|
||||
“Geagte leser, ’n ander wêreld is moontlik.” Met hierdie woorde het Die Vrye Afrikaan vandag – op ’n dag na – op Vrydag 3 September 2004 die lig gesien. In ons openingsmanifes het ons uitgespel waartoe ons verbind is: ’n wêreld waar gemeenskappe self oor hulle toekoms besluit; die herlewing van gemeenskappe om die politiek en die ekonomie weer op ’n gesonde grondslag te plaas; ’n Afrika wat oor 50 jaar ’n model vir die wêreld kan wees op voorwaarde dat Afrika se 15 grootste tale ontwikkel word; die sleutelrol wat Afrikaners met hulle unieke historiese ervaring hierin kan speel; ’n ekonomie waarvan die ekologie die voorwaarde is, en waarvan selfstandigheid eerder as groei die mikpunt is; ’n Suid-Afrika waarin gemeenskappe eerder as ’n sentralistiese staat die boublokke van ’n nasie is, en waarin die verhouding tussen Afrikaner en Afrikaan een van die sleutels van ons gedeelde toekoms is. Die jaar wat sedertdien verloop het, was een van die grootste opwinding, waarin ons idealisme nie deur die praktyk getemper nie, maar gevoed is. Dieselfde kan ook gesê word van ons uitgewer, die FAK, wat die taak aanvaar het om saam met Afrikaners te werk aan ’n nuwe visie waarmee ons ons plek in ’n Afrika van selfrespekterende gemeenskappe kan inneem. Ons eerste groot mylpaal was die oorweldigende reaksie van veral denkende Afrikaanse lesers, wat aan ons gesê het dat hulle al lank op pitkos soos hierdie wag. Ons tweede groot mylpaal was die groeiende geesdrif waarmee intellektuele buite die Afrikaanse wêreld in ons blaaie verskyn, in ons pogings om ’n nasionale debat van formaat te help vestig. So het die eerste Afrikaner wat ’n Nobelprys vir Letterkunde gewen het, J.M. Coetzee, wat feitlik nooit onderhoude toestaan nie, pas aan ons ’n onderhoud toegestaan by die verskyning van sy nuwe roman, en wat ons in ons maanduitgawe van 16 September publiseer. Ons derde groot mylpaal was die sluiting van ’n ooreenkoms met die wêreld se voorste intellektuele koerant, Le Monde diplomatique, om ’n maandelikse Afrikaanse mini-uitgawe te publiseer, waarmee Afrikaans die 20ste taal geword het waarin hulle verskyn. Ons vierde groot mylpaal beloof om groot vergesigte vir ons te open, naamlik die oorweldigende reaksie wat ons tot dusver vandeesmaand op ons nuwe koerantformaat beleef het. Ons is die afgelope weke oorval met versoeke om ’n gratis proefkopie, wat u ook kan ontvang deur ’n e-pos te stuur na [email protected]. By Die Vrye Afrikaan koester ons ’n gemeenskapsetos, en ons sien die blad as ’n unieke eksperiment wat saam met sy lesers groei. U, ons lesers, het laat weet dat ’n papieruitgawe u behoefte is, en ek nooi u uit om dit op die proef te stel, kritiek te lewer en voorstelle te stuur. Al wat ons by Die Vrye Afrikaan kan sê is, “Hef aan lê voor!”. En ons is gereed daarvoor. |