|
||||
Richard Douthwaite *Energie- en gemeenskapsekonoom, stigterslid van die Stigting vir die Ekonomie van Volhoubaarheid (FEASTA, www.feasta.org) en skrywer van Short Circuit: Strengthening Local Economics for Security in an Unstable World (Green Books, 1998) ** Hierde artikel is ’n verkorte weergawe van ’n lesing wat Douthwaite onlangs by ’n Suid-Afrikaanse kongres oor klimaatsverandering gehou het. Die Vrye Afrikaan bedank hom vir sy toestemming om dit in Afrikaans te publiseer. Die volledige Engelse weergawe is beskikbaar by www.feasta.org/documents/energy/October2005.htm
Ofskoon oliepryse alreeds die uiterste ontbering vir die armes in talle Afrikalande meebring, gaan dit na alle waarskynlikheid nog verder styg. Suid-Afrika kan egter sy aansien en invloed gebruik om met sy buurlande saam te werk om te verhoed dat lewenstandaarde nog hagliker word.
Sal dit moontlik wees om alternatiewe energiebronne te gebruik om die gaping te vul wat deur olie en gas gelaat word?
Die wêreldvraag na olie styg teenswoordig met net oor die 2% elke jaar. As ons hierdie verhoging in aanvraag vertolk in terme van sy bydrae tot die groeiende gaping wat deur die afname in voorraad geskep word, moet die wêreld elke enkele jaar nuwe energiebronne gelykstaande aan 4-5% van die wêreld se huidige olieproduksie ontwikkel, tot die ekwivalent van sowat 1,800 miljoen vate olie per jaar. Wanneer die wêreld se gaslewering dan in 2015 ophou om jaarliks genoegsaam toe te neem om in die groeiende vraag na daardie brandstof te voorsien, sou die nuwe energiebronne die jaarlikse groeitempo met ’n verdere 900 miljoen vate moet verhoog. Hierdie hoeveelhede is so groot dat die meeste waarnemers reken dit oorskry die perke van uitvoerbaarheid, wat waarskynlik die geval sal wees wanneer afwaartse (hiërargiese) tegnologieë aangewend word. Daar is byvoorbeeld bereken dat 6,700 kernkragstasies tussen 2015 en 2040 gebou sal moet word om die ekonomiese groei te kan volhou en om vir die daling in die olie- en gasvoorraad te vergoed. Dit kom neer op vyf kragstasies elke week. Om die geskikte terreine vir hierdie stasies en voldoende fossielenergie te vind om hulle te bou, sou feitlik onmoontlik wees, en selfs indien hierdie prestasie behaal sou word, sal daar steeds nie genoeg uraan wees om hulle in werking te kan stel nie. Teen die huidige betreklik geringe vlak van verbruik – daar is ongeveer 400 kernkragstasies ter wêreld – is daar slegs genoeg uraan vir 240 jaar. ’n Moontlike oplossing sou wees om kweekreaktors te bou wat meer kloofbare materiaal produseer as wat hulle gebruik, maar die meeste lande wat al probeer het om dit kommersieel te ontwikkel – insluitende die VSA, Brittanje, Duitsland en Rusland – het dit laat vaar. Selfs al sou hulle bevredigend gebou kon word, sou dit selfs meer fossielenergie kos om hulle te bou as die konvensionele stasies, en sou die kloofbare materiaal wat hulle sou produseer, hoofsaaklik plutonium wees, die dodelikste stof wat nog ooit deur die mens gemaak is. Omdat plutonium so toksies is en vir die vervaardiging van kernwapens gebruik kan word, bied plutoniumgedrewe reaktors ’n hoogs aantreklike terroristeteiken en is dit ’n uitermate gevaarlike manier om elektrisiteit op te wek. Die enigste werklik volhoubare energiebronne is die soort wat op die energievloei vanaf die son (son-, hidro-, wind-, golf-, biomassa-) en die swaarteaantrekking van die maan (die getye) gebaseer is. Hierdie energievloeie is baie groot vergeleke met die mensdom se energiegebruik. ’n Orkaan ontwikkel in sy lewensduur meer energie as wat al die mense oor die hele wêreld in ’n jaar gebruik. Hernubare bronne kan dus in die hele wêreld se energiebehoeftes voorsien, sowel nou as in die toekoms. Selfs met bestaande tegnologieë kan die hoeveelheid energie wat deur hernubare bronne gelewer word, 120 maal die huidige vlak wees (1). Die probleem is om hierdie bronne vinnig genoeg te ontwikkel om die gaping te vul namate dit vergroot. Die vrees bestaan by baie dat dit ’n onmoontlike taak sal wees, omdat die sektor tans so klein is.
Watter uitwerking sal die afname in die wêreld se olie- en gaslewering op die wêreldekonomie hê?
Energieverbruik is grondliggend aan alles wat ons doen, en die teenswoordige vlak van wêreldlewering is slegs moontlik omdat fossielbrandstof beskikbaar is om ons produksie- en verspreidingstelsels te dryf. Die groeitempo in die wêreld se lewering hang ten nouste saam met die toenemende gebruik van olie. As gevolg hiervan sal ’n daling in die voorraad olie en gas wêreldekonomiese groei onmoontlik maak – trouens, dit is byna gewaarborg om die wêreldekonomie te laat krimp. Die rede hiervoor is dat die voorraad energie uit nuwe bronne, in samehang met die voordele van verbeterde energiebesparende tegnologieë, na alle waarskynlikheid nie genoeg sal wees om vir die afname in olie- en gasvoorrade te vergoed nadat die aanvanklike, maklike energiebesparings agter die rug is nie. Hoër energiepryse neig dus om besteding vanaf verbruik na die produksie van goedere vir uitvoer te verskuif (om vir die hoër koste van energie-invoere te betaal), en om kapitaalbelegging in energiebesparende en energieproduserende tegnologieë te kan bekostig.
Wat sal die einde van ekonomiese groei beteken?
Die ineenstorting van die wêreldekonomie. En dit is omdat die wêreld se geldstelsels almal hulle geldeenhede in sirkulasie het in die vorm van debiete. Wanneer hierdie debiete terugbetaal, of rente daarop betaal word, hou die geld wat aan die banke betaal is, op om te bestaan en moet nuwe debiete aangegaan word om dit te vervang ten einde handel op dieselfde vlak te kan hou. Dit is nie genoeg dat verlede jaar se terugbetalings deur nuwe lenings van vanjaar vervang word nie. Meer skuldinstrumente moet geskep word om die rente te vervang wat op die vorige jaar se lenings betaal is. Die probleem hiermee is dat as mense, firmas en/of regerings nie bereid is om vanjaar meer te leen as wat hulle verlede jaar geleen het nie, miskien omdat hulle reken hulle het alreeds genoeg geleen in verhouding tot hul inkomste, daar te min geld in sirkulasie gaan wees om handel maklik te maak, en die betrokke nasionale ekonomie sal in ’n resessie gaan. Groei, deurdat dit inkomstes verhoog, laat mense gemakliker daaroor voel om al hoe meer te leen, en gee hulle die ekstra kontantvloeie om bykomende betalings te bekostig. Dit is dus grondliggend aan die wyse waarop ons geldstelsels gestruktureer is. As ekonomieë nie groei nie, begin produksiekapasiteitsoorskotte as gevolg van vorige jare se beleggings voorkom. Maatskappye besnoei dus op verdere beleggings. Hulle leen minder, met die gevolg dat die geldvoorraad, wat op lenings gebaseer is, begin krimp. Minder geld in sirkulasie sny winste en bemoeilik handel, sodat daar nog meer besnoei word op beleggings. Hierbenewens verloor die mense wat aan die maatskappye se gekanselleerde projekte sou gewerk het, hulle werk en bestee en leen hulle ook minder, wat insgelyks die geldvoorraad en die vlak van ekonomiese aktiwiteit inkort. Meer werkverliese kom voor, en die ekonomie is op die randjie van ’n spiraal van agteruitgang. Die oplossing hiervoor is om ’n geldvoorraad wat begin krimp sodra nuwe lenings terugbetalings oorskry, te vervang deur geld wat deur die staat in aanskyn bestee word en wat in sirkulasie bly totdat dit uit sirkulasie geneem word deur in die vorm van belasting aan die regering terugbetaal te word. ’n Ekonomie met hierdie soort geldeenheid sou baie stabiel en beheerbaar wees, en goed in staat om die veranderings te absorbeer wat verlaagde fossielbrandstof sal meebring. Die agteruitgang van olie- en gaslewering beteken gevolglik dat die hele wêreld se geldstelsels verander sal moet word. Totdat dit gebeur, sal die noodwendigheid om te bly groei om ’n ekonomiese ineenstorting te voorkom, óf energiepryse laat eskaleer, óf regerings verplig om buite die mark te beweeg en militêre geweld te gebruik om hulle voorrade te bekom.
Watter uitwerking sal nóg hoër oliepryse op die armes hê?
In Augustus 2005 het David Mageria van Reuters ’n berig geskryf (2) met die hoofopskrif “Poor Africans hit hard by rising world oil prices” waarin hy skryf dat die koste van brandstof baie mense noop om lang afstande werk toe of skool toe te loop, honger te ly na gelang voedselpryse die hoogte inskiet, en om van kerse eerder as lampolie gebruik te maak om hul huise te verlig. Dit plaas ook druk op woude. “Because of the increase in the price of cooking gas, I have reverted to using firewood and charcoal,” het Melanie Ndoh, ’n staatsamptenaar en huisvrou in Kameroen Mageria meegedeel.
As fossielbrandstofpryse oor die komende jare verder styg, sal die wêreld se armes, veral die grondloses onder hulle, ernstig geknou word. Voedsel sal al hoe skaarser en duurder word vanweë die groot hoeveelheid energie wat deur geïndustrialiseerde landbou vereis word, en ook omdat groot gebiede grond waarskynlik uit voedselproduksie onttrek sal moet word om energiegewasse te produseer. Dit is feitlik seker dat ’n situasie sal ontstaan waarin die rykes – in watter land hulle ook al woon – hul motors op die paaie sal hou met brandstof wat geproduseer is deur die armes te laat verhonger. Alles wat die armes koop, sal duurder word, en daar is geen waarborg dat hulle inkomstes ooreenstemmend sal verhoog om tred te kan hou met die pryse wat hulle gevra sal word om te betaal nie. Boonop sal markpryse die armes die energie ontsê wat hulle nodig het om hulleself meer produktief in hul plaaslike ekonomieë te maak. Die markekonomie is eenmaal deur die Australiese skrywer, Ted Trainer, beskryf as “an ingenious device for ensuring that when things become scarce only the rich can get them”. Dit sal die geval wees met fossielbrandstof na gelang dit skaars word, tensy iets gedoen word om dit te verhoed. Die rykes sal genoeg energie hê en dit op die een of ander manier gebruik om hulle rykdom en politieke mag te handhaaf. Daar was ’n versie oor die Maxim-geweer wat dit vir die Engelse moontlik gemaak het om Lobengula se impi’s in 1893 by die veldslag van Shangani-rivier te verslaan sodat hulle Matabeleland kon oorneem: “Whatever happens we have got the Maxim gun and they have not”. Dieselfde sal met energie gebeur, en mense sal sterf by gebrek daaraan. “Whatever happens we have got the energy and they have not.” In ’n tyd van oorlog laat selfs regerings met onkreukbare regse geloofsbriewe nie die verspreiding van skaars, lewensbelangrike kommoditeite aan die vrye mark oor nie. In plaas daarvan stel hulle rantsoenering in. As ons die armes wil beskerm, is ’n wêreldwye stelsel van energierantsoenering nou nodig, voordat houdings onbuigsamer word namate die skaarste verskerp.
Hoe moet energierantsoenering aangevoor word?
Klaarblyklik sal internasionale optrede vereis word. Feasta stel voor dat Suid-Afrika die leiding neem en ander nasies moet nooi om by hom aan te sluit in die stigting van ’n fossielkopersorganisasie – kom ons noem dit die Koolstofklub – wat met die olie- en aardgasproduserende lande om voorrade kan onderhandel. Die klub en die produsente sou dan op ’n vaste prys besluit vir watter hoeveelhede olie en gas ook al elke jaar geproduseer kan word, en die kopersklub sal ’n stelsel ontwerp om die hoeveelheid van die twee energiebronne wat aangekoop word, onder die deelnemende lande te verdeel. Soortgelyke onderhandelings sou met die steenkoolproduserende nasies aanknoop word, want hoewel steenkool volop is, is die prys daarvan geneig om in navolging van dié van olie te styg. Afgesien hiervan sou dit rampspoedig vir die wêreld se klimaat wees as die wêreldekonomie steenkool sou gebruik om sy krimpende voorraad olie en gas te vervang. Die kweekhuisgasvrylating per eenheid gelewerde energie uit steenkool is veel groter as dié van die ander twee brandstowwe.
Hoe sou die Koolstofklub die olie, steenkool en aardgas versprei wat dit onderneem het om van die produsente te koop?
Die billikste benadering sou vir die klub wees om dieselfde toedelingsmetode te volg as wat voorgestaan is deur Contraction and Convergence, die toonaangewende voorstel vir ’n internasionale raamwerk om klimaatsverandering te beperk. C&C, ’n verstommend buigsame plan wat oor die afgelope twaalf jaar deur die Global Commons Institute in London ontwikkel is, gaan uit van die vertrekpunt dat almal ’n gelyke reg het om die atmosfeer as stortingsgebied vir sy of haar kweekhuisgasemissies te gebruik. Gevolglik, indien die klub C&C gebruik, sou dit die totale hoeveelheid kweekhuisgasse bereken wat in die atmosfeer vrygelaat kan word sonder om katastrofiese klimaatsverandering teweeg te bring. Hierdie hoeveelheid sou ’n omvattende perk plaas op die totale koolstofinhoud van die fossielbrandstowwe wat verbrand kan word voordat die wêreld sy vrylating daarvan tot die perk verlaag het waar dit nie meer in die atmosfeer versamel nie, en die mensdom gevolglik opgehou het om die planeet te laat verwarm. Die jaarlikse persentasiekoers waarmee globale fossielbrandstofverbruik van sy huidige vlak verlaag moet word, sal dan bereken word. Dit sal teikens stel vir die maksimum vlak koolstofemissie uit fossielbrandstofverbruik vir elke jaar.
As daar gelykheid in die wêreld was, sou die jaarlikse hoeveelheid vir enige jaar gelykop per capita onder die menslike bevolking verdeel word. Elke kwart van elke jaar sou elke mens in die wêreld ’n individuele rantsoenkoepon ontvang wat hom of haar daarop geregtig maak om watter hoeveelheid ook al aan fossielbrandstof wat sy of haar deel van die toelaatbare gewig aan kweekhuisgas wat vir daardie jaar toegeken is, te verbrand. Hulle sal natuurlik nie op die brandstof self geregtig wees nie, maar hulle rantsoenkoepons kan verhandelbaar wees, en diegene wat dit ontvang, sou dit verkoop soos hieronder verduidelik word. Hierdie stelsel van toedeling, hoewel gelyk, sal egter nie baie billik wees nie, omdat mense wat in sekere wêrelddele woon, struikelblokke het om te oorkom voordat hulle ewe gerieflik op hulle vryslatingsrantsoen kan leef as ander mense elders. Daarom wyk Feasta af van die standaard C&C-hantering met sy voorstel dat almal vir die eerste sowat twintig jaar vandat C&C van stapel gestuur is, dieselfde toekenning elke jaar moet ontvang, maar teen die koers wat vir jaar 20 toepaslik sou wees. Oorblywende permitte gaan na ’n “konvergensiefonds” wat deur die klub volgens ’n internasionaal ooreengekome, deursigtige stel kriteria aan nasionale regerings toegeken word. Die nasionale regerings sou dan hul permitte verkoop om fondse in te samel vir projekte wat hulle lande in staat sal stel om die oorgang na laer fossielenergieverbruik oor te skakel. Permitte kan byvoorbeeld aan lande toegeken word omdat hulle die energiedoeltreffendheid van hul geboue en vervoerstelsels moet verbeter, of om voorsorg te tref teen die toenemende storms, droogte of stygende seevlakke wat deur klimaatsverandering meegebring word. Of anders sou hulle daarvoor kon kwalifiseer omdat hulle ’n groter behoefte as ander lande het om hulle nywerhede in staat te stel om na nuwe, lae-energie-tegnologieë oor te skakel. Vanselfsprekend sal die grootte van die konvergensiefonds elke jaar daal totdat dit in jaar 20 heeltemal wegval. Daarna daal elke individu se emissietoedeling jaarliks, sodat die totale getal permitte wat wêreldwyd uitgereik word ’n afwaartse lyn sal volg tot waar die beoogde konsentrasieteiken behaal word.
Kan so ’n stelsel ooit ingestel word? Die politieke realiteit is dat so ’n stelsel slegs ingebring kan word en na sy ingebruikstelling kan werk indien dit in sowel die kort- as langtermynbelang van al die deelnemers is. Die belange van sowel energieverbruikers as energieprodusente kom daarop neer dat die prys van fossielenergie nie so onbeheersd moet skommel dat dit die wêreldekonomie in duie laat stort nie, maar eerder stabiel moet bly of teen ’n voorspelbare en matige tempo moet styg. Dit sou deur ’n ander deel van die C&C-pakket bewerkstelllig word wat ons nog nie bespreek het nie – die instelling van ’n wêreldgeldeenheid, die ebcu (emission-backed currency unit / emissiegerugsteunde geldeenheid) wat gebruik kan word om die vlak van wêreldwye ekonomiese aktiwiteit te verstel sodat energiepryse stabiel is in terme van die internasionale geldeenheid, maar in terme van nasionale geldeenhede kan verskil. Die nuwe geldeenheid sou deur die klub uitgereik en aan lidregerings toegeken word volgens die grootte van hul bevolkings, wat sodoende dié met ’n swaar skuldlas in staat sal stel om al hulle internasionale lenings terug te betaal. Die ebcu sou die dollar, die pond, die euro en die ander reserwegeldeenhede vervang vir die doeleindes van alle internasionale handelstransaksies tussen klublede, met inbegrip van die handel in die emissiepermitte wat deur die klub uitgereik word. Die gebruik hiervan sal een van die groot distorsies in die teenswoordige wêreldekonomie uitskakel – die vermoë van die VSA en, in mindere mate, Brittanje om vir hulle invoere te betaal in geld wat albei lande self geskep het, en daardie geld dan met rente op die lening in nogmaals selfgeskepte geld terug te leen. Hierdie vermoë het die VSA in staat gestel om ’n tekort teen sy lopende betalingsbalansrekening op te loop oor ’n tydperk van meer as twintig jaar. Dit is die rede waarom dit ’n supermoondheid is. Die VSA voer tans goedere ter waarde van $800 miljard elke jaar in, ’n derde van sy invoere, sonder om enigiets daarvoor te betaal wat hom werklike hulpbronne gekos het om te skep. Die skuld wat dit oor die 20 jaar opgeloop het, $2,484 miljard teen die einde van 2004, en die ekwivalent van die helfte van die wêreld se spaargeld – word dalk nooit terugbetaal nie. Die vervanging van die dollar deur die ebcu sou hierdie massiewe voordeel van die VSA uitskakel – wat die eurosone baie hard probeer regkry. Voor die ebcu uitgereik word, sou die klub dan aankondig dat hy, indien die prys van emissiepermitte bo ’n sekere vlak styg, meer permitte te koop sal aanbied, maar die ebcu’s waarmee dit gekoop word, permanent uit sirkulasie sal verwyder. Namate die wêreldhandelsvolume wat dit kan absorbeer, bepaal word deur die hoeveelheid van die internasionale geldeenheid wat beskikbaar is om dit te finansier, sal die verlies van hierdie ebcu internasionale handel aan bande lê. Op sy beurt sal dit wêreldenergieverbruik verlaag, en daarmee saam die prys wat vir emissiepermitte betaal word. Aan die ander kant, as die prys van emissiepermitte neig om te daal, kan die klub óf minder permitte die volgende jaar uitreik, óf permitte op die mark self koop en sodoende meer ebcu’s in sirkulasie stel en die wêreld se energievraag verhoog. Dit sou dus ’n heel eenvoudige saak wees om die ebcu-prys van emissiepermitte op ’n konstante vlak te hou. Dit sou stabiliteit verleen aan die ganse wêreldekonomie. Trouens, as die ebcu-prys wat fossielenergieprodusente ontvang ook vasgestel word, sal almal altyd weet presies hoeveel ebcu’s hulle vir hul energie sal moet opdok.
Wat hulle nie gaan weet nie, is wat die prys van die ebcu in terme van hul nasionale geldeenheid gaan wees. Daar sal tussen laasgenoemde en die ebcu ’n swewende wisselkoers wees, een wat deur vraag en aanbod bepaal word. Lande wat gou na hernubare energiebronne oorskakel en gevolglik nie so baie emissiepermitte hoef te koop nie of hulleself ekstra gee om te verkoop, sal goed vaar. Hulle geldeenhede sal sterk wees en hulle sal vind dat invoer goedkoop is. Ander lande sal weer agterkom dat dit hulle al hoe meer in terme van hulle nasionale geldeenheid kos om hul ingevoerde energie te koop, wat vir hulle ’n sterk aansporing sal wees om ook na hernubare energiebronne oor te skakel. Sonder monetêre hervorming op beide nasionale en globale vlakke sal die druk om voort te gaan met die gebruik van al meer fossielenergie elke jaar – wat omrede die olie- en gaspryspieke slegs steenkool kan beteken – om te verseker dat die nasionale ekonomie nie ineenstort nie, enorm en waarskynlik onweerstaanbaar wees. As gevolg hiervan sou dit feitlik onmoontlik wees om ’n doeltreffende wêreld- fossielbrandstofrantsoenerings- en klimaats-emissiebeheerooreenkoms in werking te stel, en as dit wel gedoen word, sou dit waarskynlik in duie stort. Dus, terug na die vraag: sou regerings instem tot die instelling van ’n energierantsoeneringstelsel volgens die patroon wat beskryf is? Moontlik sal hulle, want die alternatief is om niks omtrent klimaatsverandering te doen nie, en om die risiko te loop dat die wêreldekonomie in ’n ernstige depressie kan verval wat baie jare mag voortduur.
Waarom sou die steenkoolprodusente bereid wees om saam te werk?
Steenkoolmynmaatskappye sal slegs by die skema aansluit as hulle deur hul regerings verplig word om dit te doen, ondanks die feit dat hulle ’n gewaarborgde, billike prys vir ’n vaste hoeveelheid steenkool sal ontvang. Die wêreldsteenkoolproduksie is slegs in ’n paar lande gekonsentreer en Sjina en die VSA maak meer as die helfte hiervan uit. Die gesindheid van albei regerings sou dus deurslaggewend wees. Daar kan verwag word dat Sjina by die Koolstofklub sal aansluit omdat sy mense, veral op die platteland, geweldig by die verkoop van hul toedeling van emissiepermitte sal baat, terwyl hulle voorspoed florerende markte vir sy vervaardigers sal skep. Dieselfde geld vir Suid-Afrika, Indië en Indonesië. Maar wat van die VSA en ander ryk lande? Ja, hulle fossielenergievoorrade sal hulle meer kos, maar dit is in elk geval onvermydelik as gevolg van die energieskaarste, en die klubreëling sal minstens verseker dat hulle ’n stabiele besigheidsomgewing en goeie uitvoermarkte vir hulle gevorderde produsente het. Ewe belangrik is dat hulle werkloosheidsyfers laag gehou sal kan word.
Wat is die vooruitsig as hierdie idees nie aanvaar word nie?
Die grootste onmiddellike gevaar wat energierantsoenering uit die weg sal ruim, is die gevaar wat deur die huidige onbeheerde oliemark geskep word. Dit is naamlik dat energiepryse so vinnig sal styg dat dit ’n inflasie gaan ontketen wat die sentrale banke nie sal kan ignoreer nie, en dat die hoër rentekoerse wat die banke gaan hef, die wêreldekonomie in ’n depressie sal dompel. Wanneer die depressie investering tot stilstand gebring en die vraag gedaal het omdat al die mense wat aan investeringsprojekte gewerk het, hulle werk verloor het, sal dit uiters moeilik wees om die wêreldekonomie weer tot sy volle kapasiteit te laat werk. So ’n depressie kan dus 10-20 jaar duur. Die meeste banke sal in diep moeilikheid wees, en die wêreld- finansiële stelsel kan ineenstort. Lewenstandaarde sal oral val, en daar sal toenemende hongersnood en ellende wees. As hierdie scenario vermy word en die wêreldekonomie bly uitbrei, is die vooruitsigte ewe somber. Die prys van fossielbrandstof kan na verwagting bly styg namate die gas- en oliereserwes uitgeput raak, en honderde miljoene mense kan te ernstig verarm om die energie te bly koop waarop hulle vir koskook, verligting en verwarming staatmaak. Hulle voedsel kan ook al hoe duurder word. Bowendien, as die een of ander vorm van fossielbrandstofrantsoenering nie ingestel word om die mensdom se kweekhuisgasemissie te beperk nie, sal die aarde se klimaat steeds agteruitgaan. Storms gaan al meer dikwels voorkom, seevlakke gaan bly styg, en reënvalpatrone sal verskuif en sodoende krisisse in die meeste groot stede van die wêreld veroorsaak. As klimaatveranderingsverwante skade teen sy huidige tempo bly toeneem, kan dit in die bestek van 50 jaar die ekwivalent van die wêreld se totale jaarlikse produksie elke jaar uitwis.
Wat is die slotsom? Die piek van die aarde se olie- en gasproduksie sal ’n dramatiese verandering in die wêreldekonomie teweeg bring. Die uitdaging is om daardie verandering so te vorm en te bestuur dat die uitwerking daarvan eerder positief vir almal as enorm rampspoedig vir almal behalwe die heel rykstes is. Die maatreëls wat regerings en NRO’s behoort te oorweeg, moet op die skaal van daardie uitdaging wees. ’n Energierantsoenering wat die wêreldekonomie meer stabiel kan maak en voorspoed aan armer lande kan besorg, is een van hierdie maatreëls. ’n Ander een sou wees om die wyse te verander waarop geld nasionaal en internasionaal uitgereik word. Hoewel albei ’n radikale afwyking sal meebring in die stelsels wat ons ken, is daar alles te sê vir die spoedige lansering van die Koolstofklub (Carbon Club) en die aanvaarding van C&C-gebaseerde energierantsoenering, want hoe langer die wêreld hiermee talm, hoe minder hulpbronne sal dit hê om te verdeel. Daar is geen rede om te wag totdat die Koolstofklub in plek is voordat daar opgetree kan word nie. Suid-Afrika kan onmiddellik met energierantsoenering begin. Dit kan aan elke volwassene ’n rantsoeneringskoepon uitreik volgens die beginsel dat die totale rantsoen vir 2006 net minder as die verwagte CO2-emissie vir die jaar moet wees. In elke daaropvolgende jaar kan die emissierantsoen met sowat 2% besnoei word. Deelnemers kan hulle koepons aan die banke verkoop, wat dit aan besighede kan verkoop wat nodig het om fossielbrandstowwe te koop. Dit sal drie voordele meebring. Dit sal die Suid-Afrikaanse nywerheid en die publiek verplig om meer energiedoeltreffend te wees. Dit sal die land goed te pas kom namate die wêreldprys vir fossielbrandstowwe styg. Verder kan die tegnieke wat die nywerheid ontwikkel het moontlik ’n mark in die buiteland vind, soos wat die Deense regering se aansporing van sy windkragbedryf die onkoste oor en oor vergoed het in die vorm van uitvoerverkope. Die koste om die koepons te koop wat vir die aankoop van fossielenergie nodig is, kan van jaar tot jaar styg na gelang die grootte van die totale nasionale rantsoen daal. Die inkomste uit die verkoop van die koepons sal aan elke volwassene ’n Basiese Inkomstetoelaag besorg waaruit die armste mense die grootste voordeel sal trek. Namate die prys van fossielenergie sou styg as gevolg van die stygende koste om die koepons te koop om die energie te kan aankoop, sal dit finansieel aantreklik raak om hernubare energiebronne te ontwikkel. Omdat baie hiervan slegs op ’n plaaslike vlak ontwikkel kan word, sal die voordele hiervan oor die hele land verdeel word.
_________ 1. Thomas B. Johansson, Kes McCormick, Lena Neij, Wim Turkenburg, Januarie 2004, Bonn Internasionale Konferensie vir Hernubare Energieë. Aangehaal in Mirage and Oasis, New Economics Foundation, Londen, Junie 2005. 2. Die artikel het op Vrydag 26 Augustus, 2005 verskyn. Dit kan gelees word by http://za.today.reuters.com/news/NewsArticle.aspx?type=topNews&storyID=2005-0826T090109Z_01_ALL632366_RTRIDST_0_OZATP-AFRICA-OIL-20050826.XML |