blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die verhoogde temperatuur in die ANC 2005-10-27

Of verskillende faksies in die Nasionale Party (NP) tussen 1948 en 1994 verskillende veiligheidstrukture teen mekaar gebruik het soos wat tans met die ANC gebeur, is ’n goeie vraag, maar dit het waarskynlik nooit die afmetings bereik wat tans voor Suid-Afrikaners se oë afspeel nie.

                Uit die aard van die saak het verskillende faksies in die NP by tye nader aan hierdie of daardie sektor van die staat se veiligheidstrukture gestaan – John Vorster en BOSS, P.W. Botha en die Nasionale Intelligensiediens – maar wat nou gebeur, oorskry die praktyke van die verlede by verre. Ons verwys hier na verskeie hoogs openbare voorvalle die afgelope maande, waaronder die onderonsie tussen die Nasionale Vervolgingsgesag en lede van die BBP-Beskermingseenheid enkele weke gelede aan huis van mnr. Jacob Zuma, asook die beweerde lompe spioenasiepoging deur die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) op die gewigtige sakeman, mnr. Saki Macozoma.

                Die vergelyking tussen die NP en die ANC aan die hand van veiligheidstrukture in die nasionale politiek kan natuurlik ook nie te ver gevoer word nie. Enersyds was sodanige strukture in die vorige bedeling veel meer gesentraliseerd, sodat partyfaksies buite die magsentrum nie so maklik verskillende strukture kon misbruik nie. Andersyds was die media ook nie so gevorder en pluraal soos vandag nie, sodat sodanige vergrype moeiliker aan die lig gebring kon word. In soverre die agterstand van destydse Afrikanersakelui en professionele mense in 1948 nie so groot was soos dié van ANC se steunbasis in 1994 nie, was die druk in 1948 en daarna vir ’n soort patronaatspolitiek ook nie so sterk soos in 1994 nie, wat dus die destydse druk vir korrupsie minder as in 1994 gemaak het.

                Dit wil egter nie sê nie dat wat tans afspeel nie hoogs kommerwekkend is nie: ofskoon die ANC ’n veel meer diverse beweging is wat ’n veel meer komplekse staat oorgeneem het as enige plek elders in Afrika, bly die feit dat staatsbeheer die hoeksteen van sy mag by die oorname van 1994 was en steeds ’n baie belangrike rol in die uitvoering van sy politieke program speel.

                Sedert 1994 het twee belangrike ontwikkelings egter plaasgevind, naamlik, eerstens, die groter prominensie van die interne verdelingslyne in die ANC, en, tweedens, die groter deelname van ANC-swaargewigte aan veral die korporatiewe ekonomie.

                Wat eersgenoemde betref, het meer as een van die skrywers wat bygedra het tot Die Vrye Afrikaan van Vrydag 21 Oktober 2005 daarop gewys dat sowel die drakrag van eensgesindheid in die stryd teen apartheid as die groter skerpheid van die maatskaplike vraagstuk en armoede in Suid-Afrika hierdie verdelingslyne nou na vore bring, soos wat dit dan kristalliseer rondom die pro- en anti-Mbeki-faksie. Ons praat doelbewus eerder van die anti-Mbeki- as die Zuma-faksie, omdat Zuma die linkervleuel van die Drieparty-alliansie se griewe oor Mbeki se ekonomiese beleid en sentralistiese bestuurstyl die afgelope jare uitgebuit het sonder dat hy self noodwendig as politikus ’n alternatief op hierdie dinge sal bied. Verder word dit ook al hoe duideliker dat minstens die SAKP en COSATU nie meer so geesdriftig in hulle steun aan Zuma as tydens sy afdanking is nie.

                Die SAKP en Cosatu is wel nie oortuig dat hy die alternatief is nie, maar dit geld nie vir die groter getalle ANC-jeugdiges, klerke, vroue en werkloses nie wat so bitter graag weer ’n singende en dansende leier wil hê wat hoop en selfvertroue kan inboesem, al is dit sonder substansie. Daarin lê Zuma se eintlike gevaar, en hy word by die dag meer onstuitbaar. As hy sonder tronkstraf daarvan afkom, gaan hy homself aanbied as die held wat die aweregse politieke masjien van die gereg gestuit het. Hy sal dan in ’n posisie wees om die leierskapstryd te wen en die hele land in ’n moeras van populistiese en simboliese politiek te probeer aftrek.

                Die Drieparty-alliansie word tans deur soveel struweling en faksiekomplotte gekenmerk dat waarskynlik geen stem in die media of enige ander openbare liggaam dit met gesag kan ontrafel nie. Wat egter wel met sekerheid gesê kan word, is dat die onderlinge wedywering en selfs vyandigheid onder die verskillende veiligheidstrukture nou klaarblyklik ook aan die strydende faksies verbind kan word.

                Wat die groter deelname van ANC-swaargewigte aan veral die korporatiewe ekonomie betref, is dit algemeen bekend dat ofskoon hulle nie almal ewe na aan Mbeki staan nie, hulle wel almal voordeel getrek het uit sy doelbewuste ekonomiese beleid om ’n swart middelklas te skep wat as teenwig vir ’n toekomstige linkse, populistiese ondermyning van politieke en ekonomiese stabiliteit kan dien.

                Minstens drie van hierdie swaargewigte – Cyril Ramaphosa, Tokyo Sexwale en Saki Macozoma – dien steeds in die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee en is al by tye genoem as moontlike opvolgers vir President Mbeki. Dat Macozoma die Minister van Intelligensie so ver kan kry om ’n aantyging van spioenasie teen hom te laat ondersoek, wat tot die skorsing van die Direkteur-Generaal van die NIA en twee ander van sy top-amptenare lei, spreek boekdele. En so ook die oproep van mnr. Tokyo Sexwale vroeër vandeesweek dat die ANC sy sake in orde moet kry.

                Kortom, die vermenigvuldiging van staatstrukture asook van swart deelname aan die korporatiewe ekonomie sonder die nodige skeiding tussen staat en party is besig om ’n ernstige krisis vir Suid-Afrika te word. Daar is nog geen duidelikheid oor wie vir Brett Kebble se dood verantwoordelik was nie, maar die blote feit dat sommige mense bespiegel dat dit met sy betrokkenheid by ANC-faksiegevegte te make het, is simptomaties van hierdie krisis.

                Dit het die NP ’n goeie dertig jaar geneem om korrup, verdeel en van sy steunbasis vervreem te word, terwyl die ANC na sowat tien jaar aan bewind in hierdie rigting begin beweeg. Natuurlik het die NP in ’n omgewing regeer waarin onder meer die betreklik beperkte kommunikasiemedia hierdie soort ding stadiger as tans gemaak het, maar die feit bly dat die absolute politieke mag van die ANC nou reeds die spook van Lord Acton se absolute korrupsie laat loop.


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=391
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -