blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


“Ons kan nie langer ons plig versaak nie”: ´n Onderhoud met Christo van der Rheede 2006-01-16

Die Vrye Afrikaan: Baie geluk met jou onlangse aanstelling as Hoof- Uitvoerende Beampte van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), wat Die Vrye Afrikaan in die besonder verwelkom op grond van jou uitgesproke verbintenis tot die gemeenskap. Wat het jou laat besluit om die aanstelling te aanvaar?

Christo van der Rheede: Dankie, ek waardeer die hartlike gelukwensing. Ek het voorverlede jaar veertig geword en dit was een van my oogmerke om nuwe ruimtes te verken. Ons lewe immers in ’n snelveranderende wêreld, en ek wil nie op sestig nog steeds vasgevang wees in dieselfde omgewing en in dieselfde beroep nie. As die Goeie Vader my genadig is, dan het ek nog sestig jaar oor om soos ’n Bartholomeus Dias van ouds kruisies op ander bodems te plant ter opheffing van al ons gemeenskappe.

DVA: Van gemeenskap gepraat: waarom is dit vir jou so belangrik? Waar kom jou passie vir die gemeenskap vandaan?

CvR: Ek het op ’n sendingstasie grootgeword waar ’n ongekende gees van ubuntu geheers het. Die sendingwinkel wat deur ene mnr. Steinmann bestuur is (hom moes ons ‘master’ noem), het die nodige luukses verskaf, maar andersins was die mense selfonderhoudend. Verskoon my as ek in die verlede tyd praat, maar ons familie woon nou al vir die afgelope 20 jaar in die stad. Ons het dus die varsste groente en vrugte daagliks uit die tuine geoes. My ma kon die lekkerste koek en brood bak, en die jaarlikse oesdankfees was ’n toonbeeld van die tuinbouers se gehalteprodukte en die gemeenskap se ekonomiese vooruitgang in die geheel. Hierdie kleine plekkie het ook dosyne onderwysers, vakmanne en ander beroepslui opgelewer, nie net uit die geledere van die welvarendes nie, maar ook vanuit die geledere van die minderbevoorregtes. My passie vir die gemeenskap moet dus teen dié agtergrond gesien word. Ek aanvaar dat nie alle mense oor die wil beskik  om hulleself op te hef nie; tog is dit belangrik dat alle mense in alle gemeenskappe ’n regverdige en gelyke geleentheid gebied word om vooruit te gaan. Dit is wat ek op Goedverwacht as kind waargeneem het – ’n maatskaplike orde waarin arm en ryk dieselfde skool- en kerkbanke gedeel het en deeglik bewus was van die feit dat hulle mekaar nodig het om suksesvol te oorleef.   

DVA: Bemagtiging is ’n woord wat deesdae ontsettend baie gebruik word. Ofskoon dit ’n lofwaardige ideaal is, is dit ook duidelik dat daar groot vergrype in die naam van bemagtiging plaasvind. Wat dink jy is bemagtiging?

CvR: Ek was bevoorreg deurdat ek die ontmagtigende gevolge van apartheid as kind vrygespring het en op hierdie sendingstasie ten volle bemagtig is. Bemagtiging ter plaatse het op vier pilare gerus: 1. Toegewyde onderwysers, moedertaalonderrig van gehalte en ’n toegankilke skool (Ons het nooit skoolfonds betaal nie, en ek onthou hoe die inspekteurs ons boeke en kunswerke kom haal het om aan ander skole te wys wat ons vermag het.) 2. ’n Gesonde waardestelsel (Daar is tot vandag net een kerk, die Morawiese kerk, wat ons geleer het dat alle mense deel is van God se kudde en dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself.) 3. Regverdige en gelyke toegang tot ekonomiese hulpbronne (Alle inwoners van Goedverwacht kon kwalifiseer vir ’n lap grond waarop hulle kon boer, ’n verskeidenheid van landbouprodukte kon produseer en aan die inwoners of mense van buite bemark.) 4. Gelyke deelname aan die bestuur of politieke bestel (Al die inwoners kon in die kerkraad of opsienersraad dien, en diegene wat dit om een of ander rede geboikot het, het hulle Saterdagmiddae aan die bottel vergryp en dan kans gesien om te vloek en skel voor die pastorie – tot groot vermaak van die kinders.)  Hierdie vier elemente of pilare is na my mening uiters belangrik om enige gemeenskap te bemagtig, en omdat dit in baie gemeenskappe ontbreek of slegs gedeeltelik aanwesig is, kan geen sinvolle bemagtiging plaasvind nie.

DVA: Terug na die vergrype wat rondom bemagtiging plaasvind. As ’n mens na die geskiedenis van Afrikaners terugkyk, merk jy op dat daar eers taalbevryding was, toe politieke bevryding en uiteindelik ekonomiese bevryding. Tans word daar egter in Suid-Afrika baie min aandag aan taalbevryding gegee, en word die groter politieke vryheid van Suid-Afrikaners toenemend besmet met ekonomiese gulsigheid ten koste van die meerderheid Suid-Afrikaners. Kan ’n mens dus aflei dat taalbevryding inderdaad die eerste vlak van bemagtiging is?

CvR: Dit is inderdaad so. Ons was gelukkig dat ons ten volle bemagtig is deur gehalteonderrig in ons moedertaal. Dit het ons in staat gestel om verder te studeer en met die min wat ons ouers tot ons beskikking gestel het, onderwysers, verpleegsters en selfs dokters te word.  Ons kon dus  almal toetree tot die beperkte ekonomiese ruimte wat deur apartheid vir ons geskep is en – afhangend van ons intellektuele vermoë of kundigheid – die ekonomiese potensiaal ontgin, nie net tot voordeel van onsself nie, maar ook tot voordeel van die breë gemeenskap.

Nou ja, gepraat van ekonomiese gulsigheid … Het ek reg in my aanname dat 90% van die land se rykdom in die hande van ’n klein groepie mense is, wat dit bekom het deur die oorgrote meerderheid van ons land se mense eerstens polities te isoleer en daarna deur ‘despotisme’ tot   ‘slawerny’ te dwing? Het ek reg in my tweede aanname dat die huidige ‘oligargie’ in besit geplaas word van die orige 10% deur diegene wat in beheer is van 90% van die land se rykdom? Hierdie koöptering het allermins iets te doen met ware swart ekonomiese bemagtiging en is ’n ongesonde strategie wat ons land op die lang duur baie skade gaan berokken, omdat dit die kloof tussen ryk en arm net verder vergroot. Die vier elemente – dit sluit in taalbemagtiging waarna ek in die vorige respons verwys – moet in plek gestel word voordat enige noemenswaardige bemagtiging kan plaasvind en om aan almal ’n regmatige aandeel in die ekonomie te gee.

DVA: Een van die opvallende kenmerke van die nuwe Afrikaanse taalbeweging na 1994 is dat Afrikaners meer prominent as ander Afrikaanssprekendes is. Ofskoon die minderheid van hierdie Afrikaners etnosentries in hulle betrokkenheid is, word die “etniese” kant van die taalbeweging dikwels voorgehou as die rede waarom ander Afrikaanssprekendes nie ewe betrokke is nie. Stem jy met hierdie argument saam, of is daar ook ander redes?

CvR: Afrikaansprekendes bevind hulle in twee wêrelde en voer die geprek oor en in Afrikaans vanaf twee verskillende platforms. Vanaf die eikehoutplatform praat ’n bemagtigde groep oor Afrikaans. Vanaf die afvalhoutplatform, ’n ontmagtigde groep in Afrikaans. Vir die ontmagtigdes is die polemiek oor die behoud van Afrikaans ’n ‘non-event’. Hulle weet nie eens daarvan nie, want die geleentheid om dieselfde skole by te woon en onderrig van gehalte te ontvang, was nie vir hulle beskore nie. Vir vele is die gedrukte en elektroniese media luukses wat hulle nie kan bekostig nie. Baie van hulle kinders sal ook nie veel verder as graad nege vorder nie, dus het hulle geen belang by tersiêre opleiding en die behoud van Afrikaans se hoër funksies nie.

 

Verder is die geprek opportunisties en eensydig, omdat dit nie daarop gemik is om ’n inklusiewe Afrikaanse milieu te skep waarin alle Afrikaansprekendes tuis voel en waarin Afrikaans as omgangstaal en akademiese taal sonder voorbehoud kan gedy nie.  Afrikaners moet dus ’n kopskuif maak. Dit sal verseker dat die gesprek oor Afrikaans nie gestigmatiseer word as ’n behoudende gesprek nie, maar dat die gesprek ook fokus op die impak wat armoede, werkloosheid en misdaad op die ontmagtigde Afrikaanssprekende het. Die gesprek moet ons morele verantwoordelikheid teenoor alle Suid-Afrikaners deurgaans beklemtoon en ons kollektiewe verantwoordelikheid ten opsigte van die skep van ’n nuwe orde, waarin elke mens se menswaardigheid eerbiedig word, herdefinieer. Ons is immers een nasie, of hoe?

 

DVA: Daar word dikwels gesê dat arm Afrikaanssprekendes die kwesbaarste is vir die verengelsing van openbare instellings, en tog hoor ’n mens hulle so selde. Wat kan gedoen word om hulle stemme meer te hoor? Of is dit maar ’n geval van “die werkersklas is nie van nature progressief nie”?

CvR: Kopskuiwe is ook nodig vanuit die ontmagtigde se geledere. Die afvalhoutplatform kan nie vir ewig ons leefwêreld konstrueer en as verwysingsraamwerk dien nie. Ontmagtigdes soos ek wat bo my omstandighede kon uitstyg, het ’n morele verantwoordelikheid om toe te sien dat die ontmagtigde Afrikaansprekende nie verder ontmagtig word nie. Ons kan dus nie langer in die kleedkamer filosofeer nie. Ons moet tot voor op die verhoog beweeg en ons misnoeë duidelik formuleer. Ons kan nie langer ons plig versaak nie, maar ons moet luidkeels protesteer, standpunt inneem en ophou romantiseer oor die Kaapse vlaktes. Dit is ’n ontmagtigende milieu wat baie die reg ontneem om akademies te presteer en bo hul omstandighede uit te styg. Ons kan dus nie stilbly as ons die verval rondom ons waarneem nie. Ons kan ook nie stilbly as ons terugbeweeg na die koloniale era en tersiêre inrigtings links en regs verengels nie. ‘The doors of learning’ moet juis nou so wyd en oop as moontlik gemaak word, nie net vir die nuwe Engelssprekende elite nie, maar ook vir andertaliges.

DVA: ’n Opvallende kenmerk van die stroom kritiek wat die Universiteit Stellenbosch oor dubbelmediumonderrig in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte gekry het, is dat dit nie net van Afrikanerkant kom nie, ofskoon voorstanders van dubbelmediumonderrig hard probeer het om dit so te laat lyk. Wat is jou eie standpunt oor dubbelmediumonderrig op skole en aan die US?

CvR: Afrikaans is die moedertaal van die oorgrote meerderheid inwoners van die Wes-Kaap, en ons kan met reg eis dat minstens een universiteit in die Wes-Kaap Afrikaans as amptelike voertaal behou. Maar ons eis moet verder strek as net dit. Ons moet daadwerklike pogings aanwend om die US se deure wyer oop te maak, ook vir die ontmagtigde Afrikaanssprekende en andertalige landgenote, deur oorweging te skenk aan ’n parallelmedium-onderrigbenadering. Die US kan nie langer ’n ‘wit’ enklawe bly nie, dit moet ’n inklusiewe instelling word, en buitekurrikulêre aktiwiteite moet ook meer verteenwoordigend word van veral bruin en swart Afrikaanssprekendes. 

DVA: Terug na die SBA self. Watter projekte gaan prioriteit geniet? En hoe kan die breër publiek betrokke raak?

CvR: Dit is ons begeerte om ’n volhoubare en aktiewe leserspubliek vir die toekoms te verseker. Ons is tans besig met volwassegeletterdheidsprojekte op die platteland en in die stad en wil dit graag uitbrei. Verder gaan ons poog om ons leesondersteuningsprogram vir laerskole in al drie amptelike tale van die Wes-Kaap te publiseer. Die Funda-projek is ’n wonderlike projek wat deur onderwysers by talle skole benut word en dit help veral leerders in die intermediêre fase wat nie kan lees nie, of wie se leesvermoë benede die aanvaarbare norm is. ’n Tweede projek waaroor ons besin, is die druk van ’n tweetalige jeugkoerant wat gerig is op die arm Afrikaans- en Xhosasprekende skoolgaande jeugdige. Dit is bestem om oor ’n reeks eietydse jeugvraagstukke op ’n jeugvriendelike dog opvoedkundige wyse maandeliks of kwartaalliks te handel. Die hoofoogmerk van die jeugkoerant is om die nuwe geslag jeugdiges aan te moedig om voluit te leef in hul moedertale, om wedersydse onkunde te oorkom deur mekaar se tale te leer praat en om wedersydse begrip en respek vir mekaar se kulture te ontwikkel.

Nog voortreflike projekte is die Bravo-projek wat ten doel het om hoërskoolleerders se kommunikasievermoëns te verbeter en hulle deur middel van slypskole vir die eindeksamens voor te berei. Ons werk ook saam met die drie universiteite in die provinsie en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement om leerkragte jaarliks opleiding te gee in verskillende aspekte van letterkundeonderrig. Die Afrikaanse Ekspo bied verder ’n geleentheid aan Afrikaanse eerste-, tweede- en derdetaalsprekers om deel te neem aan ’n landwye taalkompetisie. Sowat 16 000 leerders in al 9 provinsies neem deel, en ’n paneel van kundiges beoordeel die inskrywings en wys leerders aan wat in bepaalde afdelings die beste vaar. Verder wil ons ook betrokke raak by bewusmakingsveldtogte, die bevordering van kuns en kultuur en opheffingsprojekte.


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=441
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -