blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Mbeki en die Afrikaners: weer eens 2005-07-07

Die Vrye Afrikaan het al by meer as een geleentheid die afgelope maande daarop gewys dat daar vanuit ANC-geledere ongetwyfeld opnuut na die Afrikaners uitgereik word. Die jongste voorbeeld hiervan is president Thabo Mbeki se rondborstige erkenning by die ANC se pasafgelope Nasionale Algemene Raadsvergadering dat die ANC gefaal het om Afrikaans in die besonder binne die kader van die Vryheidsmanifes te hanteer.


Hierdie erkenning van Mbeki is buitengewoon, nie net omdat Mbeki byna nooit in die openbaar foute erken nie, maar ook omdat dit ongetwyfeld die grootste erkenning van ʼn probleem rondom Afrikaans in die besonder en Afrikaners in die algemeen is wat die president tot nog toe gemaak het. Dit kom teen die agtergrond van sy toespraak in die begrotingsdebat van sy pos op 25 Mei in die parlement toe hy gewaarsku het dat ʼn oplaaiende ontevredenheid onder Afrikaners een van die drie “foutlyne” van ons demokrasie is. Verlede Donderdag het Mbeki nogmaals gepraat van ʼn “protesbeweging” rondom Afrikaans wat aan die opbou is.


Beide opmerkings deur Mbeki is miskien ʼn ietwat oordrewe – soos Tim du Plessies tereg die afgelope Sondag in sy Rapport-rubriek skryf – maar juis daarom is dit betekenisvol: dit sê wel iets van die erns waarmee Mbeki die kwessie bejeen. Verlede Donderdag se toespraak kan ook gelees word as Mbeki se antwoord op die FAK se ope brief oor moedertaalonderrig, wat sowat twee maande gelede aan sy kantoor oorhandig is, en waarop hy tot dusver nog nie geantwoord het nie, buiten om dit na die Minister van Onderwys te verwys.


Soos die FAK reeds die afgelope Saterdag in ʼn mediaverklaring uitgewys het (en waarin hy deur die ATKV, die Afrikanerbond en Solidariteit gesteun is), moet hierdie woorde egter met konkrete dade opgevolg word, waarvan ʼn ingryping om die druk op Afrikaanse onderwysinstellings in die naam van toeganklikheid te beëindig, ʼn eerste stap kan wees. Die onus is op die regering om dade by sy woorde te voeg. In die proses sal hy ongetwyfeld geesdriftige samewerking ook ten bate van die ander tale in die land van vele Afrikaners te wagte kan wees.


Maar daar is egter ʼn wanklankie in verlede Donderdag se toespraak, naamlik die feit dat president Mbeki die taalkwessie binne die kader van die Vryheidsmanifes wil hanteer. Die Vryheidsmanifes was sonder twyfel een van die belangrike treë onderweg na vandag se grondwetlike demokrasie, ofskoon dit ook geensins so kritiekloos bejeën moet word soos wat dit onlangs in die hoofstroommedia gedoen is nie. Maar dit bly ’n feit dat ook die Vryheidsmanifes ondergeskik is aan die Grondwet, wat steeds die belangrikste dokument is waarmee Suid-Afrikaners van alle gange en oortuigings ʼn gemeenskaplike afspraak met mekaar gemaak het.


Die politiek en die ekonomie kan nie in Suid-Afrika ondergeskik gestel word aan die Vryheidsmanifes of watter ander lofwaardige dokument ook al buiten die Grondwet nie. Dit is miskien nie in alle opsigte ʼn volmaakte dokument nie, maar geen Grondwet is dit nie. Die feit bly staan dat dit die gronddokument van ons demokrasie is – en ook die dokument waarop elke Afrikaanse intellektueel of instelling van naam hulle sedert 1994 met betrekking tot taal beroep het. Dit is binne hierdie kader dat Afrikaners en die regering mekaar ook moet vind.




 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=273
Artikel nagegaan:
    -