|
||||
“I saw people marching with banners held high I saw soldiers with guns and a man had to die There will be no new Jerusalem The old one will burn down again and again Look at your leaders Like the madmen they smile…”
Aldus Jackhammer op hulle klassieke openingsnit G8 van hulle jongste album, The Pilgrim. In hierdie enkele reëls vat hulle soveel saam van wat vandeesweek weer afgespeel het by die G8-beraad in Gleneagles, Skotland: die alterglobaliseringsbetogers, die reuse veiligheidsoperasie, die uitgestelde nuwe wêreld en die gepaardgaande politieke sinisme waarmee dit baie mense laat, en die leiers van die G8-lande met hulle blikglimagte.
Soos alom bekend is, vind hierdie beraad plaas teen die agtergrond van groeiende druk op die G8-lande om in te gryp om Afrika te help, maar ook van voortslepende moedeloosheid onder demokrate oor Afrika-leiers wat in vele opsigte ook nie juis lesse oor goeie regering, korrupsie of demokrasie aan hulle G8-eweknieë kan gee nie.
Die G8-lande en hulle oorwegend neoliberale agenda het die afgelope jare na vore getree as een van die gemeenskaplike vyande van dié politieke beweging van ons tyd, naamlik die alterglobaliseringsbeweging wat met die slagspreuk “ʼn ander wêreld is moontlik” miljoene der miljoene mense wêreldwyd mobiliseer, en waarby Die Vrye Afrikaan hom ook skaar. In Januarie vanjaar is die vernaamste byeenkoms van die alterglobaliseringsbeweging, die Maatskaplike Wêreldforum (wat deur ons Franse vennoot Le Monde diplomatique voorgestel is), in Porto Alegre, Brasilië deur sowat drie miljoen mense bygewoon …
Om te verstaan met watter siniese spel die G8-lande besig is, is dit sinvol om enkele statistieke en feite in oorweging te neem. In die Mail & Guardian van 1 Julie 2005 skryf die linkse veteraanjoernalis, John Pilger, byvoorbeeld dat die Britse premier, mnr. Tony Blair, onlangs in die geheim personeellede van sy regering se Afrika-lessenaar besnoei het terwyl hy hom in die openbaar geskaar het by die beweging om “armoede geskiedenis te maak”. Terselfdertyd het sy regering se “Departement van Internasionale Ontwikkeling” die privatisering van Ghana se water ten gunste van Britse beleggers deurgedruk (1).
In ʼn artikel deur Damien Millet en Eric Toussaint wat in aanstaande week se Die Vrye Afrikaan-Intussen saam met Le Monde diplomatique verskyn, word ʼn chirurgiese ontleding gegee van wat die onlangs aangekondigde skuldverligting van 40 miljard dollar van die armste lande (uit ʼn totaal van 2500 miljard dollar wat die Suide skuld) eintlik beteken. Die 18 lande wie se skuld afgeskryf is, het slegs na vier pynlike jare van neoliberale “medisyne” soos die oopstelling van hul markte vir multinasionale maatskappye, privatisering, die deregulering van die ekonomie, en die verhoging van BTW, skoolgeld en mediese koste (alles ten koste van die armes), vir die skuldverligting gekwalifiseer. “Skuldverligting,” skryf Millet en Toussaint, “is bloot ʼn operasie van rekeningbalansering vir die afskrywende lande, wat dubbele munt in die media daaruit slaan, omdat hulle luidkeels die skuldverligting kan aankondig voor hulle die volgende jaar ʼn vermeerdering in hul ontwikkelingshulp aankondig, terwyl dit in werklikheid oor dieselfde finansiële operasie gaan.”
Op die koop toe het die G8-beraad, wat in die middel 1970’s deur die destydse Franse president, Valérie Giscard d’Estaing as min of meer geselsklub byeengeroep is, geensins die rekord van ʼn plek van dapper besluite nie. Om die waarheid te sê, is die vernaamste betekenis van die G8-beraad tans dat dit een van die verhoë is waarop die twee vername politieke kragte van ons tyd – die neoliberale en die alterglobaliste – hulle boodskap so doeltreffend moontlik probeer oordra.
En dit is in hierdie opsig dat die jaarlikse geveg om die G8 ʼn simbool van hoop vir die alterglobaliste geword het: nie net is die magtige leiers effektief gedwing om te probeer bewys dat hulle dieselfde belange as die alterglobaliste voorstaan nie (onder meer armoede, die klimaat, skuldverligting), maar ook bied hulle jaarlikse kleitrappery ʼn verdere hefboom waarmee die alterglobaliste die aandag nog sterker op die G8 se vergrype kan vestig.
Ofskoon die G8-lande nog ʼn groot rol in die wêreldekonomie speel en Amerikaanse militêre mag ʼn ruggraat aan hulle wêreldoorheersing gee, voer hulle vandag ʼn verloorstryd om hul politieke legitimiteit te behou, en is die “nee” in Europa die jongste teken dat die eintlike politieke energie van ons tyd nie meer van hulle af kom nie: dit kom nou opnuut van onder af, uit die geledere van almal wat vandag gemene saak maak rondom die agenda waarvolgens besluitneming opnuut gedemokratiseer moet word ter wille van ʼn gedeelde planeet.
In Afrika is die alterglobalistiese beweging nog swak, maar aan die opkom. Ook in Suid-Afrika is daar vandag ʼn swetterjoel nieregeringsorganisasies en maatskaplike groeperings wat hulle nie deur die oorwegend neo-liberale ekonomiese agenda van die ANC tot onlangs laat flous nie. Ofskoon die ANC hom die laaste ruk al hoe meer in die rigting van ʼn sogenaamde ontwikkelingstaat gedraai het, is die feit van die saak dat armoede bly voortkruip in Suid-Afrika. Demokrate van alle gange van die samelewing moet hulle nou meer as ooit inspan om hierdie krisis te keer: ʼn ontwikkelingstaat sal nie slaag as die demokrasie in Suid-Afrika nie nog veel deelnemender word nie.
_________ (1) Lees Marc Laimé se artikel “Munisipale water opgekoop” oor dié vergrype wat met waterprivatisering gepaard gaan, Die Vrye Afrikaan-Intussen saam met Le Monde diplomatique, 11 Maart 2005.
|