s wat nog in institusionele gesagsposisies is, geen ander keuse hê as om hulle eie gemeenskapsbelange ondergeskik aan die belange van die Afro-nasionale staatsorde te stel nie. (Hulle sal dit ook en veral doen solank hulle nie met nuwe en alternatiewe idees teenoor die huidige staatsprojek toegerus is nie.) Verskeie kommentators het al aangetoon dat hierdie proses ook saam met verengelsing gaan, en ons hoef nie hier verder aandag aan hierdie ysere wet te gee nie. Wat egter wel van belang is, is dat die geveg om Afrikaanse universiteite nou die punt bereik het waar twee dinge duidelik is. In die eerste plek sal die verengelsing van hierdie instellings onder die huidige politieke bedeling nie omgekeer kan word nie – daar is ook enorme kommersiële belange in die spel, waarop ek nie hier verder wil ingaan nie. (Lees Henk Smal se artikel op p.12) In die tweede plek het juis die jongste geveg rondom die US getoon dat daar inderdaad beduidende openbare steun vir ’n Afrikaanse universiteit is, steun en energie wat nou in die regte rigting gestuur moet word, as almal van ons wat tot die idee van ’n Afrikaanse universiteit verbind is, nie wil eindig soos die laaste samoerai’s of die Bittereinders nie. Kortom, ons moet ons energie van die reaktiewe na die aktiewe, van die verlede na die toekoms skuif. Die gesprek oor die Afrikaanse universiteit van die toekoms is een wat nog skaars begin, maar wat nou moet begin as ons dit wil skep. Ter afsluiting wil ek enkele riglyne voorstel vir die gesprek oor so ’n universiteit: 1) Die gesprek kan nie gevoer word sonder verwysing na die proses van globalisering nie. As ons aanvaar dat die industriële modernisering van die wêreld tot tyd en wyl klaarblyklik deur verskillende fases beweeg, ’n soort reguit lyn wat min variasies toelaat buiten gevalle waar die wil en die insig tot ’n ander modernisering bestaan, kan ons met vrug kennis neem van die toenemende krisis van die universiteit in die Weste, waar ’n al hoe duideliker verdeling tussen skepping en verbruik, kennis en vermaak, na vore tree. Die ironie van die huidige “transformasie” van die (Suid-)Afrikaanse universiteit is dat dit volledig in hierdie krisis ingeskryf staan, weliswaar geregverdig deur edele ideale soos groter toeganklikheid – wat onvermydelik tot vervlakking en grootste gemene deler lei, en nie voortreflikheid nie. Umberto Eco en andere is byvoorbeeld tans in Italië besig met die bou van ’n elite-universiteit wat eksplisiet vir voortreflikheid kies, en dit is hierdie soort voorbeelde wat ons kan inspireer. 2) So ’n nuwe universiteit sal onmiddellik misluk as dit verstaan word as ’n duplikaat van die huidige massiewe universiteite, met die kwalifikasie dat dit Afrikaans moet wees. Sulke groot instellings vereis enorme kapitaal, vermenigvuldig burokrasie en is byna onlosmaaklik van die staatsorde. Hier moet ons eerder praat van ’n kleinskalige instelling, en een wat ook geensins in stryd of mededinging met die bestaande “Afrikaanse” universiteite moet staan nie. Op gevaar van selfverwysing af dink ek aan iets soos Die Vrye Afrikaan teenoor die Afrikaanse hoofstroompers: binne die Afrikaanse wêreld kan albei gemaklik en selfs wedersyds bevrugtend bestaan, bloot omdat die registers waarbinne hulle werk so verskillend is, sonder dat die ideale waarvoor hulle staan in alle opsigte wedersyds uitsluitend is. 3) So ’n nuwe universiteit moet eintlik meer bepaald verstaan word as ’n skool of ’n akademie in die klassieke sin van die woord, waar slegs ’n klein groepie leermeesters en studente rondom die gedeelde passie vir kennis en insig verenig word, en waar die vermenigvuldiging en oordrag van kennis as voorwaarde van ’n gemeenskap (en nie van die hoofstroomekonomie of die staat nie) voorop staan. Dit gaan inderdaad om ’n alternatiewe ekonomiese model – een van deelname eerder as verbruik. 4) Dit behoort in die eerste plek as instelling van die lettere en die teologie te begin, aangesien die skeiding tussen hierdie dissiplines al hoe onhoudbaarder word (die interdissiplinêre beweging) en vir die grootste gedeelte van die Westerse geskiedenis sedert Plato tot die Renaissance nie apart gestaan het nie, en ook aangesien die alternatiewe verbeelding van wie Afrikaners is juis op hierdie terreine moet begin. 5) Dit moet verbind wees aan ’n klein kultuurpolitieke instituut, wat die administratiewe en organisatoriese verantwoordelikheid vir soiets kan aanvaar. Alle bestaande Afrikaanse akademici en studente wat tot hierdie ideaal verbind is, is potensiële medewerkers van so ’n instelling. Die eerste oogmerk moet wees om op gereelde basis geslaagde seisoenskole (winter- of somerskole) te hou, wat dan later as basis vir groter deurlopenheid kan dien. Fondse kan gegenereer word deur ’n trust te stig, maar ook deur kursusfooie. Te lank het Afrikaners in terme van enorme, duur burokratiese strukture gedink. Dit is ’n luukse wat volledig agterhaal is. Die vraag is of genoeg van ons die uitdaging sal aanvaar om kleinskalig en voortreflik vir ’n nuwe instelling te handel. _________ (1) “Ons toekoms en die ervaring van geluk”, Die Vrye Afrikaan, Vrydag 21 Oktober 2005, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=381
|