blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


FAK vra president Mbeki om konkrete stappe rondom Afrikaans en die ander inheemse tale, 2 Julie 2005 2005-07-07


Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, die FAK, verwelkom president Mbeki se uitspraak dat dit noodsaaklik is om die taalkwessie met baie meer ywer en stelselmatig te hanteer. Dit ly geen twyfel nie dat die onoordeelkundige omgang met Afrikaans in die besonder en die inheemse tale in die algemeen sedert 1994 die poging om Suid-Afrika te demokratiseer, onnodig gestrem het. Suid-Afrika sal nie vry wees voor al haar inheemse tale nie hulle regmatige plek naas ons internasionale taal, Engels, inneem nie.

President Mbeki se erkenning dat die ANC misluk om die taalkwessie en Afrikaans in die besonder binne die konteks van die Vryheidsmanifes aan te pak, is noodsaaklik en tydig. Afrikaners sal ongetwyfeld met groter ywer aan `n demokratiese Suid-Afrika meewerk as die winste wat hulle as groep deur hulle moedertaal behaal het, nie verder ondermyn word nie, en ook na die ander inheemse tale uitgebrei word. So nie, bestaan die wesenlike en onnodige moontlikheid dat Afrikaners teruggedwing sal word in in `n situasie waar hulle uiteindelik slegs vir hulle moedertaal moet veg, wat nóg Afrikaners, nóg Afrikane se belange sal dien.

Hierdie gebaar in die rigting van Afrikaners in die besonder en Afrikaanssprekendes in die algemeen is nie die eerste wat deur president Mbeki gemaak word nie, en dit is van die grootste belang dat hierdie gebaar opgevolg word deur wesenlike en praktiese stappe. Die FAK doen hiermee `n beroep op president Mbeki om van staatskant in te gryp sodat die druk op Afrikaanse skole en universiteite om in die naam van groter toeganklikheid effektief te verengels, beëindig word. So `n verengelsingsproses ontneem Afrikaanssprekendes van toegang tot onderwys van gehalte, en begunstig ook nie toegang tot onderwys van gehalte vir sprekers van ander inheemse tale nie. Die FAK doen ook `n beroep op president Mbeki om saam met Afrikaanssprekendes en ander inheemse taalsprekers konkrete stappe te neem om moedertaalonderrig vir almal `n werklikheid te maak, en om die ander inheemse tale `n groter staanplek binne die hoëronderwyssektor te gee. Dit is ook noodsaaklik dat die regering nie terugdeins nie van sy onlangse besluit om `n nuwe onderwystaalbeleid in te stel ten einde die inheemse tale te bevorder. Die reaksie wat uit sommige geledere teen hierdie besluit gekom het as sou dit Engels “bedreig” is `n tragiese bewys van die mate waartoe sprekers van die inheemse tale `n koloniale gebrek aan vertroue in ons inheemse tale geïnternaliseer het, en die FAK is saam met ander taalgerigte instellings verbind tot die uitwissing van hierdie oorblyfsel van Suid-Afrika se koloniale en apartheidsverlede.

2



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=278
Artikel nagegaan:
    -