|
||||
Stefano Liberti * Joernalis. **Hierdie artikel het verskyn in die Desember-uitgawe van Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois [email protected]
Die dorpie Mongbwalu, in Ituri, in die noordooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), lyk soos iets uit die Wilde Weste: ’n enkele stofstraat omsoom met kafees wat na saloons lyk; ’n vlooi-hotelletjie met ’n gehawende uithangbord; klompies jong motorfietsryers wat die kom en gaan van verbygangers dophou asof hulle enige oomblik ’n tweegeveg te wagte is. Die vergelyking is nie so vergesog nie: hier, soos in die dorpe wat tydens die goudstormloop in die VSA soos paddastoele opgeskiet het, draai alle bedrywighede om die edelmetaal. Ituri lê in die middel van een van die wêreld se grootste goudstreke. Honderde kilogramme goud word elke maand ontgin uit geprakseerde myne wat rondom die verlate dorpie Mongbwalu verstrooi lê. Eers word dit onwettig na die naburige Uganda gekarwei, waarna die metaal na Europa toe uitgevoer word, in die besonder Switserland. Die kolossale winste wat daaruit gemaak word, is ’n bron van nyd en die basis van die konflik wat sedert 1997 die DRK en hierdie streek in ’n bloedbad gedompel het. Sy mineraalryke ondergrond het aan hierdie Afrika-reus van ’n voormalige Zaïre die bynaam van “geologiese skandaal” besorg. Mongbwalu het ’n soort “tropiese Klondike” geword sedert die diktator Mobutu Sese Seko in 1982 die ontginning van die edelmetaal in sekere streke van die land bevry het. Duisende koorsagtige, geïmproviseerde myners het hulle in ’n “besigheid” gewerp wat selfs nie deur die mees tragiese oomblikke van die oorlog onderbreek is nie. Elke oggend douvoordag, aan boord van viertrekskedonke, ry hulle die dorpie uit op die gaterige grondpad na die ontginningsterreine toe. Daar aangekom, breek hulle in spanne op en begin grawe. ’n Ontsaglike miernes waar honderde mans in die moddertonnels werskaf ... Tot heuphoogte in die water staan sommiges teen ’n koorsagtige tempo en spit en gooi die grond in plastiekbakke, wat dan weer aangegee word na dié wat aan weerskante van die grondwalle vasklou soos piepklein skakeltjies in ’n frenetiese monteerketting. Elke span werk vir homself: deurweekte stof en klippies beland op ’n sif bo-oor ’n plas water. Eers word daar na die stofgoud gesoek. Daarna, in die hoop om die kosbare are te sien verskyn, word die mees belowende klippe uitmekaar gemoker. “’n Mens moet jou storie ken om te weet waar om te grawe,” verduidelik Etienne, wat al minstens tien jaar op die heuwels van Mongbwalu deurgebring het. Om hom fynkam ’n groep jong werkers sorgvuldig die klein stukkies klip wat in die sif oorgebly het, op soek na enkele spikkeltjies blink. “Vandag was ons nie gelukkig nie,” gaan Etienne voort. “Maar ek is seker dit sal vorentoe beter gaan. As ons ’n ordentlike stuk kry, kan ons vyf dollar elk verdien.” Bo-op die grondwal sien mens die reste van ’n staalkonstruksie: dis wat oorbly van die “fabriek”, die openbare maatskappy wat bedoel was om goud te ontgin in die Kilo-Moto-streek waarvan Mongbwalu die poort is. Bedrywighede was in volle swang hier in die tyd van Joseph Mobutu, toe Ituri onder die Kinshasa-regering se bewind gestaan het. Destyds het winste uit die verkope reguit in die Zaïrese diktator se sak beland, waaruit hy ongesteurd ’n fortuin in buitelandse banke kon opbou. Dit is kort na sy val in 1997 dat die gevegte om beheer oor dié skatryk stukkie aarde begin het. Die Kilo-Moto-streek is een van die grootste broeiplekke van onstabiliteit in die Groot Mere-distrik. Sy uitsonderlike potensiaal - dis een van die mees uitgestrekte goudstreke op die vasteland - het die hebsug van die hoofspelers in die “eerste Afrika-wêreldoorlog” wakker gemaak: in 1998, toe Rwanda en Uganda die land binnegeval het, is die streek beset deur die Kampala-magte wat die goud reguit per vliegtuig huis toe gevat het. Ná die Sun City-verdrae (Suid-Afrika) in 2003, toe die buitelandse troepe die land ontruim het, het die streek die arena geword van gewelddadige gevegte tussen die Unie van Patriotiese Kongolese (UPC), ondersteun deur Rwanda, en die Front van Nasionaliste en Integrasioniste (FNI), met Ugandese bande. Die botsings sou uiteindelik 60 000 lewens eis, ondanks die bedeesde optredes van die Verenigde Nasies se Sending na die Kongo (Monuc), wat sedert 1999 daar teenwoordig is. Nadat dit eers in die UPC se hande geval het, word die myn vervolgens oorgeneem deur die FNI, wat dit vandag steeds as hougoed beskou. Onder meer is die burgermagte daarvan beskuldig dat hulle die werkers aan dwangarbeid onderwerp het. Volgens ’n onlangse verslag van die nieregeringsorganisasie (NGO) Human Rights Watch, sou die FNI op ’n gedeelte van die goud beslag lê en ’n dollar per dag van die myners verhaal vir die voorreg om in die myne te kan werk. Die stryders ontken dit heftig: “Daar is nou vrede, ons manne het hulle wapens neergelê. Al die werkers werk vir hulleself en vir die algemene welstand van die land,” bevestig mnr. Iribi Pitchou Kasamba. Klein maar kordaat, is hy vandag hoof van die beweging, nadat die partyvoorsitter, mnr. Floribert Ndjabu, in Maart 2005 in Kinshasa in hegtenis geneem is op aanklag dat hy die moord op nege Bangladesjiese VN- vredesmaglede in Februarie 2005 in Ituri gelas het. Omring van sy “luitenante” in die omgewing van die ontginningsterrein waar hulle ’n kombinasie van vrees en respek by die myners inboesem, bestempel mnr. Kadamba die Amerikaanse NGO se aantygings as “louter snert”. “Die enigste geld wat ons ontvang het,” voeg hy by, “is die 8 000 dollar wat AngloGold Ashanti heeltemal vrywillig aan ons gegee het.” Dié groot Suid-Afrikaanse maatskappy, wat ontginningsregte op ’n konsessie van 10 000 km2 rondom Mongbwalu verkry het, is onlangs daarvan aangekla dat hy omkoopgeld aan die rebelle betaal het. In der waarheid verbied die VN se embargo sedert 2003 enige steun aan gewapende groepe in die DRK. Die maatskappy se hoofde het verklaar dat hulle verplig was om dié oortreding te begaan ten einde hulle werknemers se veiligheid te waarborg. Maar die skandaal het die firma se reputasie des te meer geskaad daar hy so ’n gewag maak van sy “etiese” beleid geïnspireer deur “maatskappy-verantwoordelikheid”. In ieder geval het AngloGold Ashanti nog steeds nie met die ontginning van sy konsessie begin nie. En tans word daar op primitiewe wyse met grawe en siwwe gemyn. Naby die terrein staan ’n skare mans gewapen met weegskale gereed om te koop. Rondom bondel die gelukkiger goudsoekers saam, met ’n glimlag om die mond en hul skamele vonds in die hand. Dis die begin van die transaksie: die stofgoud word op ’n koolstoof gesit en met salpetersuur gemeng om die onsuiwerhede daarvan los te maak. As dié operasie afgehandel is, word die oorblywende goud geweeg en gekoop. Die prys klim tot by ongeveer 10 dollar per gram. Die koers wissel na gelang van die mark en styg hoe verder ’n mens van die ontginningsterrein af beweeg. In Bunia, hoofdorp van Ituri, is goud 11,5 dollar per gram werd. Klein kopers by die bron, asook dosyne ander wat in Mongbwalu se hoofstraat saamdrom, werk vir tussengangers in Bunia en Butembo in die naburige Noord-Kivuprovinsie. ’n Magdom klein bedryfies is op die ontginning van die myn geënt: vroue verkoop vrugte, aartappels en rys; jong motorfietsryers bied ’n vervoerdiens tussen die ontginningsterrein en die middedorp van Mongbwalu aan; ’n bontspul musikante wat lyk of hulle handiger met die geweer as met die kitaar kan wees, is waarskynlik besig om ’n ogie oor die kom en gaan te hou. Die beheerstelsel van die winste kom goed geolie voor: dit wil inderdaad voorkom of die FNI ’n deel van die verkope ontvang. Maar dit is moeilik om te bewys: die blote teenwoordigheid van die partyvoorsitter, mnr. Iribi Pitchou Kasamba, is genoeg om die monde te snoer. Dit is eers later, met die belofte dat hy anoniem sal bly, dat ’n inwoner van Mongbwalu inwillig om vir ons sy eie weergawe te gee: “In die fabriek en in die ander myne naby die dorp beheer die FNI dinge maar so effentjies. Vandat die VN-vryheidsmagte aangekom het, moet die burgermagte stiller te werk gaan. Maar sodra jy ’n paar kilometer verder gaan, word dinge nog soos in die verlede gedoen: dwangarbeid, goud wat gekonfiskeer word, teistering.” Die 140 Pakistanse soldate van die Monuc, wat die burgermagte moet ontwapen en wat in April 2005 aangekom het, hou hulle nog meer op die agtergrond as die vegters. Hulle bly in hulle kampe op die rand van die dorp en beperk hulle tot sporadiese patrollering. Een van die hoofde van die afdeling erken dan ook dat hulle “nie mooi weet wat daar anderkant in die myne aangaan nie”. By Hoofkwartier in Bunia word dié toedrag van sake sonder skroom bevestig: “In teorie sou die Monuc die handel in hulpbronne kon dophou,” reken me. Karin Volkner, die sending se sogenaamde beampte vir politieke aangeleenthede, “maar in werklikheid beskik ons nie juis oor die middele om sodanige beheer uit te oefen nie. In Mongbwalu is daar slegs ’n militêre afdeling. Ons beoog om ’n groep burgerlikes soontoe te stuur, maar tot op hede het ons nog net verkenningsmissies geloods”. Hoewel hulle soms by gewapende optredes betrokke is en by die ondersteuning van die verkiesingsproses wat ’n einde aan die oorgangstydperk moet bring, steur die Monuc-manne hulle maar min aan die onwettige handel wat reg onder hulle neuse aan die gang is. Want in Bunia word stofgoud oop en bloot verkoop. In hierdie oorlog- en armoedegeteisterde dorp, waarin duisende vlugtelinge nog in ’n kamp naby die lughawe opeengebondel sit, vorm die handel in die geel metaal die enigste moontlike ekonomiese bedrywigheid. Op die twee plaaslike markte lyk dit of amper almal daaraan deelneem. Sommiges doen dit opsigtelik: die borde bokant hulle kraampies verkondig “Goud hier gekoop”. Ander is meer diskreet. Maar die aanwesigheid van ’n weegskaal en ’n bottel salpetersuur laat min twyfel oor hulle werklike bedrywigheid. Ingevolge die Kongolese mynwet wat in 2002 aanvaar is, moet toestemming van die sentrale owerhede verkry word vir enige kleinhandel in goud. Maar in hierdie streek waar die staat niebestaande is, lyk dit nie of enigeen hom hieraan steur nie. “Ituri ly onder die onvermoë van die staatsinstellings,” betreur me. Volkner die saak. “Die Kinshasa-regering, wat baie ver is, het hom nog nooit moeg gemaak oor die bevolkingsgroepe in die ooste van die land nie. Boonop is sommige ministers direk betrokke by die onwettige handel in grondstowwe en het hulle geen belang by die herstel van vrede in die streek nie.” Die hele bedryf berus op ’n goed georganiseerde netwerk van amateurmyners, kopers en tussengangers. Die handelaars op die dorp se goud word opgekoop deur ’n handjievol sakemanne wat dit in die geheim Kampala toe vervoer. Die smokkelaars gebruik die mees uiteenlopende middele (vragmotors, viertrekmotors, motorfietse, kano’s oor die Albertmeer) en maak staat op die bykans totale afwesigheid van beheer by die Kongolese grens. Hoe verder dit gaan, hoe kleiner raak die aantal rolspelers. In die Ugandese hoofstad is daar net drie maatskappye wat die goud koop, en almal van hulle word deur ondernemers van Indiese afkoms bestuur. Die grootste van die drie, Uganda Commercial Impex Ltd. (UCI), se hoofkantoor is in die voorstad Kamutckia, ’n halfuur se ry van die middestad. “Elke maand,” vertel die eienaar Jamnadas Vasanji Lodhia, “koop ons ongeveer 350 kg goud, teen ’n totaal van 5 miljoen dollar. En ons verskaffers is altyd dieselfdes: sewentien mense, almal Kongolese van Bunia en Butembo.” Die bekendste onder hulle is ongetwyfeld mnr. Kambala Kisoni, eienaar van Congocom Trading House en ’n klein Antonov wat, onder die naam “Butembo Airlines”, vir amper daaglikse vlugte tussen Mongbwalu en Butembo sorg. Die Verenigde Nasies beskuldig hom daarvan dat hy die embargo keer op keer oortree het: volgens VN-deskundiges sou hy die vervoer van FNI-wapens en personeel na Mongbwalu aangehelp het. In ’n telefoongesprek ontken mnr. Kisoni alle aantygings: “Ons word beskou as medepligtiges van die rebelle. In werklikheid is ons gyselaars van die FNI-mense wat die gebied totaal oorheers. Hulle dwing ons om 60 dollar te betaal elke keer dat ons in Mongbwalu land. Ons wil graag hê dat die Kongolese gewapende magte beheer oor die streek herwin en die orde daar herstel.” Mnr. Kisoni ontken nie dat hy goud sonder die toestemming van die Ministerie van Mynwese in Kinshasa uitvoer nie, maar hy regverdig sy optrede: “Dit het gevaarlik geword om met ’n permit uit te voer. As ’n mens kyk na die korrupsie in die staatsbestuur, loop ons gevaar om alles te verloor. Vroeër het ons ’n permit gehad, maar ons vrag goud is al drie keer geroof. En ons weet dat die rowers bande met die regering gehad het.” Volgens die Kongolese ondernemer is Congocom niks minder as ’n informele bank nie: “Goud is ’n ruilmiddel hier. Met dié van ons kliënte koop ons goedere wat hulle dan weer in die Kongo verkoop. Die kopers in Kampala, soos Uganda Commercial Impex, sorg dat krediet oopgemaak word by die groot firmas wat die produkte aan ons kliënte verskaf. Ons werk maar net as tussengangers tussen die handelaars in die weste van die Kongo en die Ugandese maatskappye.” In Kampala word die goud wat die UCI koop by die firma se hoofkwartier gesmelt. Die klein stawe word dan elke maand na Metalor Technologies SA in Neuchâtel (Switserland), een van die belangrikste Europese firmas vir edelmetaal, gestuur. Maar sedert Junie 2005 lyk dit of daar ’n blokkasie in die mark is: na aanleiding van ’n verslag wat deur Human Rights Watch gepubliseer is, het die Switserse maatskappy besluit om invoere te staak. Die woedende baas van Uganda Commercial Impex Ltd draai nie doekies om nie: “Hierdie handel bestaan al langer as ’n eeu. Ek verstaan nie hoekom maak hulle ’n bohaai daaroor nie. Hulle beskuldig ons dat ons die Kongo se rykdom afvat, maar ons verskaffers is almal Kongolese wat met die geld wat ons hulle gee, handelsware koop wat hulle tuis kan verkoop, waar daar niks is nie. Hulle koop nie wapens nie, hulle koop suiker, koffie, komberse en klere. Vir wat sal hulle ook nou wapens wil koop? Die Kongo loop oor daarvan. Ekonomies gesproke, is dit die ding wat die minste inbring.” Mnr. Lodhia ontken dat hy enigiets weet van veronderstelde bande tussen sy verskaffers en die gewapende groepe in Ituri. Hy vertel dat hy Bunia en Butembo ken, maar nog nooit in Mongbwalu was nie. “Dit het al gebeur dat ek ons kliënte in die ooste van die land gaan sien het,” sê hy, “maar ek was nog nooit by die myne nie.” Hy wys ons sy maatskappy se boeke, waar miljoene dollars se transaksies met sy Kongolese kliënte opgeteken is: die geld word grootliks in aflandige banke in Mauritius of Hongkong belê. “Ons verskaffers vertrou glad nie die plaaslike banke nie,” verduidelik hy. “Ons betaal die geld in by die rekeninge wat hulle vir ons aandui. Wat volgens die wet is.” Hierdie handel is inderdaad heeltemal wettig: Die Ugandese staat vereis geen sertifikaat van oorsprong nie. Hy vra slegs ’n 0,5% heffing op gouduitvoere en lisensiegeld van 1 200 dollar per jaar. In teorie moet metaal wat van buite af ingevoer word, aangemeld word sodra dit die land binnekom. Maar dit is so maklik om die grens tussen die Kongo en Uganda oor te steek dat niemand die moeite doen om deur die doeane te gaan nie. Die syfers verklap die omvang van dié handel: in 2003 het plaaslike goudproduksie se waarde op 23 000 dollar gestaan, amptelik ingevoerde goud op 2 000 dollar, en dié wat uitgevoer is, op ... 45 miljoen dollar. Volgens dieselfde gegewens wat deur die Ministerie van Energiesake en Mynwese in Kampala verskaf is, het Uganda daardie selfde jaar 40 kg goud geproduseer en meer as vier ton uitgevoer (in 2002 is die amptelike produksie op 2,6 kg geraam teenoor uitvoere van 7,6 ton). Omrede dié kolossale operasie van gewettigde smokkelary, is goud die tweede grootste bron van uitvoere in Uganda ná koffie. “Dis ’n allemansgeheim!” aldus die verontwaardigde mnr. Lodhia. “Almal weet dat die goud in Kampala uit die Kongo kom. In elk geval, in die ou Zaïre, veral in die ooste, bestaan die staat omtrent nie en daar is geen beheer nie. Dit was nog altyd so, van Mobutu se tyd af.” In werklikheid het Uganda die spil vir Kongolese goudhandel geword sedert 1994 toe die Kampala-regering besluit het om die Sentrale Bank se alleenreg om die edelmetaal te koop, op te hef, die hoë uitvoerbelasting (3 tot 5%) af te skaf, en die regulasies wat tot in daardie stadium op handelsmaatskappye afgedwing is, te verslap. Voorheen is goud uit Ituri deur Kenia vervoer, waar die handel reeds vry was. Mnr. Lodhia erken self dat hy van Nairobi af na Kampala toe gegaan het. “Uit ’n logistieke oogpunt is dit baie eenvoudiger om van Uganda af te werk: die land is baie nader aan die Demokratiese Republiek van die Kongo, en daarby is die veiligheidsopset uitstekend,” verduidelik die Indiese ondernemer. Op pad tussen die Kongolese dorpe en die Ugandese hoofstad neem die waarde van die goud toe: Uganda Commercial Impex koop dit teen 13,5 dollar per gram. Die buitelandse verkoopprys wissel na gelang van internasionale markskommelinge. “Maar ons werk op die basis van ’n 0,5% winsgrens,” verklaar mnr. Lodhia, en voeg by: “Die uitvoer van goud is die hoofbron van inkomste vir duisende mense in die ooste van die Kongo. Hierdie strydlustiges van Human Rights Watch baklei knaend om dit stop te sit, maar hulle word aangevuur deur ’n ideologie wat die einste mense wat hulle wil beskerm, te na kom. Ek self verloor geld, maar ek kom nie om van die honger nie. As die Switsers nie meer koop nie en as ek nie ander afsetplekke kry nie, sal ek binnekort verplig wees om my aankope te staak.” Van die amateurmyners van Mongbwalu tot by die groot handelaars in Kampala, om nie die tussengangers in Bunia en Butembo te vergeet nie, is daar inderdaad duisende spelers betrokke by hierdie handel. Hoewel dit onteenseglik waar is dat die ontginning van goud die gewapende groepe in die ooste van die DRK onderhou het en steeds onderhou, sou dit moeilik wees om deur embargo's of dergelike praktyke ’n einde daaraan te maak. Des te meer omdat dit nie mooi duidelik is wie sulke maatreëls sou toepas nie. ’n Groep VN-deskundiges reken bowendien dat “inaggenome die grootte van die land, ’n totale verbod op die uitvoer van die Demokratiese Republiek van die Kongo se natuurlike bronne ’n uiters duur en moeilik toepasbare maatreël sou wees”. Volgens hulle sou die ideale oplossing ’n “nasporingstelsel” wees wat die smokkelary na Uganda kan stopsit. Maar so ’n meganisme, soos wat met die Kimberley-proses vir diamante in werking gestel is, is nog nie vir die edelmetaal ontwikkel nie. |