blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Hongkong, ´n gekibbel oor handeldrywery 2006-01-16
Bernard Cassen

*Adjunkredakteur, Le Monde diplomatique

**Hierdie artikel het in die Desember-uitgawe van Le Monde diplomatique verskyn. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois [email protected]

 

            Op sy hurke, ineengedoke, die rug gekeer op ’n tamaai aardbol wat lyk of dit óf oor hom sal rol en hom verbrysel, óf inteendeel hom sal kan stut, illustreer ’n landelike Latyns-Amerikaner in ’n poncho en sombrero die voorblad-opskrif van ’n onlangse uitgawe van die ultraliberale Britse weekblad The Economist (1): “Moeg van globalisering”.

            Enkele dae later verskyn dieselfde blad met ’n nog treffender opskrif: “Doodgemaak deur globalisasie”, verwysend na die dood van die Suid-Koreaanse boer Chung Yong-bum wat selfmoord gepleeg het deur ’n onkruiddoder te sluk uit protes teen die liberalisering van landboumarkte wat tot klein produsente in die Skiereiland se ondergang en verdwyning lei. Die arme man was burgemeester van ’n klein gemeenskappie naby Pusan waar daar enkele dae later, op 18 en 19 November, ’n spitsberaad gehou sou word van die Asië-Stille Oseaan ekonomiese forum (APEC), die streek se interstaatlike struktuur wat geen tree vir die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) hoef terug te staan wanneer dit by die ophemeling van die vryhandel kom nie.

            Goeie opskrifte, dié wat ’n betekenisvolle oomblik in ’n paar woorde kan kristalliseer, is soms veelseggend. Soos dié een wat die oog trek na die artikel oor Chung se dood: “Suid-Koreaanse kleinboere se woede jeens liberalisme stuit nie Asië-Stille Oseaan forum nie (2).” ’n Mens sou dit kon verwag het ... In die onderopskrif van sy hoofberig verskaf The Economist op ’n manier by voorbaat ’n morele regverdiging vir die staats- en regeringshoofde byeengebring in Pusan, met ’n indrukwekkende onverskilligheid teenoor die volk: die Andiese kleinboer wat so “moeg is van globalisering” het die kat heeltemal aan die stert beet; hy besef nie dat “die liberalisering van die handel en ander vorms van oopmaak nou noodsaakliker as ooit” is nie. Hier het ons ’n opsomming van die situasie op die vooraand van die WHO se ministeriële konferensie in Hongkong: Volke protesteer teen en verwerp selfs ’n neoliberalisme waarvan vryhandel die sentrale dogma is; politieke leiers onderhandel onderling agter hulle rug; en die verteenwoordigers van internasionale finansiële instellings, base van multinasionale maatskappye (3) en groot media dring aan op “telkens meer” liberalisering. “Red Doha” in Hongkong – ’n onderneming wat gevaarlik lyk in die lig van die teenstrydige belange in die spel, veral in die landbou – het hulle gesamentlike slagspreuk geword.

            Die dramatisering van die spertyd in Desember 2005 is nie blote taktiek nie. Die alomteenwoordige sake-onderhandelingsiklus wat in Doha – setel van die WHO-konferensie in 2001 – van stapel gestuur is, moet sonder versuim voor Desember 2006 afgehandel word, want in Junie 2007 verstryk die toestemming wat die Amerikaanse Kongres aan mnr. George Bush gegee het om handelsooreenkomste te beding wat vervolgens aan parlementslede vir stemmery voorgelê word sonder die moontlikheid van wysiging: die beroemde “vinnige baan” (fast track). Sonder ’n ooreenkoms in Hongkong is mnr. Bush geensins verseker van die hernuwing van hierdie ope verdrag nie. En in die twaalf maande van die jaar 2006 sal daar vinnig gespring moet word om aan die moontlike arbitrasies wat in Hongkong gelewer is, gestalte te gee.

            Die agtergrond lyk nie alte rooskleurig vir die lofredenaars van die vryhandel nie. Hulle het pas ’n skouspelagtige neerlaag gely tydens die vierde spitsberaad van die Amerikas wat van 4 tot 5 November in Mar del Plata (Argentinië) gehou is. Vir die eerste keer in die geskiedenis van hierdie byeenkoms kon die VSA nie hulle oogpunt oor liberalisering laat seëvier, wat die onderwerp van knoeiery by die WHO is, of belangriker nog, oor die Vryhandelstreek van die Amerikas (AFTA) nie. Gekonfronteer met die vasbeslotenheid van Venezuela se president Hugo Chávez, gesteun deur sy eweknieë uit die Mercosur-lande (Argentinië, Brasilië, Paraguay, Uruguay), kon mnr. Bush nie ’n datum vasgestel kry vir die hervatting van onderhandelings oor AFTA wat mnr. Chávez as “dood en begrawe” verklaar het nie.

            Teengestaan deur die laaste maatskaplike beweging op die vasteland, is die AFTA-projek ’n ekstrapolering op halfrondskaal van die Noord-Amerikaanse vryhandelsooreenkoms (NAFTA) wat Kanada, die VSA en Mexiko saamsnoer en waarvoor die Mexikaanse kleinboerebevolking die gelag betaal. Washington mag nou wel die een bilaterale verdrag na die ander onderteken om in ’n ongelyke tweestryd dit te verkry wat sy onderhandelaars nie binne ’n multilaterale struktuur kon regkry nie, maar die vertoning van eensgesindheid gelewer deur die Mercosur-lande, waarby Venezuela einde 2005 aansluit, is ’n faktor waarmee die VSA voortaan sal moet rekening hou.

            Verlede Oktober was die aanvaarding van die Konvensie oor die Beskerming en Bevordering van Diversiteit in Kulturele Uitings by Unesco se drie-en-dertigste Algemene Konferensie ook ’n neerlaag vir die VSA (die enigste saam met Israel wat dit teengestaan het), asook vir vryhandelsargumente (4). Die Konvensie skep ’n gesamentlike toesig oor internasionale kulturele onderhandelings saam met die WHO wat tot hier toe ook op dié gebied die enigste regulerings- of liewer dereguleringsinstansie was. Hoewel niks definitiefs nog bereik is nie – Washington gaan poog om die onderskrywing van die teks in die kwesbaarste hoofstede te saboteer, en niemand weet nog hoe gedinge tussen die WHO se reëls en dié van die Konvensie besleg sal word nie – sal daar voortaan een sektor wees wat amptelik sal ontkom aan die “dissiplines” van die algemene handeldrywery wat die Hongkong-byeenkoms beoog om in te stel.

            Die netwerk van kulturele spelers wat hulle beywer het om regerings om te haal om ten gunste van die Konvensie te stem, is nie die enigstes wat die gevare van vryhandel uitwys nie. In Europa en verder te lande begin plaaslike owerhede nou die Algemene Ooreenkoms op Handel in Dienste (AOHD) teenstaan. Talle verklaar hulself nou simbolies “buite” of “teen” die AOHD en dring aan op ’n moratorium van onderhandelings by die WHO.

            Binne die Europese Unie (EU) word België, Frankryk, Italië, Oostenryk, Spanje, die Verenigde Koninkryk en, meer onlangs – in ’n mindere mate – Duitsland, deur dié beweging geraak. Onlangs, op 22 en 23 Oktober, het hierdie lande in Luik ’n Europese Konvensie gehou waar hulle ’n resolusie aangeneem het wat onder meer daarop aandring dat die Europese kommissaris vir handel, mnr. Peter Mandelson, se onderhandelingsmandaat gewysig word en dat die belangrikste dienssektore van die onderhandelings uitgesluit word (5). Switserland en Kanada beleef die ontwikkeling van ’n soortgelyke beweging. Groot stede – Montreal, Wene, Parys, Turyn – het verklaar dat hulle die AOHD teenstaan. ’n Interessante detail is dat die WHO se gebou in Genève op ’n gebied staan wat amptelik “buite die WHO” is!

            Minder bekend is die feit dat federale state en stede in die VSA wat aan sterk populêre druk onderwerp word, die een besluit na die ander neem téén delokalisering en ten gunste van voorkeur aan plaaslike firmas wanneer tenders gevra word. Almal inisiatiewe wat die Europese Kommissie natuurlik geensins binne die Unie sal duld nie!

            Tussen Januarie 2003 en Junie 2005, in 46 uit die 50 federale state, het plaaslike parlemente minstens een wetsontwerp teen delokalisering ondersoek: die openbaarmaking van oproepsentrums se geografiese ligging, die plig om die staat in te lig voor daar gedelokaliseer word, reglementêre beperkings op die stuur van gegewens buite die nasionale grondgebied, die inkorting van openbare hulp, ensovoorts (6).

            Vir sover dit openbare markte aangaan, voeg talle state voorkeurklousules by vir plaaslike of nasionale firmas. Sommiges (Maryland, Colorado) gaan selfs verder deur aan te dring dat hul goewerneurs internasionale handelsooreenkomste (NAFTA, WHO) wat deur die federale regering onderteken word, vir goedkeuring aan die plaaslike sakekamer en senaat voorlê (7).

            In die Noorde merk ’n mens agter hierdie inisiatiewe die toenemend openlik geformuleerde sentiment dat alle individuele en kollektiewe bestaansorg besig is om te verkrummel onder die druk van ongebreidelde vryhandel wat lande met goedkoop arbeidskrag graag as “vergelykende voordeel” opeis. Binne die Europese Unie is die Bolkestein-riglyn so pas deur die Europese Parlement se Kommissie vir die Binnelandse Mark ingestem, met behoud van die land-van-oorsprong-beginsel. Met sy kosmetiese beperkings wat niemand flous nie, rig hy die visier op die laagste van salarisse en maatskaplike beskerming. In die VSA hang die skaduwee van Sjina (200 miljard dollar se handelstekort met dié land in 2005) en Indië donker oor alle besluite. Hierdie demografiese supermoondhede (meer as 2,5 miljard inwoners tussen die twee van hulle), met hulle geweldige reserwemagte van onderbetaalde werkers, is in staat om in ’n kort tydjie die handelsaangesig van die planeet te wysig. Daar is nie ’n enkele fabrieksproduk – op die uitsondering na van ’n handjie vol uiters gevorderde tegnologieë – wat nie uiteindelik binne die raamwerk van die Sjinese “liberale kommunisme” vervaardig kan word nie (8). Wat Indië betref, sal hy binnekort al die delokaliseerbare intellektuele dienste wat die wêreld benodig, op eie houtjie kan vervaardig.

            Maar delokalisering bevoordeel veral groot transnasionale maatskappye in die Noordelike halfrond wat hulle daar vestig om na hulle eie markte toe uit te voer: tussen 1994 en 2003 het hierdie maatskappye 65% tot die toename in Sjinese uitvoere bygedra. Dit is hoekom hulle so sterk ten gunste van totale “vryheid” van die handel is, met die uiteindelike doelwit van salarisdeflasie, soos so briljant aangetoon word deur ’n voormalige ekspert van die Franse maatskappye-vakbondbeweging (Medef), Jean-Luc Gréau, wie se jongste werk (9) een van die mees genadelose aanklagte is wat nog teen die vryhandel geskryf is.

            Hoe lank sal dit nog duur voor politieke leiers die omvang besef van die aanslag wat tans teen die salaristrekker woed, en dus van die probleme wat hulle die hoof sal moet bied wanneer nuwe, groot sektore van die bevolking ook na die buitewyke van ’n menswaardige bestaan uitgeskuif word?

 

_________

(1) The Economist, Londen, n° 8451, 5-11 November 2005.

(2) Le Monde, 20-21 November 2005.

(3) Die Financial Times publiseer in sy uitgawe van 8 November 2005 ’n oproep onderteken deur Jean-Marie Fourtou, voorgestel as voorsitter van Vivendi Universal se toesigraad, sowel as deur groot kokkedore uit die sakewêreld, wat ’n beroep op regerings doen om die nodige kompromieë te vind om die multilaterale handelstelsel te red “wat soveel gedoen het om die lewenstandaard gedurende die vorige halfeeu op te hef”.

(4) Lees Armand Mattelart, “


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=442
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -