blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel in Le Monde Diplomatique: Waarskuwingstekens in Korea 2005-07-14
Ignacio Ramonet

Deur Ignacio Ramonet, redakteur, Le Monde diplomatique

Vertaal deur Christel Cattin

Die gevoel wat domineer in gesprekke met politici of vakbondsbestuurslede in Suid-Korea, is een van pessimisme. Die spanning met die Verenigde State oor Noord-Korea is voortdurend besig om te vererger. Betrekkinge met Japan bly ook gespanne omdat Japannese skoolhandboeke daarin volhard om die wreedaardighede wat teenoor Koreane gepleeg is tydens die Japannese besetting (1905-1945) te minimiseer; en ook omrede die territoriale geskil waarin die twee lande mekaar teenstaan in hul wedersydse aanspraak op Dokdo-eiland. Seoel is gekant teen Tokio se diplomatieke ambisie : die verkryging van ʼn permanente setel in die toekomstige Veiligheidsraad nà die hervorming van die Verenigde Nasies (VN) eerskomende September.

Boonop gaan dit sleg met die ekonomie. In weerwil van die indruk van dinamiek wat die Westerse besoeker aanvoel by die aanskoue van Suid-Korea se skouspelagtige sukses – een van weinig lande op die planeet wat dit in enkele dekades reggekry het om homself uit die Derde Wêreld los te wikkel en homself tot op dieselfde vlak as dié van die mees ontwikkelde lande te hys –, is ontwikkelingsgroei besig om af te stomp. Die land, steeds die derde ekonomie in Asië na Japan en Sjina, lei tegelykertyd aan `n afname in verbruiking en ʼn verslapping in uitvoere.

In `n betreklik kort tydperk,” verduidelik mnr Joon-Beom Bae, die Demokratiese Werkersparty (DLP) se direkteur van internasionale betrekkinge, in sy kantoor by die Nasionale Vergadering, “het Suid-Korea omgeskakel van onderontwikkeling tot ʼn staat van hoogs gevorderde industrialisering. Tans, danksy onder meer die maatskaplike stryd wat gevoer is sedert die herinstelling van demokrasie in 1987, is ons lewenstandaard vergelykbaar met die gemiddelde standaard in Europese Unie-state. Salarisse het baie verhoog. Ons was ʼn land van goedkoop handearbeid. Dit is nie meer die geval nie. Die gevolg: ons ondervind die uitwerking van globalisering ten diepste. Ons groot nywerhede, chaebols (Koreaanse konglomerate) soos Samsung, Hyundai, Daewoo of LG, wat aan die spits gestaan het van ons ekonomiese opbloei, delokaliseer op `n massiewe skaal. En hulle doen dit soveel te meer gewilliglik, omdat hulle hul fabrieke baie naby vestig, by ons Sjinese bure!

Daaruit volg die verswaking van werksomstandighede. By die hoofkantoor van die vakbond van sukkelende salaristrekkers, onderhorig aan die Koreaanse Konfederasie van Vakbonde (KCTU), verduidelik twee ampsdraers wat elkeen ʼn rooi hoofband dra met die inskripsie “ʼn Ander wêreld is moontlik”, dat “van 13 miljoen aktiewe werkers in Suid-Korea, 8,5 miljoen deeltydse, wisselvallige of geleentheidswerk verrig. En diegene met ʼn vaste werk is oorgelewer aan ʼn gebrek aan sekuriteit, delokaliserings, permanente teistering en die verbreking van maatskaplike wette deur hul werkgewers”. 

Nêrens elders ter wêreld het die wisselvalligheid van werksgeleenthede, onder druk van globalisering, soortgelyke afmetings aangeneem nie. “Tussen `n maatskappy wat ʼn bestelling plaas en die werknemer wat die bestelling uitvoer,” verklaar die twee vakbondlede, “is daar soms sewe vlakke van subkontrakteurs. Die werker weet nie presies vir wie hy werk nie. Die verantwoordelikheid van die hoofprodusent word verswak in die oerwoud van subkontrakteurs. As ʼn probleem opduik, is die tydelike werknemer dikwels sonder toevlug, want vakbonde vir tydelike werkers word nie erken nie. 

Bo en behalwe maatskaplike spanningspunte, is daar ook besorgdheid oor die kernbedreiging wat die Noord-Koreaanse bewind oor die streek laat heers. Noord-Korea, wat deur die President van die Verenigde State, mnr. George W. Bush, as een van die lande van die “Spil van Boosheid” geklassifiseer is, wat langafstand ballistiese wapens aangeskaf het, en wat hom in Januarie 2003 onttrek het aan die Nie-Proliferasieverdrag vir Kernwapens (NPT), het verklaar dat hy oor verskeie kernbomme beskik en het gedreig om met kerntoetse voort te gaan in antwoord op Amerikaanse aanvalsdreigemente.

Die Suid-Koreaanse Minister van Unifikasie, mnr. Dong-Young Chung, wat sommiges beskou as ʼn moontlike opvolger vir die huidige President Moo-Hyun Roh in 2007, en wat onlangs op 17 Junie na Pyongyang gereis het om President Kim Yong-Il te ontmoet, is nie bekommerd nie. “In 1994,” verduidelik hy, “toe ons die eerste kernbedreiging deurgemaak het, het die Seoelse Beurs met 36% geval! Vandag, terwyl die bedreiging waarskynlik ernstiger is, het die Beurs nie beweeg nie. Dis is ʼn bewys dat die verhouding tussen Seoel en Pyongyang solied is en ʼn waarborg vir sekuriteit daarstel. Die Noord-Koreaanse leiers eis waarborge van Washington. Hulle is onder die indruk dat die Verenigde State hulle bewind wil omvergooi. Dit is vir hulle dus ʼn kwessie van oorlewing. Ons verduidelik aan die Amerikaanse administrasie dat hulle op die probleem van Noord-Korea se denuklearisasie. moet konsentreer en dat hulle hul oogmerk om die bewind omver te gooi, moet laat vaar. Die vermenging van hierdie twee doelstellings is plofbaar.

Die Noord-Koreaanse President, Kim Yong-Il het pas sy voorneme aangekondig om onderhandelings betreffende denuklearisasie, binne die raamwerk van die Groep van Ses (Noord-Korea, Suid-Korea, Sjina, Rusland, Japan, Verenigde State), te hervat en het aangedui dat sy land die moontlik weer by die Nie-Proliferasieverdrag kan inval, en op hierdie wyse die kernbedreiging ʼn nekslag toedien. Die bal is tans in Amerika se skoot. Sal President Bush instem om sy aggressie te verminder en om die aanbevelings van sy Suid-Koreaanse bondgenoot te volg?


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=282
Artikel nagegaan:
    -