blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die staat, die party en korrupsie 2005-09-01

Die afgelope Woensdag het die ANC sy meerderheid in die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale en energie ingespan om die omstrede verslag van die Openbare Beskermer, adv. Lawrence Mushwana, oor die beweerde oorbetaling van staatsgeld aan die ANC verlede Desember sonder bespreking te aanvaar. Dat hierdie aanvaarding verregaande is, spreek eintlik vanself, maar wat belangriker is, is wat hierdie jongste wanhantering van openbare korrupsiebewerings onthul oor die staat, die party en korrupsie.

  Verskeie kommentators het al gewys op die skoorvoetendheid waarmee die ANC telkens bewerings van openbare korrupsie hanteer. Ons sê spesifiek die ANC, omdat die onderskeid tussen die regerende party en die staat eintlik al hoe vaer word. Die mate waarin Suid-Afrika ’n eenpartyoorheersde staat is en waarin die kanse op ’n alternatiewe regering skraal is, beperk ongelukkig ook die mate waarin die land ’n demokrasie genoem kan word.

  Telkens wanneer daar oor openbare korrupsie gepraat word, is veral liberale kommentators gou om te sê dat die korrupsie eintlik nie so erg in vergelyking met dié van die apartheidsera is nie, en dat korrupsie tans eintlik meer prominent is juis omdat die media vryer as tydens die vorige bedeling is, en omdat daar teenswoordig ’n aantal staatsinstellings bestaan wat korrupsie eksplisiet hanteer.

  Dít is ’n gevaarlike drogredenasie wat nie net Suid-Afrika se stryd om demokrasie aan ’n ondemokratiese bestel meet nie, maar wat ook op ’n ander manier appels met pere vergelyk, naamlik die brute magspolitiek aan die einde van die apartheidsera met die betreklike idealisme en jeugdigheid van die huidige bedeling.

  Waarna eintlik in die debat oor openbare korrupsie gekyk moet word, is die krisis wat die groeiende sameloop van die belange van party, staat (en selfs korporasie) vir die stryd om demokrasie in Suid-Afrika verteenwoordig. Die feit van die saak is dat die regerende party hom in ’n hoogs onwenslike posisie bevind, naamlik onbehoorlike mag wat deur ’n grondwetlike bestel (en die mitologie van die struggle) gelegitimeer word.

  Min dinge demonstreer hierdie onverkwiklike toedrag van sake so deeglik as die groot geesdrif wat die party veral onder President Thabo Mbeki vertoon om deeglike ondersoeke na Mbeki se politieke opponente in te stel, terwyl dieselfde geesdrif nie met betrekking tot bewerings van openbare korrupsie vertoon word nie. Tot dusver is ondersoekprosesse ingespan om die populiste in die party en sy twee alliansievennote, Cosatu en die SAKP, te neutraliseer. Heel onlangs was daar die Hefer-kommissie se ondersoek na bewerings van spioenasie teen die voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, mnr. Bulelani Ngcuka, wat mnre. Mo Shaik en Mac Maharaj se openbare loopbane effektief beëindig het, soos wat die Shabir Shaik-saak weer Shaik, en by implikasie mnr. Shaik en Zuma se openbare loopbane beëindig het. In dieselfde trant vra Pres. Mbeki tans weer vir ’n interne kommissie van ondersoek na beweringe dat daar ’n politieke komplot in die ANC teen mnr. Zuma is.

  Daarenteen het eers die kabinet en nou die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale en energie mnr. Mushwana se omstrede verslag aanvaar. Die kabinet het selfs met verregaande piëteit ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die saak nou daar te laat uit respek vir openbare instellings!

  Natuurlik is dit vir enige oormagtige regerende party moeilik om die hand in eie boesem te steek, en des te meer wanneer ’n aanvaarbare stelsel van wigte en teenwigte hom in toom hou, maar binne die huidige “eenparty-oorheersde demokrasie” ontbreek so ’n stelsel, of word dit toenemend uitgekalwe. Watter selfrespekterende demokraat sal byvoorbeeld na dese vertroue in die Openbare Beskermer hê?

  Die feit van die saak is dat die koloniale onderbou van die Suid-Afrikaanse staat, wat eers getransformeer sal word wanneer die staat werklik teenoor gemeenskappe aanspreeklik is, dit nogmaals vir ’n voormalige vryheidsvegterselite makliker maak om hulle snoete in die trog van welvaart te druk.

  Suid-Afrikaanse demokrate van alle oortuigings moet vanuit hul gemeenskappe hierdie neiging met mag en mening bestry: ’n demokrasie is nie ’n varkplaas nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=317
Artikel nagegaan:
    -