blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


“Vrygewigheid” aan die groot klok gehang: Ontwikkelingshulp – ʼn oëverblindery? 2005-07-14
Damien Millet en Eric Toussaint


 


Deur Damien Millet, voorsitter van die Komitee vir Skuldverligting in die Derde Wêreld (CADTM) en skrywer van L’Afrique sans dette (CADTM/Syllepse, Parys, 2005), en Eric Toussaint, voorsitter van CADTM België en skrywer van La finance contre les peuples (CADTM/Syllepse, Parys, 2004)

Vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois


Op 10 Junie 2005 het die Ministers van Finansies van die G8-lande geringe skuldverligting vir die Suide (40 miljard uit 2500 miljard dollar) luidkeels aangekondig. Op 6 Julie was Afrika en aardverwarming op die sakelys van die G8-beraad in Gleneagles, Skotland. Maar hierdie media-inisiatiewe vermom die Noorde se suinigheid teenoor die Suide, rampspoedige ekonomiese voorskrifte en geostrategiese bymotiewe.


ʼn Mens sou om verskeie redes kon verwag om in 2005 ʼn beduidende toename in openbare ontwikkelingshulp aan lande in die Suidelike Halfrond te sien. Eerstens, in Februarie 2005 het skenkerlande besluit om 18 miljard dollar tot die Wêreldbank by te dra, “ten einde sy totale skenkings en lenings met ten minste 25% te verhoog.” (1) Tweedens het die tsoenami wat die kuslyn van die Indiese Oseaan in Desember 2004 getref het, oorweldigende finansiële hulp na Asië toe laat stroom om die verwoeste kusstreke weer op te bou (2). Derdens stel die ooreenkoms wat in November 2004 deur die lande van die Paryse Klub onderteken is, ʼn 80% verligting van Irak se openbare skuld in die vooruitsig (30% daarvan vanaf 1 Januarie 2005). Terwyl die VSA en sy bondgenote in 2004 uitgawes ter waarde van 2,2 miljard dollar in Irak by “ontwikkelingshulp” ingereken het, “kan lede van die CAD (Komitee van Ontwikkelingshulp [3])– teen die tempo waarteen tweesydige ooreenkomste tussen Irak en sy skuldeisers in werking gestel word – dalk in 2005 tot 15 miljard dollar as openbare onwikkelingshulp aanbied, as deel van hierdie verligtingspoging” (4).


Nietemin, en ondanks talryke mediaverklarings, skram welvarende lande se regerings weg van die ooreenkoms wat hulle in 1970 voor die VN aangegaan het om 0,7% van hul bruto nasionale inkomste (BNI) – bruto binnelandse produk plus inkomste “ontvang van die res van die wêreld” – aan openbare ontwikkelingshulp (OOH) te wy. Die drastiese afname in hulp tydens die 1990s blyk wel gestuit te wees: nadat dit met ʼn derde verminder het in vergelyking met die BNI van CAD-lidlande – van 0,34% in 1990 tot 0,22% in 2001 – het OOH weer tot 0,25% oftewel 78,6 miljard dollar gestyg in 2004 (5). Hierdie ommeswaai in die tendens, hoewel merkbaar, is egter nog lank nie duiselingwekkend nie.


Die 0,7%-oogmerk is net deur enkele Noord-Europese lande – Noorweë, Luxemburg, Denemarke, Swede en Nederland – bereik, terwyl drie lande nie by 0,2% verby kom nie, te wete Italië, die VSA en Japan. Op 24 Mei 2005 het die lande van die Europese Unie die syfer 0,56% vir die jaar 2010 in die vooruitsig gestel, en 0,7% teen 2015. Is daar ʼn groter kans dat hulle hierdie belofte gestand sal doen as die een van 1970?


Om die waarheid te sê, is dit die aard en inhoud van OOH self wat problematies is. Die definisie wat die CAD daaraan gee, wys reeds die beperkings daarvan en dra die kiem vir afwykings: in werklikheid gaan dit om “lenings of skenkings toegestaan aan lande en gebiede in deel I van die lys van dié wat hulp ontvang [...] van die openbare sektor, met die hoofdoel om ekonomiese ontwikkeling te bevorder en lewenstoestande te verbeter.” Die CAD het dus ʼn gereeld opgedateerde lys, genoem “deel I”, wat tans bestaan uit 150 lande en gebiede met ʼn lae of tussen-inkomste, wat sodanige hulp ontvang. Ander lande, bestempel as “in ʼn oorgangsfase” en wat “deel II” uitmaak, is dié uit die eertydse Sowjetblok en ʼn paar ander meer ontwikkeldes: lenings en skenkings wat aan hulle toegestaan word, tel nie onder OOH nie.


Daarenteen word lenings in berekening gebring sodra hulle aan die betrokke lande toegestaan word teen ʼn laer koers as dié van die mark, en solank meer as 25% daarvan uit ʼn skenking bestaan. Sulke lenings beloop ʼn nie-onaansienlike bedrag: einde 2002 was lande in die Suidelike halfrond se OOH-verwante skuld meer as 171,7 miljard dollar (6).


Dié lenings is dus op sigself ʼn geweldige bron van skuld, en die delging daarvan lei tot die grootskaalse wegsypel van kapitaal in lande van die Suidelike Halfrond. Vanaf einde 1996 tot einde 2003, wat betref bilaterale krediet teen voorkeurtariewe, het ontwikkelende lande 31 miljard dollar meer terugbetaal as wat hulle aan nuwe lenings ontvang het. Dit kom daarop neer dat skenkerlande ryk word ten koste van dié wat hulle voorgee om te help.


Statistiese manipulering


Die vae manier waarop die oogmerke van skenkings en lenings gedefinieer word, laat wye ruimte vir statistiese manipulering. Van die grootste aktiwiteite wat gefinansier word, is ver verwyderd van die bevolkings se belangrikste behoeftes. ʼn Ondersoek van 2003 se syfers toon dat 12% van OOH bestee is aan skuldverligting, wat dus geen positiewe kapitale vloei vir die skuldgeteisterde lande skep nie. En hierdie syfer het viervoudig vermeerder in drie jaar. Die oëverblindery lê daarin dat die gekanselleerde skulde dikwels oud en van twyfelagtige oorsprong is. Die kansellasie daarvan is bloot sekere lande se manier om hul boeke skoon te maak en boonop dubbele mediadekking daaruit te haal: eers kondig hulle luidkeels die verligting van die skuld aan, en die daaropvolgende jaar verklaar hulle dat hulle hul onwikkelingshulp verhoog, terwyl dit eintlik om dieselfde finansiële transaksie gaan.


Op 11 Junie 2005 kondig die sewe mees geïndustrialiseerde lande – die G7 – se ministers van finansies af dat ʼn deel van die multilaterale skuld van 18 skuldgeteisterde arm lande (oftewel HIPC vir Heavily Indebted Poor Countries), afgeskaf word. Dit dra by tot hierdie denkpatroon. Voorgehou as ʼn gunstegawe van “historiese” afmetings, is skuldverligting deur die Wêreldbank, die Afrika Ontwikkelingsbank en die Internasionale Monetêre Fonds slegs lande beskore wat die HIPC-inisiatief tot sy einde toe deurvoer: vier lange jare in ʼn neo-liberale dwangbuis (oopstel van hul markte ten gunste van multinasionale maatskappye, privatisering, liberalisering van die ekonomie, verhoging van indirekte belasting – BTW –, skoolfooie en gesondheidskoste, alles maatreëls wat veral die armes raak). Hierdie 18 lande verteenwoordig slegs 5% van ontwikkelende lande se totale bevolking. Die koste van skuldverligting sal maar 1,2 miljard dollar per jaar vir die G7-lande beloop, wat 600 keer minder is as hul militêre uitgawes, en met nie die minste waarborg dat dit by die huidige OOH gevoeg sal word nie.


Die skuldverligtingspersentasie, wat tot 30% in Frankryk is, het dit moontlik gemaak om ʼn verhoging van OOH in 2003 af te kondig, waar dit in werklikheid – buiten vir skuldverligting – afgeneem het (8). Op soortgelyke wyse het skuldverligting in die Demokratiese Republiek van die Kongo België in staat gestel om ʼn beduidende verhoging in OOH in 2003 aan te kondig (0,6% van die BNI teenoor 0,43% in 2002). Maar sedert 2004 het die syfer tot 0,41% teruggeval, wat die bedrogspul aan die kaak gestel het. Die rekord vir 2004 is deur Portugal geslaan, met OOH wat met 187,5% gespring het ná ʼn buitengewone vermindering van Angola se skuld.


Boonop is die boekhouding by hierdie verligtingsaksies verdag. Volgens die OESO se reëls lei ʼn kommersiële lening wat in 1990 toegestaan en in 2005 afgeskryf is, tot ʼn verhoging van 2005 se OOH. Op papier lyk dit asof die fondse opnuut toegeken is, hoewel dit glad nie die geval is nie.


Erger nog: dit is die nominale waarde van die gekanselleerde skulde waarna gekyk word. Gesien die probleme waarmee die betrokke lande te kampe het, behoort ʼn ware evaluering van hul skuld ʼn beduidende korting in te sluit, in ooreenstemming met die feit dat as ʼn krediteur so ʼn skuldbrief wil verhandel, hy ʼn aansienlike korting sal moet toestaan om ʼn koper te vind. Vir HIPC “pas die VSA – wat deur die Kongres gelas is om die diskontowaarde van sy leningsportefeulje te beraam – ʼn korting van 92% toe” (9). Dit in ag genome kom die inreken van gekanselleerde skuldbriewe se nominale waarde by OOH, soos wat die regerings van geïndustrialiseerde lande (insluitend die VSA) doen, neer op ʼn doelbewuste verduistering.


Onderwysers van hulle eie burgers in die vreemde


Bowendien sluit tegniese samewerking – meer as ʼn kwart van OOH – “skenkings aan burgers van lande wat hulp kry en wat opleiding in hul eie of ʼn ander land ontvang” in, asook “betalings om onderwysers en administrateurs wat in begunstigde lande op sending is, se uitgawes te dek”. Dit is egter algemeen bekend dat uitgeweke onderwysers uit welvarende lande dikwels onderrig gee in skole wat hoofsaaklik deur die kinders van ander uitgewekenes bygewoon word.


Frankryk, Kanada, Oostenryk en Duitsland reken onderriggeld in by hul ontwikkelingshulp, insluitend koste gegenereer deur studente uit lande wat vir hulp in aanmerking kom, en wat hul graad- en nagraadse studies in een van hierdie vier lande voortsit. Oorspronklik laat die CAD toe dat geld vir onderrig ingesluit word op voorwaarde dat sodanige studies verband hou met ontwikkelingskwessies en dat die studente daarna terugkeer om in hul eie lande te werk. Die werklike somme hou nie hiermee rekening nie, want aan die een kant word bedrae bygereken sonder om te weet of die studente na hul land sal terugkeer, en andersyds raak dit ook buitelandse studente wat in die skenkerlande gebore is en wat gewoonlik daar aanbly. Hierdie bedrae is nietemin aansienlik: 660 miljoen euro vir Frankryk in 2005.


Onkoste wat verband hou met die “ontvangs” van vlugtelinge word ook by ontwikkelingshulp ingereken, insluitend koste met die aanhouding of repatriasie – dikwels onder traumatiese toestande – van menige kandidate vir asiel wat in die Noordelike lande ʼn toevlug soek om uit onderdrukking te ontsnap. Ook hier is die betrokke bedrae groot: vir Frankryk in 2005, 373 miljoen euro, oftewel ses keer meer as in 1996 (10).


Volgens die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) bestaan byna driekwart van bilaterale ontwikkelingshulp uit fondse “vir spesiale doeleindes”, soos tegniese samewerking, skuldverligting, hulp vir noodgevalle en administratiewe koste. Die Wêreldbank voeg by: “Ofskoon skenkings vir spesiale doeleindes ʼn noodsaaklike element in die ontwikkelingsproses is en ʼn impak op skenkerlande se begroting het, verskaf hulle nie bykomende finansiële hulp om die Millennium-doelwitte te bereik nie.” (11) ʼn Groot deel van die verklaarde bedrae word inderwaarheid in die “skenker”-land bestee: (aankoop van kos, medisyne, toerusting, vragvervoer, konsultante-sendings, ens.), of keer terug soontoe, soos Robert McNamara, voorsitter van die Wêreldbank van 1968 tot 1981, erken het.


Boonop word hierdie hulp nie in die eerste instansie gefokus op die lande wat dit die nodigste sou hê nie. In 2002-2003 het slegs 41% van die hulp by die 50 mins gevorderde lande uitgekom (12). Daarenteen het Afganistan, Colombië, Irak, Jordanië en Pakistan se persentasie van die totale bilaterale ontwikkelingshulp drie en ʼn half keer toegeneem tussen 2000 en 2003, wat net weer bevestig dat strategiese oorwegings steeds ʼn sleutelrol speel in die toeken van hulpmiddele aan begunstigde lande. Skenkers se hoofdoelwit is duidelik die versterking van hul invloedsfeer deur politieke steun aan geallieerde regeringshoofde uit die Suide, om sodoende ekonomiese besluite aan hulle af te dwing en te beheer watter posisie hulle tydens internasionale spitsberade sal inneem.

_________


(1) Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD), L’aide publique au développement augmente à nouveau – mais les objectifs pour 2006 restent un défi, 11 April 2005, www.oecd.org/cad

(2) Kyk Damien Millet en Eric Toussaint, Les Tsunamis de la dette, CADTM/Syllepse, Parys, 2005.

(3) Liggaam van die OECD bestaande uit 23 van die 30 lidlande. Die CAD is belas met die sentralisering van data betreffende OOH.

(4) OECD, L’aide publique au développement augmente à nouveau…, Ibid.

(5) Ter vergelyking bestee ontwikkelende lande jaarliks 370 miljard dollar op die afbetaling van buitelandse skuld. Kyk www.cadtm.org

(6) OECD, Statistiques de la dette extérieure 1998-2002, Parys, 2003.

(7) Berekening van die skrywers gebaseer op Global Development Finance 2004, Wêreldbank, Washington, 2004.

(8) Dette & Développement, Rapport 2003-2004: la dette face à la démocratie, 2004, www.dette2000.org

(9) Konferensie van die Verenigde Nasies vir Handel en Ontwikkeling (CNUCED), Le Développement économique en Afrique. Endettement viable : oasis ou mirage?, Genève, 2004.

(10) Franse Hoë Raad van Internasionale Samewerking, La Programmation de l’aide publique française au développement. Recommendations, besluit aanvaar in die algemene sitting op 11 Mei 2005, www.hcci.gouv.fr/travail/avis/avisapd.html

(11) Wêreldbank, Global Development Finance 2004, op. cit.

(12) Kyk OECD, Direksie vir Samewerking vir Ontwikkeling (CAD), Statistiekanneks van die publikasie Coopération pour le développement, Rapport 2004, tabel 26, www.oecd.org/dac/stats/dac/dcrannex


6



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=283
Artikel nagegaan:
    -