blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Paul Ricœur sterf: Paul Ricœur, die wandelende denker: `n Persoonlike herinnering deur `n oud-student 2005-07-01
Fanie de Beer


Paul Ricœur, die wandelende denker: `n Persoonlike herinnering deur `n oud-student

Deur Fanie de Beer, filosoof en buitengewone professor in inligtingkunde, Universiteit van Pretoria


Fanie de Beer was in die middel 1970’s die eerste Afrikaanse filosoof van sy geslag wat hom onder een van die groot Franse filosowe van nà 1968 gaan bekwaam het deur studie onder Paul Ricœur. De Beer, wat later ook kontak gemaak het met reuse soos Jacques Derrida, Michel Serres en Michel Foucault, gee hier `n persoonlike terugblik op die mens en werk van Ricœur.


Die dood bevat `n finaliteit en `n skrikwekkende dimensie. Dit bring `n gemis mee en laat `n leemte. Die intensiteit daarvan word nie verdun of verlig deur hoë ouderdom of die onafwendbaarheid daarvan deur siekte nie. Terwyl my hart nog met warmte gevul was oor Paul Ricœur na `n gesprek op 18 Mei met `n vriend, wat reekse aangename herinneringe na vore geroep het, het die kilheid en meedoënlose daarvan op 20 Mei, toe hy al verby 92 was, toegeslaan. Soos Derrida tereg by meer as een geleentheid oor die dood van `n spesiale vriend skrywe: elke keer is uniek, die einde van die wêreld, kan bygevoeg word (wat ek dink Derrida ook kon bedoel het): die einde van `n denkwêreld, gewis! Tog merk hy op dat Ricœur een keer aan hom gesê het: ek vrees nie die dood nie, maar wel die eensaamheid. Toe ek `n tyd gelede telefonies met Ricœur in verbinding was, het hy pas van `n hartaanval begin herstel, en hoewel hy swak was, was hy verheug om van my te hoor en het steeds hoopvol, gemoedelik geklink en kon ons kosbare herinneringe deel. Hy het nie van eensaamheid gehou nie.


Hoe het ek hom leer ken? Na my doktorale studie wou ek `n lang gekoesterde ideaal verwesenlik om in die buiteland te gaan studeer. Toe ek my opsies oorweeg het, was fondse belangrik en uiteraard ook `n plek om te gaan werk en iemand om mee te werk. Uit die lees van die geskiedenis van die fenomenologie het ek afgekom op “die denker van menslike feilbaarheid, eindigheid en skuld”, Paul Ricœur. Onmiddellik het ek besef: dít is presies waar ek nou hoort. Gelukkig het die Franse regering beurse aan buitelandse studente beskikbaar gestel wat alle koste sou dek. Hiermee was die tafel gedek vir `n grootse filosofiese, maar terselfdertyd ook persoonlike ervaring wat nog voortduur en wat onvergeetlik sal bly.


My eerste soektog na hom by Nanterre (Parys-X) het my voor `n kantoordeur te staan gebring waarop `n klein kaartjie aangebring is en waarop met `n balpunt geskrywe is: P. Ricœur en S. Zac. `n Man van wêreldformaat word so aangekondig – met `n papiertjie en `n gedeelde kantoor - en ek het onmiddellik aan Suid-Afrika gedink waar die grootheid van die gees agter die deur alreeds uitgeput is in die sierlikheid van die vergulde naambordjie op die deur. Hy is die dekaan wat tydens 1968 se studenteprobleme daarin geslaag het om die polisie van die Nanterrekampus weg te hou. Op sy kop het studente later die morsige inhoud van `n asblik leeggemaak. Hy is die een wat tydens sy gevangenskap in die haglike toestande van `n Duitse konsentrasiekamp Husserl se Ideen I in Frans vertaal het wat toe in 1950 gepubliseer is.


By hierdie man sou ek filosofie leer. Hoewel ek reeds gepromoveer het, het ek telkens gevoel dat ek by hom vir die eerste keer werklik met filosofie en werklike filosofering te doen gekry het. Die metafoor en die verbeelding, ideologiekritiek en psigoanalise, interpretasieteorie en betekenisleer, die denkers van die agterdog en nog baie ander sake het ons saam deurdink in die wellewende en sprankelende seminaarsessies. Derrida beskrywe Ricœur se seminare as gekenmerk deur sereniteit, vryheid, gemoedelikheid, maar ook deur die gestrengheid van die denkende navorser. Ek deel hierdie ervaringe heelhartig. Ek sou die betekenis van hierdie blootstelling vir my persoonlik, vir my filosofiebetrokkenheid, maar ook vir my latere toe nog onvoorsiene loopbaan eers veel later besef. Ek gewaar `n armoede waar hierdie soort ervaringe ontbreek. Om dit te verskans, word daar dikwels onnadenkend in slimmighede verval en ook daaragter geskuil. Ricœur se les was deeglik: besin grondig, fundamenteel en omvattend oor elke saak wat aangepak word, anders ly die saak skade en ook almal wat betrokke is. Hy is die een wat jou al filosoferende op `n wandeling deur die welige tuin van sy huis buite Parys geneem het wanneer daar `n afspraak was om werk te bespreek. Die denkweelde wat hierdie wandelinge opgelewer het, het die herinneringe aan 19, rue d’Antonie (Murs Blanc) onuitwisbaar gemaak.


Nimmereindigende frustrasies


Hierdie blootstelling aan toegewyde filosofering wat werklik vir die wêreld en die mensdom saakmaak, sou uiteindelik nimmereindigende frustrasies oplewer. In Suid-Afrika ken ons nie regtig iets soos “die filosofiese lewe” nie. Dit is klaarblyklik net vir die Ricœurs, die Russels, die Jasperse, die Heideggers en selfs die Wittgensteins beskore. En hierdie wesens is eintlik, so word dikwels gesê, ietwat abnormaal en ons sou die soort onsinnige betaalde tydverdryf by hulle kon verwag. Dat die lewe vir wysheid, die soeke na verstaan en die beoefening van denke wesenlike en dringende menslike behoeftes is waarvan die gebrekkige beoefening tot fatale ellendes kan lei, gaan geheel en al by ons verby. Ons besef so min van hierdie nood. Fatale ellendes?


Sy vroeëre essays oor die geweld van taal, die konflik van interpretasies, die simbole van die kwaad, die feilbare mens en die vraagstuk van skuld dui die rigting aan waarin fatale ellendes ons te beurt kan en sal val. Later sou hierdie deurdagte insigte aangevul word met besinninge oor die tyd en die verhaal, waarin storievertelling en geskiedenisbelewenis en –beskrywing deeglike beslag kry. Heelwat later is hierdie gedagtes aangevul en verder gevoer met sy boek oor geheue, geskiedenis en vergeetagtigheid. Ons moet ook nie dink dat Rawls se teorie van geregtigheid die begin en einde van besinning op geregtigheid beteken nie. Ricœur se werk oor geregtigheid - byvoorbeeld die tien studies oor geregtigheid in wat hy “die klein etiek” noem en die veelseggende titel dra van “ek-self as die ander” - en aangevul deur die lywige tweedelige stel opstelle oor geregtigheid (Le Juste I en II), sou nie net `n ander perspektief op dié van Rawls bied nie, maar is terselfdertyd gekenmerk deur deeglike vertroudheid met Rawls se sieninge en die soms ontoereikende aspekte daarvan. Sou kwessies van geregtigheid, geskiedenis en mensverwesenliking regtig in alle eerlikheid slegs deur teoloë, tegnokrate, sosioloë, juriste en selfs antropoloë toereikend beantwoord kon word, om van politici en opvoedkundiges nie eers te praat nie? Sou die antwoord op hierdie retoriese vraag nie moontlik wees dat fatale ellendes om hoeke lê en loer omdat hierdie genoemdes die enigste bevoegverklaarde wesens in die samelewing is wat antwoorde hierop kan en mag verskaf nie? Is die leemte wat hier ontstaan, nie die groot leegte waarin die opgegaarde fatale ellendigheid teregkom nie?

 

Rofweg sou `n mens Ricœur se werk, wat al as `n filosofiese polifonie beskrywe is, in die volgende hoofmomente, wat gesien kan word as die vyf hoofbeginsels van hierdie meerstemmigheid, kon verdeel à l’Herne: getuienis oor sy verhoudinge in institusionele verband, met taalspesialiste (segging), met interpretasie-teoretici (lees/interpreteer), met diegene wat werk op die kwessies van identiteit en persoonwees (self-wees), met teoretici en praktisyns van regverdige handeling (oordeel/handeling). Ons almal praat, lees, soek na onsself, handel en oordeel mekaar. Wat kan dan vir individue, en ook vir groepe, meer relevant wees en nader aan die hart lê as Ricœur se denkwerk? Is dit nie sake wat deeglike en aanhoudende en omvattende nadenke vra nie? Sekerlik is daar verskillende vlakke waarop oor hierdie sake besin kan word. Fatale ellende is net soveel sekerder indien die filosofiese denke, besinning en refleksie nie hier grondliggend bly en erkenning geniet nie. Dit is vir almal relevant. Begryplik dan dat so baie juriste, literatore, antropoloë, historici, teoloë en veel ander Paul Ricœur ernstig opneem. Baie Suid-Afrikaners van wie ek weet, het diep teue uit sy oorvol beker van filosofiese insig gedrink. Enkelvoudige, eenduidige en resepmatige denke kon hulle nie bevredig nie en kan ook nie werklik oor die genoemde sake antwoorde en rigting verskaf nie. Dit is altyd misleidend. Reduksie is terreur, beweer Alain Badiou.


Waar Derrida die ononderhandelbare van die filosofie getematiseer en doelbewus daarvoor gewerk het, is die hele Ricœuriaanse œuvre een groot demonstrasie van presies die noodsaaklikhied van die ononderhandelbare saak van filosofiese denke. Hy benadruk die fataliteit van die groot ignoramus te speel en hierdie onkunde ook te verheerlik. Ons moet onthou dat slimmighede nie die ekwivalent van wysheid is of ooit kan wees nie. Deur die eeue en in alle kulture, lyk dit my, het die wyse mens `n spesiale plek. Die Weste het hom uitgeskuiwe, sy plek gekanselleer, en is in die proses om hom met die slimmes of, by voorkeur, met die kunsmatig intelligentes, te vervang. Hier is nog `n fatale flater waarteen die hele œuvre van Paul Ricœur protesteer, onder meer in sy bespreking van die verhouding tussen poësie, filosofie en taal. Al leef hy nou nie meer sodat enigiemand hom persoonlik kan leer ken nie is sy kosbare, uiters relevante en rykgenuanseerde nalatenskap beskikbaar vir enigeen wat kan (wil?) lees.


Kennis van Ricœur het my `n geloof laat ontwikkel in menslike denkvernuf en die ongelooflike dimensies daarvan. Die opwindendste ervaring is om hierdie ontdekking met ander te deel en te kan aanskou hoe daar lig vir baie opgaan wanneer hierdie potensiaal besef word. Die hartseerste is om te aanskou hoe hierdie grootse menslike vermoë tot sterwens toe versmoor word deur politiekery, swak teoretisering, gemuilbande filosofering en allerlei ander reduksies en dogmatismes.


Kom ons laat die denkers, ons denkers, in hulle werke bly lewe al is hulle dood! Dít is hulle nalatenskap!



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=265
Artikel nagegaan:
    -