blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


'n Kentering in Zimbabwe? 2005-07-21

Sedert vroeër vanjaar se Zimbabwiese knoeiverkiesing was dié land daagliks in die Suid-Afrikaanse nuus, ofskoon amper eentonig van erg na erger, sodat dit as’t ware versink het in die kollektiewe Suid-Afrikaanse onderbewuste, waar dit goeie voer aan die Afro-pessimiste onder ons verskaf het.

Maar die afgelope twee weke het twee verwikkelings plaasgevind wat mag dui op ʼn kentering in Zimbawe kort op die hakke van president Robert Mugabe se weersinwekkende “skoonmaakoperasie”, oftewel die verdaklosing van etlike duisende Zimbabwiërs – hoeveel weet niemand oënskynlik presies nie, hoewel selfs net een Zimbabwiër wat op dié skandalige manier gehanteer word, reeds een te veel is.

Die eerste verwikkeling waarvan ons hier praat, is die groter betrokkenheid van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK). Reeds na die klugverkiesing het die Aartsbiskop van Harare gevra om ʼn burgerlike versetbeweging, en daarmee aangedui dat die kerke waarskynlik nou die belangrikste basis van verset en demokrasie in Zimbabwe is – ʼn indruk wat ongelukkig versterk is deur berigte van interne verdeeldheid en selfs korrupsie in die geledere van die vernaamste opposisieparty, die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC).

Die hand van die Zimbabwiese kerke is aansienlik gesterk deur die besoek van ʼn afvaardiging van die SARK verlede week daar te lande om die omvang van die verwoesting van Mugabe se “skoonmaakoperasie” te bepaal. Dít is gevolg deur ʼn besoek van die SARK verlede Vrydag aan president Mbeki, in dieselfde week dat hy die die adjunkpresident, me. Phumzile Mlambo-Ngcuka, met ʼn versoek om groter samewerking met die MDC na Mugabe gestuur het. Dan word die verslag van die spesiale gesant van die Verenigde Nasies (VN), me. Anna Tubaijika, oor die “skoonmaakoperasie” ook binnekort verwag - ʼn sending waarin Mbeki via die sekretaris-generaal van die VN, mnr. Kofi Annan, klaarblyklik ʼn aandeel het.

Die SARK het reeds verlede November groter toenadering tot Mbeki gesoek en beloof om ʼn posisie van kritiese solidariteit met die regering te handhaaf. Op sy beurt is Mbeki voortdurend in kontak met Annan, terwyl Mlambo-Ngcuka se openbaar aangekondigde besoek aan Mugabe die grootste prominensie verteenwoordig wat die regering in die jongste verlede nog aan skakeling met Zimbabwe gegee het.

Mbeki is iemand wat verkies om agter die skerms te werk, en ook met ʼn klein groepie – wat dan ook tereg in die geval Zimbabwe as “stille diplomasie” bekendstaan, maar wat tot onlangs klaaglik misluk het. In die lig van sy metode van werk agter die skerms lyk die kombinasie van die VN, die SARK en die adjunkpresident na ʼn vernuftige samesnoering van simboliese kragte wat dalk net die situasie in Zimbabwe in die regte rigting kan begin stuur.

Maar die lakmoestoets vir hierdie spekulasie is die tweede onlangse verwikkeling met betrekking tot Zimbabwe, naamlik die lening van 1 miljard Amerikaanse dollar aan Zimbabwe. Mediaberigte oor presies wat die voorwaardes vir en aanwending van so ʼn lening sou kon wees, was teen die middel van vandeesweek nog te vaag om na behore getakseer te word. Dit sou selfs kon wees dat die regering die nuus van die lening doelbewus laat uitlek het om sowel die reaksie van die Suid-Afrikaanse burgery as van internasionale en Afrika-opinie te toets voor verdere besonderhede bekendgemaak word.

Nietemin kan ʼn mens in hierdie stadium reeds die volgende oor so ʼn lening sê: In die eerste plek kan met reg gevra word of Suid-Afrikaanse belastingbetalers nie die reg het om krities na enige lening te kyk nie, veral omdat die Zimbabwiese krisis waarskynlik deur die dubbelsinnigheid in die regerig se houding jeens Mugabe vererger en verleng is. Mbeki het miskien 'n plan met Mugabe gehad, maar wat van die besoeke van ander ministers soos Suid-Afrika se Minister van Buitelandse Sake, me. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat op ʼn vraag waarom daar nie druk op Mugabe geplaas word nie, geantwoord het "it would not be the revolutionary thing to do"? Dit is hierdie soort dubbelsinnigheid van die Suid-Afrikaanse regering wat hom sy geloofwaardigheid met betrekking tot Zimbabwe by die Suid-Afrikaanse belastingbetalers laat inboet het. 

In die tweede plek kan so ʼn lening ʼn poging van Mbeki wees om sowel Westerse as Afrika-leiers tevrede te stel. Soos William Mervin Gumede aantoon in sy hoofstuk oor Mbeki en Zimbabwe in Thabo Mbeki and the Struggle for the Soul of the ANC (Kaapstad: Zebra Press, 2005) moes Mbeki tot dusver ʼn fyn balanseertoertjie tussen die Weste en Afrika uitvoer: as leier van die mees pro-Westerse Afrika-bevrydingsbeweging moet hy nie te pro-Westers lyk en sodoende die broodnodige steun van Afrika-leiers vir sy NEPAD-inisiatief verloor nie (wat die elitistiese onderbou van NEPAD demonstreer), maar andersyds kon hy in die Weste se oë ook nie te simpatiek teenoor Mugabe lyk nie, aangesien die Weste se steun ewe nodig is vir NEPAD (wat die klassieke liefdadigheidsinslag daarvan demonstreer). ʼn Lening aan Zimbabwe kan deur Afrikaniste vertolk word as “Afrika help homself”, en deur Westerse leiers as Mbeki wat van “stille diplomasie” afsien en verantwoordelikheid vir ʼn politieke krisis in sy buurland aanvaar.

In die derde plek: Indien Mbeki wel 'n plan het om die lening as 'n hefboom te gebruik, kan hy dan nie maar 'n klein bietjie hulp daarmee van ander Zimbabwiese buurlande vra nie? Die probleem van Zimbabwiese vlugtelinge is in Botswana eintlik veel erger as in Suid-Afrika, en ʼn lening deur ʼn paar Suider-Afrikaanse lande aan Zimbabwe kan die hefkrag van die aksie verhoog omdat dit meer rolspelers teenoor Mugabe inbind. Verder gee Suid-Afrika reeds hulp aan Zimbabwe deur Eskom en ander kanale. Wat is tot dusver gedoen om die hulp as hefboom te gebruik?

In die vierde plek – en dit is die belangrikste punt, die lakmoestoets waarvan ons hierbo praat – sal die sinrykheid van die lening afhang van die voorwaardes waarmee dit gepaardgaan. Ofskoon die kanse onder die huidige omstandighede goed is dat Suid-Afrika nie gou die lening in rand en sent sal terugkry nie, kan die korrekte voorwaardes dalk die herstel van demokrasie en die ekonomie in Zimbabwe aanhelp, wat enorme politieke kapitaal vir Suid-Afrika kan beteken. Hierdie voorwaardes moet insluit die herstel van die gesag van die hof, die hou van ʼn vrye en regverdige verkiesing – bes moontlik voorafgegaan deur ʼn tussentydse oorgangsregering bestaande uit die regerende ZANU-PF, die MDC en ander partye, die hou van ʼn nasionale burgerlike vergadering, die vrylating van politieke gevangenes, die staking van die misbruik van staatsmag om demokratiese kragte te onderdruk, en die spoedige uittrede van Mugabe. As nie minstens hierdie voorwaardes nagekom word nie, sal die lening inderdaad geld in die water wees – en sal Mugabe weer laaste lag, soos hy al telkemale die afgelope jare gedoen het.

En dít kan ʼn Afrika van selfrespekterende gemeenskappe nie duld nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=286
Artikel nagegaan:
    -