blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die politiek van selfbeskikking: Orania en Suid-Afrika 2006-01-16
Carel (iv) Boshoff

Tydens ons onderhandelinge oor orania se munisipale status is die vraag gestel of ons net in artikel 235 van die grondwet belangstel en of ons die res van die grondwet ook onderskryf. Ons antwoord was natuurlik dat onderskryf en ondersteun nie noodwendig dieselfde ding is nie omdat daar baie is wat ons anders sou wou sien, maar dat ons aanvaar voorsiening soos dié in artikel 235 kan nie in isolasie gelees word nie en dat ons histories en prakties die ooreenkoms wat in die grondwet neerslag gevind het, aanvaar en onderskryf.

Ons het in besonder aangevoer dat Orania nie op rassegronde opgerig is of bedryf word nie en dat inwoners vryelik met die kultuur-politieke oogmerke waarvoor Orania uitdruklik staan en met mekaar assosieer. Niemand word op rassegronde verplig of verbied om in Orania te bly nie en niemand word deurgang op openbare paaie ontsê nie. Orania stel hom dus nie in stryd met die gelykheidsbeginsel of die reg op vrye beweging op nie, maar gee binne die totale verband uitdrukking aan die konsep van die reg van ’n gemeenskap wat ’n gemeenskaplike taal- en kultuurerfenis deel, op selfbeskikking binne ’n territoriale entiteit. Die politieke arena waarin Artikel 235 sy beslag gekry het, eers as Beginsel XXXIV van die tussentydse Grondwet en later as sodanig in die finale Grondwet, is een waarin groter uitgesprokenheid as tans oor ’n volkstaat en selfbeskikking geheers het en dit is belangrik om die denkbeelde wat daar aan die orde was, weer duidelik onder oë te neem. Ek is van mening dat die volkstaat soos gepropageer, beskryf kan word as ’n kleiner kultureel/etnies homogene nasiestaat wat op ’n deel van die Suid-Afrikaanse grondgebied naas die oorblywende Suid-Afrika tot stand kom en in vriendskaplike verhouding tot Suid-Afrika funksioneer. In soverre omstandighede nie toegelaat het dat dit meteens tot stand kom nie, moes voorsiening vir ontwikkeling in dié rigting gemaak word. Konsepte soos internasionale bemiddeling is selfs in die Akkoord tussen die Vryheidsfront, die ANC en die destydse NP- regering genoem en beide Beginsel XXXIV en Artikel 235 is onder meer met die oog daarop vertolk. Hoewel die gedagte aanvanklik en in prinsipe heelwat steun van Afrikaners ontlok het, het praktiese steun in die vorm van verhuising na of belegging in die voorgestelde ontwikkelingsgebied beperk gebly tot ’n klein getal pioniers en entoesiaste. Van hulle is ook nie verwag om bloot nog ’n politieke keuse uit te oefen nie, maar om nuwe praktyke en gemeenskapsvorme te vestig terwyl daar uit eie bronne aan materiële behoeftes voorsien moes word. Buiten dat dit ’n geweldige opgaaf geblyk te wees het en as politieke projek inherent tot ’n aansienlik stadiger ritme as die wisseling van partypolitieke lojaliteite - wat reeds stadig is - verdoem is, het daar minstens drie nadelige veranderinge ten opsigte van Afrikaners se posisie in die algemeen in Suid-Afrika ingetree.
Dit is eerstens dat die nuwe grondwetlike bedeling wat aanvanklik nog heelwat vloeibaarheid vertoon het, teen die einde van die 1990's verhard het. Die nuwe Grondwet is opgestel, polities aanvaar en juridies gesertifiseer as in ooreenstemming met die Grondwetlike Beginsels waarop daar vooraf ooreengekom is en ingrypende veranderinge aan die grondwetlike orde soos die afskeiding van ’n volkstaat, selfs in die vorm van ’n provinsie, word nie meer voorsien nie. Tweedens het daar ’n grondliggende magsverskuiwing ten koste van Afrikaners ingetree, nie net wat politieke beheer oor staatsinstellings aangaan nie, maar ook en juis wat hulle posisies binne staatsinstellings en selfs in die private sektor aangaan. Afrikaners se teenwoordigheid in byvoorbeeld die veiligheidsmagte is met behulp van regstellende aksie en transformasie en om strategiese redes aansienlik beperk en waar Afrikaners in daardie en ander strategiese posisies nog met die oorgang in 1994 ’n magsfaktor kon wees, is sulke moontlikhede intussen prakties vernietig. Derdens het Afrikaners se selfbeeld ’n transformasie van sy eie ondergaan. Wat eens as ’n doelgerigte gemeenskap om mee rekening te hou, beskou is, het oorwegend tot ’n losse bondel individue wat tussen nostalgie en opportunisme rondgeslinger word, ontbind. Eers met die NNP se onlangse aansluiting by die ANC kan mens aan die openbare ontvangs wat die Minister van Toerisme en Omgewingsake geniet, sien dat Afrikaners op grondvlak die assimilasie-opsie nie aanvaar nie. Dit beteken egter nie dat hulle tot enige wesenlike alternatief aangetrokke voel of ’n samehangende antwoord daarop ontwikkel nie. Intussen het die dialektiek van politieke kragte voortgegaan en kan daar nou van ’n tweede oorgang en Afrikaners se antwoord daarop gepraat word. Die eerste oorgang sou dan as die demokratisering rondom 1994 beskryf kon word en Afrikaners se houdings daaroor en hulle antwoorde daarop het mettertyd vorm aangeneem. Hoewel dit nie bo kritiek verhewe was nie, is daar onder Afrikaners algemeen aanvaar dat dié nuwe orde ’n meer legitieme en insluitende bedeling vir die meerderheid Suid-Afrikaners teweeg gebring het sonder om ’n haatveldtog teen of vervolging van Afrikaners of Blankes te loods. Dit het Afrikaners en Afrikanerinstellings in staat gestel om op ’n konstruktiewe wyse daarop te antwoord en nie net die oorspronklike ondersteuners van magsprysgawe het dit gedoen nie. Organisasies soos Solidariteit, die Vryheidsfront, die Voortrekkermonument en Afrikaanse kunstefeeste is uit verskillende oorde geloof vir die realistiese en opbouende manier waarop hulle vir hulle lede en ondersteuners by die owerhede intree. Soos ek dit verstaan, is die kern van die antwoord wat hierdie organisasies op die eerste oorgang gegee het, om hulleself en hulle andersheid te bevestig terwyl hulle hulle daarop toelê om volgens die nuwe reëls van die spel voortreflik te speel. Hoewel dit nie op steun aan die ANC se beleid of die nuwe elite se voorkeure en belange neerkom nie, impliseer dit wel ’n onderskrywing van die nuwe demokratiese en grondwetlike raamwerk en die reëls wat dit inhou. Solidariteit is byvoorbeeld nie verhoed om ’n kritiese rol binne die bestel te speel nie en het vriend en vyand se respek daarmee afgedwing. Dit het egter meegebring dat sy optrede oorwegend op die daaglikse eise wat met sy lede se ekonomiese en statutêre (rasse-) identiteit eerder as hulle etniese identiteit verband hou, gereageer het. Om die waarheid te sê, baie van die lof wat Solidariteit, die Vryheidsfront en talle ander organisasies vir hulle optrede uit onverwagse oorde ontvang het, was in werklikheid lof daarvoor (of vir die beeld daarvan) dat hulle hulle in die nuwe magsorde berus het en nie in diens van etniese weerstand daarteen laat intrek het nie.
Die tweede oorgang word intussen vinnig voltrek, hoewel beide die historiese verrassing van die blanke bedeling se geweldlose magsoorgawe en die nuwe elite se vestigende belang die versluiering daarvan ondersteun. Oud-president FW de Klerk was heeltemal reg om te verwag dat die ANC ná die val van die Berlynse muur in ’n ideologiese windstilte beland het, maar hy het hom met die gevolge van sy eie regime se verlies aan ideologiese inhoud misreken. Die gevolge is vir almal om te sien: die NP en die ANC het mekaar op die gemene grond van die regstaat, die vrye mark en die liberale demokrasie ontmoet en daarmee aan beide se vorige ideologiese opponente toegegee. Die verskil was egter dat NP-onderhandelaars soos Roelf Meyer en Leon Wessels ’n vreedsame oorgang as doel in sigself beskou het terwyl ANC- onderhandelaars soos Cyril Ramaphosa en Thabo Mbeki dit as middel tot ’n doel beskou het. Die plekke wat elkeen van hulle sedertdien in Suid-Afrika ingeneem het, getuig daarvan. Hoewel daar oortuigend aangevoer word dat ’n mededingende vryemark-ekonomie met ’n sterk swart besigheidsklas deur Pres. Mbeki as sy belangrikste nalatenskap aan Suid-Afrika en Afrika beskou word, moet sy instrumentele beskouing daarvan nie onderskat word nie. Pres. Mbeki word té maklik as ’n swart Engelsman met ’n pragmatiese belang by Afrikanistiese retoriek, afgemaak. Dit sal ons meer baat om hom te sien as ’n grondliggend gemoderniseerde staatsman wat hom geroepe voel om Suid-Afrika en Afrika aan die hand van die mark- ekonomie en globalisering te moderniseer. Die verskil is dat hy nie aan die gewaande neutrale rasionaliteit van die mark en die individualisme verbind is nie, maar sonder skroom ’n nuwe swart elite skep om die ou blanke elite se plek in te neem. Wie deur die huidige magsorde as onverdienstelik en in die pad van rasgebaseerde transformasie beskou word, sal ’n fout maak om hulle heil in die gewaande neutrale rasionaliteit van die liberale regstaat te gaan soek. Hulle sal vind dat dit nie hulle vaardigheid ingevolge die spelreëls is wat hulle sukses bepaal nie, maar die soewereine oordeel van die skeidsregter.
Dit blyk in elk geval dat Afrikaners eerder geneig is om, in die gees van die eerste oorgang ’n beter Suid-Afrika wat ook vir die Afrikaner ’n plekkie in die son bied, na te jaag as om hulle vir ’n selfstandige Afrikanervolk wat ook en onder meer tot ’n beter Suid-Afrika kan bydra, te beywer. Dat hulle die tweede oorgang nog nie verreken of wil verreken nie, verklaar deels waarom meer ingrypende alternatiewe soos ’n beroep op selfbeskikking nog betreklik min aftrek kry. Maar mens kan kwalik verwag dat dit aftrek sal kry as die strukturele magsverskuiwings en politieke verwikkelinge nie deeglik deur die voorstanders van selfbeskikking in aanmerking geneem geneem word nie.
Die nasiestaat is nie net deur globalisering gerelativeer nie - om die waarheid te sê het nasiestate dié relativering nogal goed oorkom - maar die ekonomiese, ekologiese en veral kulturele koste verbonde aan die staatsorde wat op die lees van die nasiestaat geskoei is, is toenemend besig om aan die lig te kom. Die nasiestaat is immers geen toevallige simptoom van die moderniteit nie, maar een van die sentrale instrumente daarvan en waar dit nou nog ingevoer word (soos in Suid-Afrika!), is dit duidelik dat die koste daarvan nog nie verminder het nie. Elkeen van die eienskappe wat Suid-Afrika vertoon en waarteen kritiese Afrikaners hulle verset - of dit verengelsing van onderwys, die sentralisering van mag, transformasie van die openbare en private sektore of die miskenning van kulturele en groepsregte is - is eie aan die verskynsel nasiestaat. Waar identiteitspolitiek beoefen of nagestreef word, waar die politiek van erkenning vaardig is of bedink word, waar die behoud van kulturele verskeidenheid as deug gereken word, daar word die breë idioom van federalisme en die republiek gehoor. Die republikeinse tradisie eerder as die nasiestaat maak die vanselfsprekende woordeskat van die Orania- gedagte uit, dit moet net toegeëien en uitgeleef word, maar daarop gaan ek onder die volgende punt verder in.

Om die Orania-gedagte as rigting- wyser vir Afrikaners se optrede in die politieke arena aan te bied

Die eerste reaksie wat ek ten opsigte van so ’n poging, naamlik om die Orania-gedagte as rigtingwyser vir Afrikaners se optrede in die politieke arena aan te bied, verwag, is die vraag (in meer of minder vriendelike toon) Namens wie dink jy praat jy? Wie is jou Afrikaner en het jy ’n mandaat om namens hulle te praat? Hierdie is wesenlike vrae, nie in soverre dit ons tot vrugtelose definisies van wie en wie dan nie Afrikaners sou wees, lei nie, maar omdat dit ons voor die vraag na visie en mandaat stel. (Die oorspanne definisiesoekery hoort in elk geval tot ’n verbygegane diskoers en word nog net ingegooi om ons te verwar terwyl almal anders heeltemal goed genoeg weet na wie hulle verwys as hulle van Afrikaners praat. Die werklike vraag is of daar nog Afrikaners is wat Afrikaners wil wees en of hulle bereid is om die dinge te doen wat dit van hulle gaan verg.) Die belangrike kwessie van visie en mandaat kom na vore omdat jy in die politieke arena onbeholpe sal wees sonder enigeen van die twee. Visie gaan mandaat egter vooraf omdat jy jou visie nie bou op die mandaat wat jy het nie, maar aanbied met die oog op die mandaat wat jy wil hê. Wie vir hierdie sprong in die duister nie kans sien nie, sal vind dat hulle in ordebevestigende politieke rituele vasgedraai raak. Die frase wat my nou al geruime tyd besighou, is dié van ’n ander idee van wat dit beteken om mens te wees. Voordat ek u dan op enkele van my eie gedagtes in die verband trakteer, wil ek ’n deel van prof Danie Goosen se onlangse voorsittersrede by die FAK vir u parafraseer. Ek hoop dat ek reg daaraan laat geskied, hy moet dit maar weer regtrek as ek dit skeeftrek of losrafel.
Goosen voer aan en lig dit met voorbeelde uit die geskiedenis toe dat gelukkige gemeenskappe nie gemeenskappe is wat geen teenspoed of lyding beleef nie, maar gemeenskappe wat hulle werklikheid (oftewel hulle geskiedenis) as ’n gawe beleef, as ’n geskenk en nie as ’n ramp of as die gevolg van wrede, of ten beste blinde noodlot nie. Hy verwys na die klassieke era en die Griekse stadstate wat nie net die tragedies nagelaat het nie, maar wat ook vir die republikeinse en demokratiese politiek as oorsprong en verwysingspunt dien, en na die hoogbloei van die Europese Middeleeue wat onder meer die Gotiese katedrale opgelewer het, fisieke monumente wat so ’n sterk gedagte verteenwoordig het dat dit oor geslagte heen tot stand gebring is. Hy verwys na die beeld van ’n milde reën wat mens moeiteloos in ontvangs neem en roep ons op om ons werklikheid/geskiedenis ook só te ontvang. Dan gaan hy voort en voer aan dat die geskenk ’n teengeskenk oproep, dat die beeldhouer sy klip of houtblok as geskenk uit die natuur ontvang en as teengeskenk ’n beeld daaruit maak, dat die komponis die note en klanke van die Skepper ontvang en as teengeskenk musiek daarvan maak, dat die digter woorde as geskenk van die tradisie ontvang en drama daarvan maak. Die politieke kant daarvan is dat ’n gemeenskap wat sy geskiedenis as geskenk ontvang en nie as ontmagtigende ramp of noodlot nie, as teengeskenk deelnemend en demokraties by sy eie toekoms betrokke sal raak.
Dit is in kort die werklikheidsbeskouing wat hy as alternatief vir die simboliese elende waarin Afrikaners hulle bevind, aanbied. Ek het dit ’n transformerende beskouing gevind en ek hoop dat dit wyd uitgedra sal word en diep inslag sal vind. Dit is die geestesingesteldheid waarmee iets soos Orania se poging om selfstandig en op eie voet met die gevestigde magsorde om te gaan, vir Afrikaners as rigtingwyser aangebied kan word.
Om ’n ander idee van wat dit beteken om mens te wees meer regstreeks op Orania te betrek, verwys ek na die vraag waarom Orania grondgewys nie vinniger groei nie en waarom Afrikaners en selfs Afrikaanse landbouers so sentimentloos met grond omgaan. My soeke na ’n antwoord hierop het my eweneens op die spoor van so ’n ander idee gesit. Ek is naamlik van mening dat Afrikaners se onbeholpenheid met die grondvraag ’n regstreekse uitvloeisel van ons gemoderniseerdheid is en dat ’n kritiek op die moderniteit en ons deelname daaraan, ’n voorwaarde is vir so ’n ander idee van wat dit beteken om mens te wees en vir Orania om as rigtingwyser te dien. Laat ek dit bietjie toelig: modernisering is ’n proses weg van grond, dit is ’n proses van verstedeliking en van massafisering. Modernisering word op massa- produksie en massa-verbruik gebou en daarom op die standaardisering van behoeftes en voorkeure, uiteindelik van taal en kultuur soos in massa-vermaak en die massa-media. Dit word deur massa-geletterdheid bemiddel en stel die staat se massiewe onderwysstelsel in die sentrum. Daarom is dit nie vreemd nie dat die nasionale staat, die dominante staatsvorm van die moderniteit, alles wat in die weg van massafisering en standaardisering staan, wil wegvee. Die nasie-staat se sukses is gebaseer daarop dat ’n enkelvoudige ruimte tussen die staat en individue tot stand kom, onverstoord deur enige tussenvlakke wat die staat se rol kan belemmer. Die nasie-staat se ideale burger is ’n produsent/verbruiker wat sy deel doen om die wiele van die ekonomie van skaal te laat draai.
Om al die tussenvlakke uit die weg te ruim en ’n enkelvoudige ruimte tussen individu en staat tot stand te bring, beroep die nasie-staat hom dan ook op die ondeelbaarheid van soewereiniteit en op die sentralisering van gesag, selfs binne ’n parlementêre bestel. Met betrekking tot grond vertaal die staat- individu verhouding dan ook in ’n enkelvoudige ruimte tussen staatsgebied en grond as kommoditeit. Wanneer die staat sy gesag oor sy hele grondgebied uitoefen en sy oogmerk van ’n massa-ekonomie (ekonomie van skaal) bereik, is dit inderdaad ondenkbaar dat grond wat deur individue besit word, méér as hoogstens ’n geliefde besitting sal wees. Sien u dat die moderne beeld van staatsoewereiniteit, van ekonomiese skaal en van welvaart dit vir die oorgrote meerderheid Afrikaners onmoontlik maak om te sien wat ons intuïtief aanvoel as ons sê grond kan nie tot kommoditeit gereduseer word nie?
Maar hierdie drie sake dien nie net om te verklaar waarom die grondvraag vir té veel Afrikaners nie die grondvraag is nie; dit sit ons juis op die spoor van ’n ander idee van wat dit beteken om mens te wees. Oorweeg vir ’n oomblik dat as jou verhouding tot die staat nie dié van weerlose individu tot Leviathan is nie, maar deur ’n komplekse tussenruimte bemiddel word; as jy ekonomiese verhoudinge op menslike en lokale skaal kan bedink en beoefen; en as jou beeld van welvaart nie tot die verbruik en vertoon van materiële goedere gereduseer word nie, maar vir ’n geestelike inhoud voorsiening maak, dan werk jy reeds met ’n wesenlike anderse idee van wat dit beteken om mens te wees. Die vraag van ekonomiese skaal en welvaart word in die Orania-geledere al deeglik herbedink en nuwe praktyke is reeds besig om vorm aan te neem. Juis dít is wat mense oor ’n breë front as hoopgewend beleef. Die vraag van grondgebied/staatsgebied, van grond en van Orania se gronduitbreiding het egter nog nie ’n soortgelyke omvorming ondergaan nie - en by omvorming bedoel ek uitdruklik nie ’n verskraling of verwatering nie, maar ’n kwalitatiewe heromskrywing. Die soewereiniteit van outonomie en subsidiariteit is die ontbrekende skakel in ons argument, in ons anderse idee van wat dit beteken om mens te wees. Dit is die prinsipe waarmee Pres. Mbeki se uitdaging create a reality, confront us with facts that we cannot ignore tegemoet gegaan moet word. Die totalitêre droom van ’n eendimensionele, verstaatlike werklikheid waar alles tussen die individu en die staat vernietig is, is immers niks anders as ’n slegte Utopia nie. Om op federalisme voort te bou, open die moontlikheid van tallose belowende bondgenootskappe, beide binne- en buitelands; dit hou, as ons dit goed uitwerk en internaliseer, groot oortuigingskrag in; dit gee sin en betekenis aan selfs ’n betreklik klein poging soos Orania; dit open nie net nuwe horisonne vir ’n anderse idee van wat dit beteken om mens te wees nie, dit maak van Orania ’n moontlike rigtingwyser vir Afrikaners in die politieke arena.

Ten slotte wil ek verwys na wat in die nuutste Voorgrond as ses praktyke van vryheid beskryf word. Maniere waarop die tussenruimte tussen staat en individu in die vorm van gemeenskap teruggeneem word en wat inderdaad vir Afrikaners as rigtingwyser na ’n selfstandige bestaan kan dien.
• Arbeidspraktyke van selfwerksaamheid met die hele lewenspatroon wat dit inhou, van die maniere waarop ons gesinne hulle tyd saam bestee tot die veelbesproke voorkoms van ons tuine en sypaadjies (wat ook, soos die res van Orania, in die Karoo geleë is!)
• Onderwyspraktyke en skole waarin die kulturele reproduksie van ons gemeenskap kan plaasvind, nie in isolasie of vyandigheid teenoor die buitewêreld nie, maar op só ’n manier dat ons kinders - en dus ons gemeenskap - in die toekoms die buitewêreld op hulle eie voorwaardes kan tegemoetgaan.
• Ekonomiese praktyke waarvolgens die ekonomie in diens van mense staan en nie die mens in diens van die ekonomie nie; praktyke wat sorg vir die wêreld en vir ons materiële welstand op maniere wat tot in die verre toekoms volhoubaar sal wees, wat ons gemeenskap se selfstandigheid verhoog en ’n sterk grondslag vir handel na buite lê en wat op ’n dankbare aanvaarding van oorvloed eerder as op kompetisie en skaarste gebou is.
• Eie instellings waarin die praktyke wat ons gemeenskaplik beoefen en die strewes wat ons voor oë hou, gehuisves word - van owerheidsinstellings wat dienste aan die dorp verskaf en die goeie orde handhaaf tot kerke waarin geloofsgemeenskap beoefen word, van besighede tot verenigings en organisasies soos die Orania Beweging, van skole en biblioteke tot veilings en ’n skoukomitee.
• Praktyke van wedersydse erkenning tussen ons as ’n Afrikanergemeenskap en ander plaaslike en nasionale gemeenskappe tot en met die regering van Suid-Afrika; praktyke wat by beleefdheid en gasvryheid teenoor almal met wie ons paaie kruis, begin en wat ons strewe na ’n eie plaaslike regering vir Orania onderlê; praktyke wat nie van swakheid of onsekerheid spreek nie, maar juis van doelgerigdheid, selfvertroue en die krag wat ons uit ons geskiedenis put.
• Die praktyke wat rondom ons eie gedenkdae, seremonies en simbole vorm aangeneem het. Ons kultuurkalender word gebou rondom Vryheidsdag wat ons op die datum van die Slag van Majuba herdenk; Stigtingsdag wat ons op die datum van Jan en Maria van Riebeeck se aankoms aan die Kaap herdenk; Bittereinderdag wat ons op die datum van die Vrede van Vereeniging herdenk; Taaldag wat ons op die datum waarop die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is, herdenk; Heldedag wat ons op Pres Paul Kruger se verjaarsdag herdenk; en Geloftedag wat ons op die datum van die Slag van Bloedrivier herdenk. Ons seremonies sluit in die skriflesing en gebed waarmee haas elke byeenkoms in die dorp geopen word en die vertoon van ons Vryheidsvlag. Ons simbole is onder meer die Vryheidsvlag, die kleur oranje, ons dorpsembleem, die sekretarisvoël wat op borde in die dorp verskyn, die seuntjie wat sy moue oprol, selfs die Ora wat eintlik ’n gebruiksitem is, en nog baie meer.


Meneer die Voorsitter, dames en here, ek glo dat as Orania een enkele ding het om vir mede-Afrikaners en vir die wêreld te sê, dan is dit dat vryheid gelééf moet word. Kom ons wees wie ons is!

*Filosoof en gemeenskapsleier van Orania. Hierdie artikel is ’n verkorte weergawe van ’n lesing wat Boshoff in Oktober tydens die kongres oor “Artikel 235 en die politiek van selfbeskikking” op Orania gehou het

Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=446
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -