blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die grondvraag 2005-08-04

“Die grondvraag is die grondvraag” – so sê prof. Carel Boshoff van Orania dikwels. In aansluiting by hom voer prof. Herbert Vilakazi aan in ’n artikel wat later vandeesmaand in Die Vrye Afrikaan verskyn dat Afrika eers ’n landbourewolusie voor ’n nywerheidsrewolusie benodig. Vilakazi wys ook op hoe gevaarlik dit is as die band tussen landelike en stedelike mense in ’n samelewing deurgesny word.

Met hierdie gedagtes as agtergrond kan ’n mens probeer vertolk wat tans rondom die grondvraag in die spel is, soos wat dit weer op die voorgrond geplaas is tydens verlede week se nasionale grondberaad. Die kommerwekkende statistieke is oorbekend: terwyl die regering wil hê dat 30% van grond teen 2014 in swart besit moet wees, is slegs sowat 4% reeds in swart besit – en dit 11 jaar nà 1994.

 

Maar daar is ook ander kommerwekkende feite wat die regering selde indien ooit na verwys. Een hiervan is die afgelope Woensdag deur die Inkatha Vryheidsparty (IVP) weer in die openbare oog geplaas, toe hulle beweer het dat tot soveel as 90% van plase wat in swart besit oorgedra is, in duie gestort het. Hierdie verskynsel moet gesien word teen die agtergrond daarvan dat meer as 20 000 blanke boere sedert 1994 in ’n moeilike boerderyomgewing ondergegaan het, en dat die regering tot baie onlangs eenvoudig te min gedoen het om nuwe swart boere met kundigheid by te staan (1).

Nog ’n kommerwekkende feit is dat daar talle plase in die mark is, maar dat hulle klaarblyklik nie volgens die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper hanteer word nie. Kan dit wees omdat grondeisekommissarisse, wat die onderhandelinge oor plaasverkooppryse moet hanteer, “in werklikheid grondaktiviste is wie se primêre taak dit is om die rassistiese verdeling van grond van die verlede reg te stel”, en wat “nie staatsdienssalarisse ontvang om blanke boere goedgesind te wees nie”? (2)

Op die koop toe laat regeringswoordvoerders nie ’n kans verby gaan om boere te kasty wat onwillig sou wees om hulle plase teen aanvaarbare pryse te verkoop nie, maar word duidelike statistieke hieroor nooit genoem nie. Dit is moeilik om nie die afleiding te maak nie dat die regering rassisties na blanke boere kyk nie.

Die Minister van Landbou en Grondsake, me. Thoko Didiza, het verlede Oktober tydens ’n vergadering van die Food and Allied Workers’ Union “haar teleurstelling uitgespreek dat daar nie meer ‘grondaktivisme’ onder swartmense is nie. Sulke aktivisme, het sy gesê, sal help om grondpryse af te dwing en sal grondhervorming bekostigbaarder maak. ‘Die eienaarskap van landbou-instellings moet die demografie van die land weerspieël,’ het die Minister gesê, en die vakbondlede aangemoedig om die huidige situasie te verander (reverse), ‘anders gaan julle kinders eendag vir julle vra waar julle was en wat julle gedoen het’.” (3)

Met ander woorde, daar loop ’n harde ideologiese lyn vanaf die verantwoordelike minister, na die amptenare wat grondeise hanteer, na die grondaktiviste op voetsoolvlak. En nou kom die minister sowat nege maande na haar oproep om meer grondaktivisme en verklaar dat daar duidelike steun op voetsoolvlak is om afstand te doen van die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper!

Tim du Plessis het in sy rubriek in die afgelope Sondag se Rapport daarop gewys dat voedselsekuriteit vir Suid-Afrika langs ander weë as die Suid-Afrikaanse landbousektor bereik kan word. Suid-Afrika se selfvoorsiening in sy voedselbehoeftes is een wat dikwels deur die kommersiële landbousektor ingespan word, maar as voedselsekuriteit langs ander weë bereik kan word, en as die eintlik oogmerk van grondhervorming die uiteindelike weerspieëling van die demografiese profiel van die land is, gaan die kommersiële landbousektor sy strategie moet verander.

Dieselfde spanning tussen doeltreffende praktyk en ideologiese doelwit loop dwarsdeur die ganse Suid-Afrikaanse samelewing. Johan Degenaar – miskien die eerste post-nasionalistiese Afrikaner – het al in 1991 in sy beroemde artikel oor die mite van nasiebou gepleit daarvoor dat ons eerder ’n plurale demokrasie as ’n nasie moet bou. Degenaar het toe ook gewaarsku teen die inherent ondemokratiese aard van nasiebou, soos dit toenemend gedemonstreer word in die najaag van demografiese verteenwoordigendheid in die naam van transformasie. In die proses is ons met allesbehalwe transformasie besig, en word die demokrasie teruggedruk.

As die kommersiële landbou hierop wil reageer, is daar minstens twee moontlike strategieë. Die eerste is om nuwe swart boere met raad en daad by te staan, ten einde in die naam van die samewerking tussen Afrikaner en Afrikaan ’n demokratiese vennootskap in die burgerlike samelewing te bou, wat uiteindelik kan help om die regering se ondemokratiese appél op hierdie swart boere te verminder.

Die tweede is om self veel meer aktivisties te begin dink. Onlangs het die landbougemeenskap rondom die Noordwes-Landboukollege gedreig met protesaksie indien Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf word, en binne dae het die Noordwes-premier, me. Edna Molewa, aangekondig dat Afrikaans steeds onderrigtaal sal wees (saam met Engels, sodat een groep se toeganklikheid nie ten koste van ’n ander in die slag bly nie). Die kommersiële landbousektor is besonder goed onderling geskakel, en ook daagliks, veral in die noordelike provinsies, blootgestel aan aktivisme van sowel staats- as voetsoolvlak rondom grond. Dit is nou die tyd vir die kommersiële landbouleiers om werklik leierskap aan hulle lede te gee, en ook hulle eise hard en duidelik te begin stel. As dít nie gebeur nie, sal die onvermydelike gevolge wees dat ideologie bo volhoubare praktyk seëvier, en sal ’n demokratiese oplossing vir wat ’n wesenlik politieke probleem nie gevind word nie.

__________  

(1) “Grondhervorming: Daar’s g’n keuse nie” deur Chris Louw, Die Vrye Afrikaan, Vrydag 5 November 2004, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=56

(2) Ibid.

(3) Ibid.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=287
Artikel nagegaan:
    -