blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Johann Beukes oor die vraag of die NG Kerk onderweg is na die vergetelheid, met reaksie van ons redakteur 2005-07-07
Johann Beukes


In reaksie op ons kommentaar van Vrydag 1 Julie, waarin ons gevra het of die NG Kerk onderweg is na die vergetelheid, skryf Johann Beukes, predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk, van Weltevredenpark, Johannesburg:


As teologiestudent van die Nederduitsch Hervormde Kerk gedurende die laat 1980’s het ek my eenmaal aangematig om vir 'n gewaardeerde dosent, 'n professor in Ou-Testamentiese Wetenskap, te vra: "Hoe is dit moontlik dat 'n gesonde man in die Kaap gearresteer word en dood in Pretoria aankom, die Minister van Justisie beweer dat dit hom 'koud laat', en die kerk niks daaroor sê nie? Hoe lees die kerk die boek Jesaja in die Ou Testament en sê niks nie?" Die dosent se antwoord? "Vergeet van die minister, jy sal jou nog verstom oor wát alles die kerk koud laat, jy sal jou nog verstom oor hoe min die kerk te sê het..."


Ek kan vandag met vrymoedigheid beweer dat hy reg was. Ek is dikwels verstom. Juis as Lutheraan, eerder as Calvinis, is ek verstom oor hoe dun die kerk se kultuurkritiese mondering daar uitsien.


Die Vrye Afrikaan se intelligente kommentaar op wat genoem sou kon word 'n gebrek aan 'n kultuurkritiese ingesteldheid in die NG Kerk – en sou daarby genoem kon word, ook die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke, as die drie prominente Afrikaanse Reformatoriese Kerke of sogenaamde "susterskerke" – het betrekking, in besonder die volgende paragraaf: "Wat `n gebrek aan denke en gesprek met ons tyd betref, is daar die afgelope jare minstens in openbare standpunte deur meningsvormers in die NG Kerk oorwegend `n volslae onvermoë om sosiologies en histories oor die NG Kerk na te dink. Die wel en weë van die NG Kerk is onlosmaaklik verbind aan dié van die Afrikaners, en `n polities korrekte versugting om teen die agtergrond van historiese vergrype hierdie band te misken, verdoem die NG Kerk daartoe om nie insig in sy eie situasie te ontwikkel nie. So byvoorbeeld het die verstaatliking van die NG Kerk saam met die breë Afrikanerwêreld na 1948 die vreespsigose wat tussen 1902 en 1948 onder Afrikaners posgevat het, geïnstitusionaliseer. Meer nog het die ontstating wat vanaf 1994 met Afrikaners gebeur het, die NG Kerk ook getref, haas vyftien jaar nadat die charismatiese beweging hom van binne begin rysmier het.


“Ongelukkig het 46 jaar se knusse verhouding met die staat die NG Kerk se vermoë tot selfkritiese denke klaarblyklik ernstig aangetas. Dit is dan ook waarom die NG Kerk in gebreke bly om met ons tyd te doen wat Danie Goosen vir die kerk as sodanig voorstel, naamlik om `n verwoestende aanval op ons tyd te loods. Die neo-liberale wêreldwanorde, die ekologiese krisis, politieke ongeregtigheid, armoede, VIGS en die ontbinding van die Afrikaner as gemeenskap, wat met enorme simboliese ellende gepaard gaan, is dinge waaroor die NG Kerk met `n plaaslike tradisie van 350 jaar ongetwyfeld eiesoortige standpunte sou kon stel, maar waaroor daar oorwegend niks of niks besonders gesê word nie. Is dit dan `n wonder dat die NG Kerk soveel gesag by sy lidmate ingeboet het en steeds inboet?"


Die Vrye Afrikaan priem hier deur na die wese van die kerklike problematiek van ons tyd: Die susterskerke is skynbaar nie in staat om 'n "verwoestende aanval" op die kultuur te loods nie. Indien dit waar is – en ek is van mening dat dit wel waar is – dui hierdie gebrek aan kultuurkritiek op 'n wesensgebrek in die lewe van die kerk. Want soos Paul Tillich is ek daarvan oortuig dat kultuurkritiese oorwegings ten grondslag lê van die belangrikste uitdagings waarvoor die kerk te staan gebring kan word in die era na die Tweede Wêreldoorlog, hoe daardie era ook al benoem word. Kultuurkritiek voed die teologiese en kerklike vraagstelling en ontmasker enige welvarende verhouding tussen kerk en kultuur as skynwelvaart. Kultuurkritiek verteenwoordig daarom meer as bloot ‘n geleentheidsbelangstelling in die filosofie. In ons tyd het kultuurkritiek voorwaarde geword vir besinning oor die plek en rol van die kerk in die wêreld. In juis hierdie opsig is daar 'n vraag wat 'n mens bly teister: Hoe is dit moontlik dat teologieë wat so sterk deur dialektiese opvattinge gevoed is, gegewe die prominensie van die nalatenskappe van teoloë soos Karl Barth en Emil Brünner in die NG Kerk en Hervormde Kerk in die besonder, so volkome onkrities teenoor totalitêre bewegings in die kultuur kon staan?


Die Vrye Afrikaan het gelyk: Daar is inderdaad nouliks of geen sprake van ‘n veronderstelde dialektiese spanning met die kultuur waarin die NG Kerk (en die Hervormde Kerk) die afgelope eeu gebed was nie. Daar is trouens veel eerder sprake van ‘n onkritiese solidariteit met die kultuur waardeur die teologie in gebreke gebly het om die outentieke dialektiese impulse – naamlik selfonderbreking en selfkritiek – gestand te doen; veel eerder is daar alte dikwels aan die hand van politieke en kulturele misbruike van 'n hoogs partikuliere begrip soos “volkskerk" met die kultuur van die tyd gekonformeer. Die rede hiervoor kan ‘n selektiewe, selfs bevooroordeelde resepsie van veral Barth se dialektiek in betreklik sonderlinge Afrika-omstandighede wees, maar ‘n selfs waarskynliker rede is dat die soort dialektiek wat ons in die teologieë van die susterskerke aantref, selfgenoegsaam dialekties was of, om dit sagter te stel, nie dialekties genoeg was nie. Omdat dit nie dialekties genoeg was nie, was dit ook nie selfkrities genoeg nie. Die vraag, na aanleiding van die hoofopskrif by Die Vrye Afrikaan se kommentaar, is egter: As hierdie plaaslike verskyning van die heilige, algemene, Christelike kerk in die vergetelheid moet verdwyn, waar anders sal oor die verhouding tussen taal, religie en geskiedenis sistematies en intelligent besin kan word, met spesifieke verwysing na die taal Afrikaans, die eiesoortige, selfs idiosinkratiese byeenbring van Wes-Europese teologiese tradisies in die teologieë van die Afrikaanse susterskerke, en die geskiedenis van die betrokke identiteit wat sigself die benoeming "Afrikaner" of dalk selfs "Afrikaan" laat welgeval? Allermins kan die vele filistinistiese filosowe van ons tyd alleen of ongehinderd daarmee vertrou word.


Die kerk self moet hierdie besinning behartig. Om dit te kan doen, moet die kerk selfstandig kultuurkrities wees. Maar 'n selfstandige kultuurkritiese posisie vooronderstel uiteraard 'n ander soort dialektiese proses as wat tot dusver in hierdie kerke aan die orde was. Ek het hier trouens in gedagte 'n meer radikale aanbod van dialektiek in die kerk en vanuit die kerk, naamlik ‘n negatiewe of selfkritiese dialektiek. In die oorspronklike konteks beteken “dialektiek” natuurlik om deur die woord te vorder, om gesprek te voer, om tussen woord en weerwoord, instemming en ontkenning, tussen “ja” en “nee” progressie te bewerkstellig: Wanneer iemand dialekties praat, praat hy met twee woorde, val hy homself in die rede – sy ja met ʼn nee, en sy nee met ʼn ja. Negatiewe dialektiek, en hier word die kaarte gesny, is egter juis sensitief daarvoor dat die dialektiese proses selektief kan opereer, bevooroordeeld met ‘n epistemologiese agenda kan werk wat dikteer wanneer, waarom en hoe die ja met ʼn nee onderbreek word, en andersom. Negatiewe dialektiek sou die “ja” met ‘n “nee” wou onderbreek en ook dáárvoor dadelik weer “nee” sê - en nie “ja” nie. Ek meen dat die kerk hierdie soort selfkritiese dialektiek nodig het, nou meer as ooit tevore, as waarborg dat die dialektiese onderneming werklik krities sal bly – krities teenoor sowel die kultuur as die kerk sélf. ‘n Negatiewe dialektiek, anders as sy Hegeliaanse voorganger, is skerp selfkrities, tweesnydend: Dit sny na die Ander sowel as na die Self, dit sny weg na kultuur maar ook oombliklik terug na die kerk. Die susterskerke, en hierin vestig myns insiens die belangrikste uitdaging vir hierdie kerke, sal hiervolgens skerper stelling teenoor sowel die kultuur as teenoor die kerk self moet inneem as waarvan die afgelope dekades blyke gegee is, sónder om noodwendig enersyds in teologiese kultuuraskese (of selfs openlike kultuurvyandigheid) of andersyds in deernislose interne kritiek teen die kerk te verval. Die gebrek aan sowel kultuurkritiek as selfkritiek in die kerk het daartoe meegewerk dat die kerk se kritiese rol in die omlyning van maatskaplike geregtigheid die afgelope dekades plaaslik nie tot sy reg kon kom en, terugskouend, inderdaad nie as konstruktief geag kan word nie. ʼn Mens wil vertrou dat daar in die groter plaaslike Reformatoriese tradisie sedert die laat 1980’s vordering gemaak is met die verhouding tussen kerk en maatskaplike geregtigheid, en dat daar intussen ruimte vir die maatskaplik-kritiese stem in die kerk gevind kon word. Dit is byvoorbeeld nie meer goed genoeg en eenvoudig genoeg om te beweer dat die maatskaplik-kritiese stem die bestaan van God sonder meer aan die maatskaplike werklikheid gelykgestel het, of dat die bestaan van God objektief bo subjektiewe of mensgekonstrueerde ordes uitstyg nie – die soort argument waarmee werklik betekenisvolle impulse vanuit plaaslike bevrydingsteologieë sedert die 1960’s verbygegaan is.


Die kerk moet veel meer krities staan teenoor aansprake van verryking deur allerlei kulturele programme, veral politieke of sosio-ekonomiese programme. Dit stel ʼn besondere uitdaging aan die kerk: Om nie weer te konformeer met die heersende kultuur of kulturele program nie. Ek vra my af of daar nie reeds weer in hierdie slaggat getrap is nie. Onder die dekmantel van verdraagsaamheid word steeds, soos in die verlede, brutaliteite in Suid-Afrika met stilswye verdra wat in geen beskaafde kultuur andersins geduld sou word nie. Waarom is die kerk, en hierby sluit ek ietwat voorbarig alle plaaslike kerke in die breër Reformatoriese tradisie in, so klaarblylik apaties hieroor? So stil, so klaarblyklik onaangeraak? Die plaaslike kerk- en sekulêre geskiedenis oordeel reeds bitter kras oor die kultuurkritiese onvermoë van die kerk. Hoe lyk die volgende kultuurkritiese hoofstuk in die lewe van die kerk? Miskien sou Gereformeerdes verkies om te praat van profetiese opdrag, of hulle beroep op die Calvinistiese Venn-diagram wat kerk en kultuur met mekaar laat oorvleuel. Hoe dit ook al sy: Kultuurkritiek voor kulturele takt! So taktvol was die kerk die afgelope dekades in die besonder ten opsigte van ʼn kultuur wat as objektief aanneemlik vir die kerk ervaar is, dat kritiek feitelik volkome in die slag gebly het. Dit moet omgeswaai word. Die enkele grootste uitdaging waarvoor die kerk in ons tyd te staan gekom het, is om ʼn geloofwaardige agent vir kultuurkritiek te word en te wees. Om op ʼn ad hoc-basis in die kerklike publikasies en met beskrywingspunte op rings- en sinodale vergaderings op maatskaplike brandpunte te reageer, is nie goed genoeg nie. Daar moet ʼn kultuur van kultuurkritiek in die kerk werksaam wees.


Negatief-dialekties begin hierdie kritiese oefening telkens in die kerk self. Indien dit nie in die kerk self begin nie, sal dit spoedig as ‘n reaksionêre, selfverskansende bedryf ontmasker word. Waarteen, afgesien van openlike totalitêre bewegings in die kultuur, moet die kerk so kultuurkrities standpunt inneem? Eerstens, teen gelatenheid oor en konformering met die eietydse kultuur, of dit nou as laat-modern of as post-modern benoem word. En voortspruitend daaruit, talle opeenvolgende oorwegings ʼn Kritiek van die voortgaande rasionalisering van die leefwêreld; ʼn kritiek van globalisering en universalisering, ten koste van partikulariteit en identiteit, wat waarskynlik die dwingendste intellektuele, ekonomiese en politieke vraagstuk van ons tyd is; ʼn kritiek van die hedonistiese kitskultuur wat elke funksie van die maatskaplike bestaan reeds deurtrek het; ʼn kritiek van materialisme en kommoditeitsfetisjisme, waar objekte die status van subjekte verkry en subjekte “objektief” getaks word; ʼn kritiek van die inklusiwistiese verdraagsaamheidskultuur waarin niks skynbaar meer buite orde is nie; ʼn kritiek van die dun moraal wat hierdie verdraagsaamheidskultuur in stand hou; ʼn kritiek van laat-kapitalisme en die progressiewe fetisjering van arbeidsprodukte; ʼn onpatroniserende kritiek van die ondeernisvolle, selfs onverantwoordelike blootstelling van die kerk én die samelewing aan die resultate van sogenaamde wetenskaplik-historiese ondersoeke en spekulatiewe rekonstruksies in die teologie, waarby nóg die kerk, nóg die wetenskap self baat; ʼn kritiek van die kulturele afswakking van die belydenis wat op geen ander platform staan nie as die modernistiese tipering van die religie as iets antikwaries wat liefs agterweë gelaat moet word; ʼn kritiek van verbuikerisme, wat reeds ʼn diep merk gelaat het op die psige van die kerk, waarvolgens kerke gedegradeer word tot supermarkte vir spirituele genoegdoening; ʼn kritiek van die moderne aksioom van vooruitgang deur rasionaliteit, wetenskap en tegnologie; ʼn kritiek van die hiper-individualisme wat ons tyd kenmerk, asof die gebedheid of kontekstualiteit van die individu geen betekenis meer dra nie, maar terselfdertyd, ʼn kritiek van die laat-kapitalistiese primaat van massakultuur en massaverbruik, asof individualiteit geen betekenis meer dra nie.


Maar gebalanseerde kritiek is nie net afwysend of afgrensend nie; kultuurkritiek kan ook die betekenisvolle impulse wat wel in die kultuur opgesluit lê, affirmeer: Juis in "die tyd" waaroor Goosen dit het, is daar bepaalde winspunte vir die kerk en teologie opgesluit waarby nie verbygegaan moet word nie. Die belangrikste hiervan is die volvoering van die Kantiaanse projek, of die bedenklikstelling van die soort rasionaliteit wat gangbaar was in die moderne tyd en wat onmeetlike skade in die kerk en teologie aangerig het, naamlik instrumentele rasionaliteit, op grond waarvan dit wat nie volkome rasioneel verantwoordbaar was nie, as onwaar of onwerklik getipeer is. In die plek daarvan het ʼn verruimde opvatting van rasionaliteit na vore getree wat ook aan die geloof ʼn regmatige plek toeken as ʼn geldige rasionaliteitstipe wat nie in konflik met ander rasionaliteitstipes hoef te staan nie. Die eietydse kultuur ontwikkel toenemend insig in die eietydse filosofiese premisse en selfs natuurwetenskaplike feit dat daar werklikheidsaspekte is wat buite epistemologiese sisteme en teoretiese redelikheid staan; dat daar regmatige bestaan toegeken kan word aan dit wat nie geken kan word nie, dit wat nie teoreties geartikuleer kan word nie, ervarings wat die denke se identifiserende handeling telkens ontsnap, ervarings wat moeilik indien enigsins gedokumenteer kan word. Die eietydse nadruk op die disposisie van maatskaplik gemarginaliseerdes; die bestendiging van die verhouding tussen diversiteit en partikulariteit, of differensie en identiteit; die verwerping van totaliserende teorieë en die manifestering van gelokaliseerde en kontingente teorieë wat nie poog om universele antwoorde op partikuliere vraagstukke te bied nie (of, die nadruk op kontekstualiteit); die eietydse vertroue en investering in mikro-politieke kwessies, waaronder eko-politiek; en die klem op die navigasie van inligting en die deënsiklopedering van kennis, is alles winspunte vanuit die eietydse kultuur wat produktief en heilsaam in die lewe van die kerk tot uitdrukking gebring kan word. Eerbied vir die kerk en eerbied vir die wêreld lê baie nader aan mekaar as wat kerkmense geneig is om toe te gee. Maar dit geld ook 'n kritiek van kerk en 'n kritiek van kultuur. Dit staan na aan mekaar. Inderdaad: Die kerk moet sigself verset teen die wêreld, ter wille van ‘n aktuele kerkbegrip, maar ook, as ek dit mag sê, ter wille van die kultuurbegrip self.


Ons redakteur antwoord:


As dienende leraar tree Beukes hier in gesprek met sy tyd op presies die wyse wat Die Vrye Afrikaan verlede week bepleit het as die (NG) kerk nie wil verdwyn nie. Die kerk as sodanig is een van die oudste en belangrikste maatskaplike instellings wie se grootste oomblikke juis was toe hy op sy tyd geantwoord het, net soos sy donkerste oomblikke was toe hy dit nie gedoen het nie. Die Vrye Afrikaan sal gedurende Augustus weer terugkeer na die kwessie van die (NG) kerk en sy tyd ten einde ʼn bydrae tot hierdie uiters belangrike debat te maak.

6



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=276
Artikel nagegaan:
    -