blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Thys Meintjes oor die vraag of die NG Kerk onderweg is na die vergetelheid, met reaksie van ons redakteur 2005-07-07
Thys Meintjes


Ook in reaksie op ons kommentaar van 1 Julie waarin ons vra of die NG Kerk onderweg is na die vergetelheid skryf Thys Meintjes van Pretoria:


Inderdaad 'n pittige stuk. Ek het lanklaas my gat so lekker afgelag. Die enormiteit, die arrogansie, die onverbloemde onverdunde verlustiging in die droese van intellektuele agnostiese (of was dit nou gnostiese) masturbasie. Soos 'n hond wat lekker sy eiers in die son lê en lek. In die stuk sien ek die oopgesperde oë van die kiem in die siel.


Of was dié bloot 'n geïnternaliseerde stuk maatskaplike kommentaar? Kan dit wees dat strukture en modelle wat so sorgvuldig en tydsaam aanmekaar getimmer is in die droomwereld van die outeur, dié tog op die ou end self oorweldig het? Ek vind dit moelik om te glo: kán 'n ou so oortuig van homself wees? Daar is pille, maar dis moer duur... "Die charismate het geen teologie nie" – die outeur het geen brein nie, en die stukkie breinstam wat oor is, is oorgegee aan fantasie en verdigsels. "Gereformeerde dramatiese ruimte" baie soos die binnekant van die outeur se skedel.


Daar is gelukkig blyke van oplaaiende opstand in die geledere van NG-predikante en -lidmate. Veral jonger en vroulike predikante en teoloë is hier prominent. Mag hulle die waagmoed en die politieke durf hê om die NG Kerk terug te gee aan God. Rerig, 'n pittige stuk.


Ons redakteur antwoord:


Met die plasing van mnr. Meintjes se brief wyk ons af van ons beleid om slegs saaklike briewe te plaas. Die Vrye Afrikaan verwelkom kritiese reaksie op sy inhoud, maar dan moet dit minstens op argumente berus en die bal eerder as die man speel. Mnr. Meintjes se brief bevat nie ʼn enkele argument nie, beoefen die ou Afrikaanse anti-intellektualisme in die naam van ʼn ondemokratiese populisme, en verwar ʼn oortuigde, beredeneerde standpunt met “arrogansie”, wat helaas sprekend is van ʼn gebrekkige demokratiese kultuur. Verlede week se kommentaar, net soos vorige behandelings in Die Vrye Afrikaan van die (NG) kerk, spruit voort uit ʼn diep besorgdheid oor die kerk as maatskaplike instelling in ʼn verwarde wêreld, maar dit is nie die taak van Die Vrye Afrikaan om sy besorgdheid oor sake soetjies-soetjies oor te dra nie. Te oordeel aan mnr. Meintjes se laaste paragraaf deel ons en hy gelukkig dieselfde besorgdheid: anders gestel, mnr. Meintjes, mens lak nie die manne in jou eie span nie. Laastens verwys ek u graag na Johann Beukes se reaksie op ons kommentaar en nooi ek u uit om op saaklike, beredeneerde wyse aan die gesprek deel te neem – wat nie beteken u hoef dit met minder hartstog te doen nie.

2



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=277
Artikel nagegaan:
    -