blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Die stryd om oorlewing van Afrika se katoenbedryf 2006-01-16
Tom Amadou Seck en Francis Kern

*Onderskeidelik ’n Senegalese ekonoom, skrywer van La Banque mondiale et l' Afrique de l' ouest, l' exemple du Sénégal (Parys: Publisud, 1997);  en professor in ekonomie aan die Louis Pasteur-universiteit in Straatsburg.

**Hierdie artikel het verskyn in die Desember-uitgawe van Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin [email protected]

 

Die katoenbedryf bied ’n bestaan aan 15 tot 20 miljoen mense in Wes-Afrika, hetsy regstreeks of onregstreeks (1). Danksy die goeie gehalte daarvan, is katoen een van die min sektore waarin die donker vasteland mededingend bly. Reeds in 2001 het vier lande van die Sahel, waaronder die armste lande op die planeet (Tsjad, Burkina Faso, Mali, Benin), dus van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) die afskaffing aangevra van die massiewe subsidies wat die Verenigde State en die Europese Gemeenskap aan hulle produsente verleen (2). Hulle herinner aan die feit dat die internasionale finansiers ’n baie streng ekonomiese ortodoksie aan hulle oplê (privatisering van katoenmaatskappye, oopstelling van markte) (3), en in ruil daarvoor eis hulle die beëindiging van geïndustrialiseerde lande se dislojale praktyke. As die vrug van drie jaar se werk tussen produsente, nyweraars en nieregeringsorganisasies (NGO's) (4) was hierdie inisiatief een van die oorsake van die mislukking van die WHO se ministeriële vergadering in Cancun (Meksiko) in September 2003 (5).

 

Die eerste teenstrydigheid wat die katoenmark beïnvloed, soos wat eintlik die geval met alle primêre produkte is: dit is nie die grootste produsente nie, maar die grootste uitvoermaatskappye wat die wêreldkoerse bepaal. Sjina, die grootste katoenprodusent, is ook die grootste verbruiker: die land voer meer as 60% vanaf Afrika se handelsgebied in. As die tweede produsent, voor Indië en Pakistan, is die Verenigde State verreweg die grootste uitvoerder met 37% markaandele. Die Afrika-produsente verteenwoordig 3,6% van die produksie, maar 17% van wêrelduitvoere. Nietemin is dit Amerikaanse uitvoere wat die wêreldkoerse bepaal, en nie dié van die belangrikste produsente nie.

 

Die tweede teenstrydigheid: Amerikaanse produksie word kunsmatig gedokter danksy die ingryping van die federale regering in die vorm van direkte hulp aan produsente (3,5 miljard dollar) en uitvoersubsidies (1,5 miljard dollar) wat amper 50% van die wêreldwye subsidies vir katoen uitmaak. Die hulp van die Verenigde State en, in ’n mindere mate, dié van die Europese Gemeenskap aan Spaanse en Griekse produsente, gee aanleiding tot ’n wêreldwye oorproduksie, wat prysverlagings tot gevolg het. In 2005 het die wêreldprys gedaal tot onder 55 sent (40 Euro-sente) vir ’n pond. Teen 65 sent/pond maak produsente in Afrika reeds geen wins nie. Onder daardie prys produseer hulle teen ’n verlies en sal hulle die verboude oppervlakte in 2005-2006 moet verklein.

 

Op die donker vasteland loop die skade dieper as bloot die katoensektor. Gedurende goeie jare herbelê produsentegroepe hulle inkomste van “wit goud”: herstel van stofpaaie, bou van skole of klinieke. Hierdie vesel maak so die grootste uitvoerproduk van Burkina Faso en Mali uit.

 

Amerikaanse subsidies verteenwoordig drie keer die totale bedrag van staatshulp wat die Verenigde State aan die donker vasteland toeken. In 2004 het Mali 43 miljoen dollar aan uitvoerwins verloor, terwyl Washington se finansiële hulp 38 miljoen dollar beslaan. Tesaam met die verlaging in katoenpryskoerse lei die verhoging in die brandstofprys tot hoër  produksiekostes, veral vir lande soos Burkina Faso, Mali en Tsjad, wat nie oor direkte toegang tot die see beskik nie.

 

Gedurende die 1990’s het katoenprodusente in Afrika aansienlike pogings aangewend om by die wêreldmark se vereistes aan te pas. Onder druk van finansiers, veral die Wêreldbank, moes hulle voortgaan met privatisering van kollektiewe maatskappye soos die Maliese Maatskappy vir Tekstielontwikkeling (CMDT) wat voorheen ’n vloerprys gewaarborg het, die verskaffing van insette en die aankoop van benodigdhede (6). Hierdie proses het die kanale ten diepste ontwrig en het boere se posisie verswak. Produsente is genoop om saam te groepeer: in Burkina het hulle geslaag om sitting te verkry in die kuratorium van Sofitex, die staatsfirma wat deur die Franse groep, Dagris, oorgeneem is. Die Nasionale Unie van Katoenprodusente van Burkina Faso (UNPCB) en sy bestuurder, mnr. François Traoré, het ander produsenteorganisasies gemobiliseer – in Benin, in Mali, in Senegal, in Kameroen, in Madagaskar – en het hiermee geboorte gegee aan ’n kontinentale organisasie: die Vereniging van Katoenprodusente in Afrika (Aproca).

 

Aproca het daarin geslaag om die guns van die Katoenvereniging van Afrika (ACA), wat die belangrikste katoenmaatskappye van die substreek byeenbring, te wen. Beter nog, dit het ’n “kuberpetisie” teen die Noordelike Halfrond se landbousubsidies opgestel en 250 000 handtekeninge ingesamel. Maar ’n groot aantal politieke leiers in Afrika bly op die uitkyk vir vergeldingsmaatreëls van Washington binne die raamwerk van die African Growth and Opportunity Act (AGOA) (7).

 

Die Afrikalande poog om  katoen te dissosieer van landbou in die algemeen, in die lig van die lewensbelangrike rol wat die vesel in hulle ekonomieë speel. Hulle eis onmiddelike maatreëls, by name die stigting van ’n noodfonds ter ondersteuninig van katoenproduksie. Hulle eis ook vooruitgang in agronomiese navorsing om die stagnering van opbrengste te stuit, en hulle wil in staat wees om te onderhandel oor die inwerkingstelling van Geneties Gewysigde Organismes (GGO) wat die Verenigde State poog om af te dwing in hulle bilaterale verhoudings met die vasteland se lande.

 

Die Suid-Suid-alliansie, wat in Cancun sy verskyning gemaak het met die stigting van die G21 (8), is nie sonder teenstrydighede nie. Met betrekking tot die kwessie van landbou kan Brasilië se oorwinning inderdaad ontpop as een van agrobusiness, ten koste van familieboerdery in Afrika. Volgens die Verenigde  Nasies se Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling (IFAD), bly familieboerdery die dryfkrag van groei en produktiwiteit ten opsigte van voedselproduksie. Juis dit dra by tot voedselsekuriteit en tot die stryd teen hongersnood en armoede, veral in Afrika suid van die Sahara.

 

_________

(1) Die lande wat hoofsaaklik geraak word is Mali, Benin, Burkina Faso, Tsjad, Kameroen, Niger, Togo, Senegal, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Guinee-Bissau.

(2) Lees Denis Pesche en Kako Nubukpo, “L'Afrique du coton à Cancun: les acteurs d'une négociation”, Politique africaine, n° 158, Oktober 2004.

(3)Lees André Linard, “Le coton africain sinistré”, Le Monde diplomatique, September 2003.

(4) “L’or blanc devient poussière. Quelle voie pour le coton en Afrique de l’Ouest?”, samevattingsdokument, Oxfam– ENDA, Dakar, n° 58, April 2004.

(5) In 2003 het Benin en Burkina die klag wat Brasilië ingedien het, ondersteun – die vierde uitvoerder ter wêreld – teen Amerikaanse landbousubsidies, voor die Geskilbeslegtingsliggaam van die WHO, wat gelei het tot ’n vonnis vir die Verenigde State.

(6) Kyk die bylae “Le coton atout de l’Afrique rurale”, Le Monde diplomatique, Mei 1999.

(7) ’n Wet wat deur die Amerikaanse Kongres in Mei 2000 aanvaar is en wat die reëls bepaal met betrekking tot die Verenigde State se ekonomiese en handelsbetrekkinge met 48 Afrikalande (buiten Noord-Afrika); www.agoa.gov


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=457
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -