| |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Hermann Giliomee en Lawrie Schlemmer Deur Hermann Giliomee en Lawrie Schlemmer* *Onderskeidelik historikus en skrywer van Die Afrikaners (Kaapstad: Tafelberg, 2004), en politieke sosioloog en direkteur van die Helen Suzman-stigting Wat gaan onder die Afrikaners aan? Hoe lyk hierdie gemeenskap wat toenemend post-nasionaal oor haarself in ’n Afro-nasionalistiese Suid-Afrika begin dink? Die Suid-Afrikaanse politiek is dikwels deur groot omstredenheid gekenmerk. Dink maar aan die woelinge tussen 1914 en 1915 toe die Nasionale Party gestig is, die Samesmelting in 1933-34, die twiste tydens die Tweede Wêreldoorlog en die skeuring tussen die NP en Konserwatiewe Party in die vroeë 1980’s. Om nie te praat van die onstuimighede van die 1990’s nie. Afrikaners het nie in hierdie tyd gehuiwer om sterk en soms radikale kritiek op die regerende party uit te spreek nie. Die NP-bewind het die unieke ervaring gehad dat Afrikaanse meningsvormers van links en regs dit aangeval het.
Ná die oorgang in 1994 het dinge verander. Met die uitsondering van twee koerantredakteurs, Izak de Villiers van Rapport en Ebbe Dommisse van Die Burger, het skerp kritiek op die regering gekom van ’n baie klein groepie Engelstalige liberaalgesindes, links-radikales en meningsvormers of vakbondleiers. Intussen het die landskap ten opsigte van taal, kultuur en werksgeleenthede radikaal verander. ’n Derde van die Afrikaanse enkelmediumskole is tot parallel- of dubbelmediumskole getransformeer, en ongeveer dertig het heeltemal verengels. Al die universiteite het Engels ingevoer. By die Universiteit van Stellenbosch (US), wat die beste langtermyn-vooruitsig het om Afrikaans te bly, is na skatting ’n derde van die voorgraadse kursusse en heelwat meer as die helfte van die nagraadse kursusse in Engels. Die wêreldvreemde argument is hier gehoor dat ’n universiteit net moet kennis oordra, en dat die voertaal waarin hy dit doen nie ter sake is nie. By die Universiteit van Pretoria (UP), wat die meeste Afrikaanse studente het, het die gebruik van Afrikaans as voertaal dramaties gedaal. In die geesteswetenskappe is dubbelmedium dikwels gekies, wat feitelik die uitrangering van Afrikaans beteken. Dit is duidelik dat UP se bestuur doelbewus die taalbeleid so vaag geskryf het dat ander doelstellinge prioriteit geniet. Die noodsaak om swartes ter wille van rassetransformasie op te neem, het hom laat geld, maar ewe belangrik - ook in die geval van US - was die prioriteit om Engelstalige topstudente en -dosente te trek. (Tog is daar by sekere universiteite ’n taalwil ongeag minder gunstige omstandighede wat agting afdwing. Ons dink veral aan die Universiteit van die Vrystaat en die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-universiteit, oftewel die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.) Plek-plek in die media is selfs die naam Afrikaner laat val. In die plek daarvan het die lompe term “Afrikaanses” gekom (kyk kassie). In weerwil van hierdie omwentelinge het Afrikaanse meningsvormers op enkele uitsonderings na ’n lae profiel gehandhaaf. Daar was egter wel ’n handjievol prominente Afrikaanse meningsvormers, wat omtrent almal noue bande met die vorige regerende party gehad het, wat simpatiek op die skuiwe van die nuwe regering gereageer het. Een van hulle het in die eerste jare van die oorgang die nou welbekende mening uitgespreek dat al die praatjies oor die afskaal van Afrikaans hom aan ’n glas lou bier op ’n somerdag laat dink. Hy het ook gewaarsku dat die praatjies oor minderheidsregte tot ondermynende bedrywighede kan neig. Die Afrikaanse sakeleiers het tot hul eie verstandhouding met die nuwe bewind gekom. In 2000 het 34 Afrikaanse sakeleiers die regering geprys vir die wyse waarop hy “’n wedersyds voordelige verhouding tussen die staat, die sakewêreld, georganiseerde arbeid en die gemeenskap” moontlik gemaak het. Die vraag is waarom hierdie sakeleiers ooit as Afrikaanse sakeleiers na die regering gegaan het. In hulle verklaring word daar geen woord gemeld van die Afrikaanse taal en Afrikaanse skole nie. Dit herinner ’n mens aan die waarneming van Alexis de Tocqueville dat minderhede slegs deel van die meerderheid kan word as hulle die dinge laat vaar wat werklik vir hulle as minderheid belangrik is en wat tussen hulle en die meerderheid konflik skep. In 2004 het ’n groep van 112 Afrikaanssprekende sakelui en rektore Pres. Mbeki geluk gewens met sy klinkende oorwinning in die algemene verkiesing. Die groep se verklaring het die oortuiging uitgespreek dat Mbeki se tweede termyn gekenmerk sal word deur “’n verdieping en verbreding van demokrasie en ekonomiese groei”, en bygevoeg: “U het dit vir alle Suid-Afrikaners, insluitende ons as Afrikaanssprekendes, moontlik gemaak om tuis te voel in ons land en welkom in Afrika en die wêreld.” Uiteraard is die regering, en veral Pres. Mbeki, diep dankbaar oor hierdie blyke van solidariteit. In die Mail & Guardian van 18-24 Februarie 2005 word die Hoof Uitvoerende Beampte van wat die koerant beskryf as “a prominent media and publishing house” aangehaal dat Mbeki van die standpunt uitgaan dat dit belangrik is om die wit sake-elite agter hom te verenig “aangesien hulle die mense is wat die oorgang kan opponeer”. Die gebare van welwillendheid tussen Afrikaner- en Afrika-elites het neerslag gevind in ’n onlangse besprekingsdokument van ANC (1). Hierin is die Afrikaners se “inheemse” patriotisme gunstig met die van die liberale Engelsprekendes vergelyk. Volgens die dokument het die Afrikaners “a different emotional, psychological and material relationship to Africa and South Africa compared to other whites.” Hulle omhels die “new South Africa more readily than English-speaking whites.” In skerp teenstelling met hierdie verbroedering op die vlak van die wit sake-elite en die swart politieke elite het omtrent al die Afrikaanse dosente hulle aan die openbare politieke gesprek onttrek. Afrikaanse koerante doen nog redelik volledig oor politieke verwikkelinge verslag, maar terwyl die dekking dikwels meer volledig en professioneel is, is hulle sekerlik nie meer krities op die regering ingestel as hul Engelstalige eweknieë nie. Teen hierdie agtergrond word die vraag deesdae gevra: Het die meeste Afrikaners nie miskien die huidige politieke opset begin aanvaar of selfs begin steun nie? Dit sal egter ’n mistasting wees om ja op hierdie vraag te antwoord. Veel eerder het ons hier ’n geval van meningsvormers wat geen of baie min steun op die grondvlak het. Daar is onder die Afrikaners die sindroom van volgelinglose “leiers” en leierlose volgelinge. Wat die Afrikaanse kommentators en meningsvormers nie doeltreffend oordra nie, is die feit dat vervreemding en wantroue tussen gewone Afrikaners en die ANC-regering veel dieper is as by hul wit Engelstalige landgenote. Die volgende uittreksels uit mede-outeur Schlemmer se landwye opnames in 2004 gee daarvan ’n aanduiding (persoonlike onderhoude onder ’n verteenwoordigende steekproef van 2250):
Die sterk afkeuring van die ANC-regering in die bevindinge hierbo kan nie net aan die sosio-ekonomiese omstandighede van Afrikaners toegeskryf word nie. Afrikaners is wel nie heeltemaal so welaf en so goed opgevoed as hul Engelssprekende ‘rasgenote’ nie, maar die verskille is werklik nie dramaties nie. Die profiel van die volwassenes in die twee groepe in laat 2003 lyk soos volg (Bron, SA Advertensie-navorsingstigting, ‘AMPS’-opname 2003B, steekproef 25 000 landwyd):
Die redes vir die beduidende politieke verskille tussen Afrikaners en wit Engelssprekendes moet dus elders as in hul maatskaplike omstandighede gesoek word. Die grootste enkele rede is waarskynlik die feit dat Afrikaners sedert 1994 baie meer as die Engelsprekendes moes prysgee; onder meer loopbaangeleenthede in die staatsdiens, formele erkenning van en eerbied vir die Afrikaner-erfenis en geskiedenis, die plekname van talle dorpe is so in die gedrang dat die ANC die gerusstelling laat uitsaai het dat die name van Kaapstad en Johannesburg behoue sal bly (met die implikasie dat al die ander name in gedrang is). Selfs Pretoria, wat vir die meeste Afrikaners ’n besondere betekenis het, dreig om te sneuwel. Hiermee hou dit nie op nie. Daar is die redelik skielike afskaling van die Afrikaanse taal tot een van tien tale wat almal ondergeskik is aan Engels, wat tans as die algemene en amptelike gebruikstaal uittroon, die ‘transformasie’ van geskiedkundige Afrikaanse universiteite en ander instellings, die inmenging in Afrikaanse enkelmediumskole en die algemene persepsie dat ’n nie-ANC gesinde Afrikaner nie meer ’n kans het om enige openbare pos met hoë aansien te beklee nie. Die redes moet ook in aspekte van die politieke kultuur onder Afrikaners en wit Engelssprekendes gesoek word. Weereens gee die volgende uittreksels uit mede-outeur Schlemmer se meningsopnames ’n oppervlakkige maar bondige aanduiding van baie dieperliggende waardes wat die politiek raak:
Die spesifieke inhoude van die individuele vrae is eintlik heelwat minder belangrik as die meer algemene neiging onder gewone Afrikaners wat in die hele reeks resultate weerspieël word. Die patroon van die response dui onomwonde op die volgende: Die Engelssprekendes is baie meer gemaklik om as individue in die politiek op te tree en is nie besonder daardeur gepla indien hulle polities op die rand staan of geïsoleer is nie. Die kontras met Afrikaners is skerp. Afrikaners het ’n beduidend groter behoefte aan politieke solidariteit en samehorigheid as wat die geval is onder wit Engelssprekendes. Van die antwoorde in die reeks dui oppervlakkig gesien op oorblyfsels van rassisme. Dit is egter beslis nie die geval nie - die bruin politikus Patricia de Lille is onder Afrikaners die tweede gewildste politieke persoonlikheid, kort op die hakke van Tony Leon. Mangosutho Buthelezi word ook beduidend positief gewaardeer. Hierdie onderliggende reaksiepatrone by Afrikaners kan toegeskryf word aan die dekades-lange blootstelling aan die waardes van ’n eie staat onder ’n dominante politieke party, wat teen die begin van die 1970’s deur meer as vier-vyfdes van die Afrikaners ondersteun is. Met die Nasionale Party aan bewind was dit vir die Afrikaners onnodig om enige besondere individuele toewyding aan hul eie kultuur en identiteit te betoon. Taal en kultuur was alles in die staatsvorm ingesluit - konformiteit was al wat eintlik van die gewone individu verwag is. Die gevolg is dat Afrikaners na 1994 dit baie moeiliker as Engelssprekende minderhede gevind het om as individue aanpassings te maak en hul status as ’n etniese minderheid te aanvaar. Hulle weet ook nie hoe om vanuit die posisie van ’n minderheid sonder enige politieke mag hulpbronne vir hul taal en kultuur te mobiliseer en teenstand te bied teen optredes van die ANC wat teen die gees van die demokrasie en billike regstellende aksie indruis nie. Afrikaners skram onwillekeurig daarvan weg om hulle as ’n etniese minderheid te posisioneer. Hulle weet nie hoe om maatskaplike netwerke en maatskaplike kapitaal ten behoewe van ’n etnies gemobiliseerde groep aan te wend nie. En omdat hulle nie kan of wil mobiliseer nie, is hulle kwesbaar en onseker. Hulle trek hulself dus terug, al is daar by hulle nog steeds ’n sterk behoefte aan politieke samehorigheid en ’n politieke ‘gemeenskap’ waarin hulle tuis voel. Onwetend en onbedoeld raak hul eie dilemma al groter. As groepsmense het hulle die behoefte aan solidariteit, maar as individue wil hulle graag byderwets, verlig en bevry voorkom. Dit is veral in die kerkleierskap waar hierdie sindroom voorkom. Die Belhar-belydenis is ’n turksvy wat net opgelos kan word van onder af boontoe, nie andersom nie. Die NGK-leiers het tussen 1935 en 1986 hulle eie teologiese skoling versaak deur die ideologie van apartheid te omhels. Behalwe Bennie Keet en Ben Marais was daar min afwykende stemme in die kerk. Die mees kompromislose stem was dié van James Oglethorpe, ’n Stellenbosse student wat gestudeer het om sendeling te word. In 1947 het hy in Die Stellenbosse Student geskryf dat dit in die lig van die swart getalsoorwig begryplik is dat die Afrikanervolk die segregasiebeginsel wil gebruik as die laaste wapen om sy reg om te kan voortbestaan, te verdedig. Die kerk kan egter nie hiermee saamgaan nie. Die kerk moet heel eerste die beginsels van “liefde en die broederskap van nasies” nakom. Doen hy iets anders, is “die tragiese feit dat die Kerk sy kosbaarste besitting, die geloof, prysgegee het”. Dit was die versiende woorde van Oglethorpe. Teen die middel van die 1980’s het die NGK-leiers weer hulle eie geloof probeer vind. Maar hulle is kwalik die regte mense om nou weer Belhar aan die lidmate in die algemeen te probeer verkoop. Hoekom sal die lidmate daarvan oortuig wees dat hulle nou skielik die regte pad gevind het? Moet versoening en die herbesinning oor die Belydenisskrifte nie liewer op die vlak van die gemeente begin nie? Tans soek die Afrikaners nie meer die leiding van die kerk in politieke sake nie. Hulle vermy die kleiner behoudende partye soos die Vryheidsfront+ naarstiglik. Aan die ander kant ervaar hulle die ANC se rasgebaseerde en rasgeobsedeerde bevrydingskultuur as ’n bedreiging wat direk teen hul histories Europese kultuurmaatstawwe indruis. Hulle is geneig om die Afrikaanse sakelui se gevry na die President se guns af te maak as witvoetjiesoekery ten einde hul onderskeie maatskappye te beskerm. Hulle reageer met stomme verbasing op die “polities korrekte” kommentaar wat soms in die media oor sleutelkwessies voorkom - die US-taalbeleid, Mikro-hofsaak en die Bram Fischer-eregraad is maar enkele gevalle. Daar is ook ’n groot behoefte aan ernstige en indringende beriggewing oor kwessies soos grondhervorming, die rugby- en krieketpolitiek en grondwetlike aangeleenthede. In teenstelling hiermee word op opvoedkundige gebied voortreflike werk gedoen deur Anastasia de Vries en Alet Rademeyer. Te midde van al hierdie onsekerhede en gevoelens van kwesbaarheid, skaar die meeste Afrikaners hulle tans by die DA, wat minstens die gerusstelling van getalle bied, en wat boonop ’n sterk leier het wat hulle vrese onverskrokke kan verwoord. Die tragedie by die post-1994 Afrikaners is dat die meeste van hul intellektuele leiers presies dieselfde krisis ervaar het. Hierdie leiers se reaksie was om soos die Joodse intellektueles in die VSA gedurende die 1940’s en 1950’s van hulle eie groep weg te vlug in ’n poging om die skade vir hulself te beperk of hul eie spesifieke vooruitsigte of loopbaan te bevorder. Deesdae is talle leiers skrikbevange besig om ’n beeld van politieke korrektheid te projekteer. Dit lyk amper of hulle daarmee die standpunte wat hulle voorheen in hul eie gemeenskap gestel het, wil kanselleer. Baie mense sien in hierdie reaksie skuldgevoelens oor apartheid, maar dit is meer waarskynlik op eie oorlewing gemik. Die ontvlugting van die intellektuele leier het vir die gewone Afrikaner en sy kultuur amper noodlottige gevolge. Sonder leiers kan die gewone man en vrou op voetsoolvlak nie die snelle veranderings in die politieke omgewing verwerk en ’n nuwe grondslag vir die herintegrering en verruiming van die Afrikaanse kultuur vind nie. Ironies genoeg is daar binne letterkundige en kreatiewe velde getuienis van ’n sterk kultuur-oplewing. Op die vlak van die burgerlike organisasie en die vaardighede wat daarmee gepaard gaan, is daar egter kwalik enige vordering. Bo en behalwe “transformasie” het die Afrikaners se akademiese, kerk- en sakeleiers die “volk” feitlik kaalgestroop in navolging van hul eie agenda en belange. _________ (1) “The National Question”, http://www.anc.org.za/ancdocs/ngcouncils/2005/nationalquestion.html |