blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Swart Afrikaanse Skrywersimposium: Kaaps 2006-01-16
Peter Snyders

*Digter en skrywer van onder meer ’n Ordinary Mens (Kaapstad: Tafelberg, 1982)

**Hierdie lesing is gehou op 22 Oktober tydens die derde Swart Afrikaanse Skrywerssimposium by die Universiteit van die Wes-Kaapland. Die Vrye Afrikaan bedank Snyders vir die vergunning om dit hier te publiseer.

 

            Ek is ’n Kleurling (met ’n hoofletter) en my moedertaal is Kaaps. Maar my taal word nie deur hierdie regering erken nie, al praat min of meer vier miljoen mense hom op die een of ander manier.

            Kaaps is nie ’n variant of dialek van Afrikaans nie. Kaaps was ook nog nooit Afrikaans nie.

            Kaaps is ’n taal in eie reg. Wat is ’n taal? ’n Taal bestaan uit ’n leksikon (of woordeskat) en reëls. Die reëls groepeer onder die afdelings fonologie (die klankgebied), semantiek (betekenisleer), morfologie (woordvorming), en sintaksis (sinsbou van woordgroepe).

            Wanneer een (of meer) van die reëls van een taal so ver afwyk van dié van ’n ander taal dat daar ’n duidelike verskil bestaan, dan het ons twee tale. Vergelyk byvoorbeeld die tale Engels, Afrikaans en Xhosa.

            ’n Taal kan ook in hoofsaak of gedeeltelik van ’n ander taal afstam, soos byvoorbeeld South African English van Engels, Afrikaans van Nederlands en Xhosa van Zulu. Kaaps is ’n Kreooltaal, herkomstig uit sowel Nederlands as ’n mengsel van inheemse en slawetale.

            Die woordeskat van Kaaps bestaan uit Engelse en Afrikaanse leenwoorde en, in ’n mindere mate, leenwoorde uit die swart tale. Daar is ook ’n groot aantal eiewoorde wat Kaapsers (moedertaalsprekers) spontaan op hulle voete skep. Die Engelse en Afrikaanse woorde word nie as sulks beskou nie. Die woorde word as Kaaps beskou, want in Kaaps het hierdie woorde ’n ander gevoelswaarde, nes dit in enige Kreoolse taal gebeur. Tsotsitaal is eintlik ’n variant van Kaaps. Dieselfde geld vir so te sê alle “Afrikaans” wat Bruinmense (met hoofletter) dwarsdeur die land praat. Daar is ook ’n aantal wit mense sowel as Kleurlinggeleerdes wat in ’n mate Kaaps praat, maar hulle besef dit nie.

            Kaaps wyk taamlik ingrypend af van Afrikaans vir sover dit die leksikon en taalreëls betref. Ek sal praat tot my tien minute om is. Die res moet maar onverklaar bly. Ek makeer hoeka ’n tien-maande-praatjie vir hierdie onderwerp.

            Die nuwe linguistiek kyk na die ooreenkomste eerder as die verskille tussen tale. Hulle het al die klanke en reëlverskynsels wat in tale verskyn, bymekaar gemaak. Hierdie linguiste besluit toe dat hulle slegs beskaafde tale sou studeer. ’n Beskaafde taal sou ’n reëlgebonde taal wees. Die uitkoms van hierdie studie het aangedui dat alle tale, dialekte, variante – of hulle nou ’n skryftradisie het of nie – reëlgebonde is.

            Kom ons kyk kortliks na die fonologie van Kaaps: Elke taal het ’n inventaris, ’n lys klanke wat in die spesifieke taal voorkom. Hulle kom uit ’n min of meer volledige lys van die nuwe linguistiek. Die ts-klank verskyn in Duits, soos in Nazi; die z-klank in Nederlands word op sekere plekke deur die s-klank in Afrikaans vervang. Daar is ook die suigklanke van Koisan en die Ngunitale wat nie in Westerse tale hul verskyning maak nie.

            As ’n vreemde klank ’n taal binnekom, word dit vervang deur ’n klank in die versameling klanke van daardie taal, byvoorbeeld die th-klank wat in Engels se klankskat is, word vervang deur de in Afrika- ander Europese tale, of deur ze soos in Frans.

            In hierdie stadium moet ons fases van Kaaps identifiseer. Eers is daar die Oerkaaps wat uit die Pidgin ontstaan en tot ’n Kreool oorgegaan het deur insette van die slawe, Maleiers en inheemse groepe, asook die Nederlanders. Dan volg die invloed van Engels op die Kreool, en nog later die afdwing van Afrikaans op Kaapserleerlinge. Daar was ander faktore soos die Groepsgebiedewet wat gemeenskappe opgebreek het. Dit het veroorsaak dat Kaaps, soos dit vandag op die Skiereiland en elders gepraat word, baie van die Maleierinsette verloor het.

            Kaaps het as sy basis Afrikaans en bevat al die klanke wat in Afrikaans voorkom. Kaaps het aanvanklik die vreemde Engels verafrikaans deur byvoorbeeld die â-klank na ê te verander, soos in fletse, brêk, feshins. Die huidige fase toon nie meer hierdie aanpassings nie. Daar is ook die dj-klank soos in die Oerkaapse fases van byvoorbeeld djy, djou, djulle, djaloers, ensovoorts. Die huidige fase van Kaaps gebruik nie woorde soos djou en djulle nie; djy wel. Hierdie is ’n voorbeeld van hoe die Maleisiese verskynsels na die groepverskuiwings deur die oorgrote meerderheid Christenkaapsers ingesluk is.

            Kaaps maak ook gebruik van die geluidlose (silent) r soos in Engelse woorde soos father, hear, there, work ensovoorts. In Kaaps kry ’n mens soortgelyke woorde, soos vader, hoor, daar, werk ensovoorts, waar die r-klank nie uitgespreek word soos in Afrikaans nie.

            Daar is ook ’n reël wat sowel stopklanke as ander vertragende klanke afkap of gladder maak. Woorde word nie net in Kaaps gesinkopeer nie, klanke kan ook bygevoeg word. (My tyd raak kort vir voorbeelde.)

            As ons kyk na die vokale van Kaaps sowel as die sjwa (die e-klank) sien ons hoe eg inheems Kaaps is. Die ouer vorme van Kaaps het slegs die vokale a, ê, ie, ô en oe gehad. Die sjwa-klank was afwesig. Dit kom ooreen met enige Afrikataal wat Swahili as brontaal het, soos byvoorbeeld Xhosa, Tswana en so meer.

            Ons sien dikwels hoe Kaapsers lang klanke reëlgewyse verkort, byvoorbeeld aa word a. Daar was ook nie ’n ee-klank in Kaaps nie. Dit is waarom hy woorde soos weet by sy eie inventaris aanpas en dan as wiet uitspreek. Die lang oo-klank word verander na oe in woorde soos oek, soe, soes.

            Die sjwa word dikwels vervang deur a soos in byvoorbeeld gelukkag. Dit kan ook verander word na ê soos in byvoorbeeld gaseg (gesig). Lees Adam Small se skrywe, sowel as ander Kaapserskrywers, waar die leser baie meer voorbeelde sal kry.

            Voor ek hierdie klein voorsmakie oor Kaaps se fonologie met ’n voorbeeld van ’n foniese proses afsluit, moet ek u van ’n baie belangrike reël van enige Kreoolse taal verwittig: Een klank, een betekenis.

            Laat ons die foniese proses van die Afrikaanse woord  jaag volg. Die frikatief, g, is vertragend, so hy moet waai. Die jaa wat oorbly is te lank, dus word een van die a’s afgekap. Die woord ja beteken ‘dit is so’ en nie meer ‘jaag’ nie. Ons voeg ’n d voor die j en ons het die woord dja (soos in: hulle’t my gedja) wat eie aan Kaaps is.

            Jammer dat ons nie voorbeelde van die ander reëls wat van toepassing op Kaaps is, kon inkry nie. Kaaps is ’n komplekse taal, veral as ’n mens kyk hoe die huidige fase van Kaaps so baie variasies en betekenisse aan ’n enkele woord gee.


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=454
Artikel nagegaan:
    -