blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Simboliese ellende: Hoe Afrikaners se simboliese produsente hulle faal 2006-01-16
Johann Rossouw

“Simboliese ellende is dit wat maak dat daar nie meer simboliese sirkulering is nie, dit wat maak dat die verbruiker ’n soort swart gat word , tot op die punt van ineenstorting .” – Bernard Stiegler, Constituer l ’Europe : 1. Dans un Monde sans vergogne (Om Europa te konstitueer : 1. In ’ n wêreld sonder skroom ), Parys : Galilée , 2005, p .107

Enkele jare gelede het Max du Preez in sy destydse rubriek in Rapport op ’n keer smalend verwys na Afrikanermans wat om ’n braaivleisvuur staan en kla oor hoe sleg dit gaan, terwyl hulle blink viertrekvoertuie buite geparkeer staan. Die implikasie van Du Preez se kritiek was dat Afrikaners kla terwyl dit eintlik nog materieel met hulle goed gaan.
Oor die materiële welstand van Afrikaners kan ’n mens lank redeneer. Jy kan verwys na die feit dat Afrikaanse koopkrag (wat natuurlik nie net nie, maar hoofsaaklik uit Afrikaners bestaan) sowat ’n derde van die ekonomie vorm. Jy kan verwys na die talle suksesstories van jong Afrikaners wat na 1994 groot sukses behaal het. Jy kan ook verwys na die feit dat Afrikaners danksy regstellende aksie die groep is onder wie armoede die afgelope tien jaar die sterkste gegroei het (weliswaar vanaf ’n baie lae basis).
Maar om so te redeneer, sal wees om die pot saam met Du Preez netjies mis te sit, omdat Du Preez se argument met sy gebruiklike slorsigheid Afrikaners se welstand tot ’n materiële vraagstuk verskraal – so asof die mens by uitstek ’n materiële wese is – terwyl die eintlike ellende waarmee Afrikaners vandag te make het, simbolies is. (Du Preez gee met hierdie mistasting blyke van die feit dat hy die neo-liberale ideologie van ons tyd se mensbeeld, waarvolgens die mens bloot ’n materiële wese is, en wat, ’n groot bydrae tot die simboliese ellende van mense wêreldwyd lewer, onderskryf.)
Die begrip simboliese ellende is die geesteskind van die filosoof, Bernard Stiegler, met wie Die Vrye Afrikaan later vanjaar ’n onderhoud sal publiseer. In sy jongste drie of vier boeke ontwikkel Stiegler dié begrip skouspelagtig. Belangstellende lesers kan ’n goeie opsomming daarvan kry in die opstel Versmoorde begeerte, of hoe die kultuurindustrie die individu vernietig, wat in 2004 verskyn het in no.12/13 van Fragmente: Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek. Stiegler se argument kan bondig saamgevat te word deur te sê dat ’n gesonde samelewing een is waar die heersende tegniese stelsel en die heersende maatskaplike stelsel saamval. Wanneer daar egter ’n gaping tussen die twee ontstaan, en wanneer die tegniese stelsel onder die maatskaplike stelsel uit ontwikkel, ontstaan probleme. Dit is die situasie waarin die wêreld vandag verkeer, en by name omdat die reuse-ontwikkeling in tegnologieë wat die vrugte van die gees veruiterlik en versprei op ’n ongekende skaal vandag veroorsaak dat mense wêreldwyd aan die dieselfde gestandaardiseerde bewussynsinhoude (dieselfde musiek, rolprente, idees, ens.) blootgestel word, en hulle sodoende vervreem en afgesny word van hulle plaaslike simboliese tradisies, wat juis van hulle gelukkige mense moet maak. Uiteindelik kom dit daarop neer dat die mens nie meer aan sy wêreld deelneem en dit help skep nie, maar dat hy bloot die ontvanger en verbruiker daarvan is. Dié toedrag van sake is moontlik omdat die wêreldbewussynsmark, waarin veral die Anglo-Amerikaanse musiek- en rolprentbedryf sentraal staan, dinge aan mense verkoop deur hulle in ’n staat van permanente prikkeling te hou, tot mense uiteindelik ly aan ’n uitputting van begeerte. En dit is dan wat depressie, dwelmmisbruik, koorsagtige kopery, en dergelike patologieë voorkom. Wanneer mense afgesny word van die simboliese tradisies wat oor tyd heen geslagte gevorm het, word die mens vir die mens ’n wolf, en is die voorwaarde vir reusegeweld geskep. Stiegler verbind dan ook die groot oorloë van die 20ste (en van die 21ste eeu) hieraan.
Wat het dit met Afrikaners te doen? Soos ek al by verskeie vorige geleenthede probeer aantoon het, leef Suid-Afrikaners onder ’n koloniale staat waar ’n klein identiteitselite ten gunste van die res van die samelewing bevoordeel word, vanaf Britse Imperialiste tot Afrikaner-nasionaliste tot vandag se Afro- nasionaliste. Die hoë vlakke van geweld waardeur Suid-Afrika dwarsdeur sy geskiedenis geteister word, is ongetwyfeld ’n produk van die feit dat die ingevoerde koloniale tegniese en staatsbestel inheemse simboliese tradisies vernietig en aan hulle lot oorlaat. Die staat probeer telkens daarvoor kompenseer deur sy eie simboliese inhoude te skep en deur die bevolking te versprei, maar tot tyd en wyl hierdie staat nie wesenlik herstruktureer word om werklik by die gemeenskappe van die land aan te sluit nie, sal die staat se simboliese orde telkens weer net nuwe wrewel onder mense aanwakker. Jonathan Jansen verwys byvoorbeeld in Die Burger van 27 Desember 2005 na die woede wat hy en sy skoolmaats onder die vorige bedeling gevoel het wanneer hulle jaarliks op Republiekdag die volkslied moes sing, iets wat ongetwyfeld reeds by onder andere Afrikaners vandag voorkom, wanneer die ou vlag vertoon word, of wanneer ’n mens hoor van ouers wat hulle kinders verbied om die huidige volkslied te sing. ́n Mens sou veel meer kon uitbrei op die rol wat die staat tans in die simboliese ellende van die Afrikaners speel, maar ek wil hier eerder ingaan op die rol wat Afrikaners self hierin speel, en meer bepaald die simboliese produsente van die Afrikaners: die skrywers, musikante, beeldende kunstenaars, predikante, joernaliste en akademici, daardie mense wat hulle gemeenskap moet help om haarself anders te verbeel, om “ons” op ’n nuwe manier te sê. Die rol van hierdie simboliese produsente onder Afrikaners kan kwalik oorskat word: die dubbele aanslag van die simboliese aanbod van neo-liberale globalisering en die Afro-nasionalistiese staat teen die agtergrond van die mislukking van Afrikaner- nasionalisme laat Afrikaners in ’n besonder kwesbare simboliese posisie. Talle male is al verwys na die noodsaak vir Afrikaners om hulself nuut te verbeel aan die hand van ’n nuwe verhaal, waarvan die een van ’n selfrespekterende Afrikagemeenskap wat haar heil saam met ander gemeenskappe uitwerk die sterkste moontlikheid is wat na vore getree het om die “ons” nuut te verbeel. Hiermee wil ek nie sê dat die droom van ’n selfrespekterende Afrikagemeenskap noodwendig die nuwe droom van Afrikaners moet word nie, maar wat so ’n droom ook al gaan wees moet dit Afrikaners in staat stel om opnuut aan die wêreld deel te neem. So nie sal hulle bloot ontvangers en verbruikers van die wêreld wees, en sal die simboliese ellende onder hulle slegs verder toeneem.
Miskien die drie belangrikste groepe simboliese produsente in die geskiedenis van die Afrikaners was die Dertigers, die Sestigers en die Voëlvrybeweging. Die Dertigers, met Van Wyk Louw aan die voorpunt, het die droom van Afrikaner-nasionalisme gedroom. Die Sestigers het op die vroeë vergrype van Afrikaner- nasionalisme reageer, by name die oorbeklemtoning van die groep ten koste van die individu, en die bevryde individu sentraal in hulle werk gestel. Waar die Dertigers die politieke, die estetiese en die religieuse saamgedroom het, het die Sestigers die estetiese ter wille van ’n ander politiek gedroom, en die religie grootliks nagelaat of negatief hanteer. In die sleurstroom van die Sestigers het die Voëlvrybeweging ’n soort estetiese anargie gedroom, waar die individu volkome sentraal was, en die politiek volkome negatief. As die religie gefigureer het, was dit miskien in die gewaad van een of ander vae spiritualiteit. Opvallend van hierdie drie groepe, is dat hulle beskou kan word as almal deel van die lang opkoms en afgang van Afrikaner-nasionalisme, waar die progressiewe voorhoede verskuif het vanaf die bou na die breek van nasionalisme. Aldrie hierdie groepe het vernuwing sentraal gestel, en was dus volledig moderne bewegings. Maar wat nie een van hulle voorsien het nie, was die opkoms van die verheerliking van die hier en die nou ten koste van die verlede deur die neo-liberale mark, en samehangend hiermee die verdagmaking en aftakeling van instellings: die Tirannie van die Onmiddellike. Wat die Franse eksistensialisme (Camus, Sartre) vir die Sestigers was, is wat die Franse postmoderne denkers vir die Voëlvrybeweging en die 1980’s was – figure soos Derrida en Foucault is plaaslik ingespan om die aanslag op die instellings van die Afrikaner- establishment (kerk, skool, staat, universiteit) te loods. In ’n onlangse boek (1) verduidelik Dany-Robert Dufour hoe ironies hierdie institusionele vyandigheid in Frankryk meegespeel het in die neo-liberale mark se vernietiging van instellings, iets wat die mark doen omdat hy regstreeks en sonder tussengangers met individue as verbruikers wil omgaan. Sonder die beskerming wat instellings bied, verander mense dan in willose verbruikers.
As ’n mens vandag kyk na die Afrikaanse media, letterkunde, beeldende kuns, musiek, akademie en die kerk, val dit op hoe min daar eintlik gedoen word deur die simboliese produsente om hul gemeenskap uit hul simboliese ellende te verbeel. Om die waarheid te sê, word ’n agterhaalde beeld van Afrikaners dikwels nog voorgehou wanneer die simboliese produsente krities probeer wees. Om enkele voorbeelde te noem: in ’n onderhoud met Iris Bester op rsg gedurende Oktober 2005 vaar die skrywer, Jan van Tonder (Roepman) uit teen die kerk en sy aandeel in apartheid, sonder die geringste begrip vir die dekades wat sedertdien verloop het, waar die kerk haarself tans bevind, en hoe sentraal die kerk as instelling tot die gemeenskap is. In die liedjie wat Karen Zoid beroemd gemaak het, “Afrikaners is plesierig”, kry ’n mens ’n netjiese beeld van die skynheilige establishment- Afrikaner van die 1980’s... twintig jaar na die tyd. In ’n kort berig gedurende November 2005 in Die Burger oor Tom Gouws se verowering van die Nagtegaalprys word vertel dat Gouws se wendrama die heilige koeie van die Afrikanerdom slag... bestaan daar nog so iets? Maar dit is veral die ou “alternatiewe Afrikaners” van die 1980’s, wie se ikoniese status in wisselende mate vandag te wyte is aan wat hulle in daardie dekade verrig het, eerder as daarna, wat vandag skitter in hul onvermoë om ’n antwoord op die simboliese ellende van Afrikaners te bied. Max du Preez melk die Vrye Weekblad-era vir elke druppeltjie, en as hy hom oor Afrikanerkwessies uitlaat is dit selde logies of saaklik, soos toe hy in ’n onlangse brief aan Die Burger die FAK se oproep om burgerlike verset teen die uitbreiding van dubbelmediumonderrig aan die Universiteit Stellenbosch met “totale aanslag-waansin” vergelyk het: demokratiese politiek gelyk aan die totale aanslag?
Nog ’n voorbeeld is Koos Kombuis. Dat Kombuis retories vaardig is, is waar, maar sy onlangse boeke is volledig agterhaal. The Secret Diary of God sê niks teologies wat die Historiese Kritiek in die teologie nie lank reeds gesê het nie. In 2005 se Raka: die roman is Kombuis nogmaals besig met die Afrikaner- establishment wat lankal nie meer bestaan nie. ’n Dominee wat swig voor die vlees en sy geloof verloor is die hoofkarakter en blyk menslik te wees: die NG kerk lyk lankal nie meer soos dit in Kombuis se jeug gelyk het nie. Ds. Opperman se “geloofsbelydenis” (p.142-145) is ’n losse sameflansing van die pantëisme, die Nuwe Hervorming en die gnostiek: spiritualiteit buite instellings pasgemaak vir die individu in soomlose aansluiting by neo-liberale verbruikerskap. En die vergesogste van alles: dat die kerk “passé” is en die meeste Afrikaners Sondae verkies om tuis te bly, koerant te lees, motors te was, ens. (p.158). Jong Afrikaners stroom vandag in massas na die charismatiese kerke, praat van “spiritualiteit”, of dra by tot die grootste debat wat nog op Litnet plaasgevind het, die sogenaamde God-debat. Wat Raka: die roman wel doen, is juis om ’n beeld van die simboliese ellende van die Afrikaner te skep deur die algemene betekenisloosheid van die meeste karakters se lewens. Die cool teologie van ds. Opperman is egter nie ’n uitweg uit hierdie uitsigloosheid nie, maar bloot die legitimering daarvan: ’n besondere stukkie ironie – juis die figuur van die dominee, wat dan so “passé” saam met sy instelling, die kerk, sou wees, word die profeet van die nihilisme. Wie skryf, skilder of sing vandag oor die belaglikheid van cool? Of oor die verwoesting van die mark? Oor ander maniere van glo? Oor die absurde TV- en sportsterre waarmee Afrikaners hulself idoliseer? Oor die nuwe armoede onder Afrikaners? Oor Afrika? Oor globalisering? Oor toerisme? Die lys kwessies is eindeloos, maar die lysie simboliese produsente wat hulle wel hiermee besig hou, is korter. Sal iets nuuts gebeur? Of is ons verbeelding daarmee heen?

(1) Dany-Robert Dufour, L’art de réduire les têtes: Sur la nouvelle servitude de l’homme libérale dans l’ère du capitalisme total, Parys: Denoël, 2003.

Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=449
Artikel nagegaan:
    -