blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Simboliese ellende: Reeks: ´n Groeiende gaping tussen die swart elite en die swart massa? Globale handel en simboliese ellende 2006-01-16
Lawrie Schlemmer

* Politieke sosioloog en direkteur van die Helen Suzman-stigting

 

            Karl Marx was verkeerd met sy belangrikste voorspellings oor die toekoms van die kapitalistiese samelewing, maar talle van sy insigte was nietemin veelseggend. Oorweeg sy skatting dat onder kapitalisme “is geld die vervreemde essensie van ´n man se werk en bestaan; hierdie essensie oorheers hom en hy aanbid dit” (Kapitaal, vol. 2 en 3, 1884).

            Sy waarneming is egter nie slegs waar ten opsigte van kapitalisme nie. Geld en ander vorme van ruiling was nodig as oorlewingsmiddel vir meeste mense in meeste kulture deur die aangetekende geskiedenis heen. Wanneer hierdie bronne bekom word meer is as wat vir basiese behoeftes benodig word, het die praktyke wat met hulle saamhang meer kompleks geword en simboliese gestaltes aangeneem wat dikwels groot areas van waardes en kultuur gedek het. Dink aan hoe vee as bron en vorm van geld in Afrika en dele van die Ooste prestigewaarde en selfs religieuse betekenis verkry het.

            Een van die meer dramatiese illustrasies hiervan kom voor in Benedict se weergawe van die Indiaanse fees (potlatch) by die betreklik welvarende Kwakiutl-stam op die Amerikaanse Noordweskus - ´n gebruik om persoonlike prestige te bekom en te vermeerder deur mededingers te beskaam deur aan hulle besittings te gee wat hulle nie kan terugbetaal nie, of deur hulle in die opsigtelike selfvernietiging van eie eiendom te oortref (1). Dit was ´n vroeë voorbeeld van wat beskryf is as opsigtelike verbruik deur ekonomiese elites in die industriële samelewing (2). Vandag sit die ewe opsigtelike ontspannings- en leefstylgewoontes van die post-industriële samelewing dieselfde beginsel voort. Hoe ywerig religieuse, gemeenskaps-, kulturele en intellektuele leiers ook al nie-materiële waardes mag bepleit, word die status- en prestigekriteria van alle samelewings vandag deur modieuse kommersiële aankope oorheers.

            Wat egter die kommersiële era onderskei, is die betreklik groter standaardisering van kriteria oor internasionale grense heen, ´n patroon wat voorheen eerder beperk was tot die koningshuise en aristokratiese leefwyses van Groter Europa. Die simboliese kenmerke van kommersiële aanskaffing het nou soos ´n wêrelduniform geword.

            Die wêrelduniform van produkte en die waardes wat daarmee verbind is, is nie oor die algemeen of noodwendig sleg nie. Soos die ploeg het die bril, elektrisiteit, telekommunikasie, radio, televisie, meganiese voertuie en ´n string ander kommersiële toestelle sowel ontwikkeling as kommunikasie binne gemeenskappe begunstig. Waar plaaslike en streekskulture in staat was om die nuwe tegnologie te absorbeer en dit toe te eien, kan ´n mens sonder huiwering praat van verryking en bemagtiging oor internasionale grense heen. Binne die verspreiding van voordele het daar egter kritieke probleme ontstaan, probleme wat aandag gelyk aan die viering van die voordele van “vooruitgang” verdien.

            Die kernprobleem wat te midde van die breër voordele van globalisering bestaan, is tweeledig. Eerstens is dit nie altyd moontlik nie – sommige sal sê dit is minder en minder moontlik – vir spesifieke kulture om die waardes verbind met internasionale produkte te inkorporeer sonder die distorsie of vernietiging van kernwaardes of –smake in daardie kultuur. Tweedens, in die mate waartoe betreklike rykdom in die ontvangsarea die aanskaffing van die nuwe produkte begunstig, word die leefstylverdelings tussen stande en statusgroepe in daardie kultuur ver anderkant hul bloot kwantitatiewe dimensies verdiep. Die besit van rykdom word die basis van maatskaplike en uiteindelik kulturele eksklusiwiteit binne ´n samelewing. Toe Benjamin Disraeli geskryf het dat “die bevoordeeldes en die mense twee nasies gevorm het” (Sybil, 1845), het hy ´n baie dieper en wyer probleem in die toekomstige wêreld as die klassestelsel in Engeland voorspel. In wese pas die verspreiding van wêreldwaardes en –produkte baie ongemaklik by die eintlike kanons van materiële ongelykheid in die ontwikkelende wêreld, en in die besonder Afrika.

            Hierdie probleme ontstaan ten diepste omdat die kommersiële produkte van die globale rewolusie ontwerp en geproduseer word in die mees ontwikkelde Westerse en Oosterse ekonomieë. Hierdie post-koloniale ekonomiese “imperialisme” van kommersiële uitvoere en hulle simboliese effekte het die statusstelsels die ontwikkelende wêreld en Afrika selfs nog doeltreffender as kolonialisme binnegedring. Een van die ironieë is dat sommige van die produsentekonomieë (d.i. Japan, Sjina, Indië, verskillende lande in Europa) meer van hulle tradisionele style en kosgebruike behou het as wat onder die eliteverbruikers van Afrika aangetref word. In Nairobi en Abidjan sal die rykes ingevoerde Nederlandse, Engelse en Franse kase, Duitse worse, Italiaanse pizzas en Indiese kerries eet, terwyl dit wat oor is van Afrikakookkuns stoei vir markte in nisrestaurante. Die verdere ironie is dat die basiese patroon van moderne verbruik meegebring is as ´n langer durende gevolg van ´n vroeë anti-verbruiketiek, dié van Protestants-Calvinistiese bourgeoise-asketisme in Noord-Europa en die VSA, wat steeds ´n matige versagtende effek op kras verbruikerisme uitoefen. In Afrika, waar die verbruikende elites nog nooit die asketiese tradisie geken het nie, word verbruikerisme met veel minder kwalifikasie omhels.

            Gevolglik, terwyl alle nasionale en etniese style selfs in Europa en die Ooste beleërd is, is die postmoderne aanslag in Afrika suid van die Sahara die ergste, en versterk dit die kulturele verplasing van kolonialisme, die Christendom van die sendelinge en Islam. Nog belangriker egter is dat daar vir die meeste van Afrika suid van die Sahara ´n soort “dubbele afstand” is – een van kulturele wêreldinvloed en ´n tweede ´n interne afstand geskep deur materiële ongelykheid.

            Selfs in die vasteland se mees ontwikkelde ekonomie, Suid-Afrika, het die bogenoemde twee “afstande” baie dramatiese gevolge, en die kernfaktor is die ongelykheid van rykdom. Suid-Afrika word wyd beskou as baie dieselfde as talle ontwikkelende nasies waarin ´n klein elitegroep rykdom en voordele anderkant die drome van die massas geniet - ´n situasie wat deur apartheid in die verlede vererger is.

            Die veranderende maar tans verdiepende ongelykheid in Suid-Afrika is goed gedokumenteer. Die Gini-koëffisiënt van ongelykheid onder swartmense, wat gestyg het vanaf ´n geskatte 0,6 in 1996 tot 0,65 in 2005, is groter as die voormalige ongelykheid tussen swartmense en witmense. Danksy onlangse ekonomiese groei en groter welsynsvoordele, het die proporsie van mense wat leef op minder as een Amerikaanse dollar per dag gedaal van sy spits van 9,7% in 2002 tot 9,1% in 2005, maar is dit nog steeds veel hoër as die 4,5% in 1996. Tussen 1997 en 2002 het mense wat onder ´n armoedelyn van R214 per maand leef as gevolg van welsynstoelae gedaal, maar bly dit steeds bo ´n kwart van die bevolking, selfs as daar ruim voorsiening gemaak word vir die tipiese onderrapportering van huishoudelike besteding (3).

            Op die ander uiterste van die sosio-ekonomiese skaal is die veranderinge baie meer dramaties. Die baie groot en betroubare AMPS-opname van die SA Advertensienavorsingstigting bied uitslae aan in tien sogenaamde leefstyl- of LSM-kategorieë, hoofsaaklik gebaseer op eienaarskap van duursame verbruiksartikels. LSM-kategorieë 6 – 8 kan beskou word as rofweg gelykstaande aan die geskoolde werkers- en lae middelklas, LSM 9 tot ´n middelklas, en LSM 10 tot ´n hoë middelklas en die elite.

            Die rowwe sosio-ekonomiese klasekwivalente van LSM-kategorieë onder volwasse Suid-Afrikaners in 2005 is soos volg:

 

            Rowwe LSM klasekwivalente         Alle volwassenes            Swartmense

            Blouboordjie en arm                            61,2%                          77,4%

            Hoë werkers/lae middel              26,9%                          20,6%

            Middel                                                 6,4%                            1,5%

            Hoë middel en elite                           5,5%                            0,5%

                                                                        100%                          100%

 

            Hierdie uitslae mag vreemd voorkom omdat die media geneig is om die grootte van wat hulle die swart “middelklas” noem te vier, maar in feite praat hulle hoofsaaklik van ´n swaar skuldbelaaide laer middelklas van kassiere, klerke, verkoopsassistente, onderwysers, verpleegsters en dergelike junior amptenare. Bostaande uitslae wys dat die swart kernmiddelklas en –elite nog steeds betreklik klein is en in grootte oorskry word deur hoër getalle blankes en Indiërs. Maar die twee hoër kategorieë bevat byna 500 000 swart volwassenes, en hulle groei snel met die impak van regstellende aksie van die regering en ekonomiesebemagtigingsbeleide. Sedert 2001 het die Afrika LSM10-kategorie byvoorbeeld met meer as 200% toegeneem.

            Hierdie nuwe swart middelklas en elite mag klein wees, maar dit staan sterk uit in ´n bevolking waarin meer as 60% laag besoldig of arm is, en minstens ´n kwart op minder as 33 Amerikaanse dollar per maand leef. Die swart LSM 10-groep in die besonder het politieke invloed ver anderkant sy getalle. Dit neig om in ryker voorstede te woon en sy leidende lede gee die toon in kwessies van mode en styl aan. En soos die swart redakteur van een van die land se grootste koerante onlangs dit in ´n geslote gesprek betreur het, dryf hierdie klas weg van hulle taal en kultuur van oorsprong. Sy kinders gaan na Engelse skole en verloor hulle inheemse moedertale. Sommige kommentators verwys na die “Afro-Saksers”.

            In hierdie sin word Suid-Afrika baie soos talle ander Afrikalande waarin die elites leef en beweeg in kringe baie ver verwyderd van die massa mense. Soos elders in Afrika het die LSM 9 en 10-swartmense aangesluit by hul wit landgenote in die wêreldverbruikersamelewing. Hulle het die middele en al die nodige aspirasie om te integreer met die leefstylnorme en kulturele praktyke wat wêreldwyd versprei het. Hulle is volledig deel van die beweging weg van kulture en tale van oorsprong wat baie mense in ander etniese groepe, soos toenemende getalle Afrikaners, in die omhelsing van wêreldeenvormigheid ingetrek het.       Sowel die hoë middelklas as talle Afrikaners omvorm hulle identiteite en waardes om in die gety van wêreldverbruikerisme te dryf.

            Sowel die betrokke swart as Afrikanerklas ontken nie noodwendig hul etniese identiteite nie – tewens sommige is trots op en adverteer hul afkoms – maar hierdie identiteite loop die gevaar om mondelinge tekens van ´n verdwynende verlede te word. Albei is geneig om hulle etniese tradisionalisme te vermy, ofskoon sommige dit nog heimlik vanaf ´n veilige afstand mag bewonder. Hulle werklike betrokkenheid by tradisionele gemeenskappe en etniese organisasie is minimaal. Anders as sommige etniese individue – soos byvoorbeeld talle Joodse, Skotse of Indiese mense – het hulle dikwels nie die nodige ekstra selfvertroue om sowel die globale as hulle besondere kulture gelyktydig te omhels nie ten einde dit te versoen met n verrykte of uitgebreide sin van die self. Gevolglik betrek hulle verskuiwing na ku´lturele wêreldburgerskap ´n altyd aanwesige gevaar van die vervreemding van persoonlike geskiedenisse. Dit is die eerste afstand waarna ek vroeër verwys het.

            Dit is egter die tweede afstand wat meer tragies is. Dit is die situasie van die res van die swartmense en Afrikaners wat ´n ent heen gevoer is op die pad van globale waardes en norme, en weg van hulle wortelgemeenskappe, in die geloof dat hulle hoë middelklas en elite hulle sal lei en hulle rolmodelle sal wees. Die meeste swartmense is so arm dat hulle deelname aan globale kultuur suiwer tweedehands deur televisie en af en toe ´n tydskrif of twee is. Ander is minder arm – die laer middelklas – maar hulle lidmaatskap is tot ´n hoë mate gebaseer op huurkoopskuld en al die angs wat dit vergesel. Die goedere wat hulle koop is goedkoper variante van die ware Jakob: ersatz verbruikerskultuur.

            Anders as die hoër middelklas en die elite kan hierdie mense nooit uitsien nie na die konsolidasie van ´n nuwe identiteit deur werklike sukses in die wêreldekonomie te behaal. Hulle grootste risiko is dat hulle hul kulture en norme van oorsprong sal verloor sonder enige plaasvervanger. Hulle word dan die geatomiseerde massas van moderne verbruikerskap, die kanonvoer van wêreldhandel. En hulle elites sal slegs met verkiesingstyd of die advertering van nuwe produkvrystellings na hulle terugkeer.

            Hierdie is nie ´n tirade teen internasionale kapitalisme as sodanig nie. Alle groot en heroïese bewegings om mag of markte te verower eis offers en skep slagoffers, en het nog altyd dwarsdeur die geskiedenis so gemaak. Genadiglik vir Suid-Afrikaners is daar klein tekens dat sommige arm swartmense en verwarde Afrikaners die noodsaak van solidariteit begin herontdek.

 

_________

(1) Ruth Benedict, Patterns of Culture, New York: Houghton Mifflin, 1959.

(2) Thorstein Veblen, The theory of the leisure class, New York: New American Library, 1953.

(3) Skattings van Global Insight en Charles Meth aangehaal in Fast Facts van September 2005, uitgegee deur die SA Instituut van Rasseverhoudinge.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=444
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -