blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Stem reg en hulle sal die res doen: Sleutels vir die Europa wat moet kom 2005-07-14
André Bellon


1

Deur André Bellon, skrywer van Pourquoi je ne suis pas altermondialiste. Eloge de l’antimondialisation, Parys: Les Mille et une nuits, 2005

Vertaal deur Johann Rossouw

Die verwerping van die Europese Grondwetlike Verdrag (EGV) is meer as ʼn politieke krisis: dit is ʼn grootse filosofiese botsing. Die herbevestiging van burgerskap in die aangesig van elitedwalings kan die herbegronding van die demokrasie moontlik maak.


“Die hoofoogmerk van die regses is om mag te behou; my grootste begeerte is om aan u die mag te gee.” Met hierdie lirisme en minder of meer bymotiewe het François Mitterrand, presidentskandidaat in 1974, die krisis van politieke verteenwoordiging gestigmatiseer. Hy het die Grondwet van die Vyfde Franse Republiek verantwoordelik gehou en hy het ten dele gelyk gehad. Dit het later geblyk hoeveel groter die kwessie eintlik is: van verkiesing tot verkiesing het die gaping vergroot, kiesers wat nie stem nie en bedorwe stembriewe het toegeneem tot en met die katastrofe van 21 April 2002, toe die vêrregse leier, mnr. Jean-Marie Le Pen, meer stemme in die eerste ronde van die presidentsverkiesing gekry het as die Sosialistiese premier, mnr. Lionel Jospin. Die legitimiteit van die verkosenes en van die politieke elites word al hoe meer deur die kiesers betwis.


Sedert die vraag minstens dertig jaar gelede aan die orde gestel is, is verskeie soorte verduidelikings aangevoer: institusioneel (binne die raamwerk van globalisering word die politieke keuses nie meer deur die tradisionele debat behandel nie); ekonomies (die beperkings laat min beweegruimte aan burgers); polities (die styging van wegblystemme is normaal en kenmerkend van die moderne demokrasie)… Hierby kom dan ook nog ʼn elitistiese (die vrae is te ingewikkeld vir ʼn kieser om te verstaan of op te antwoord), ʼn professorale (“ons het nie genoeg verduidelik nie”) of ʼn ronduit neerbuigende (die kiesers is onverantwoordelik) vertoog…


Wat al hierdie “briljante” ontledings gemeen het, is dat hulle nie daarna streef om weer lewe aan die demokrasie te gee nie. Inteendeel, hulle teoretiseer oor ʼn paradigmaverandering: hulle haal nie eens meer die krisis van die paradigma op nie, maar wel ontwikkeling in die rigting van ʼn soort “postdemokrasie”, wat bloot ʼn manier is om die einde van hierdie demokrasie verteerbaar te maak.


Waar die demokratiese stryd tot in die 1980’s in Frankryk deur intense oomblikke gekenmerk is, waarvan 1981 se Franse presidentsverkiesing – toe die Sosialistiese Mitterrand gewen het – een was, is die Franse politieke kragmetings sedertdien in ʼn baie beperkte mate deur grondige debatte gekenmerk. Nog veel ernstiger: die demokratiese gees skuif agteruit ten gunste van die aanvaarding van die beperkings van globalisering, wat as onoorkomelik voorgehou word, en die algemene belang word uitgewis ten gunste van seksionele en vervlietende belange. Die burger is nie meer ʼn akteur van die demokrasie nie, maar sy passiewe krediteur.


Druk van geglobaliseerde belange? Ooglopend. Gebrek aan politieke durf? Ongetwyfeld. Maar – veel erger – aanvaarding deur die leiersklas van sowel regs as – ongelukkig – links van argumente wat ʼn eenduidige en fatale beeld van die wêreld bevestig. ʼn Mens moes sekere Sosialistiese ministers nà hulle beleidsafwyking van 1983 aangehoor het in hul ekstase oor hulle eie durf om ʼn beleid teen hul kiesers se wense toe te pas om die ideologiese gaping te kan meet wat tussen die volk en sy verteenwoordigers ontstaan het.


Nie ʼn tradisionele politieke krisis nie


Die krisis wat oral in die Weste ontwikkel, is nie ʼn tradisionele politieke krisis waarin die volk sy ergernis met sy verteenwoordigers se stappe laat blyk nie, maar ʼn grondige visieverskil. Enersyds wil die burgery verteenwoordig wees en politieke spreekbuise hê. Andersyds reken die “elites” hulle weet wat vir almal goed is, dat hulle die draers van ʼn byna wesenlik immanente algemene belang is, insluitend teen hulle eie medeburgers in. Legitimiteit word dus nie meer aan die volk ontleen nie. Dit is dan ook hoe Alain Minc geantwoord het toe hy uitgevra is oor die kommissie waarvan hy die voorsitter was, wat uitsluitlik saamgestel is uit graduandi van die eliteskool vir burokrate, die ENA, en ʼn verslag oor “Die Frankryk van die jaar 2000” (1) moes skryf: “As ʼn mens die elites wil verbied om hulself uit te druk, loop jy die gevaar om in populisme te verval” (2).

 

Die moderne politieke verteenwoordiger moet hom dus onderwerp aan die beperkings van die heersende kragte teenoor die aansprake van die mense. Hierdie aristokratiese ontwikkeling word amptelik gemaak deur semantiese verskuiwings: om op die volk te antwoord, is om ʼn populis te wees; om van populêre soewereiniteit te praat, is om ʼn soewereinis te wees. Terselfdertyd word die etiket “populêr” deur die mediapolitieke milieu toegeken. So kon Pierre Assouline tydens sy program op die radiostasie France Culture aan sy gas, Bernard Kouchner (3), sê dat dié “een van die twee gewildste politici in Frankryk is”. Dit was ʼn ongelooflike uitspraak, as ʼn mens in gedagte hou dat dié voormalige Sosialistiese minister in ál sy verkiesingsveldtogte verslaan is.


ʼn Ware historiese staatsgreep: terwyl die burgers in die demokrasie hul verteenwoordigers beoordeel, maak die postdemokrasie in ʼn sin dit vir die verteenwoordigers moontlik om die burgers te beoordeel. So het mnr. Lionel Jospin dan nà sy mislukking van 21 April 2002 gevra dat mense moet ophou om “tevrede te wees met diegene wat nie hulle burgerlike plig nakom nie” (4). So verklaar mnr. Tony Blair dan tydens die oorlog in Irak dat die verwerping daarvan deur die Britse volk die gevolg is “van ʼn verstaanbare emosie” maar dat dit “nie van politieke belang is nie”. Die idee van ʼn beheerde oftewel gekwalifiseerde stem versprei op verraderlike wyse. Dominique Strauss-Kahn, leier van die Sosialiste Party (PS), verklaar byvoorbeeld: “Van die mees agtergeblewe maatskaplike groep kan ʼn mens ongelukkig nie altyd kalm deelname aan ʼn parlementêre demokrasie verwag nie. Dit is nie soseer dat hulle nie in die geskiedenis belangstel nie, maar sy opwellings in hulle geledere geskied soms gewelddadig.” (5)


Die groeiende wegblystem is dus nie ʼn teken van ontnugtering met die demokrasie nie, maar die natuurlike gevolg van die verwatering van populêre soewereiniteit. Die groot deelname aan 29 Mei se Franse referendum oor die EGV dui eerder op die herlewing van die soewereiniteit van ʼn volk wat sogenaamd verdwyn het van ʼn sogenaamde verlate verhoog. Hierdie volk het gereken dat die vraag wat aan hom gevra is hom vir eens ʼn werklike invloed gun. Daarenteen was die reaksie van die leiers en die hoofstroommedia dié van gedelegitimeerde verteenwoordigers. Niks wat nie baie logies was nie. Maar hulle verontwaardiging onthul die omvang van die bevraagtekening van ʼn magsorganisasie wat hulle geglo het vir altyd ingerig is.


Hier sluit die politiek weer by die filosofie aan. Want die verwatering van die demokrasie is nie die produk van omstandighede nie, soos wat diegene wat praat van ʼn “demokratiese tekort” nes ʼn mens sou praat oor die balansstaat van ʼn onderneming wat herstel moet word, ons graag wil laat glo. Dit is ingeskryf in ʼn ontwikkeling van die denke, van die filosofiese verwysings, via dit wat as die postmoderne filosofie bekend staan en wat sterk aan die dekonstruksie van die politieke subjek gewy was. Volgens Michel Foucault “is die subjek nie ʼn substansie nie; dit is ʼn vorm, en hierdie vorm is nie bowenal of altyd identies aan sigself nie; jy het nie dieselfde soort verhoudings wanneer jy jou konstitueer as subjek wat gaan stem … as wanneer jy jou begeerte in ʼn seksuele verhouding wil verwesenlik nie” (6).


Terwyl die definisie van ʼn burger eweseer op ʼn eenheid as op ʼn sekere duursaamheid berus, is die vraag naamlik of daar nog ʼn burger is, en hoe werklik die politieke individu binne so ʼn opvatting is. Hierdie teses is die ontkenning van die openbare ruimte self. As burgerskap relatief tot die gestelde vraag is, is daar nie meer óf ʼn algemene belang, óf ʼn burger nie. Die demokratiese het dan niks meer as slegs ʼn betreklike betekenis nie, en die universalisme is bloot ʼn partikularisme soos enige ander. Dan kan die sosioloog Alain Touraine verklaar: “Die demokrasie verteenwoordig meer regstreeks as in die verlede die onderwerping van maatskaplike organisering aan ʼn niemaatskaplike beginsel, naamlik menslike vryheid.” Hy voeg by: “Ons definieer onsself al hoe minder aan die hand van wat ons doen, en al hoe meer aan die hand van wat ons is: geslag, ouderdom, etnisiteit, nasionaliteit, religie, ens.” (7)


Die maatskaplike beweging wat 29 Mei gekenmerk het, hou eweseer verband met die stryd om idees. Die filosofie, wat nog altyd die historiese verskuiwings vergesel het, kan uiteindelik ontwaak, konformistiese salons verlaat en weer sy band met die mensdom vind.


Dit is inderdaad geen toeval dat die verandering van die demokratiese paradigma rondom die Grondwetlike Verdrag gekristalliseer het nie. Die Europese projek het getrou met ʼn globaliseringsideologie wat bowenal die draer van beperkings, verpligtings en onvermydelikhede is… Voortspruitend uit die vrygewige idee van ʼn wêreldvolk onderdruk dit in wese elke volk as politieke akteur en onderwerp dit die politiek aan wesenlik superieure besluite en onduidelike akteurs. Die Europese konstruksie, wat gegrond is op die aspirasie van die Europese volke om ʼn ruimte van vrede en ʼn toekoms van vooruitgang te bou, het probeer om die burgers te trou met ʼn saak wat hulle nie aangaan nie.


Dit is wat Alain Touraine saamvat wanneer hy brutaal verklaar: “In Frankryk was die woord ‘liberalisme’ onuitspreeklik, en dus het ons ʼn ander een gevind: ‘Europa’.” (8)


Die “grondleggers” van Europa, en in die besonder Jean Monnet, het nie hul voorbehoude oor populêre soewereiniteit of hul tegnokratiese en liberale ekonomiese opvatting van die politiek weggesteek nie. Nadat hulle eers deur die Tweede Wêreldoorlog en later deur die Koue Oorlog getraumatiseer is, het min leiers daarin geslaag om die risiko’s van die Europese projek vir die demokrasie te ontleed. Pierre Mendès France was egter een van dié min. Toe hy op 18 Januarie 1957 voor die Franse parlement standpunt teen die Verdrag van Rome ingeneem het, het hy gesê: “Die projek van die gemeenskaplike mark soos wat dit aan ons voorgehou word, is gebaseer op die klassieke liberalisme van die 20ste eeu waarvolgens suiwer, eenvoudige mededinging alle probleme oplos. Die abdikasie van ʼn demokrasie kan twee gestaltes aanneem: dit gaan óf om die delegering van alle magte na ʼn voorsienige man, óf om die delegering van sy magte aan ʼn eksterne owerheid wat in die naam van tegniese vaardigheid inderwaarheid politieke gesag sal uitoefen, want dit is maklik om in die naam van ʼn gesonde ekonomie uiteindelik ʼn monetêre, begrotings-, maatskaplike beleid en laastens die politiek in die breedste nasionale of internasionale sin van die woord voor te skryf.”


Die “verdrag wat ʼn Grondwet vir die hele Europa daarstel” is oorhoofs gesien niks anders nie as die laaste uitkoms van hierdie logika, die laaste stukkie wat die legkaart in sy geheel sigbaar maak. Slegs swak propaganda kan in hierdie stadium diegene wat hierdie sakralisering weier as anti-Europees afmaak. Die enigste geldige vraag was dié van die politieke mag, en hierdie teks het amptelik politieke legitimiteit aan ʼn abstrakte wese – die mark – verleen. Hierdie abstrakte legitimiteit het self ʼn konkrete legitimiteit verleen aan die “elites”, wat heel natuurlik vanaf die oomblik van die aankondiging van die referendum verklaar het dat slegs een stem moontlik was: die “ja”.


Aangesien ʼn “ja” per definisie geen waarde het as ʼn mens nie “nee” kan sê nie, kon die debat oor die vermeende demokratiese vooruitgang van die verdrag nie anders as om onverstaanbaar te wees nie (9). Die debat is dus verlê en het op absurde wyse vasgeval rondom die nuwe magte van ʼn Europese parlement wat, soos al hoe meer nasionale parlemente, van ware ekonomiese en maatskaplike mag gestroop is. Die debat het gedwaal rondom die versterking van die rol van die burger, in die besonder rondom ʼn petisiereg, ʼn soort ekwivalent van die reg om te pleit by die koning onder die ou bedeling en wat ten beste bloot die natuurlike gevolg van vryheid van spraak was.


Om die waarheid te sê, was hierdie verdragprojek sonder twyfel die eerste samehangende juridiese oprigting van ʼn postmoderne demokrasie rondom ʼn verwaterde burgerskap, ʼn burgerskap wat meer aan die markkoning as akteur van ʼn kollektiewe wil onderworpe is, en uiteindelik rondom die afwesigheid van ʼn volk. Want daar is nie ʼn volk in hierdie Europese konstruksie nie, aangesien die enigste politieke liggaam wat in die verdrag opgeroep word min of meer die petisionêre met betrekking tot een of ander kwessie is, net soos wat burgerskap binne die postmoderne beskouings relatief tot die gestelde vraag is. Die globalisering wat die amptelike vertoog op ons afdwing, vergeet die volk of ag hulle nie. Byvoorbeeld: in hulle boek Empire verduidelik Antonio Negri en Michael Hardt dat die volk, wat ʼn vorm van eenheid vooronderstel, geneig is om “die veelheid van individualiteit te smoor” (10). So sal die burger nie meer ʼn politieke wese wees nie; hy sal een in ʼn veelheid wees.


Daar is oomblikke in die geskiedenis wanneer dinge skielik duidelik word. 29 Mei 2005 sal miskien een van hierdie oomblikke bly. As draers van ʼn suiwer dogmatiese projek van ekonomiese mededinging het die liberale op die filosofiese vlak anti-liberaal geblyk. Die vertoë oor die demokrasie is as hersenskimme ontbloot. Die belangrikste mediarolspelers het laat blyk dat hulle aan privaat belange onderworpe is.


“Om te dink, is om ‘nee’ te sê,” het die filosoof Alain verklaar. In buitengewone omstandighede en in die aangesig van ewe buitengewone moeilikhede het die meerderheid burgers weer die wil gevind om “nee” te sê. Hierdie gebaar is nie maar bykomstig nie: dit is die herbevestiging van ʼn politieke identiteit, van die rekonstruksie van die burger. Dit is bowenal die proklamasie dat daar nie demokrasie sonder debat is nie.


__________

(1) Alain Minc, “La France de l’an 2000”, verslag vir die Franse premier, Parys, 1994.

(2) “L’heure de vérité”, 8 November 1994.

(3) “Culture matin”, 20 Junie 2002.

(4) Le Monde, 1 Februarie 2003.

(5) Dominique Strauss-Kahn, La Flamme et la Cendre, Parys: Grasset, 2002.

(6) Michel Foucault, Dits et écrits, IV, p.451, Parys: Gallimard, 2001.

(7) Onderhoud met Alain Touraine, Le Monde, 16 Desember 1997.

(8) Alain Touraine, “Le marché, l’Etat et l’acteur social”, Cultures en mouvement, no.17, Parys, Mei 1999.

(9) Lees Anne-Cécile Robert, “Van rebellie na rekonstruksie: Die beloftes van die Franse ‘nee’”, Die Vrye Afrikaan-Intussen saam met Le Monde diplomatique, 17 Junie 2005.

(10) Antonio Negri en Michael Hardt, Empire, Harvard: Harvard University Press, 2001





 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=285
Artikel nagegaan:
    -