|
||||
Op Maandag 24 Oktober 2005 het studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) een van die belangrikste Afrikaanse kampusaksies sedert 1994 uitgevoer met ’n steunvergadering vir ’n petisie. Die petisie maak onder meer beswaar teen die uitbreiding van dubbelmediumonderrig aan die US en het reeds meer as 3 350 handtekeninge van sowel studente as personeel van die US. Die eerste implikasie van hierdie aksie is dat dit die lawwe aanspraak dat die meerderheid Afrikaanse studente ten gunste van groter dubbelmediumonderrig is, die nek inslaan. Dit stel ook die petisie waarin steun vir prof. Chris Brink as rektor deur sowat 60 akademici uitgespreek word in die skadu, ofskoon die studentepetisie geensins die rektor in sy persoon aanval nie. Die tweede implikasie van hierdie aksie is dat dit op grafiese wyse gedemonstreer het hoeveel wanvoorstellings voorstanders van dubbelmediumonderrig die afgelope tyd die wêreld ingestuur het. Die vyf sprekers wat buiten die rektor by Maandagaand se vergadering opgetree het, is van verskillende taal-, etniese en klasseagtergronde, en het uit baie verskillende hoeke gepraat. In die proses het dit duidelik geword dat om die kritiek op die uitbreiding van dubbelmediumonderrig voor te stel as eksklusief Afrikaans, ’n Afrikanerkwessie, ’n weiering om te aanvaar dat globalisering lei tot Engels, ’n anti-Engelse houding, ’n anti-transformasiehouding en talle ander dinge behels, geen waarheid bevat nie en neerkom op óf verdagmakery, óf hardhorendheid. Derdens het dit uit gesprekke na afloop van die vergadering met studente verbonde aan SASCO en die ANC-jeugliga duidelik geword dat parallelmediumonderrig of selfs die aanleer van Afrikaans veel groter steun as dubbelmediumonderrig geniet. Dit strook met die eis om parallelmediumonderrig deur hierdie twee organisasies in hulle memorandum aan die US in Julie vanjaar. Voorts het SASCO ook in ’n mediaverklaring op die voorblad van Die Burger van Dinsdag 25 Oktober 2005 hulle teen dubbelmedium- en vir parallelmediumonderrig uitgespreek en beklemtoon dat hulle geensins anti-Afrikaans is nie. (Ofskoon dié verklaring volgens Die Burger op die webwerf van die US sou verskyn, kon Die Vrye Afrikaan dit nie vind nie, en bespiegel ons liefs nie hieroor nie…) Hieruit kan afgelei word dat pogings om swart studentesteun vir dubbelmediumonderrig te bewys, met ’n knippie sout geneem moet word, om maar te swyg omtrent die bewering dat swart studente parallelmediumonderrig noodwendig as “apartheid” ervaar – op stuk van sake sal ’n klomp wit Engelse studente ook in ’n Engelse stroom klas kry indien parallelmediumonderrig aanvaar word. Vierdens is die druk op die US-bestuur besig om feitlik onhoudbaar te word. Met sy toespraak het prof. Brink sowel in sy houding as in sy betoog nie juis seker of oortuig van homself voorgekom nie. Dat sy aankondiging oor die Minister van Onderwys se bereidwilligheid om staatsbefondsing vir meertaligheid op Afrikaanse kampusse te ondersoek ietwat skepties ontvang is, het seker ook nie juis gehelp nie. Vyfdens – en dit is miskien die belangrikste – het Afrikaanse studente en die burgerlikge samelewing by hierdie geleentheid hande gevat op ’n skaal wat nog kwalik sedert 1994 gesien is. Dat die studente nog polities versigtig en onervare is, val nie te betwyfel nie, maar dat hulle die moed van hulle oortuiging had om ’n eerste demokratiese tree te gee, is nog ’n teken van die nuwe wind wat deur die Afrikaanse wêreld waai, en wat niks goeds vir elitespeletjies voorspel nie. Binnekort word ’n US-raadsvergadering gehou. Dit is die ideale geleentheid vir die US om die uitbreiding van dubbelmediumonderrig tot stilstand te bring en veel meer oorwoë met sy eie missie om te gaan as wat onlangs die geval was. Taal, transformasie en uitnemendheid staan nie teenoor mekaar nie, maar veronderstel mekaar – tensy dit as rookskerm vir elitebelange en middelmatigheid gebruik word. |