|
||||
Johann Rossouw *Redakteur **Deur Martin Meredith, Johannesburg: Jonathan Ball, 2005, 752 bladsye
Martin Meredith se reuseboek oor die afgelope vyftig jaar se geskiedenis van Afrika na onafhanklikwording is ’n omvattende oorsig van hierdie tydvak vir enigiemand wat sigself van die feite wil vergewis. Dit is toeganklik en baie goed geskryf, soos ’n mens sou verwag van ’n opgeleide joernalis wat Afrika bykans sy lewe lank reeds dek, beginnende as korrespondent in Zambië in die vroeë 1960’s. Soos verskeie resensente al aangedui het, probeer Meredith nie ’n teoretiese raamwerk vir die ontleding van Afrika se probleme ontwikkel nie – dit is tegelyk die boek se sterk- en swakpunt. Sterkpunt, omdat dit Meredith in staat stel om al sy aandag te bepaal by die opstapeling van die belangrikste feite oor hierdie tydvak; sterkpunt omdat selfs die “blote feitelike waarnemer” – in soverre daar hoegenaamd so iets is – natuurlik altyd vanuit die een of ander vertolkingsraamwerk waarneem. In Meredith se geval is hierdie raamwerk klaarblyklik dié van die heersende liberaal-demokratiese maatstawwe van regering, asook van die Westerse industriële model van ekonomiese groei. Hierdie maatstawwe het in die Weste self tot stand gekom na ’n stryd van eeue, en dit kan geensins in alle opsigte voorgehou word as die alfa en die omega nie: liberale demokrasie kon nie die vernietiging van ’n sin van gemeenskap in die Weste teenwerk nie en het dit trouens in belangrike opsigte selfs aangehelp, byvoorbeeld deur die individu eerder as die gemeenskap as die verwysingspunt van die politiek te verstaan. Eweneens is die ekologiese skade van Westerse industrialisering (en die Westerse uitvoer van dié model na ander wêrelddele) welbekend, om maar te swyg oor die mate waarin Westerse nywerheidsukses op die plundering van die hulpbronne van onder meer Afrika geskoei is – ’n proses wat vandag nog ongestoord voortgaan, ofskoon meer gesofistikeerd as ooit, soos Meredith self aantoon in sy uitsondering van die een na die ander Afrikaleier se verkwanseling van nasionale grondstowwe en produksie aan Westerse kopers. Aangesien Meredith die liberale, industriële demokrasie van die Weste as sy maatstaf neem, verklaar dit dan ook waarom sy perspektief op Afrika so somber is. Die regeringspraktyke en industriële ekonomie (of gebrek daaraan) is dan inderdaad die twee groot maatstawwe waarmee Afrika sedert onafhanklikwording, oftewel dekolonisasie, gemeet word. En laat dit nou maar gesê word, of jy nou Meredith se kriteria wil betwis of nie, is die verhaal wat hy hier vertel een van enorme lyding wat geweldige eise aan die leser stel. Dit kan vir geen lojale Afrikaan of liefhebber van die vasteland aangenaam wees om die een variasie na die ander op die tipiese postkoloniale Afrikapatroon te lees nie. In breë trekke kom dié patroon neer op ’n suksesvolle vryheidstryd gevolg deur ’n euforiese wittebroodsfase waarin die een bevrydingsleier na die ander uiteindelik sy rug (daar was nie ’n enkele haar nie) op sy ideale draai, die staat algaande in ’n persoonlike speelveld verander, die land droogplunder en oplaas waarskynlik by wyse van ’n militêre staatsgreep omvergewerp word – waarna die proses weer van voor af begin. In die proses word ontsettende geweld dikwels gepleeg en word die gemeenskappe van Afrika net verder afgetakel, verneder en verwoes. Soos Meredith dan ook aantoon, verander hierdie patroon in ’n mate vanaf die 1980’s: ofskoon die staatsgreep guns as metode van magsoorname begin verloor en skynverkiesings nou die voorkeurmetode word, neem die korrupsie nie noodwendig af nie. Die indruk word geskep dat Meredith wel soek na uitsonderings op die normale patroon, ofskoon dalk nie hard genoeg nie. Dié indruk spruit voort uit die buitengewoon groot deel van die boek wat hy aan Suid-Afrika in vergelyking met ander Afrikalande afstaan, en hy loof Suid-Afrika (saam met Botswana) as stabiele demokrasie met groot belofte. Maar vir die res van Afrika is Meredith se prentjie een van groot duister – geskets met groot deeglikheid. Ek is self nie bevoeg om Meredith se feitelike prentjie te betwis nie, en dit ly geen twyfel nie dat sy beeld van Afrika in vele opsigte lewensgetrou is. Die vraag is net waar dit ’n mens laat. Kan die verantwoordelike Afrikawaarnemer sy nering sonder teoretiese besinning ook beoefen? Moet die Westerse verhaal van modernisering met die spesifieke vorm van liberale, industriële demokrasie waarop dit uitgeloop het in weerwil van sy donker kante nou maar eenmaal staan as model vir die res van die planeet? Ek glo van nee. Hiermee wil ek vir geen oomblik beweer dat die verantwoordelikheid vir Afrika se ellendes goedsmoeds weggepraat kan word deur die Weste vir alles te blameer nie – tereg is Meredith soms snydend in sy kritiek op Westerse bydraes tot Afrika se ellende, byvoorbeeld Mitterand en die Rwandese volksmoord, of die VSA se steun aan Samuel Doe in Liberië. Nog minder wil ek aanvoer dat die verruiling van teoretiese modelle Afrika se probleme eensklaps sal wegtoor. Wat ek egter wel wil sê, is dat die ellende van Afrika onlosmaaklik deel is van die onverbiddelike verhaal van Westerse modernisering oor die afgelope twee- tot driehonderd jaar – en dat min daarop dui dat hierdie verskynsel besig is om te verander. Dit is presies hier waar die stryd om ’n vrye Afrika sy energie moet fokus, in samewerking met alle kragte wêreldwyd wat soek na ’n ander moderniteit, een waarin gemeenskap voorop staan en waarin die staat sy legitimiteit in die federale eerder as die sentralistiese benadering vind. In ’n onderhoud wat Meredith gedurende Oktober verlede jaar met Gerrit Brand van Die Burger gevoer het, het hy Afrika se gemeenskappe as bevrydende krag eksplisiet afgewys omdat hulle te swak sou wees. Daarenteen vestig hy sy hoop op beter leierskap en beter regering: mooi Westerse raad vir Westerse omstandighede. In Afrika is en bly die vernaamste probleem die einste koloniale staat wat Meredith beter bestuur wil sien. Natuurlik moet hierdie staat beter bestuur word, maar wat nog belangriker is, is dat hierdie staat grondig herdink en hersien moet word ten einde dit aan te pas by die ware behoeftes van Afrika se mense. Daar is min voorbeelde in die geskiedenis van mense wat, wanneer hulle ’n absolute magsinstrument oornag ontvang het, dit nie gruwelik misbruik het nie, presies soos Afrika se postkoloniale leiers met die staat gemaak het. Tradisionele etniese verbintenisse van hierdie leiers is dan via staatsmag verander in die lelike monster van tribalisme, waardeur etnisiteit so besoedel geraak het dat geen selfrespekterende kommentator daarvan wil praat nie, terwyl die staat self ook nog minder aan die orde gestel word. Meredith mag reken dat die gemeenskappe van Afrika te swak is, maar dan wys sy eie boek hoe die bepaalde alliansie tussen korrupte Westerse en Afrikaleiers ingespan word om die staat in Afrika te verryk – en gemeenskappe presies in daardie swak posisie te hou. Dwarsoor die wêreld het ons in die tweede helfte van die twintigste eeu gesien watter diep betekenisvolle band gemeenskapsverbintenisse by mense speel: wanneer dit erken word, kan dit kragtige impulse vir vernuwing wees; wanneer dit misken word, kan dit eweneens die grootse verwoesting en geweld ontketen. Nêrens in Afrika manifesteer hierdie feite duideliker as via twee prosesse nie: eerstens die volgehoue miskenning van Afrika se inheemse tale; tweedens die volgehoue weerhouding van kapitaal van Afrika se gemeenskappe. Feitlik nêrens in Afrika word die onderwysbegroting op onderrig in die inheemse tale bestee nie, net soos buitelandse beleggings of ander vorme van kapitaal oor die algemeen gekanaliseer word na mense in die dampkring van die staat. ’n Mens sou heelwat verder op hierdie tema kon voortborduur, maar dit sou reeds te ver afwyk van ’n resensie van Meredith se boek self. Al wat ek met hierdie kortlikse afwyking wil beklemtoon, is dat die gesprek oor Afrika eenvoudig nie losgemaak kan word van ’n deeglike teoretiese besinning nie, net soos dit ook nie kan plaasvind sonder om oor ’n ander vorm van modernisering te dink nie. ’n Mens sou kon aanvoer dat die skeiding van teorie en praktyk eintlik slegs moontlik is waar praktyke so stabiel is, dat teorie as’t ware geen impak meer daarop het nie. In Afrika is dit allesbehalwe die geval: hier is die wigte en teenwigte in die maatskaplike werklikheid na die afgelope drie tot vier eeue se plundering en korrupsie so broos, dat die gaping tussen dink en doen te klein is om die dink en die doen gerieflik van mekaar los te maak. Met ander woorde: wie oor Afrika verslag wil doen, moet tegelyk ontleed en verder dink, so nie bly die gevaar dat die siekte wat die simptome veroorsaak – die onvermoë om buite een soort modernisering te dink – self nie behandel word nie. |