blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Washington se groot wending: Globalisering, Tweede Bedryf 2005-07-14
Philip S. Golub



Deur Philip S. Golub, dosent aan die Universiteit van Paris-VIII en joernalis

Vertaal deur Christel Cattin


Toe hy op 20 Junie mnre. Jean-Claude Juncker en José Manuel Barroso, afgevaardigdes van ʼn Europese Unie in krisis, ontvang het, het mnr. George W. Bush verklaar: “Die Verenigde State sal voortgaan om sy steun toe te sê aan ʼn soliede Europese Unie as vennoot.” Anderkant diplomatiese formules is die Amerikaanse regering te midde van sy teenstrydighede in debat met homself, omdat sy unilateralisme – ekonomies, kommersieel en militêr – hom vasloop teen die multilaterale werklikheid van die planeet. Die ekonomiese gesondheid van die supermoondheid hang grootliks van wêreldspaargeld af, maar Washington se beleide, geïnspireer deur sy militêre oppermag, weerspreek die allerheilige beginsel van vryehandel wat amptelik verdedig word. Het ons hier te make met ʼn historiese wending soortgelyk aan dié wat tussen 1880 en 1914 ʼn einde aan die eerste fase van kapitalistiese globalisering gebring het?


Aan die einde van die 19de eeu het die samevloeiing van nasionalisme en militarisme die internasionale ekonomiese orde wat deur Groot Brittanje gedomineer is ʼn fatale hou toegedien, en ʼn einde gebring aan ʼn lang tydperk van vrede in Europa nà 1815. Die opkoms van ʼn sterk en gemilitariseerde Duitse staat, tesame met inter-imperialistiese mededinging, het tot gevolg gehad dat Groot Brittanje se vermoë om die “middelpunt te beset” eens en vir altyd op die spel geplaas is. Terwyl dit momentum verloor het sedert die 1880`s, het die modelle wat in die middel van die eeu algemeen was, by name ekonomiese liberalisme en vrye handel, ineengetuimel, terwyl Duitsland onder Wilhelm II, teen 1914 Europese heerskappy beoog het. Die eerste fase van Westerse globalisering, onder Britse beskerming, het op hierdie wyse in ʼn bloedbad ten einde gekom.


In sy welbekende werk oor die agteruitgang van liberalisme, die daaropvolgende opkoms van Fascisme en die uitbreek van ʼn nuwe wêreldoorlog, wys Karl Polanyi (1) hoe kapitalistiese transnasionale samewerking, vergestalt in Pan-Europese “hoë finansierings”-netwerke, wat “in sy funksionele vasberadenheid daarin misluk het om algemene oorloë te verhoed”, oplaas geswig het onder beleidsrigtings van nasionale moondhede: “Magsbesit was hoër op die ranglys as winsbejag. Al was die deurdringing van hul sfeer hoe diep, was dit per slot van rekening die oorlog wat sy reëls op handel afgedwing het.” In weerwil van die gevorderde vlak van Europese ekonomiese integrasie in die tweede helfte van die 19de eeu, is die struktuur van kapitalistiese interafhanklikheid vergruis deur die opkomende vlaag van nasionalisme.


Hierdie vlaag, aangehits deur die verwoesting van ʼn “mark wat homself aanpas”, het ʼn hoogtepunt bereik met Fascisme. As algemene verskynsel was Fascisme, wat liberalisme en sosialisme onderdruk het, ʼn dodelike en patologiese “oplossing vir die doodloopstraat waarin dit liberale kapitalisme laat beland het”, ʼn hervorming “van die mark-ekonomie wat verwesenlik is ten koste van al die demokratiese instellings”. Volgens Polanyi het die gemeenskap “maatreëls getref om homself te beskerm” teen die “mark wat homself aanpas”, ʼn instelling wat “nie ononderbroke sou kon bestaan sonder om die menslike en natuurlike wese van die gemeenskap te vernietig nie”. Op hierdie wyse is daar voorkeur gegee aan sterk, gemilitariseerde state en aan die gemeenskap se vereniging agter die staat.


Die geskiedenis bestaan weliswaar nie uit ʼn ewige terugkeer na dieselfde verskynsels nie, maar Polanyi se veronderstelling verskaf ʼn handige raamwerk om die ernstige krisisse van ons tydperk te ontleed. Die globarisering van die laat twintigste eeu, wat verstaan word as die vereniging van die wêreldekonomie volgens ʼn neoliberale model, skyn aan ʼn einde te kom. Die simptome van sy disintegrasie is veelvoudig, hetsy dit toegeskryf word aan imperialistiese oorloë, toenemend ernstige kommersiële konflikte te midde, sowel as buite, die kapitalistiese kern, of maatskaplike woelings wat wêreldwyd losbars. Hierdie is simptome wat ʼn algemene beklemtoning van ongelykhede op binnelandse vlak sowel as daarbuite veronderstel (2).


Hierdie neigings tot disintegrasie het twee belangrike reaksies uitgelok. Op gemeenskapsvlak, is weerstand besig om te verskerp. Dit vind uitlating in die verskyning van ʼn wêreldwye demokratiese beweging vir maatskaplike transformasie, maar ook in die opkoms van regsgesinde outoritêre populismes. Op staatsbewindsvlak was die duidelikste reaksie die skouspelagtige oplewing van nasionalisme in Sjina, in Rusland, in Japan, in Europa (3) en elders. In die Verenigde State, die hart van die wêreldwye kapitalistiese stelsel, het nasionalisme ʼn besonder oordrewe vorm aangeneem: dié van imperialisme.


Hierdie her-nasionalisering van die wêreldpolitiek dui die einde aan van die liberale tussenspel in die Koue Oorlog se nadraai. Aan die einde van die 1980`s en gedurende die 1990`s het die indruk bestaan dat die verskyning van ʼn “wêrelddorp” (met die rekenaarrewolusie wat dit moontlik maak om tyd en ruimte saam te pers), die transnasionalisering van kapitaal en die skepping van horisontale planetêre produksienetwerke, sou lei tot die herverspreiding van mag vanaf die openbare na die privaatsektor, en tot die “geleidelike verdwyning van die moderne territoriale staat as hoofsetel van wêreldmag (4)”.


ʼn Postmoderne tydperk?


Liberale demokratiese teoretici was van mening dat ons van meet af aan ʼn post-moderne tydperk binnegegaan het waarin die nasiestaat op ʼn dubbele wyse bevraagteken word: vanaf grondvlak, deur ʼn burgerlike samelewing versterk deur sy nuwe mag, en van bo af deur selfbesturende globale markte. Die post-moderne era het insgelyks die grammatika van die wêreldpolitiek getransformeer: sodra interafhanklikheid wat deur wêreldmarkte en transnasionale rolspelers geskep is, die strydlustige opwellings van die moderne nasiestaat vertraag, het die “mag wat op oorreding gefundeer is” (soft power) die “mag wat op slaankrag gefundeer is” (hard power), vervang. Die liberale demokratiese opinie het sowel institusionaliste, wat versterkte interstaatlike samewerking voorstaan, as kommersiële pasifiste, wat in die versterking van interafhanklikheid en die sameloop van ekonomieë die grondslag vir ʼn volgehoue demokratiese vrede sien, verenig. Die filosoof Jürgen Habermas het vanuit ʼn sosiaal-demokratiese perspektief, gedink dat ons die verskyning van ʼn gunstige konstellasie van magte aanskou wat uiteindelik in staat is om die konsep van ʼn Kantiaanse vrede, afkomstig van die Verligting (Aufklärung) en gefundeer op ʼn “kosmopolitiese regsbeskouing” wat internasionale reg transendeer (5), te verwesenlik.


Verder na links het neo-Marxistiese teoretici nagedink oor die transnasionalisasie van kapitaal, die herstrukturering van die staat en die nuwe vorme van wêreldregering, en het hulle hulself afgevra of imperialisme steeds ʼn nuttige kategorie vir ontleding verteenwoordig. ʼn Sekere aantal intellektuele, geïnspireer deur Karl Kautsky se dissertasie oor “ultra-imperialisme” (1914) waarvolgens kapitalistiese samewerking die inter-imperialistiese wedywering, uitgelok deur die monopolistiese druk van nasiestate en nasionale kartels, te bowe kan gaan, was in die 1990`s van mening dat trae kapitalisme ʼn post-imperialistiese era ingewy het (6). Hulle het daarin tekens gesien van die vorming van ʼn transnasionale kapitalistiese klas met wêreldwye belange, ʼn bewys van die feit dat hulle belange dié van die nasionale territoriale raamwerk transendeer. Klassieke imperialisme, of die mededinging om monopolie tussen ekspansionistiese nasiestate, was nie meer ʼn opsie in ʼn interafhanklike kapitalistiese stelsel, regeer deur suprastaatsinstellings wat die gesamentlike belange van die nuwe klas weergee, nie.


Aan die einde van die dekade het Tony Negri en Michael Hardt ʼn effens veranderde weergawe van hierdie hipotese gemagtig deur in hul werk, Empire, die metahistoriese stelling te formuleer waarvolgens die eietydse ryk nie ʼn vae eggo van moderne imperialismes is nie, maar ʼn fundamentele nuwe vorm van oorheersing (7). Volgens hulle het die ryk die naelstring wat dit aan die nasiestaat geheg het, geknip en word dit nie meer deur ʼn grondgebied afgebaken nie: van sy politieke sentrum ontneem, word die nuwe globale imperium die uitdrukking van ʼn geometriese samespel van magsverhoudings en van oorheersing wat deur geglobaliseerde markte geskep is op alle vlakke van die samelewing. In kontras met die vertikale, gekonsentreerde oorheersingstelsels van die ou Europese ryke is mag in sy nuwe geglobaliseerde gestalte, verspreid, gedesentraliseerd en horisontaal. Hierdie verskynsel lei op sy beurt tot nuwe, transnasionale vorme van weerstand teen gedesentraliseerde netwerke: die menigte. Die ryk, op hierdie wyse omskryf, word ʼn globale koninkryk sonder grense en sonder naam.


Al hierdie perspektiewe suggereer op verskillende wyses ʼn verandering van era: die oorgang van strategieë met betrekking tot die uitbreiding van die moderne nasiestaat se mag, na dié van ʼn postnasionale, postmoderne struktuur van globaliteit. Hoe dit ook al sy, in dieselfde tydperk wat hierdie idees geformuleer is, het invloedryke magte stilletjies die brose fondamente van die liberale, kapitalistiese, globale orde weggevreet. Hierdie magte is nou duidelik sigbaar.


Die belangrikste versteurende mag is afkomstig vanuit die Verenigde State wat onder die bewind van mnr. George W. Bush daarna streef om ʼn globale monopolie te verkry. Daar is ʼn mate van ironie in die sin dat die Verenigde State die dryfkrag en hoofbegunstigde van kapitalistiese integrasie en die globale markgedrewe ekonomie van die 1990`s was. Globalisering het die Amerikaanse outnonomie versterk, want “die groeiende vloeibaarheid van inligting, van handel, sowel as goedere en dienste, het die Amerikaanse regering bevry van sy beperkings, terwyl toenemend strenger beperkings aan al die ander lande opgelê word (8)”.


Wêreldsake verander drasties


Desnieteenstaande, die handhawing van ʼn “kragtige (Amerikaanse) nasionalisme”, soos wat Samuel Huntington – bevorderaar van die “botsing van beskawings” –, die nuwe etos van die Verenigde State noem, het die loop van wêreldsake drasties en fundamenteel verander : liberale globalisering en kapitalistiese interafhanklikheid is vervang deur ʼn beleid van imperiale mag wat homself as sodanig handhaaf. Soos wat Londen aan die einde van die 19de eeu die middelpunt was van die uitbreiding van ʼn markgedrewe ekonomie, onderhou deur ʼn politieke orde en versterk deur transnasionale netwerke in wie se belang dit was dat vrede in Europa heers (9), so vereis voorgesette globalisering in die 21ste eeu die Verenigde State se ondersteuning aan, terselfdertyd, ʼn stelsel van geïnstitusionaliseerde samewerking tussen state, sowel as liberale stelsels van wêreldwye ekonomiese bestuur. In sy hoedanigheid as hoofrolspeler in die internasionale politieke ekonomie, struktureer die Verenigde State die wêreldwye stelsel deur die raamwerke en beperkings daarvan te definieer, en deur die uitslag van alle onderhandelings te beslis. In teenstelling met Londen wat die invloed wat hy vroeëer uitgeoefen het, verloor het, het Washington besluit om die algehele stelsel wat hy gehelp het om op te rig, te dekonstrueer.


Hierdie keuse weerspiëel die opsies en die belange van die nasionaal-imperialistiese magsblok wat tydens die Koue Oorlog op regtervleuel gevorm is, en wat in Januarie 2001 daarin geslaag het om aan bewind te kom. Stephen Gill, navorser in internasionale betrekkinge, skryf hierdie nasionale blok is histories “gebind aan die sekuriteitskompleks, aan die agteruitgang van sektore wat voorheen beskerming gebied het en aan geopolitiese denkers wat realistiese gehoorsaamheid voorstaan (10).” Dit onderskei homself van kosmopolitiese, getransnasionaliseerde magte te midde die Amerikaanse gemeenskap, veral van “toenemend geglobaliseerde ekonomiese belange (corporate interests) wat toegang nodig het tot markte en kapitaal van ander lande en waarvan die identiteit, vergeleke met die Amerikaanse territoriale entiteit, minder omlyn is.” Laasgenoemde, soos hul 19de eeuse ewebeelde, is die “kapitaliste van die oop see”, om Fernand Braudel se uitdrukking te leen, wie se belange, waaronder hul bestaan in sigself, afhanklik is van transnasionale samewerkingsnetwerke.


Terwyl die samestelling en beleid van Bill Clinton se administrasie, ten minste gedeeltelik, die belange van hierdie afgeskaalde, maar invloedryke, kosmopolitiese klas weerspieël het, verteenwoordig die regsgesinde elite wat tans aan bewind is, die makro-industriële kompleks, dit wil sê die mins outonome en mees nasionalistiese sektor van die Amerikaanse ekonomiese beleid. Die mins outonome, want, deur sy ineensmelting met die staat, hang sy bestaan en ontwkikkeling van die staat af. Die mees nasionalistiese, want dit poog per definisie om nasionale mag te vergroot. Hierdie twee fraksies van bestuur maak elkeen staat op ʼn wye maatskaplike basis. Soos wat die geografiese verspreiding van die presidensiële stem in November 2004 duidelik aangetoon het, is die maatskaplike grondslag van die liberale internasionaliste in verstedelikte kusstreke met ʼn hoë demografiese digtheid gekonsentreer, terwyl die belangrikste populêre basis van nasionalisme en militarisme in landelike streke, te midde van die werkers- en middelklas, in die sentrale dele van die land voorkom.


Hierdie sosiologiese uiteenlopenheid word soms in die duidelik onderskeidbare beleidsrigtings weerspieël. Byvoorbeeld, mnr. Clinton se span het gepoog om die institusionele balans binne die regering te verander ten gunste van die Departement van Finansies, en het allereers daarna gestreef om voorkeur te verleen aan vergelykbare voordele van die mees geïnternasionaliseerde sektore van Amerikaanse kapitaal op die nuwe geglobaliseerde markte. Daarenteen het die Bush-administrasie slegs een doel voor oë sedert sy bewindname, naamlik om die land se “mag deur slaankrag” (hard power) te versterk en om die Amerikaanse weermag te mobiliseer ten einde ʼn dissiplinêre wêreldorde onder monopolistiese kontrole te vestig. Soos mev. Condoleezza Rice dit voor die verkiesing van 2000 duidelik gemaak het, het die magsblok wat rondom mnr. George W. Bush saamgetrek is, die voorneme om homself te bevry van ʼn “bedrieglike internasionale gemeenskap” en om die liberale model te laat vaar deur afstand te doen van die internasionalistiese beleid van die 1990s, ten gunste van nasionalisme, van slaankrag en van oorlog (11).


Die vorming van die nasionaal-imperialistiese blok het in drie groot fases tot stand gekom. Eerstens het die radikale voorstanders van die Koue Oorlog daarin geslaag om die Oos-Wes verslapping gedurende die middel 1970s te ondermyn. Die noodsaaklikheid om internasionale bondgenote van die Koue Oorlog te behou, het die onderneming gestuit. Om ʼn eensydige voordeel te probeer verkry, sou “Westerse” eenheid bedreig en sou Amerikaanse legitimiteit, wat reeds ʼn slag toegedien is tydens die Viëtnam-oorlog, in gevaar stel. Gedurende die 1980s, onder presidentskap van Ronald Reagan, het die “konserwatiewe rewolusie” plaasgevind, wat die soveelste poging aangewend het om Amerikaanse voorrang te bekragtig deur sy militêre mobilisasie en eensydigheid, ingevolge buitelandse politieke en ekonomiese beleid. Oplaas, die derde fase, die samesmelting wat in die 1990`s plaasgevind het tussen die neo-konserwatisme en die “Bybelgordel”-militantisme (Bible belt militarism) en wat gelei het tot die nuwe regtervleuel se oorwinning in die Kongres in 1994.


Selfregering ten koste van ander lande


Die Republikeine se oorwinning het uitdrukking gevind in ʼn veldtog met die doel om die Verenigde Nasies te verswak, of selfs te te vernietig, en om die Amerikaanse selfregering te versterk, ten koste van al die ander lande. Laat ons nie vergeet nie dat die Amerikaanse Kongres gedurende die 1990s, dikwels in bondgenootskap met ʼn toenemend selfbesturende Pentagon met betrekking tot die presidentskap, geweier het om die land se ledegeld by die Verenigde Nasies te vereffen, eensydige ekonomiese sanksies teenoor 35 lidstate ingestel het, ten gunste van eksterritoriale wetgewing (die Helms-Torricelli-Wette) gestem het wat die internasionale reg oortree, en geweier het om internasionale konvensies en verdrae vir die beheer van wapens van groot belang te bekragtig (soos die Ottowa-Konvensie van 1997 wat die produksie, handel en gebruik van personeelmyne verbied, en die Globale Verdrag vir die Verbod op Kerntoetse [Comprehensive Test Ban Treaty]).


Ofskoon hy in 1997 die Konvensie vir Chemiese Wapens bekragtig het, het die Amerikaanse Kongres dit reggekry om vrystellings daarby in te sluit wat hierdie instrument van sy kern ontneem. Aan die begin van 2001 het die Bush-administrasie die Kyoto-Protokol, wat deur president Clinton onderteken is, opgesê; ʼn program van die Verenigde Nasies met die doel om die handel in ligte wapens te kontroleer, verwerp; pogings wat daarop gemik is om ʼn protokol wat die Konvensie op Biologiese Wapens te verifieer, gedwarsboom; en het dit eenvoudig afgesien van die Verdrag op Anti-Ballistiese missiele (ABM).


Hierdie veldtog het sy hoogtepunt in 2003 bereik met die oorlog in Irak en die toesprake om dit te wettig deur die wêreldryk te verheerlik. Vandag, in weerwil van die ooglopende mislukking van hierdie imperiale avontuur (deur mnr. George W. Bush self gekwalifiseer as ʼn “katastrofiese sukses”) en ʼn ongekende legitimiteitskrisis, gaan die administrasie voort op sy monopolistiese weg. Die tekens daarvan kan op verskeie terreine opgemerk word (12), maar die verskynsel kom veral na vore in die toenemende Amerikaanse begeerte om onbegrenste en volslae militêre heerskappy verwerf. Twee onlangse regeringsbesluite illustreer hierdie oogmerk: die een oor die ontwikkeling van miniatuur-kernwapens vir aanvangsaanvalle en die een om ʼn ruimtestrategie, die sogenaamde Global Strike goed te keur. Hierdie ruimtemilitarisasieprogram behoort binnekort aangekondig te word. Die doelstelling daarvan is om die Verenigde State se “oormag in die ruimte te vestig en te handhaaf” deur homself in staat te stel om, vanuit die ruimte, “beheersentrums of missielbasisse op enige plek ter wêreld te vernietig (13)”.

 

Hierdie twee programme vorm ʼn intergrale deel van die leerstelling van ewige strategiese oorheersing, uitgestip in die nasionale sekuriteitstrategie van die Withuis (2002), en van die herstrukturering van die Amerikaanse weermag waarop mev. Condoleezza Rice voorheen staatgemaak het om, “op deurslaggewende wyse, die verskyning van enige vyandige militêre mag te trotseer [...] en om op beslissende wyse te reageer op boefbewinde en op die bedreiging afkomstig van vyandige magte”.


Beide is ʼn bedreiging vir wêreldstabiliteit: die eerste, deur die vermenigvuldiging van kernwapens aan te moedig en die tweede deur ʼn nuwe resies om ruimtebewapening aan te wakker. Die administrasie se sienswyse skyn te wees dat Sjina en Rusland, wat as kragtige toekomstige mededingers op onderskeidelik streeks- en wêreldbasis beskou word, geen ander keuse het as om die beweging te volg en hul beperkte hulpbronne wat van die nasionale ekonomie weggekeer word, daarvoor te gebruik nie, of om andersins die potensiële strategiese oppermag van Washington te aanvaar. Die tussenspel van samewerking tussen die Verenigde State en hierdie twee lande binne die raamwerk van die “wêreldwye oorlog teen terrorisme” is verby.


Monopolie teenoor interafhanklikheid


Dit spreek vanself dat die soeke na ʼn monopolie direk in teenstelling met interafhanklikheid staan. Die Verenigde State verteenwoordig die sentrum van die wêreldwye kapitalistiese stelsel en hierdie oriëntasie het planetêre gevolge, sommige daarvan ooglopend, ander verraderlik. Hierdie steurende gevolge is besig om na die wêreldekonomie te versprei. Die strukturele wanbalans binne die internasionale ekonomiese stelsel lei tot die instelling van beskermingsmaatreëls, want ekonomiese mededinging neem die klassieke vorm aan van toenemend verskerpende monetêre en kommersiële konflikte tussen wedywerende lande en blokke. Die konflik wat Washington en Beijing opponeer met betrekking tot die tekstielbedryf, bedek inderwaarheid die Verenigde State se diep besorgdheid teenoor die opkoms van Sjina as groot moondheid. Die botsing wat Amerikaners en Europeërs opponeer met betrekking tot Airbus, spreek boekdele vir die beperkings van transatlantiese samewerking binne die nuwe imperiale skikking.


Die transnasionale, kapitalistiese samewerkingsnetwerke, formeel en informeel, en die buite-staatlike reguleringsinstellings van geglobaliseerde kapitalisme wat gedurende die 1980s en 1990s gestig of versterk is, skyn onbevoeg te wees om die stelsel te onderhou. En by gebrek aan ʼn transnasionale politieke owerheid wat in staat is om hierdie verbrokkelende tendens te laat omswaai, dryf ons in die rigting van wanorde.

_________


(1) Hierdie ekonomiese historikus is die skrywer van La grande transformation (Gallimard, Parys, 1983), waaruit die aanhalings wat in hierdie paragraaf verskyn, afkomstig is.

(2) Met die uitsondering van Oos-Asië alleen, wie se ekonomiese prestasie plaasgevind het danksy spesifieke historiese omstandighede wat niks met globalisering te doene het nie, het die Noord-Suid fraktuur gedurende die laaste twintig jaar verdiep. Wat hierdie onderwerp betref, raadpleeg die jaarlikse verslag van die Ontwikkelingsverslag van die Verenigde Nasies (UNDP Annual Report) vir 1999. Die verskil tussen die inkomste van die rykste en die armste lande het opgeskuif van 30 tot 11 in 1960 na 60 tot 1 in 1990 en na 74 tot 1 in 1997. Kyk ook hoofstuk 3 van die ECLAC-verslag, Globalization and Development, “Inequalities and asymmetries in the global order”.

www.eclac.cl/publicaciones/SecretariaEjecutiva/3/LCG2157SES2931/Globalization-chap3.pdf

(3) In die vorm van die verskyning en blywende vestiging van regsgesinde radikale xenofobiese bewegings en partye, en, in sekere gevalle regsgesinde populistiese regerings soos dié van mnr. Silvio Berlusconi in Italië, wat gelukkig die welbekende spreekwoord van Karl Marx herhaal, waarvolgens die geskiedenis homself herhaal, eerstens as tragedie en daarna as klug.

(4) Giovanni Arrighi, The Long Twentieth Century, Verso, Londen, 1994.

(5) Jürgen Habermas, La paix perpétuelle, le bicentenaire d'une idée kantienne, Les éditions du Cerf, Parys, 1996.

(6) “Imperialism: a Useful Category of Historical Analysis?" in Radical History Review, n° 57, Duke University Press, 1993. Kyk veral die artikel van Carl Parrini, “ The age of ultra-imperialism ”. Kyk ook Kees Van Der Pijl, Transnational Classes and International Relations, Ripe Series, Routlege, Londen, 1999.

(7) Michael Hardt en Antonio Negri, Empire, Harvard: Harvard University Press, 2001

(8) Robert Wade, “The American Empire and its Limits", Destiny Working Papers Series, n° 02-22, London School of Economics, 2002. Philip S. Golub, “ Le mythe trompeur du post national ”, Le Monde diplomatique, April 2000.

(9) Liberalisme en vrede is tot Europa beperk. In die res van die wêreld, het Europese uitbreiding plaasgevind met dwang, deur middel van koloniale verowering.

(10) Stephen Gill, American Hegemony and the Trilateral Commission, Cambridge Studies in International Relations, Cambridge University Press, Londen, 1990.

(11) Condoleezza Rice, “ Promoting the National Interest ”, Foreign Affairs, Januarie-Februarie 2000, vol. 79, n° 1.

(12) Washington skyn betrokke te wees by bedekte operasies in Iran en in Sirië met die doel om ʼn bewindsverandering in hierdie lande teweeg te bring. Sien Seymour Hersh, “The coming wars”, New Yorker, 24 Januarie 2005.

(13) Kyk Tim Weiner, “Air Force urges Bush to deploy space arms”, The New York Times, 19 Mei 2005.

 

10



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=284
Artikel nagegaan:
    -