|
||||
Jakes Gerwel *Nelson Mandela-professor in Afrikaans, Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland **Hierdie voordrag is op 19 Oktober 2005 gehou by die opening van die derde Swart Afrikaanse Skrywerssimposium by die Universiteit van Wes-Kaapland. Die Vrye Afrikaan bedank Prof. Gerwel vir sy vergunning om dit hier te publiseer.
Dankie vir die geleentheid om op hierdie wyse deel te kan hê aan dié derde beraad van (of oor) swart Afrikaanse skrywers en skryfwerk, en ook om weer met die Departement van Afrikaans en Nederlands te kan assosieer. Die Departement van Afrikaans en Nederlands het oor baie jare ’n groot en leidende rol gespeel deur vir ’n lewende bewustheid van die verskeidenheid van Afrikaans te veg, dit te kweek, te bevorder en te vestig en, in Hein Willemse se woorde, die “niehegemoniese” ter tafel te lê. Hierdie niehegemoniese verbreding het gegeld ten opsigte van literatuurbeskouing, metodologie, tematiese oorwegings, breedte van teksinsluiting in terme van taal en geografie, die beklemtoning van maatskaplike konteks, ensovoorts. Marianne de Jong se oorsigstudie “’n Ander Afrikaanse letterkunde” wat in 1989 gepubliseer is, is byvoorbeeld grotendeels ’n teboekstelling van hierdie Departement se vernuwende en verruimende omgang met die Afrikaanse letterkunde en die Afrikaanse leefwêreld. Die eerste simposium oor swart Afrikaanse skrywers wat die Departement in 1985 gereël en aangebied het – en waaruit die tweede een van 1995 gevloei het – was ’n kerndeel van daardie nie- of antihegemoniese verruiming wat die Departement as een van sy belangrike didaktiese en wetenskaplike opdragte geëien het. Nie een van die dosente wat as generasie deel was van daardie verruiming sou jy ’n klassieke Leavisiet (navolger van die beroemde Cambridge-don dr. F H Leavis) kon noem nie; almal het egter oor die algemeen dr. Leavis se oortuiging gedeel dat die studie en dosering van letterkunde ’n fundamenteel morele onderneming is. Die grondige vervreemding tussen die Departement se studentekorps en breë voedingsgemeenskap vis-à-vis die hoofstroom en dominante uitdrukkings (insluitende literêre uitdrukking) van Afrikaans het ’n besondere opvoedkundige, kulturele en morele uitdaging gebied. Die antihegemoniese kurrikulêre en wetenskaplike pogings waarna verwys is, was deel van die respons op daardie uitdagings. So ook dus die konsipiëring, reëling en aanbieding van ’n simposium oor swart Afrikaanse skryfwerk. In Die Burger van 18 Oktober 2005 se Forum-rubriek het Valda Jansen – in 1985 ’n nuuskierige tweedejaarstudent-toeskouer en in 1995 ’n deelnemende jong skrywer – ’n baie interessante en prikkelende oorsig gelewer oor die laaste twee berade en ’n vooruitskouing gepostuleer van wat mag kom. Die hooftema, na my mening, van haar skrywe word so verwoord: “Daar sal dus, soos voorheen, oor identiteit besin moet word. Maar hierdie keer weg van etniese terme. Hopelik sal ook gepraat word daaroor dat daar oor tien jaar waarskynlik nie ’n vierde swart Afrikaanse skrywersimposium gehou sal word nie, maar eerder een wat slegs na Afrikaanse / Suid-Afrikaanse skrywers verwys.” Dit is seker wat ons almal hoop, hoop ek: dat die Suid-Afrikaanse samelewing, en vir dié bespreking in besonder die ruimte van Afrikaanssprekendheid, so sou ontwikkel het dat mense hulle in hul saam-leef sodanig uitdruk dat etniese onderskeidings nie meer werklike geldigheid het nie. Met ander woorde, dat nierassigheid uiteindelik geseëvier het. En dit alles het my weer aan die dink gesit oor “swart Afrikaanse skrywers” en “nierassigheid in Afrikaans”, laasgenoemde ’n onderwerp waarmee ek my gereeld bemoei. Nierassigheid (“non-racialism”) is in baie opsigte ’n baie spesifiek Suid-Afrikaans-ontwikkelde politieke term en samelewingskonsep. In die dekadelange teoretisering daaroor is daar heelwat besin oor die verhouding tussen nierassigheid en die maatskaplik-politieke feit van bestaande rasse- of etniese onderskeidings. Die strewe na en “struggle” vir nierassigheid kon nie werklikheidsontkennend wees met betrekking tot die bestaan van rasseverdeling nie. En sonder om nou weer die Kaap om te krap: die begrip “non-racialism” is dikwels uitgebrei om te lui “non-racialism ideally under African leadership”. Wat dit beteken het, was nie enige noodsaaklike “entitlement” nie; of dat posisies van leierskap op enige meganiese wyse “Africans” toekom nie; of dat as gevolg van die “most oppressed and exploited group” te gewees het, hulle nou op simplistiese wyse die grootste regstellingsbeloning verdien nie. “African leadership” het in daardie konteks in die eerste plek eerder verwys na ’n morele dimensie en selfs verpligting. “Non-racialism,” het ek myself bevind te skryf in daardie jare, “is the precious gift of the African people to this country.” “Africans” is dus nie in die eerste plek die ontvangers van “non-racialism” nie, maar vanweë hulle ervaring van rasseonderdrukking en hul vermoë om daaruit te kon leer oor die immoraliteit van sulke onderdrukking, die toonaangewende klas in die soeke na en skepping van uiteindelike nierassigheid. Vandaar die leidende, en dus bevrydende, rol van “Africans” in die vestiging van die “non-racial” samelewing. Ek vermoed dat daar ’n analogie te tref is met die vestiging van nierassigheid in en deur Afrikaanssprekendheid. Swart Afrikaanssprekendes – en ek gebruik “swart” nou hier in sy generiese sin soos hierdie simposium dit beoog – het ’n soortgelyke bevrydende verpligting en verantwoordelikheid. Ek het met groot aandag die volgende sin na aan die slot van Valda Jansen se rubriek gelees: “Dit is ook nou tyd vir skrywers om net skrywers te wees, sonder die bagasie van voorheen-benadeeld, sonder die vingerwysing van ons-manuskripte-word-nie-uitgegee-nie.” Dis miskien iets vir ons om oor te besin: “non-racialism in Afrikaans ideally under black leadership.” En om daardie leierskap te verstaan as iets wat weinig te doen het met posisies en “entitlement”, maar met maatskaplik-morele leidinggewing, gegrond op ’n begrip van die krag en lewenskragtigheid van die niehegemoniese. Daardie maatskaplik-morele leidinggewing sal uit die aard van die saak te staan kom teen die gevestigde en materiële mag van bestaande strukture, instellings en houdings; maar dit is juis die morele uitdaging. En inklusiwiteit en die weiering om nors-histories gedrewe te wees, is ’n ewe groot deel van daardie uitdaging. Uit alles wat ek verstaan van die werk en die lewe van, byvoorbeeld, Adam Small – ’n ikoon in die verwoordingstryd van die antihegemoniese in Afrikaans – glo ek dat hy hierdie benadering uitgeleef het en steeds sou ondersteun en onderskryf. En Vernon February, wat ook in hierdie Departement so ’n groot rol gespeel het om verruiming van die Afrikaanse literêre denkwêreld te bevorder, weet ek, sou vanaand die stel van daardie uitdaging onderskryf het. |