|
||||
Alain Gresh Deur Alain Gresh* *Adjunkredakteur, Le Monde diplomatique **Uit Frans vertaal deur Christel Cattin <[email protected]>
Tydens ’n konferensie van Sjinese, Russiese en Indiese Ministers van Buitelandse Sake wat op 2 Junie 2005 in Wladiwostok gehou is, het Beijing en Moskou ’n oplossing vir hulle grensgeskil onderteken, en Indië het sy beleggings in Russiese petroleum bekragtig - 1 miljard dollar vir die sogenaamde Sakhalin I-projek. Die drie lande pleit vir die verwerping van “dubbele standaarde” in internasionale betrekkinge, ’n stelling wat op die Bush-administrasie gerig is. In Augustus 2005 het die Sjinese firma, CNOOC Ltd. afgesien van sy aanbod om die Amerikaanse petroleummaatskappy, Unocal, op te koop toe hy voor die laertrekkery wat dit in die Amerikaanse Kongres uitgelok het, te staan kom; die vrye sirkulasie van kapitaal het teruggestaan vir “veiligheidsimperatiewe”. In dieselfde maand verwerp Iran die voorstelle van drie Europese lande (Frankryk, Duitsland, die Verenigde Koninkryk), wat deur die Verenigde State ondersteun is, en wat die finale afstanddoening van sy uraanverrykingstegnologie impliseer, terwyl selfs die Nieproliferasieverdrag (NPT) sy reg op hierdie tegnologie erken. In Teheran, waar die herinnering aan buitelandse ingryping - dié van Rusland in die 19de eeu en dié van die CIA in 1953 - steeds lewendig is, word die vlag van soewereiniteit hoog gehys. Drie gebeurtenisse tussen verskeie ander: die vermenigvuldiging van Sjinese leiers se reise na Afrika en Suid-Amerika; spanning in handelsbetrekkinge tussen die Verenigde State, Europa en Sjina rondom die tekstielbedryf, vliegtuie en landbou; Suid-Korea se erkenning van Pyongyang se reg om oor ’n burgerlike kernnywerheid te beskik, in teenstelling met die standpunte wat Washington hieroor inneem, ens. Saamgevoeg, skets hierdie verspreide feite die buitelyne van ’n wêreldwye geopolitiek wat heelwat meer gekompliseerd is as wat ’n mens soms besef, en wat nie tot die onstuimige vlaag van liberale globalisering gereduseer kan word nie. Oraloor bly nasionalismes voortbestaan, gemeenskapskulture, ambisies wat in hulle geskiedenis gewortel is: diegene wat weier om aan die globale orde toe te gee, word al hoe meer. ’n Mens sien nie die opkoms van enige “supra-imperialisme” wat ’n einde sou bring aan wedywering en kompetisie nie. Teenoor ’n VSA wat nie skroom om, soos in die Unocal-geval, sy eie belange te beskerm nie, word ’n ekonomiese en politieke patriotisme gevestig, ’n vasberadenheid om sy onafhanklikheid te beskerm, van Beijing tot in Sao Paulo, van Seoel tot in Nieu-Delhi. Reeds in September 2003 in Cancun, het twintig lande van die Suide, waaronder Indië, Brasilië en Suid-Afrika, aanleiding gegee tot die mislukking van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se konferensie, aangesien daar nie aan hulle aansprake voldoen is nie. In Frankryk is die massiewe teenkanting teen die moontlike oorname van Danone deur PepsiCo die uitvloeisel van dieselfde logika. Die “End of History”, het Francis Fukuyama verduidelik, het die triomf aangekondig nie net van globalisering nie, maar ook van die liberale model wat deur die Verenigde State vergestalt word. Ten spyte daarvan is dit reeds meer as ’n dekade lank nie in staat om “hart en gees” te verower nie. In 1789 het die idees van die Franse Rewolusie na Europa en verder oorgespoel; die Sowjet-rewolusie het vir ’n lang tydperk sowel ’n ideologiese as militêre uitdaging aan die Weste uitgemaak. Maar die Verenigde State se militêre hoogtepunt val saam met die laagtepunt van hulle wêreldwye gewildheid. Washington se beeld in die buiteland was nog nooit vantevore so negatief nie. “Selfs Sjina vaar beter”, het die International Herald Tribune op 24 Junie 2005 berig. Dit is waar dat geen ander groot land binne die horison van die volgende dekade met die Verenigde State kan meeding soos wat die Sowjet-Unie dit gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu gedoen het nie. Ten spyte van sy status as ongeëwenaarde militêre moondheid bly die VSA vasdraai in Irak, waar 148 000 Amerikaanse soldate op Irakese grondgebied vasgepen is om die weerstand van enkele duisende vegters te trotseer. En die skandale van Guantanamo, van Abou Ghraib, die mishandelings, die inperking van fundamentele vryhede benadeel die Verenigde State se aanspraak, en soms ook dié van Europa (hierdie duo wat die Weste genoem word) om alleen universele waardes te definieer - persoonlike regte, demokrasie, vryhede, ens. - om die Goeie en die Slegte te proklameer, om te bepaal watter regime is aanvaarbaar en watter regime is nie, watter een word aan sanksies onderwerp en watter een nie. Hulle poging om ’n afgestompte visie van die wêreld, van regte en van waardes af te dwing, veral by wyse van die media, word alom verwerp. Die sukses van satellietkanale in die Arabiese wêreld, veral dié van Al-Jazirah, en die totstandkoming van Telesur in Suid-Amerika getuig van hierdie ononderworpendheid wat na alle sfere uitbrei, polities, ekonomies en kultureel. In weerwil daarvan dat hierdie weiering in sommige gevalle misdadige vorme van religieuse of nasionale ekstremisme aanneem en die idee van die “clash of civilisations” voed. Aan die einde van die agtiende eeu het Europa sy heerskappy oor ander moondhede afgedwing. Kontemporêre geskiedskrywing wys dat hierdie voorrang die gevolg is van ’n vreemde sameloop van omstandighede, naamlik die voordeel wat uit die besit van Noord-Amerika en die slawehandel-ekonomie verkry is (1). Dit het uitgeloop op ’n militêre oorwig wat die Ou Vasteland in staat gestel het om die res van die wêreld aan die koloniale juk te onderwerp. Europa het gepoog om hierdie dominansie te regverdig deur die sogenaamde duisend-jaar-oue voortreflikheid van sy waardes en denke, veral die Griekse filosofie (2). Dit het neergesien op alle ander kulture en het hulle as “barbaars” of “ondergeskik” beskou. Deesdae lyk dit of die Verenigde State, en soms Europa, hierdie vergange vooroordele weer opneem. Hulle behoort nietemin te onthou dat sogenaamd meer “gevorderde”, beter “ontwikkelde”, koloniale ryke uiteindelik verdwyn het ... _________
(1). Lees veral Christopher Alan Bayly, The Birth of the Modern World, 1780-1914, Blackwell, Oxford, 2004, en Kenneth Pomeranz, The Great Divergence. China, Europe, and the Making of the Modern World Economy, Princeton University Press, 2000. (2). Rakende die buitensporige trant van hierdie visie, lees Marcel Detienne, Les Grecs et nous |