blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


“Daar is nie so iets soos ‘die roman’ nie”: In gesprek met J.M. Coetzee 2005-09-07

Die Vrye Afrikaan: In sy nuutste boek, Le Rideau (Die Gordyn) (Parys: Gallimard, 2005), voer Milan Kundera aan dat die roman vir ons die gordyn voor die werklikheid wegskeur. Daarenteen voer J.G. Ballard weer aan dat ons vandag vanweë die kommunikasierewolusie in ’n fiktiewe werklikheid leef sodat dit nie so eenvoudig is om die werklikheid via die roman bloot te lê nie. Wat dink jyself van die verhouding tussen roman en werklikheid?

J.M. Coetzee: Ek het nie die boek van Kundera wat jy noem gelees nie. Daar is nie so iets soos “die roman” nie. Daar is eerder ’n veelvoud van romans - uitgebreide prosafiksies - wat elkeen sy eie verhouding tot die werklikheid opneem.

DVA: Verskeie eietydse romansiers en filosowe verwys na ons era as iets wat mens kan beskryf met die term die Tirannie van Onmiddellikheid. Onmiddellikheid in die sin dat die instellings waarmee ons werklikheid bemiddel word onder groot druk verkeer, maar ook in die sin dat die spoed waarmee dinge gedoen kan word, bepalend is. Paul Virilio het reeds in 1977 se Vitesse et Politique gewys op die gevaar van tegnologie wat so vinnig word, dat ons nie meer tyd het om oordeelkundig te reageer nie. Hoe verset ons ons teen die Tirannie van Onmiddellikheid? Kortom, hoe kan die tyd self teen die miskenning van die tyd beskerm word?

 

JMC: Ek herken nie die Tirannie van Onmiddellikheid waarna julle verwys nie. Ek voel nie in my eie lewe die druk om onmiddellik te handel nie.

 

DVA: Die Tirannie van Onmiddellikheid word ongetwyfeld versterk deur die ongekende mobiliteit wat vandag vir ’n klein minderheid (toeriste, sakelui, akademici, politici) moontlik is, terwyl massas mense teen hulle sin aan mobiliteit onderwerp word (vlugtelinge, immigrante). Hoe vinniger ons beweeg - so dink baie mense - hoe minder is ons aan die tyd uitgelewer. Ironies genoeg was vergrote mobiliteit in die goue era van reis ’n belangrike faktor om die beperkinge te onthul van Europese universalisme soos beoefen deur Immanuel Kant, wat nooit die distrik van Königsberg verlaat het nie. Met ander woorde, die verabsolutering van mobiliteit of immobiliteit is oënskynlik geneig om valse universalismes in die hand te werk. Stem jy hiermee saam, en dink jy daar is ’n norm wat ons kan begelei om verantwoordelik met mobiliteit om te gaan?

 

JMC: -

 

DVA: Nietzsche het by meer as geleentheid die kind as ideaal voorgehou. Nou, sowat 130 jaar later, word kinders en jeug verabsoluteer, waarskynlik as deel van die verlies aan ’n begrip van die tyd. Ironies genoeg lyk dit asof volwassenheid soos beliggaam in die ingeligte burger saam met die nasiestaat op die agtergrond skuif, terwyl die hoofstroompolitiek al hoe emosioneler en kinderagtiger word. Miskien het die staat vaders in so ’n mate ontman dat sy verbrokkeling hierdie era se gebrek aan volwassenheid openbaar. Dink jy nuwe vorme van volwassenheid is moontlik, of moet dit eerder saam met die nasiestaat as ideaal ter wille van iets heeltemal anders laat vaar word?

 

JMC: Word jeug verabsoluteer of word fisieke skoonheid verabsoluteer? Indien laasgenoemde, dan doen ons dit al vir ’n lang tyd, en ek is nie seker dat dit ’n slegte ding is nie. Wat betref die bedryf van politiek - demokratiese politiek - dít was nog altyd ’n emotiewe en “kinderagtige” saak. Mense stem met hulle harte, nie met hulle koppe nie.

 

DVA: Samuel Beckett het oor Waiting for Godot geskryf: “I know no more about this play than anyone who reads it attentively. I don’t know what spirit I wrote it in. I know no more about the characters than what they say, what they do and what happens to them… everything I have been able to learn, I have shown. It’s not a great deal. But it’s enough for me, quite enough.” Wat is jou kommentaar hierop, ook as romansier teenoor jou werk?

 

JMC: Beckett was geïrriteerd met mense wat vertolkings van sy drama maak en hom vra om hulle te bevestig of af te wys. Soos Beckett sê, hoef jy nie te weet wat die “betekenis” is van wat jy doen om dit te doen nie. In sommige omstandighede mag om te veel te weet van wat jy doen, jou kortwiek.

 

DVA: Ná die voordrag van jou eerste Elizabeth Costello-verhaal, What is realism?, in 1997, het jy gesê jy het jou geloof in die krag van die rasionele argument verloor, en dat jy verkies om jou argumente by wyse van verhale oor te dra. Dink jy steeds dat verhale meer krag as argumente het, veral gegewe die mate waartoe elke Jan Rap en sy maat vandag een of ander “ervaring” of “leefstyl”, oftewel kwasi-verhale, aan ons wil verkoop? Hoe sien jy die verhouding tussen vertelling (die roman) en besinning (filosofie)?

 

JMC: Ek twyfel of ek gesê het dat ek verkies om ’n argument by wyse van verhale voort te sit. Verhale is nie argumente nie. Maar ek dink wel dat verhale ’n oortuigendheid van hul eie besit.

 

DVA: Met verwysing na jou besinnende werk oor Benjamin se opvatting van taal en die kwessie van Engels in Suid-Afrika: Is Engels ’n toepaslike medium om, soos Breyten Breytenbach dit stel, die “konstruk wat ons Suid-Afrika noem”, te artikuleer? Wat van ’n vorm van veeltaligheid?

 

JMC: Ek is nie seker nie wat Walter Benjamin met Engels in Suid-Afrika te make het. Ek het voeling met die taal van die strate in Suid-Afrika verloor, dus dink ek nie ek kan kommentaar lewer nie.

 

DVA: Volgens Danie Goosen kan die moderniteit verstaan word as die opskorting van deelname aan die wêreld. Jy moes self in die 1980’s deurloop onder ’n kortsigtige aanklag dat jy as Suid-Afrikaanse skrywer nie genoeg deelneem nie. Wat is volgens jou die basis van deelname aan die wêreld? 

 

JMC: Ek het nie die vaagste benul wat Danie Goosen bedoel nie. Ek is ook dronkgeslaan oor waarom hierdie besondere vrae gerig word aan ’n romansier wat sopas ’n verhaal gepubliseer het oor ’n man wat sy been in ’n verkeersongeluk verloor.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=345
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -