blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Dommisse lig die sluier oor ons grootste ondernemer 2006-01-16
Piet Haasbroek

*Afgetrede ekonoom en skrywer van onder meer Oemkontoe van die Nasie (Pretoria: Protea, 2001)

 

            Die biografie van Anton Rupert wat Ebbe Dommisse met Willie Esterhuize se samewerking geskryf het, is welkom, veral omdat dit so tydig is. Ons onthou nog die geskiedenis van die laaste eeu goed genoeg om Rupert se bydrae in perspektief te kan plaas. Sy antwoorde op die uitdagings wat aan hom en aan sy land gestel is, sal die lesers van hierdie biografie verbaas.

            Al het Rupert publisiteit so ver moontlik vermy, het hy genoeg geleentheid gehad om sy idees oor te dra. By vergaderings van aandeelhouers of van die Afrikaanse Handelsinstituut, in lesings voor studente, of by die spitsberade van sakeleiers met die regering het hy die kernwaardes van sy lewens- en wêreldbeskouing uitgespel. Ons kan aanvaar dat die weergawe daarvan in hierdie biografie Rupert se goedkeuring wegdra, en daarom korrek is.

            Rupert se idees kan dus op verskillende maniere deur die belangstellende leser getoets word. Was dit werklik oorspronklik? Sy eie unieke insigte, of ontleen aan die filosofieë van ander? Het hy die probleme van sy tyd reg verstaan en paslike oplossings daarvoor uitgedink, of was hy net ’n idealistiese dromer, besiel deur ’n vergesig van ’n vreedsame vennootskap tussen vrye, skeppende individue? Was Rupert konsekwent in sy denke, of het hy, pragmaties, ook maar aanpassings gemaak by die verandering in die omstandighede van sy tyd? Is die elemente daarvan logies samehangend? Bied sy visie ’n alternatief? ’n Nuwe paradigma? Dalk selfs ’n vaandel waaragter ’n mens in opstand kan marsjeer?

            Dit blyk dat Rupert se beskouings aan ’n stel waardes gekoppel is wat so kragtig rigtinggewend deurwerk, dat dit die samehang en konsekwentheid daarvan bepaal. Omdat vertroue vir hom die sluitsteun van goeie menslike verhoudings is, kan hy nie aanvaar dat die doel die middele heilig nie. Omdat hy die vrye, skeppende persoonlikheid as die dryfkrag agter alle vooruitgang sien, dink hy nie dat ’n burokrasie beter as die enkeling weet wat goed is vir hom nie. Hy beklemtoon dat meer by sakeondernemings se optrede belang het as slegs hul aandeelhouers; besigheid het ’n wyer verantwoordelikheid, ook aan die publiek. En dit lyk of Rupert ekonomiese ontwikkeling evolusionêr sien, as ’n proses wat by klein ondernemings begin en deur samesmelting in uitkringende vennootskappe uiteindelik die magtige multinasionale korporasies op die voorgrond stoot.  

            Dommisse se biografie van Anton Rupert lees soos ’n kroniek van sy verhoudings met ander mense. Eerstens is daar sy verhouding met politici. Tydens ’n besoek het generaal Hertzog die beginsel van burgerlike verantwoordelikheid aan Rupert as student verduidelik. Dit was N.P.van Wyk Louw wat die dimensie van lojale verset daaraan toegevoeg het, ’n verskerping wat Rupert toegerus het vir sy konflik met Verwoerd.

            Rupert kon self ’n politikus word, dalk die Nasionale Partyleier, maar het gelukkig vroeg besef dat politiek nie ’n weg bied wat hy wil volg nie. Ons het te veel politici en te min werkskeppers, sê hy. Uiteindelik het Magnus Malan finaal bevestig hoe korrek Rupert se besluit was: “Politics is a cut-throat business, and I mean that literally,” het hy Rupert gedreig. Tot die uiterste getoets deur die onbetroubaarheid van Vorster en PW Botha se kragdadigheid-in-onsekerheid, het Rupert uiteindelik tou opgegooi met politici.  Desnieteenstaande was dr. AJ Stals, ’n man uit een stuk en later minister, die eerste voorsitter van Rembrandt. Hy is opgevolg deur dr. Nic Diederichs, wat Minister van Ekonomiese Sake en later President geword het.

            Rupert se verhouding met ander sakemanne, plaaslik en buitelands, openbaar die waarde van sy sterk beginsels én die gevare daaraan verbonde. Wedersydse vertroue het as grondslag gedien vir sy ondernemings se hegte vennootskappe met ander vervaardigers, en as sekuriteit vir uiters riskante lenings. Waar die vertroue verbreek is, het die verhoudings versuur en selfs vyandig geraak. Sakeleiers het mekaar trompop geloop, of in die naam van mededinging gruwelik ondermyn. Die leser van hierdie biografie sal geskok wees deur die verslag van die pynlike vertrouensbreuk tussen Rembrandt en Sanlam rondom Gencor. En glimlag oor Dommisse se verduideliking van die persoonlikheidsbotsing tussen Rupert en Louis Luyt.

            ’n Belangrike aspek van Rupert se verhouding met ander sakemanne was hul gewilligheid om hom te steun in ’n goeie saak. Die Suid-Afrika Stigting,  ekonomiese ontwikkelingshulp aan Lesotho, die “vlieënde dokters,” die Kleinsake-ontwikkelingskorporasie, die Sportstigting, uitbreiding van Suid-Afrika se natuurreservate en later die oorgrensparke was almal Rupert-inisiatiewe wat geesdriftig deur sakeleiers ondersteun is. Wat Dommisse hier van die sakewêreld openbaar, behoort menige leser te verras: dit blyk dat maatskaplike verantwoordelikheidsprojekte ’n belangrike ondernemingsprioriteit is. Nog meer verrassend, én ironies, is hoeveel van hierdie  projekte spoedig deur die regering nageaap is, maar met patetiese gevolge.    

            Dommisse lê sterk klem op Rupert se verhouding met die gemeenskap waarin hy hom bevind. Dit begin met sy bydrae tot die selfreddingsaksie van die Afrikanergemeenskap en kring uit deur sy rol in die breër Suid- Afrikaanse gemeenskap na ons buurlande. Die Ontwikkelingsbank vir Ekwatoriale en Suidelike Afrika (EDESA) wat Rupert met die samewerking van die Union Bank of Switzerland en groot sakeleiers in die vroeë 1970’s tot stand gebring het, het in 24 lande projekte aangepak. Nog meer verbasend was Rupert se inisiatief met die stigting van ’n ontwikkelingskorporasie, die Neu-Europa Hitec & Biotec in Berlyn in 1985. Sy geloof in vennootskap as organisasiebeginsel wat ontwikkeling in al sy vorme die beste kan dra, dryf Rupert om keer op keer ontwikkelingsvennootskappe te loods. Dit het selde gefaal, en soms het dit groot en blywende verbetering meegebring. Dommisse loof Rupert met reg hiervoor.  

            In die biografie word Rupert se insigte oor ekonomiese ontwikkeling geopenbaar. Persoonlik stem ek met baie daarvan so sterk saam dat ek kort-kort “Ahaa!” wou uitroep. Maar van Rupert se beskouings is erg kontensieus. Soos dit die argwaan van die vorige regering gewek het, sal van sy beskouings die huidige bewind teen die bors stuit. Toets gerus die volgende aan die huidige konvensionele wysheid:

·          Die Suid Afrikaanse ekonomie is dualisties, met “ongesofistikeerde,” agtergeblewe dele langs moderne ontwikkelde dele;

·            Werkloosheid is ons gevaarlikste ekonomiese probleem; as mense in die agtergeblewe gebiede honger is, kan ons nie rustig slaap nie;

·          As ons ons agtergeblewe gebiede en buurlande help om industrieel te ontwikkel, baat ons ekonomie ook daarby;

·          Privaat eiendomsregte, in plaas van kommunale besit, sal die armes help om vooruit te gaan;

·          ’n Gesonde arbeidsmag is ’n voorvereiste vir produktiwiteit; toepaslike onderwys en opleiding is onontbeerlik vir ontwikkeling;

·          ’n Werk is belangriker vir ’n arm mens as die stemreg; ons het te veel politici en te min werkskeppers;

·          Klein ondernemings skep baie meer werkgeleenthede as die grotes; groot ondernemings moet kleinsake-ontwikkeling ondersteun;

·            Oormatige burokrasie en regulasie demp ondernemingsgees;

·          Vroue kan ’n belangrike ondernemersrol in ontwikkeling speel;

·          Terwyl stakers toyi-toyi, vlug werkgeleentheid na Hanoi!

 

 

            Dommisse se biografie van Anton Rupert sal lesers met bewondering vul vir hom wat op soveel terreine ondernemend was. Rupert was besonder suksesvol, soos sy lewensverhaal – en die omvang van sy bates – boekstaaf. Die vraag of Anton Rupert ook foute gemaak het, word met net enkele voorbeelde van mistastings wat Rupert self erken het, afgemaak. Nogtans bly iets haper in die beskrywing van Rupert se persoonlikheid. Hy was baie privaat, selfs skaam vir publisiteit, skryf Dommisse. Daarom spel hy nie uit hoe outokraties Rupert dalk was nie. 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=451
Artikel nagegaan:
    -