blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


’n Boekbeskouing van Anton Rupert: ´n Biografie deur Ebbe Dommisse in samewerking met Willie Esterhuyse (Kaapstad: Tafelberg, 2005) 2006-01-16
James Blignaut

*Deeltydse professor in ekonomie, Universiteit van Pretoria en direkteur van Jabenzi en Beatus en betrokke by GreenGrowth Strategies, drie maatskappye wat landelike ontwikkeling in Suider-Afrika bevorder.

 

            Die boek Anton Rupert: ´n Biografie hou belangrike implikasies vir enige Suid-Afrikaner in, ongeag taal- en kultuurvoorkeur.  Nie net is die boek goed nagevors en geskryf nie, maar dit is die inhoud wat oopvlek en inspireer.

            Ebbe Dommisse en Willie Esterhuyse het agter die skerms gaan loer by een van Afrika se groot seuns en bring vir ons die storie agter die storie in ’n baie toegangklike styl, wat geensins afbreuk doen aan die intense intriges en merkwaardige mylpale wat Anton Rupert se lewe kenmerk nie.  Die boek is nie ’n geskiedkundige, chronologiese weergawe van Anton Rupert se lewe nie, maar ’n tematiese beskrywing van verskeie aspekte daarvan.  Elke hoofstuk is dus letterlik ’n hoofstuk in die lewe van hierdie merkwaardige man soos wat dit oor tyd afgespeel het.  Van die temas wat gehanteer word, is die rol van vroue in besigheid, die bierstryd, die rol van kleinsake (volgens Rupert is kleinsake groot- of belangrike sake – small business is big business), die loonstryd, die ontwikkeling van die internasionale netwerk van maatskappye, Rupert en die Afrikanerpolitiek, Rupert as beskermheer van sowel die kunste as die natuur, ens.  Elkeen van hierdie temas word in diepte bespreek, en die leser word telkens teruggeneem in tyd na die vroeë dae en hoe elk van die Rupert-inisiatiewe en ondernemings ontwikkel het.  Hierdie benadering beteken dat elke hoofstuk dus eintlik op sy eie gelees kan word, maar ook dat van die gebeure herhaal word tussen hoofstukke, wat deels hinderlik is, sou ’n mens die boek van hoek tot kant deurlees.  Dit is egter ’n geringe probleem gesien in die lig dat weinig lesers die boek van meer as 400 bladsye met een lees gaan baasraak. 

            Aangrypend is Rupert se lewensfilosofie, wat meesterlik in die eerste hoofstuk uitgelig word as een van naasbestaan en vennootskap.  Reeds in die 1940’s het Rupert die insig gehad dat die mens die lewenstryd nie alleen kan aanpak en dink dat hy sal kan oorwin nie.  Die mens bestaan in samehang en vennootskap met mekaar en met die natuur binne ’n natuurlike simbiose.  Die simbiose is gebaseer op ’n algemene gesindheid – selfs ’n filosofie – van optimisme, vertroue, dankbaarheid en wederkerigheid (ek kan niks meer verwag as wat ek bereid is om te gee nie).  Hierdie algemene gesindheid is gebou op ’n ysere wil om sukses te behaal.  Rupert het sy eerste onderneming begin met tien pond in sy sak, maar met die droom om as Afrikaner sukses te behaal in die sakewêreld, wat destyds deur Engelssprekendes gedomineer is.  Anders as al sy tydgenote het Rupert ook aktief besluit om nie sy stempel af te druk op óf die mynbedryf, óf die landboubedryf nie, maar op die fabriekswese, die sektor waarin geen Afrikaner tot in daardie stadium suksesvol was nie.  Die wortels van hierdie oortuiging lê diep in Rupert se kindertyd as kind van die depressie in Graaff-Reinet, waar sy pa baie goed bevriend was met ds. Jozua Naude, die eerste predikant in die NG Kerk wat in Afrikaans gepreek het, later ook stigterslid van die Broederbond en vader van ds. Beyers Naude.  Gepraat van Beyers Naude – dié het Rupert se vader, John Rupert, begrawe op versoek van Rupert.  Dit wys op die noue band wat tussen Beyers Naude en Rupert bestaan het.  Hulle het tewens reeds in die 1960’s op dieselfde politiek-ideologiese pad gestap, gebots met die Broederbond, en die onkonvensionele weg ingeslaan, dog op verskillende terreine. 

            Met die deurlees van die boek kom jy al meer onder die indruk van hoe Rupert met volharding, ’n diep geloof en vol vertroue vanaf ’n baie klein begin homself opgewerk het tot hoof van een van Afrika se twee welvarendste families, met miljarde dollar se bates in verskeie lande.  Die boek lees ook soos die Who’s who in beide Suid-Afrika en die wêreld.  Onder sy gesinsvriende tel onder andere mense soos Nic Diederichs, CR Swart, Jim Fouché, Anna Neethling-Pohl, veldmaarskalk Lord Montgomery, Sir Francis de Guingand, Edmund de Rothschild, Robert F Kennedy, Sydney Rothman, David Rockefeller, Prins Bernhard, Prins Philip en in latere jare Nelson Mandela, wat in 1999 die presidensiële orde vir uitnemende diens aan Rupert oorhandig het.  Indrukwekkend in enige mens se boek, gegewe die nederige begin eers in die stofstrate van Graaff-Reinet en later met sy eerste onderneming, ’n klereskoonmaakdiens, in Pretoria.

            Miskien juis omdat Rupert sy multimiljard-dollar onderneming asof vanuit niks met klein besighede begin het, het hy deurlopend baie aandag daaraan gegee en was hy instrumenteel betrokke by die stigting van die Kleinsake-ontwikkelingskorporasie en verskeie verbandhoudende inisiatiewe.  Ten spyte daarvan dat hy ’n internasionale sigaretmagnaat geword het, glo hy steeds dat die beste voertuig vir ontwikkeling klein private en gemeenskapsinisiatiewe is. Hy het deurlopend die rol van kleinsake probeer bevorder, onder beide wit en swart in ’n tyd toe dit polities nie korrek was om dit te doen nie.  Hy het gepoog om die ontwikkeling van Lesotho te bevorder toe dit polities nie wenslik was om kruiskulturele kontak te bevorder nie.  Omdat hy sowel kleinsake-ontwikkeling as politieke geregtigheid voorgestaan het, was hy in ’n voortdurende stryd met die Suid-Afrikaanse regering gewikkel, soos wat duidelik na vore kom in die korrespondensie tussen hom en dr. Verwoerd, en later ook Vorster en Botha. Tog, as Suid-Afrikaner met baie buitelandse bates, moes hy ’n baie eng pad loop met sy internasionale handelsvennote wat, veral tydens die 1980’s, sanksies bepleit het.  Hier het Rupert se beleid van lojale verset hom goed te pas gekom.  Hy het hom aktief teen die regering verset deur die beleid van apartheid te kritiseer in korrespondensie met verskeie ministers en presidente, maar telkens, wanneer hy in die buiteland was, het hy Suid-Afrika eerste gestel en die beste vir die land as geheel bepleit.  Johann Rupert, Anton se oudste seun en nou aan die stuur van die Rupertsake, het in 1997 die Rupertbydrae tot verandering en nasiebou verduidelik in sy voorlegging aan die Waarheid- en Versoeningskommissie. 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=450
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -