|
||||
Stefan Louw *Leraar, NG-gemeente Melville, Johannesburg
“Whose hand will I hold, so that I may walk?” August Nicholson kniel by die klein kissie, die swart gewaad van rou oor sy lyf, oor sy gesig. Eenkant, op ’n eerbiedige afstand, die windverwaaide roubeklaers. Net hy alleen, vader, eenkant, afgespan, by die graf van sy seun Daniel.
“We may question ourselves at moments like these: Did we make the right decision to settle here?” Dis later die oggend. Almal is vergader vir die gesamentlike ete buite op die grasperk. Daar hang ’n stilte rondom die etenstafels. Die vertwyfeling lê vlak in die stem van Edward Walker, die hoof van die gemeenskap. Die stilte rek. Almal wag. August Nicholson vat sy hand. “We are grateful for the time we have been given.” Die sekerheid is terug in sy stem. Die ete kan begin. Meteens, onmiskenbaar uit die woud, die gehuil van die wesens. ’n Lang onheilspellende geweeklaag. Almal hou op eet, staar na die rand van die oopte. Noah Percy grinnik. Hy is nog ’n klein kind, onskuldig, maar in die lyf van ’n jongman. Verstandelik gestrem, die dorpsidioot. Soms snaaks, soms ’n verleentheid. Altyd onvoorspelbaar. Dan begin hy histeries lag en handeklap. So begin The Village, die treffende rolprent geskryf, vervaardig en geregisseer deur M. Night Shyamalan.
The Village is ’n verhaal oor die twee primitiewe eksistensiële kragte wat ons aantrek na mekaar, wat van ons gemeenskapswesens maak: die disintegrerende kragte van smart, vrees en die dood, wat ons laat saamdrom, instinktief laat gryp na mekaar, en die regenererende kragte van liefde en hoop, wat ons onweerstaanbaar na mekaar toe lok – in omhelsing, in die huwelik, in families, in ’n gemeenskap. Uiteindelik is dit ’n liefdesverhaal wat soos alle ware liefdesverhale die oorwinnende krag vier van die band van die lewe, van gemeenskap, oor die vrees vir die dood. “Whose hand will I hold, so that I may walk?” Dis die verhaal van ’n groepie mense, verwond deur die wreedheid en pyn van die lewe, wat in hul smart mekaar vind, hande vat, ’n gemeenskap skep in ’n oopte in die middel van ’n verlate woud. Dis ’n terugeis van hul menswaardigheid, hierdie daad van hulle, ’n verbanning van die onmens wie se skadu oor hul lewens geval het, ’n in-die-lewe-roep van ’n gemeenskap waarin onskuld herwin, gekoester en gevier kan word. So kom ’n klein dorpie tot stand met ’n streng simboliese gemeenskapsorde. Dit kry egter nie uitdrukking in ’n stel steriele wette nie, want smart en pyn suiwer jou van moralisme en trek jou aan na die transendente. Daarom word die gemeenskapsorde eerder gegiet in die vorm van ’n nuwe mitologie waarin die kragte van die bose mitologies na buite verban, en die kragte van die goeie lewe na binne toegeëien word. In hierdie mitologie word hulle omring deur meer as net die woud. In die woud woon “those we do not speak of”, vreemde wesens, gevaarlik, dodelik, in rooi geklee – die kleur van bloed – “the bad colour”. Hierdie wesens word aangetrek deur die slegte kleur, en daarom is dit verbode in die gemeenskap. Tussen die gemeenskap en die wesens bestaan daar ’n delikate vredesverdrag: Ons betree nie julle woud nie, julle betree nie ons oopte nie. Die woud word afgespan deur pale met fakkels op, en ’n wagtoring met ’n klok. Daar is ’n rots op die grens van die woud waarop vleisoffers gebring word vir die wesens wanneer dit blyk dat hulle ontevrede is oor iets. Alle aksies wat die vredesverdrag in stand hou en bemiddel, word gedoen in geel liturgiese klede – “the safe colour”, die kleur van vuur, van die son, van lewe. Die grens is egter absoluut. Niemand mag dit oorsteek nie. Dit sal die hele gemeenskap in gevaar stel. Die diepste motief agter hierdie mitologie is die noodsaak van herinnering. Die ouderlinge van die gemeenskap moet herinner word aan die smart en pyn wat hulle na hierdie plek gedryf het, aan dit wat buite die grense van hul veilige ruimte vir hulle lê en wag. Verder moet dit aan hulle kinders oorgedra word. Die kinders van die dorpie moet opgevoed word oor die delikate verhouding met die wesens en gewaarsku word teen die woud. Verskeie praktyke, rituele en simbole help met die memorisering, vaslegging en versterking van hierdie verhouding tot die wesens: die jongmense moet wagstaan deur die nag, offerandes word gebring, stories word vertel oor die woud en die “towns” anderkant die woud: “wicked places, where wicked people live.” Daar is rotstekeninge van die wesens naby die woud, kelders onder die huise waarheen almal vlug indien die wagtoring se klok lui. Die slegte kleur word begrawe of vernietig waar dit ook al gevind word. Maar veral twee tekens dien as konstante herinnering: Die gehuil van die wesens in die woud, en die donker kiste in die verskillende huise: foto’s met herinnerings aan ’n vroeëre lewe, aan die pyn wat hulle na hierdie plek gedryf het. As Lucius Hunt sy ma Alice uitvra oor die kis in hulle huis, antwoord sy: “That is for my own well-being, so the evil things from my past are kept close and not forgotten. Forgetting would be to let them be born again in another form.” So kom ’n gemeenskapsorde tot stand met beelde, praktyke, rituele en narratiewe wat die delikate magsbalans met die wesens op hulle grense simbolies stabiliseer. Die donker woud daarbuite, as primitiewe argetipe van die irrasionele en die vreesaanjaende, en die oopte hier rondom hulle as primitiewe argetipe van dit wat helder, veilig en beheerbaar is. Op die manier spruit die her-toeëiening van hul onskuld ironies uit die vaslegging van ’n onderbewussyn gedryf deur vrees. Dis ’n onderhandelde skikking hierdie, tussen ’n hoopvolle toekoms in die lig van ’n wanhopige verlede, tussen een generasie se wonde en ’n volgende generasie se heelwees; ’n geïnstitusionaliseerde mitologie van vrees ter wille van ’n gerealiseerde eskatologie van hoop; ’n “Paradise lost”, onthou met die doel om ’n “Paradise regained” te behou. Met hierdie onderhandelde skikking in plek kan die lewe in die oopte voortgaan. Dis ’n mooi lewe, waarin die ideale van die gemeenskap uitgeleef word. Hul herwonne onskuld word veral geïllustreer in die vrolikheid en spel van die jongmense en kinders, in dans, gesamentlike etes, feeste, vrolike kleredrag, in formele onderrig, gesamentlike arbeid, dissipline, respek vir gesag, en ’n totale gemeenskapsorde waarin elkeen sy plek en rol en taak het, waar elke rots en hut en plek betekenis het. Vreemdhede of ongerymdhede word sinvol en met wysheid bemiddel by wyse van gesamentlike beraadslaging deur die leiers of ouderlinge van die gemeenskap. Aan die hoof van die ouderlinge staan Edward Walker (William Hurt), eertydse professor aan die Universiteit van Pennsilvanië, wat in die rolprent die karakter is wat die hart van die gemeenskap se ideale om hom verenig. The Village is egter ’n verhaal waarin hierdie gemeenskapsideaal tot in sy wortels getoets word. Die diepste motiewe en bedoelings van die gemeenskap kom in die spel op twee maniere: Aan die een kant deur die in-gedrang-bring van die vredesverdrag: Die grens is deur iemand in die dorpie oorgesteek, en die wesens reageer deur waarskuwingstekens te laat – verminkte diere en rooi merke teen die deure van die huise. Smart kruip terug in die dorpie by die afsterwe van klein Daniel Nicolson, en deur ’n gruwelike misdaad hang Lucius Hunt, die een hoofkarakter van die verhaal, se lewe aan ’n draadjie. Aan die ander kant word die gemeenskapsideaal getoets in die oopblom van die liefde – as diepste viering van gemeenskap, as diepste belofte dat die lewe mooi is en dat daar hoop is vir die toekoms, maar terselftertyd as uitdaging en transendering van die simboliese grense wat die voorwaarde is waarbinne hierdie liefdesverhouding tot sy reg kan kom. So kom die krag van liefde en die krag van vrees teen mekaar te staan in ’n stryd om die behoud van die simboliese integriteit van die gemeenskap.
Die sentrale drama speel af in ’n liefdesdriehoek tussen drie jongmense van die volgende geslag: Lucius Hunt, teruggetrokke en stil seun van Alice Hunt, Noah Percy, verstandelik getremde seun van Robert en Vivian Percy, en Ivy Walker, blinde dogter van Edward en Tabita Walker. In hierdie drie karakters en hul interaksie word die potensialiteite van die gemeenskap se onskuld dramaties beliggaam en verwesenlik. Lucius Hunt beliggaam die gemeenskap se herwonne onskuld in die transendering van die vrees en smart van die eerste geslag deur die toeëiening van redelike handeling bo irrasionele vrees. Sy naam sê iets van die helderheid van lig en van verstand. Alhoewel hy sosiaal onbeholpe en skaam is, toon hy geen vrees vir die wesens in die woud nie en versoek die ouderlinge, na die afsterwe van Daniel Nicholson, om medisyne te gaan haal in die “towns” anderkant die woud. “With regard to those we do not speak of: I am certain they will let me pass. Creatures can sense emotion and fear. They wil see I am pure of intention, and not afraid.” Later vra Ivy vir Lucius: “How is it that you’re brave when all the rest of us shake in our boots?” Sy antwoord wys op sy vermoë tot redelike handeling bo vrees: “I don’t worry about what will happen, only what needs to be done.” Later steek hy wederregtelik die grens na die woud oor. Die wesens reageer heftig deur in die aand die dorpie binne te kom, almal in angs na hul kelders te laat vlug en rooi merke teen die deure te laat. Die volgende dag met sy belydenis teenoor die ouderlinge antwoord Edward Walker hom: “Do not fret. You are fearless in a way that I shall never know.” Teenoor Lucius staan Noah Percy (Adrian Brody) as beliggaming van die irrasionele potensialiteite opgesluit in onskuld. Sy reaksie op die teenwoordigheid van die wesens, soos hierbo vertel, is ten diepste opwinding. Sy kinderlike onskuld maak hom onvoorspelbaar en gevaarlik. Hy beliggaam die inherente potensiaal van onskuld om vanuit irrasionele impulse en instink te reageer. Hy is die spreekwoordelike Trojaanse perd in die dorpie wat die kiem van pyn en smart in die hart van die gemeenskap kan loslaat. In die liefde wat hierdie twee jongmans vir Ivy Walker (Bryce Dallas Howard) ontwikkel, word die gemeenskap se simboliese stryd om oorlewing dramaties beliggaam. Sy is die toonbeeld in die gemeenskap van jeugdelike skoonheid, die karakter in wie die hart van ’n hoopvolle toekoms vir die dorpie beliggaam word. Sy is egter ook blind en het pragtige rooi hare, wat so op treffende en dubbelsinnige wyse iets van die weerloosheid en skoonheid van onskuld, maar ook die vrees en psigiese wonde van die gemeenskap verteenwoordig. Hierdie dubbelsinnigheid word ook opgevang in haar naam en van: die “ivy” of klimop, as simbool van die wildernis wat die gemeenskapsideaal kan toegegroei, en “walker” of loper, wat verwys na die inherente wilskrag om nie bes te gee en te gaan lê nie. Ivy koester al vir lank ’n diep liefde vir Lucius, maar het terselftertyd ’n speelse en kinderlike vriendskap met Noah. Soos wat die liefde begin oopblom tussen Ivy en Lucius bly Noah in haar skadu. Dit word mooi geïllustreer in haar verklaring teenoor Lucius dat haar ouer suster se hand nou gevra is in die huwelik en dat sy nou ook beskikbaar is vir toenadering deur mans – dit egter wyl sy besig is om wegkruipertjie met Noah te speel en Noah ongesiens in haar kas wegkruip as sy net daarna ’n kombers uithaal. Na die wesens ’n tweede keer toeslaan en verminkte diere as waarskuwings laat, kom sit Lucius laat die nag op Ivy se stoep. Op haar vraag waarom hy hier is, volg ’n vreemde liefdesverklaring: “Why do you lead, when I want to lead? If I want to dance, I will ask you to dance. If I want to speak, I will open my mouth and speak. Why? What good is it to tell you you are in my every thought from the time I wake? What good can come from it that I sometimes cannot think clearly or do my work properly? What gain can rise from my telling you that, the only time I feel fear as others do, is when I think of you in harm? That is why I am on this porch, Ivy Walker. I fear for your safety before all others. And yes, I will dance with you on our wedding night.” Wat duidelik hier na vore kom, is hoe bewus Lucius is dat hulle liefde vir mekaar die ambivalente moontlikhede aksentueer van gevaar en hoop, van krag en swakheid. Lucius is bewus daarvan dat die sterkpunte van sy karakter deur hul liefde in die spel geplaas word: sy vermoë om leiding te neem, word uitgedaag, sy vermoë om vanuit redelike handeling te funksioneer, begin wankel, en sy onvermoë om te vrees, kom in die spel. Lucius word as’t ware weerloos en swak voor die oopblom van hulle liefde vir mekaar. Hy voel die gevaar hier rondom aan: dat die krag van liefde om hoop te skep, ook op dubbelsinnige wyse die weerloosheid beklemtoon van die liefde. Is liefde sterk genoeg om vrees te oorwin, of is dit hiervoor te kwesbaar en broos? Hierdie vraag word dramaties ondersoek in die gebeure wat volg. Die gemeenskap word ingelig oor die voorgenome huwelik tussen Ivy en Lucius. Noah, in ’n impulsiewe daad van jaloesie, konfronteer Lucius in sy werkswinkel en steek hom twee keer met ’n mes. Noah se hande is rooi van die bloed as hulle hom vind. Vrees slaan toe midde-in die oopte. Die toenemende bedreiging van smart en pyn om die gemeenskap weer eens te oorweldig, word tot ’n krisis gedryf. Liefde, in haar weerlose vreugde, is gekwes, en hoop hang aan ’n draadjie. Lucius is ernstig gewond, en ’n infeksie dreig om sy lewe te neem. Daar is nie die nodige medisyne beskikbaar om dit te behandel nie. So word die gemeenskap voor die diepste krisis van hul bestaan geplaas. Die krisis speel hom veral af in die onderskeie keuses van Ivy en Edward Walker – die draers van die gemeenskapsideaal van die eerste en tweede generasie. In die gesprek wat volg tussen Vader en dogter word hierdie keuses op die tafel geplaas: “I am in love.” “I know.” “He’s in love with me.” “I know.” “If he dies, all that is left in me will die with him. I ask permission to go to the towns and bring back medicine.” Ivy se keuse illustreer dat die weerloosheid van die liefde ook die onoorwinlike krag daarvan is. Iets sterker as die weerloosheid van haar blindheid en haar rooi hare het binne haar ontwaak. Iets sterker as vrees: haar liefde vir Lucius – die een wat helder kan sien, vreesloos kan handel, grense kan oorsteek. Haar liefde vir Lucius is haar liefde vir die diepste ideale van die gemeenskap, vir die volkome genesing van dit wat haar vader en die ander ouderlinge na hierdie plek laat vlug het, en wat dreig om nou ’n volgende generasie te oorweldig. Sy’s ’n Walker. Soos haar pa sal sy nie huiwer om agter hoop aan te loop as smart en pyn toeslaan nie. Edward Walker se keuses is baie moeiliker. Hy word gevra om die diepste voorwaarde vir die bestaan van die gemeenskap op die spel te plaas, naamlik die handhawing van die grense tussen die woud en die oopte. Nou kom die hele simboliese orde, wat die voorwaarde is vir die integriteit van die gemeenskap in gedrang in die versugting van sy dogter. Dit skep in hom ’n diep krisis. Hy het saam met die ander ouderlinge ’n eed geneem waaraan sy vrou Tabita hom nou herinner: “I must speak up. You have a restless spirit. I know what is in your head. You’re thinking of going to the towns. Tell me I’m wrong! You have made an oath, as all have, never to go back. It’s a painful bargain, but no good can come without sacrifice. These are your words, Edward. You cannot break the oath. It is sacred!” Ten diepste is Edward se keuse ook een tussen vrees en hoop. Dis ’n keuse tussen die pyn en smart van sy verlede waarteen hy die gemeenskap wil beskerm en die belofte van die hoopvolle toekoms in die pleidooi van sy kind. Smart het egter rééds die gemeenskap binnegedring. Die vredesverdrag is geskend. Die keuse is reeds gemaak. Hy kies om te handel volgens sy diepste instink: hy laat haar gaan. Die konfrontasie wat volg met die ouderlinge is die deurslaggewende oomblik van waarheid in die rolprent. Ek haal dit volledig aan: Vivian Percy: What have you done! Edward: He is the victim of a crime! Vivian: We have agreed never to go back. Never! Edward: What was the purpose of our leaving? Let us not forget it was out of hope of something good and right! Robert Percy: You should not have made decisions without us. You have gone too far! Edward: I’m guilty Robert! I made a decision of the heart. I cannot look into another’s eyes and see the same look I see in August’s without justification! It is too painful, I cannot bear it! Victor: You have jeopardised everything we’ve made! Edward: Who do you think will continue this place, this life? Do you plan to live forever? It is in them that our future lies, it is in Ivy and Lucius that this way of life will continue. Yes I have risked – I hope I will always be able to risk EVERYTHING for the just and right cause! If we did not make this decision we could never again call ourselves innocent anymore, and that, in the end, is what we have protected here: innocence! That I am not ready to give up! August: Let her go. If it ends, it ends. We can move towards hope. That’s what’s beautiful about this place. We must not run from heartache. You know my brother was slain in the towns. The rest of my family died here. Heartache is a part of life, we know that now. Ivy is running toward hope. Let her run. If this place is worthy, she will be successful in her quest. Vivian: How could you have sent her? She’s blind! Edward: She’s more capable than most in this villiage. And she’s led by love. The world moves for love. I kneel before it in awe.
Op dié wyse, in ’n konfrontasie met hul diepste oortuiginge oor die gemeenskap, kom die ouderlinge ook tot ’n beslissing. Dis ’n beslissing waarin hulle die dreigende grense van moralisme oorkom – dat hul diepste waardes en ideale nie uiteindelik afgegrens en beheer kan word nie, maar slegs kan bly voortleef in die riskante vrylating daarvan in die duurgekoopte onskuld van hul kinders. Vrees bind mense ook aan mekaar. Dit laat jou vasklou en beskerm, minimaliseer die risiko, maar dis net in die liefde dat hoop werklik asemhaal, en dis net die rísiko’s daarvan waarin ’n gemeenskap werklik weer sy onskuld herwin, werklik herskep en geregenereer word. ’n Keuse vir die teendeel sou beteken dat hul gemeenskapsideaal ideologies word, en stug sou verouder en afsterf sonder ware hoop vir die toekoms. In hierdie keuse oorkom die ouderlinge die simboliese en psigologiese grense van hul vrees, getrek deur hul verlede en mitologies vasgelê in hul geheue, en plaas hulle hul hoop buite hulself in die deurbreek van hierdie grense ter wille van Ivy en Lucius, en in die riskante konfrontasie tussen liefde en vrees wat volg soos die rolprent verder uitspeel in die reis van Ivy deur die woud na die “towns.” ’n Belangrike verdere ontwikkeling volg. Voor Ivy haar reis begin, maak Edward aan haar bekend dat die hele simboliese orde van die woud en die wesens ’n fabrikasie is van die ouderlinge. Die wesens is bloot rooi kostuums, die vleisoffers is in die nag deur die ouderlinge verwyder, die gehuil is pype in die wind, die stories, leuens. Selfs die verminkte diere is die toedoen van een van die ouderlinge. Edward reageer op haar ontsteltenis met diep emosie: “There is no one in this village who has not lost someone irreplaceable, who has not felt loss so deeply that they question the very merit of living at all! It is a darkness I wished you would never know! (Trane) Forgive us our silly lies Ivy, they were not meant to harm!” Alhoewel hierdie ontmitologisering van die simboliek van vrees diep empatie by Ivy wek vir haar vader en die ouderlinge, help dit nie om die vrees te besweer nie. Ivy se vrees kan nie besweer word in die objektivering daarvan in simbole nie. Dis ’n vrees vir verlies, vir smart, vir pyn. Dis dieselfde vrees wat sy van haar ouers geërf het wat nou oor haar hang. Dis die vrees vir die irrasionele kragte van chaos en pyn. Onomkeerbaar neem dit weer vorm aan as sy die woud betree. In haar reis deur die woud word Ivy gekonfronteer met teenoorstaande kragte van haar naam en van wat in haar stryd voer. Die reis begin met twee jong mans om haar by te staan, maar hulle word deur vrees oorkom en draai om. Sy oorleef ’n donker, vreesaanjaende nag, Die volgende dag verdwaal sy heeltemal, met die nat broeiende woud oral om haar. Haar loopstok breek. Die vrees en angs dreig om haar te oorweldig, maar haar liefde vir Lucius dryf haar vorentoe. Later val sy in ’n diep gat, dalk ’n lokval vir wild, maar kry rakelings vashouplek. Met haar geel kleed besmeer van die modder trek sy haarself uit. Die “safe colour” is nou ook nutteloos. En dan – die besef dat sy agtervolg word. Sy begin blindelings hardloop deur die woud, kom uiteindelik te staan in die middel van ’n oopte vol bloedrooi bessies. En dan is die wese voor haar, in sy rooi gewaad, sy lang kloue, sy snorkende asem, sy dierlike gesig. Dit storm. Weereens volg daar ’n blinde angsvlug deur die woud. Sy loop haar vas in die stomp naby die gat van voorheen. Sy hoor die wese kom. Sy draai haar rug, hou haar arms oop. Op die laaste oomblik gee sy pad. Die wese skiet verby, val in die diep gat na sy dood. Noah Percy is intussen toegesluit in die “quiet room”. Toe sy ouers later kom om hom uit te haal, vind hulle dat hy die holte onder die vloerplanke ontdek het waarin een van die rooi kostuums weggesteek is. Hy en die kostuum is skoonveld. So kom Noah Percy tot ’n einde, as verpersoonliking van die irrasionele potensialiteite van onskuld, as bringer van pyn en smart: uitoorlê deur die blinde wilskrag van die liefde. Saam met hom sterf ook die houvas van vrees wat die woud op Ivy het. Sy vind weer haar pad. ’n Laaste konfrontasie lê egter nog voor. Nie meer met die kragte in haarself nie, maar met die selfs vreesaanjaender buitewêreld. Ivy volg die pad tot by ’n hoë muur, toegegroei met klimop. In ’n pragtige simboliese gebaar klim sy met desperate wilskrag teen die rankplant op en oor die muur. ’n Jong wildbewaarder op patrollie in sy motor sien haar oorklim. Sy naam is Kevin. Op sy deur: “Walker wildlife preserve”. Weereens iemand op die rand tussen onskuld en vrees. Hy gryp na sy tweerigtingradio: “There’s a girl. I’m gonna check it out.” In die keuses wat Kevin maak, kom dieselfde twee spanninge ook nou in stryd met mekaar. Aan die een kant behoort hy met agterdog en magsvertoon te reageer en haar te rapporteer, maar aan die ander kant spreek haar weerloosheid en ontbering hom aan. Sy pleit op ’n papiertjie vir die medisyne: iemand het seergekry. Sy woon blykbaar in die woud! Die huiwering en stryd lê duidelik op sy gesig. Hy is op die punt om haar te rapporteer oor sy tweerigtingradio toe Ivy vir hom vra: “What is your name?” “Kevin”, antwoord hy. “Kevin, you have kindness in your voice. I didn’t expect that.” Kevin kies om te help. “Wait here.” “The world moves for love.” Hy keer terug na sy stasie waar sy superintendent op hom wag. Wat volg, is ’n treffende illustrasie van dit waarvan die ouderlinge in die eerste plek weggevlug het, en die verontmensliking wat dit tot gevolg het. Die superintendent is besig met ’n koerant vol van nuus oor geweld en misdaad. Hier’s geen dubbelsinnigheid nie. Hierdie persoon het lankal al sy onskuld en sy menslikheid verloor. “What’s with the girl?” Sy toon is gevaarlik. “It’s just some teenagers. They were lost.” Kevin lieg sleg. “ Can I give you some advice? Don’t get into conversations. You start getting into how some of status is paying all of us, and no one is allowed to go in there and disturb the animal sanctuary. People’s interests get piqued. It’s a real easy job, Kevin. Maintain and protect the border. That’s it. A few years ago it came out in the papers that some government guys have been paid to keep plane routes from flying over this place. It was a very stressful time for me. Don’t cause me any trouble. Do not get into conversations.” Kevin maak die mediese yskassie oop en glip die medikasie ongesiens in sy sak.
Die laaste snit is waar die ouderlinge wag rondom Lucius se bed. Die nuus versprei dat Ivy terug is met die medikasie en dat sy deur een van die wesens gekonfronteer is en dit doodgemaak het. Vivian Percy bars in trane uit. “We will find him,” antwoord Edward. “We will give him a proper burial. We will tell the others he was killed by the creatures. Your son has made our stories real. Noah has given us a chance to continue this place. If that is something we still wish for.” Een vir een staan die ouderlinge op. Laaste ook die Percy’s. So kry Noah se naam ook uiteindelik betekenis, en word die irrasionele en die verwarrende daaruit verdryf. Hy is Noag, die een wat ons die kans gegee het om voort te gaan met hierdie gemeenskap. In sy toeëiening en verpersoonliking van die wesens het hy die mitologie wesenlike gestalte gegee, dit werklik gemaak. Die simboliese orde van die gemeenskap is in sy sterwe beliggaam. Die simboliese orde is nou heilig. Dis met bloed gekoop.
Die eiesoortigheid van die rolprent, en veral die einde, lê daarin dat die rolprent nie die liberale swaai maak en die mitologiese werklikheid prysgee ter wille van reïntegrasie met die breër samelewing waarin gemeenskaplike waardes prysgegee word vir individuele vryhede nie. Die keuse om die waardes en ideale van die gemeenskap te versterk in die lig van die simboliese integriteitskrisis wat dit oorleef het – nie deur die simboliese werklikheid net weer onveranderd te bevestig nie, maar deur dit te verruim met ’n nuwe narratief: die verhaal van Ivy en Lucius en Noah. |