|
||||
Christian Delacampagne <> Deur Christian Delacampagne, joernalis, Le Monde< /> Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw
* Hierdie oorsig oor die lewe en werk van die filosoof Paul Ricœur, wat op 20 Mei 2005 in die ouderdom van 92 oorlede is te Châtenay-Malabry, Frankryk, het oorspronklik op 22 Mei 2005 in die dagblad Le Monde verskyn. Die Vrye Afrikaan spreek sy dank uit teenoor Le Monde wat sy toestemming vir die publikasie van hierdie artikel in Afrikaans goedgunstig verleen het, des te meer omdat Ricœur die afgelope twee dekades `n groot invloed op verskeie Afrikaanse teoloë, filosowe en literatore gehad het. Die Vrye Afrikaan salueer dan ook hiermee een van die groot geeste van ons tyd by sy afsterwe.
** Hierdie artikel sal slegs vir een maand elektronies beskikbaar wees op die webwerf van Die Vrye Afrikaan, ofskoon dit ook in ons papierweergawe publiseer word
As intellektueel met uitgebreide kennis van vele terreine het Paul Ricœur die verskeurdheid wat die humanistiese denke in die 20ste eeu gekenmerk het, beliggaam.
Nadat hy op 27 Februarie 1913 te Valence in Frankryk se Drôme-distrik in `n ou Protestantse familie gebore is, verloor Ricœur sy ouers gedurende sy kinderjare. As oorlogswesie word hy deur sy grootouers grootgemaak. Dit is aan sy matriekfilosofieonderwyser, Roland Dalbiez – een van die eerstes wat in Frankryk oor Freud geskryf het – dat Ricœur sy filosofiese roeping te danke had. Hy word op sy beurt filosofieonderwyser nadat hy die ekwivalent van `n honneursgraad met `n skripsie oor “die probleem van God by Lachelier en Lagneau” verwerf het. Nadat hy die filosofieaggregaateksamen afgelê het, word hy in 1939 vir militêre diens opgeroep. Nadat hy in Mei 1940 krygsgevange geneem is, bring hy die grootste deel van die Tweede Wêreldoorlog deur in `n krygsgevangenekamp in Pomeranië. Na die Bevryding in 1945 word hy aangestel aan die Universiteit van Straatsburg, waar hy van 1948 tot 1957 doseer. Tien jaar waaroor hy later in sy outobiografie, Réflexion faite (Besinning gedaan) (Parys: Seuil, 1995) sou skryf wat “die gelukkigste van sy universiteitslewe” sou bly.
In 1957 aanvaar hy die leerstoel in algemene filosofie aan die Sorbonne, waarna hy in 1965 aansluit by die jong fakulteit van lettere van die Universiteit van Nanterre, en waarvan hy in 1969 die dekaan word. Terwyl hy sy administratiewe verpligtinge moedig nakom, beleef Ricœur, wat reeds deur die werkers- en studenteopstande van Mei 1968 geskok is, die eerste maande van 1970 as baie moeilik: die Nanterrekampus is uitgelewer aan die agitasies van allerlei gewelddadige faksies. As slagoffer van onregverdige aanvalle en selfs aanrandings, en ontnugter deur die onbegrip van die regering asook deur die onmoontlikheid om die strukture van die Franse hoër onderwys te moderniseer, bedank hy uiteindelik in 1970 uit sy pos as dekaan. Hy wyk vir drie jaar uit na die Franse Katolieke Universiteit van Leuven voordat hy na Nanterre terugkeer waar hy opnuut doseer tot met sy aftrede in 1981.
Laasgenoemde stel hom in staat om hom sterker toe te lê op sy tweede loopbaan in die Verenigde State, by name aan die Universiteit van Chicago waarheen hy elke winter van die begin van die 1970’s uitgenooi word. Daarbenewens gaan hy tot aan die einde van sy lewe voort om `n beduidende deel van sy tyd af te staan aan die Revue de métaphysique et de morale (waarvan hy redakteur was) asook aan die Internasionale Filosofie-instituut, en om uitnodigings van universiteite van oor die hele wêreld te aanvaar. Meer as dertig van hierdie uitnodigings was vir die toekenning van eredoktorsgrade.
As humanis met uitgebreide kennis, ewe bedag op die letterkunde as die geesteswetenskappe (soos wat die tekste byeengebring in die drie bande van sy Lectures [Lesings] uitgegee deur Seuil getuig), as reisiger wat vir sowel die Anglo-Saksiese as die Duitse kultuur oop is, is Paul Ricœur `n man wat moeilik in `n skool of `n presiese stroming omsluit word. Die Christendom, die fenomenologie, die hermeneutiek, die psigoanalise, die linguistiek en die geskiedenis het almal in wisselende grade tot die vorming van sy denke bygedra. Maar as sy denke oorsigtelik beskou tot die invloedsfeer van die Christelike eksistensialisme en die personalisme behoort, word dit nietemin nie maklik tot `n stelsel verskraal nie.
Die eerste invloede op Paul Ricœur was dié van Emmanuel Mounier (1905 – 1950) en Gabriel Marcel (1899 – 1973). Vanuit sy begronding in Mounier (1932) word hy `n ywerige leser van die tydskrif Esprit, waartoe hy na die Tweede Wêreldoorlog gereeld bydra. Maar dit is eerstens by Marcel wat Ricœur die model ontdek van `n filosofiese besinning wat `n sentrale plek toeken aan die religieuse vraag sonder om daarmee konseptuele noukeurigheid op te gee. Dit is ook danksy Marcel dat hy vanaf 1934 ingewy word in die fenomenologie, en in die besonder in die werk van Edmund Husserl, van wie hy tydens sy jare van krygsgevangenskap die eerste band vertaal van sy Idées directrices pour une phénoménologie pure (Rigtinggewende idees vir `n suiwere fenomenlogie) (Parys: Gallimard, 1950). Eweneens is die werk van Karl Jaspers (1883 – 1969) belangrik, en wy hy dan ook sy eerste boek aan Jaspers met 1947 se Karl Jaspers et la philosophie de l’existence (Karl Jaspers en die eksistensiefilosofie) (Parys: Seuil), wat hy skryf in samewerking met Mikel Dufrenne.
Daarna, ten einde sy doktorsgraad te verwerf, maar ook om `n antwoord te gee wat die vereiste van die fenomenologiese metode waardig is op sy besorgdheid as Christen wat begaan is oor die tema van die fout, onderneem Ricœur `n omvattende Philosophie de la volonté (Filosofie van die wil) waarvan die eerste band (Le Volontaire et l’Involontaire) (Die willekeurige en die onwillekeurige) in 1949 verskyn. Die twee opvolgende bande (L’Homme faillible [Die feilbare mens]; La Symbolique du mal [Die simboliek van die bose]) word uiteindelik in een band uitgegee as Finitude et culpabilité (Eindigheid en skuld) (Parys: Aubier, 1960).
Ricœur vertrek in hierdie drie bande vanuit klassieke vrae soos: hoe kan ons die bose wil?, wat is kwade trou?, wat is die betekenis van `n onwillekeurige daad? Dit lei hom geleidelik daartoe om agter die oppervlakkige laag van die bewussyn die dieptes van die individuele onbewuste en dié van die simboliese heelal te verken in die terme waarmee die groot religieë hulle inspan om die probleem van die bose te bedink. Dit is dan hoe hy gelyktydig die psigoanalise en die hermeneutiek teëkom.
Destyds was hierdie twee dissiplines van Duitse oorsprong in Frankryk onbekend. Vanaf Friedrich Schleiermacher (1768 – 1834) via talle Protestantse teoloë tot met Hans-Georg Gadamer (1900 – 2002) span die hermeneutiek hom in om die werktuie van Bybelse eksegese toe te pas op die morele filosofie. Die psigoanalise bevraagteken die klassieke cogito weer langs ander weë. Uit beide hierdie tradisies, asook die werk van sy vriend Mircea Eliade, behou Ricœur die idee dat die menslike werklikheid allereers gekonstitueer word deur simbole waarvan die ontsyfering in der waarheid nooit voltooid is nie. En dit is hierdie intuïsie wat hy ontwikkel in sy twee volgende boeke, wat nie baie goed begryp word met hul verskyning nie: De l’interprétation, essai sur Freud (Oor interpretasie, opstel oor Freud) (Parys: Seuil, 1965) en Le Conflit des interprétations, essais d’herméneutique (Die botsing van interpretasies, opstelle in hermeneutiek) (Parys: Seuil, 1970).
Met die vraag van die simbolisme raak Ricœur - wat nie onkundig is oor die werk van die psigoanalis Lacan nie, maar nie geraak word deur die antihumanistiese inslag van die strukturalisme nie – reeds aan die probleem van taal. Dit kos egter die gewig van `n politieke ontnugtering wat verband hou met die hindernisse wat hy as dekaan teëgekom het, om die filosoof, wat nou gedeeltelik na die Verenigde State uitgewyk het, meer aan die studie van die taalwetenskappe te laat toewy.
Hierdie “wending” wat hy geleidelik in die 1970’s deurloop het, stel hom in staat om een van die eerste Franse te wees wat `n gesprek aanknoop met die analitiese filosofie wat in daardie stadium die Anglo-Saksiese wêreld oorheers, veral met die “filosofie van gewone taal” ingelei deur John L. Austin en voortgesit deur John R. Searle. Dit loop uit op twee belangrike werke: Le Métaphore vive (Die lewende metafoor) (Parys: Seuil, 1975) en Temps et récit (Tyd en verhaal) (drie bande, Parys: Seuil, 1983 – 1985). Waar die eerste van die twee werke die metafoor beskou uit die hoek van die skepping van betekenis en die verryking van die literêre teks wat daaruit voortspruit, oorskry Temps et récit die linguistiese ontleding ver. Anderkant die besinning oor die geskrifte van die verlede wat hier ontplooi word, is dit die vraag oor historiese kennis self, sy status en sy bydrae tot die waarheid wat hier aan die orde gestel word.
`n Geskiedkundige werk betrek natuurlik altyd die kategorie van die verhaal, selfs as sy skrywer – soos Fernand Braudel – van voorneme is om gebeurtenisgeskiedenis aan te val en te vervang deur “die lange duur”. Maar hierdie verhaal is nie `n narratiewe vorm soos ander nie. Buiten die “intrigestelling” wat die geskiedkundige beoefen om die verlede te laat herleef, is dit oor ons werklikheid dat hy met ons praat. Die verlede behoort in der waarheid slegs aan ons in die mate waarin ons daaraan behoort en waarin ons teenswoordige handeling ingeskryf is in die deurlopendheid van `n geheue. Kortom, die verlede behoort aan ons in die mate waarin, vir individue sowel as volkere, identiteit nie `n gegewe is nie, maar `n onbepaalde konstruksie waarvan die tyd die enigste moontlike medium is.
Enkele jare later waag Ricœur hom aan `n moeilike boek - Soi-même comme un autre (Ekself as ander) (Parys: Seuil, 1990) – in `n heldhaftige poging om die idee te red van `n universele filosofie wat in staat is om al die aspekte van menslike optrede te omvat. Die semantiese en pragmatiese ontleding van die begrip van die “subjek” en die skets van `n ontologie van die “persoon” (of van `n “hermeneutiek van die self”) wat hierdie werk aanbied, meld homself in feite aan in diens van `n etiek waarvan die omskrywing vir Ricœur `n eis van die praktiese rede bly. Die filosofie moet haar inspan om hierdie eis te vervul sonder om daarmee haar onafhanklikheid met betrekking tot haar eie geloof of enige teologiese of politieke ideologie prys te gee. Dit is `n veeleisende taak waarvan die moeilikhede goed blootgelê word in Ricœur se laaste studies, gewy aan John Rawls (1921 – 2002) en Hannah Arendt (1906 – 1975), en byeengebring in Le Juste (Die regverdige) (Parys: Editions Esprit, 1995).
So blyk dit dan dat die studie van taal in plaas daarvan dat dit `n doel in sigself was, vir die skrywer van Temps et récit net nog `n manier was om die vrae te vra wat al lank by hom spook: dié van die syn en handeling. As nostalgies vir `n ideologie wat Nietzsche egter skyn te diskwalifiseer het, as aspirant om in die etiese rede die reëls van `n “goeie” lewe te vind, as man wat voortdurend sorgsaam met sy era omgegaan het selfs al het hy alle betrokkenheid vermy, het Paul Ricœur die verskeurdheid van die humanistiese denke vanaf die begin van die 20ste eeu tot met sy uiterste gevolge beliggaam.
Hierdie tragiese outentisiteit wat sy lang intellektuele baan van begin tot einde verlig, maak ook van sy werk `n voorbeeldige getuienis van die “krisis” van ons moderniteit. En dit is ongetwyfeld sy waarde as “getuienis” wat verklaar waarom hierdie werk, nadat dit soos dié van sy vriend Emmanuel Levinas onbekend in die Franse wêreld was sedert die middel van die 1980’s, `n besonder lewendige belangstelling in Frankryk en die res van die wêreld gaande maak.
|