|
||||
Hugo Ruiz-Diaz Deur Hugo Ruiz-Diaz * * Lid van die Amerikaanse Vereniging vir Juriste ** Uit Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois <[email protected]>
In September 2003 veroorsaak twintig Suidelike lande, gelei deur Brasilië, Indië en Suid-Afrika, dat die Wêreldhandelsorganisasie se kongres in Cancun, Meksiko misluk. As ’n groep onder die naam G20 (1), het hulle vergeefs probeer om enige ooreenkoms te bind aan die afskaffing van subsidies wat die Europese Unie en die VSA aan hulle boere toestaan. Met 1,5 miljard inwoners en 12,5% van die wêreld se bruto binnelandse produk (BBP) het Brasilië, Indië en Suid-Afrika gehoop om ’n politieke en strategiese rol te kon speel wat pas by hul demografiese en ekonomiese krag (2). Die Brasiliaanse president, Luis Inacio Lula da Silva, het die versterking van bande tussen Suid en Suid een van die spille van sy buitelandse beleid gemaak: sedert hy in 2002 verkies is, het hy vier reise na Afrika onderneem en die eerste spitsberaad tussen Suid-Amerika en Arabiese lande in Brasilia op 10 en 11 Mei 2005 gereël. Sjina belê op sy beurt ook in hegter Suid-Suid verhoudinge: dié land gaan al meer diplomatieke betrekkinge met Suid-Amerikaanse hoofstede (3) asook handels- en samewerkingsooreenkomste met Afrikalande (4) aan. Daarbenewens het Sjina ekonomiese en tegnologiese samewerkingsverdrae met 16 Latyns-Amerikaanse lande gesluit. Beijing het ook ’n saamgestelde wetenskaplike en tegnologiese komitee met Brasilië, Meksiko, Chili, Argentinië en Kuba op die been gebring. ’n Satelliet vir die bestudering van natuurlike hulpbronne is deur Sjina en Brasilië vervaardig en in 1999 deur Beijing gelanseer, en daar word aan ’n tweede een gewerk. Hoewel hierdie inisiatiewe wys hoe ver Sjina van sy Derdewêreldideologie in die 1960’s en 1970’s beweeg het en dat hy nie openlik die liberale argitektuur van die wêreldekonomie ondermyn nie, maak hulle deel uit van ’n nuwe fase in die langsame geskiedenis van Suidelike lande se toenemende selfhandhawing op die internasionale verhoog sedert 1945. Die Verenigde Nasies (VN) het ’n beslissende rol in hierdie strategie vir internasionale erkenning gespeel. Om die waarheid te sê, het Derdewêreldlande sedert hul onafhanklikwording in die jare 1950-1960 met ’n mate van sukses die organisasie as platform gebruik vir die stel van eise, veral wat betref politieke onafhanklikheid en ontwikkeling. Die VN-handves, wat uit die Tweede Wêreldoorlog gespruit het, was nietemin deurspek met teenstrydighede: enersyds het dit ’n stelsel van gemeenskaplike veiligheid en internasionale samewerking daargestel; andersyds maak dit voorsiening vir ’n voogdy-heerskappy vir sekere volke in die Suide. Hierdie wetlike baadjie het in feite regmatigheid verleen aan die oorheersing van gekoloniseerde volke (5). Ofskoon die internasionale reg in 1945 moes aanpas by die noodsaak om die ontluikende Oos-Wes-konflik te neutraliseer, bly dit die klassieke uitdrukking van die interstaatlike magsverhoudinge waarbinne die Derde Wêreld nog nie ’n regmatige plek gehad het nie. Terselfdertyd, deur op die ernstige kwessie van die verbod op oorlog as toevlug te fokus, laat die VN-handves die vraagstuk van ekonomiese oorheersing - wat aan die kern van Noord-Suid-geopolitiek sou lê - onaangeraak. Die onafhanklikwordings in die jare 1950-1960 het die VN se aangesig omvorm en sy hele werking gewysig. Hierdie reusagtige beweging is op tou gesit deur die Afro-Asiatiese konferensie in Bandoeng in April 1955, wat deur 29 state en 30 nasionale bevrydingsbewegings bygewoon is (6). Die eise van die Suidelike lande se regeringshoofde was gemik op die beëindiging van kolonialisme en rasseskeiding. Só het die Beweging van Onverbonde Lande (BOL) in 1961 in ’n verskerpte Koueoorlogklimaat die lig gesien. Deur te weier om kant te kies tussen die twee blokke, vestig die Derdewêreldlande hulle as moontlike derde mag. Dit lyk egter of daar ’n nuwe wind deur die internasionale arena waai. In minder as 10 jaar, van 1955 tot 1964, verkry 33 lande onafhanklikheid, die meeste daarvan in Afrika (7). Die bevryding van Algerië, bekom teen die duur prys van ’n besonder gewelddadige koloniale onderdrukking, word ’n simbool: Henri Lopes, voormalige premier van die Kongo, reken dat dié Noord-Afrikaland “die kruis vir die hele Afrika gedra het” en dat sy stryd vreedsame dekolonisering in die res van die Franse ryk moontlik gemaak het. In die Portugese sone het die vryheidstryd in die eerste helfte van die 1970’s geseëvier (Guinee-Bissau, Mosambiek, Angola, Kaap Verde en Sao Tome). ’n Grootse hoop ontstaan aldus, wat Derdewêreldlande vervolgens poog om binne die VN te verwesenlik. Hulle gebruik hul meerderheidstem in dié organisasie se Algemene Vergadering om koloniale oorheersing onwettig te maak. Op 14 Desember 1960 erken Resolusie 1541 die legitimiteit van nasionale vryheidstryde. Waar die wet van die sterkste lank een van die kenmerke van die internasionale reg was (8), word die bevegting van gewelddadige onderdrukking vir die eerste keer in die geskiedenis van interstaatlike verhoudings deur die reg erken. Dít is die begin van die hersiening van teenstrydighede in die internasionale gemeenskap. In die 1970’s gebruik Suidelike lande die VN as ’n “anti-imperialistiese” forum wat bydra tot die erkenning van nasionale vryheidsbewegings, soos die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) op 13 November 1974 ná Yasser Arafat se historiese toespraak voor die Algemene Vergadering, of SWAPO, die vryheidsbeweging in Namibië (wat deur Suid-Afrika beset is), en laat lede van dié organisasies as waarnemers toe ... (9) In die jare ná Bandoeng gaan die amptelike stigting van die BOL in September 1961 in Belgrado egter ook met teenstrydighede gepaard. Dié beweging ontstaan in werklikheid na ’n nieamptelike Afro-Asiatiese konferensie in Kaïro op 26 Desember 1957. Die Sowjet-Unie, wat in 1956 die Egipte van Gamal Abdel Nasser in die Suez-aangeleentheid gesteun het (10), en wat homself die “vanselfsprekende bondgenoot van die Derde Wêreld” noem, neem deel aan dié totstandkoming, wat die geloofwaardigheid van die groepering se onafhanklikheid in die gedrang bring. Japan is ook teenwoordig: onderdanig aan die VSA, en ’n eertydse koloniale moondheid. Hierdie skadusones loop reg deur die moeilike geskiedenis van die Suide se vestiging van hul posisie op die internasionale speelterrein. Nogtans, met die bytrek van nuwe lande groei die BOL van 25 tot meer as 100 lede. Die een spitsberaad na die ander vorm ’n ware konferensiebasis vir ontwikkelende lande (Kaïro in 1964, Algiers in 1973, Havana in 1979, Belgrado in 1989...). Hierdie “mag van die swakkes” (11), met die VN as sy spreekverhoog, dra beslissend by tot die ontwikkeling van die internasionale reg tussen 1960 en 1975 om beter voorsiening vir Noord-Suid-betrekkinge te maak. Reeds in 1957 gebruik ’n Algemene Vergadering-resolusie vir die eerste keer die term “onderontwikkeling”. Maar dit is veral die totstandkoming van die VN se Konferensie oor Handel en Ontwikkeling (UNCTAD) in 1964 wat die eerste oorwinning vir die Derde Wêreld inlui. “Dekolonisering het die internasionale landskap omvorm,” verduidelik Rubens Ricupero, voormalige sekretaris-generaal van UNCTAD, “en dit hou nie alleen die belofte van politieke onafhanklikheid in nie, maar ook van ontwikkeling en maatskaplike geregtigheid vir miljoene individue uit volke wat voorheen vergete gebly het”. (12) Onafhanklikheid bly in werklikheid ’n fiksie as internasionale markreëls bevolkings hul rykdomme ontneem tot die voordeel van buitelandse beleggers. UNCTAD steun Suidelike lande se strategieë vir nywerheidsoutonomie, onder die beheer van openbare owerhede, asook die beleid om invoere uit ontwikkelde lande te vervang met plaaslik vervaardigde produkte. Die konferensie gee aanleiding tot die stigting van die “Groep van 77”: hierdie groepering van Derdewêreldlande word ’n middel om hul eise binne die VN te struktureer, en sluit vandag 132 state in. Bewus van die ekonomiese strik waarin hulle vasgevang is, verkry die hoofde van die BOL tydens hul samekoms in Algiers in 1973 die konvokasie van ’n buitengewone sitting van die VN se Algemene Vergadering in Mei 1974. Gewy aan ontwikkelingsvraagstukke, lewer dit ook kritiek op die wesenlike aard van internasionale verhoudinge. Die Algemene Vergadering erken onder meer dat “dit onmoontlik blyk om ’n harmonieuse en gebalanseerde ontwikkeling van die internasionale gemeenskap teweeg te bring binne die huidige internasionale ekonomiese orde ... [Hierdie orde] is regstreeks in stryd met die ontwikkeling van hedendaagse politieke en ekonomiese betrekkinge” (Resolusie 3201). Aangespoor deur die Suidelike lande maak die vergadering voorsiening vir die daarstel van ’n Nuwe Internasionale Ekonomiese Orde (NIEO) (13). Derdewêreldlande spreek hulle uit teen domineringsverhoudings wat ’n internasionale gemeenskap en ’n “permissiewe, liberale en onverskillige” (14) reg skep wat ellende legitimeer. ’n Regsreël is blote “fiksie” as dit nie vir ongelykhede in interstaatlike verhoudinge voorsiening maak nie (15). Dit is dus die hele kapitalistiese stelsel en wêreldorde wat in twyfel getrek word. Vir Mohammed Bedjaoui, Algerië se destydse permanente verteenwoordiger by die VN se Onderwys-, Wetenskap- en Kultuurorganisasie (UNESCO), is die saak duidelik: “Almal weet dat die huidige orde ’n groot absurditeit is, en tog word dit met meer kwaadaardigheid as ooit tevore in stand gehou... Die rede is dat daar, naas die antikoloniale en anti-imperialistiese denkwyse, ’n ander denkwyse aan die ontwikkel is wat ook streef na ’n ander soort samehang, uitgedruk in terme van profyt, winsgewendheid, rou realisme en mag” (16). Die eis vir ’n NIEO word einde 1974 afgesluit met ’n verklaring van die “ekonomiese regte en pligte van state in hul gemeenskaplike betrekkinge”. Daarin word uitgestippel: die reg op nasionalisering (wat veral uiting sal vind in die nasionalisering van olierykdomme), transnasionale maatskappye se ondergeskiktheid aan die wette van die gasheerstaat, die regulering van buitelandse beleggings, die reg op beheer oor kapitaal en geldvloei, die reg om buitelandse besittings te onteien, die reg oor natuurlike hulpbronne, die reg op ontwikkeling (17)... Hierdie ekonomiese eise is ook ’n manier vir Derdewêreldlande om aan hul getalsterkte gestalte te gee. Dit lei tot ’n kolossale program van aksie wat ook op voedsel, handel, tegnologie-oordrag en geldeenhede betrekking het. Hierdie verklarings is egter slegs van politieke waarde en sonder enige afdwingbare regsgesag. Die oorwinning van die liberale model, by name globalisering, onderbreek by die draai van die 1980’s hierdie pogings om die internasionale regstelsel te hervorm. Daarbenewens sal die verdwyning van die Oos-Wes-vyandelikheid die Derde Wêreld sy twee teenwigte ontneem en hom sodoende polities en ekonomies isoleer. Die Derde Wêreld se eise vind wel gestalte in die begrip van internasionale openbare besit, wat deur die Montego Baai-konvensie in 1982 met betrekking tot seereg erken is. Hierdie gedagte is egter nog nie sedertdien opgevolg nie. Hoewel die Suidelike lande se beweging ’n merkwaardige historiese bydrae tot die anti-kolonialistiese en anti-imperialistiese stryd gelewer het, het die hersiening van die internasionale ekonomies-politiese orde misluk. Met globalisering wat ekonomiese en maatskaplike samewerking lamlê, beweeg ons “van ’n reg van bevryding, solidariteit en hoop na ’n reg van beskerming, meegevoel en onderdrukking met die internasionale humanitêre reg”(18). Die Noord-Suid-konflik bly egter ongeskonde in die nuwe ekonomiese en handelsorde wat ontwikkelde lande sedert die 1980’s afdwing. Nuwe groeperings sien die lig: die G90 wat die uitwis van enige vorm van subsidies vir die uitvoer van landbouprodukte eis, en veral die G20, gestig met die oog op die 5de Ministeriële Konferensie van die Wêreldhandelsorganisasie in Cancun in September 2003. Die G20 - wat nie met sy homoniem wat deur die G8 geskep is (19), verwar moet word nie - bestaan uit ontwikkelende lande en beoog om ’n teenwig vir ongelyke magsverhoudinge in sakeonderhandelings daar te stel. Reeds tydens die Doha-konferensie in 2001 stuur die Suidelike lande hul groepering van stapel met die stel van sekere eise rakende die staking van landbousubsidies in nywerheidslande, die verhouding tussen buitelandse skuld, ontwikkeling en internasionale handel en die bevraagtekening - al is dit dan net gedeeltelik - van internasionale ooreenkomste vir die beskerming van intellektuele eiendomsreg (TRIPS) rakende openbare gesondheid en toegang tot generiese geneesmiddels. Sedert sy totstandkoming het die G20 groot belangstelling ontlok en nuwe verwagtings geskep, veral nadat sy kollektiewe optrede die Cancun-konferensie in die wiele gery het. Sedertdien kry die G20 algaande struktuur tydens die ministeriële vergaderings in Brasilia, in Desember 2003, en Sao Paolo, op 12 Junie 2004, by geleentheid van die 11de UNCTAD-konferensie. Hy vestig hom as ’n legitieme en onontbeerlike deelnemer in sakeonderhandelings oor landbou binne die WHO. G20-lidlande verteenwoordig bykans 70% van die wêreldbevolking en 26% van alle landbou-uitvoere wêreldwyd. Desondanks, afsonderlik gesien, vertoon hulle baie kwesbaar teenoor die Noord-Amerikaanse mag: Latyns-Amerikaanse lande wik en weeg tussen weerstand teen Washington se aanmatiging en vrees vir moontlike vergelding. So het Chili byvoorbeeld ’n vryhandelsverdrag met die VSA gesluit; Bolivia, Colombia, Ecuador, Peru en die lande van Sentraal-Amerika is besig om met die VSA te onderhandel. Hoe gemaak met die teenstrydige belange tussen die swaargewigte in die G20, soos Indië en Brasilië, en die ander lande? Brasilië is byvoorbeeld ’n vurige voorstander van die oopstel van landboumarkte, selfs al beskerm hy die VSA se ingryping in die landbou. Die armste lande wil op hulle beurt hul produksie teen internasionale mededinging beskerm. Venezuela, onder sy president Hugo Chavez, onderskei hom deur die Bolivariese Alternatief vir Latyns-Amerika en die Karibiese gebied (ALBA) voor te stel, en daardeur weg te breek van die denkpatroon van vryhandel en mededinging. Gebaseer op politieke, maatskaplike, kulturele en wetenskaplike samewerking en solidariteit, is die oogmerk om te vergoed vir strukturele ongelykhede wat ontwikkelende lande met betrekking tot nywerheidslande kniehalter. In dieselfde gees onderteken mnr. Chavez en 14 (uit die 16) Karibiese staats- en regeringshoofde op 30 Junie 2005 in Puerto la Cruz (Venezuela) ’n ooreenkoms vir die stigting van Petrocaribe, ’n streeksoliemaatskappy wat Caracas in staat stel om dié arm lande van olie te voorsien teen voorkeurtarriewe en met tegemoetkomende betaalvoorwaardes. Anders as die groeperings van die jare 1960/1970, bevraagteken die G20 nie uitdruklik die internasionale gemeenskap se ekonomiese opset nie, en spreek hy hom nie uit ten gunste van ’n alternatiewe maatskaplike model nie. Hoewel dit mag lyk of Suidelike lande hulle teenoor die aanmatigings van nywerheidslande handhaaf, is dit nog te vroeg om ’n hersamestelling van magsverhoudings en ’n herorganisasie van die internasionale gemeenskap in die vooruitsig te stel. Die G20 vergestalt egter die hernuwing van Suid-Suid-bande waaraan die VN se Algemene Vergadering in 2004 erkenning verleen het met die instel van ’n jaarlikse dag vir samewerking tussen Suid en Suid. (19) _________
(1) Die G-20 bestaan uit Suid-Afrika, Egipte, Nigerië, Tanzanië, Zimbabwe, Sjina, die Filippyne, Indië, Indonesië, Pakistan, Thailand, Argentinië, Bolivia, Brasilië, Chili, Kuba, Meksiko, Uruguay, Paraguay en Venezuela. (2) Lees Marie-Pierre Paquin-Boutin, “La nouvelle stratégie commerciale des puissances du Sud”, Réseau d’information et de solidarité avec l’Amérique latine, 18 Maart 2005, www. risal.collectifs. (3) President Hu Jintao het Brasilië, Chili, Argentinië en Kuba in November 2004 besoek. Die staatshoofde van Meksiko, Venezuela, Ecuador, Brasilië, Chili en Kuba het Sjina op hul beurt besoek. (4) Lees Jean-Christophe Servant, “Die Sjinese aanslag op die Afrika-mark: Teenstrydighede van Suid-Suid handel”, Die Vrye Afrikaan-Intussen saam met Le Monde diplomatique, 18 Mei 2005, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=223. (5) In die lewe geroep deur hoofstuk XII (Art. 75 tot 85) van die VN-handves, raak dié stelsel gebiede wat na die Eerste Wêreldoorlog onder mandaat van die Volkebond geplaas is asook gebiede wat deur die lande verantwoordelik vir hul regering (koloniale magte) onder dié stelsel geplaas is. In Afrika in 1955 het slegs Libië onafhanklikheid verkry, terwyl die Goudkus (later Ghana) slegs selfbeskikkingstatus geniet het. Die koloniale mag het ooreenkomste met die Voogdyraad aangegaan. (6) Lees Jean Lacouture, “ Bandung ou la fin de l’ère coloniale ”, Le Monde diplomatique, April 2005. (7) Tunisië, Ghana, Maleisiese Federasie, Nigerië, Uganda, Kenia, Tanzanië, Marokko, Guinee, Senegal, Ivoorkus, Tsjad, Mali, Sentraal-Afrika Republiek, Madagaskar, Algerië, Kongo, Kongo-Zaïre, Rwanda, Burundi, Benin, Burkina Faso, Kameroen, Gaboen, Malawi, Mauritanië, Niger, Sierra Leone, Somalië, Soedan, Togo, Zambië. (8) Charles Chaumont., Cours général de droit international public, Lesings van die Akademie vir Internasionale Reg in Den Haag, 1970, II, p. 345. (9) Kyk Resolusie 2621 (XXV) van 12 Oktober 1970 en Resolusie 2625 (XXV) van 24 Oktober 1970. (10) In 1956 besluit Gamal Abdel Nasser, president van Egipte, om die Suezkanaalmaatskappy te nasionaliseer. Die Verenigde Koninkryk, Frankryk en Israel val Egipte aan, maar moet op bevel van die VSA en die USSR die aftog blaas. (11) Robert Charvin, “ Le discours sur le droit international ”, Introduction critique au droit international, Lyon: Presses universitaires de Lyon, 1984, p. 40. (12) Aangehaal deur André Linard, “La Cnuced : de la contestation à l’intégration”, in ONU, droit pour tous ou loi du plus fort ?, Genève: Cetim, 2005, p. 209. (13) Declaration on the Establishment of the New International Economic Order (NIEO), Resolusie 3201 (VI) S, 1974. (14) Mohammed Bedjaoui, Vers un Nouvel Ordre économique international, Parys: UNESCO, 1978, p. 62. (15) Jean Salmon, “Le procédé de la fiction en droit international”, Revue belge de droit international, Brussels, 1974, volume I, p. 35 en ss. (16) Bedjaoui, p. 93. (17) Kyk Resolusie 3218 (XXIX), Charter of Economic Rights and Duties of States, 12 Desember 1974. (18) Serge Sur, “ Les phénomènes de mode en droit international ”, SFDI, Colloque de Paris, Le Droit international et le temps, Parys: Pedone, 2001, p. 51. (19) Dié groep, gestig in 1999, bestaan uit G8-lidlande (die VSA, Japan, Duitsland, Frankryk, die Verenigde Koninkryk, Kanada, Italië en Rusland), sekere groot opkomende lande (Indonesië, Korea, Sjina, Suid-Afrika, Brasilië, Argentinië, Mexiko, Turkye, asook Saoedi-Arabië en Australië) en verskeie internasionale finansiële instellings (IMF, Wêreldbank, Ontwikkelingskomitee, Internasionale monetêre en finansiële komitee). |