|
|||
Lawrie Schlemmer Deur Lawrie Schlemmer, politieke sosioloog en redaksionele raadslid van Die Vrye Afrikaan
Oor die afgelope dekades kon die volke en gemeenskappe van die wêreld hulself met die verleidelike maar misleidende gedagte troos dat massiewe internasionale streeksdominasie nie meer kan bestaan nie. Die Romeinse, die Ottomaanse, die Oostenryks-Hongaarse, die Britse, die Napoleontiese, die Duitse en die Sowjet-ryke is tog almal tot die geskiedenisboeke verban deur `n wereld wat die duurste lesse geleer het. Of het hy?
Daar is `n nuwe magsgedrog aan die opmars. Dié keer is dit egter vermom met die belofte van samewerking, rasionele oplossings en `n menigte ander goeie bedoelings, met die beskerming van basiese menseregte, “bestepraktyk” beleid, “subsidiariteit”, magsteenwigte, ekonomiese doeltreffendheid, gewillige samewerking tussen volke en die rustige gemurmel van dienswillige burokrate in hul geliefkoosde restaurante in `n baie ryk super-hoofstad. Tot baie onlangs was hierdie die gevleuelde antwoord waarop die wêreld gewag het.
Die Europese Unie was die toonbeeld van wat bereik kon word - streeksintegrasie met behoud van deelstaatoutonomie en `n oorkoepelende regstaat, ter wille van stabiliteit, internasionale veiligheid, onderlinge hulpverlening, ekonomiese sinergie en alles wat goed is. So voorbeeldig was dit dat ons eie president Mbeki en sy ambisieuse kollegas in Wes-Afrika aan dieselfde ideaal begin droom het vir die hele Afrika. Hoe ver agter is Suid-Amerika en ander wêrelddele?
Maar nou is die droom skielik verpletter deur die stroom-op, en volgens baie superpolitici, ondankbare gewone burgers van Frankryk en Nederland wat die nuwe Europese Grondwetlike Verdrag (EGV) van die Unie in referenda met massiewe meerderhede afgewys het. Tony Blair van Britanje het net betyds die skrif op sy muur gesien en die Britse referendum uitgestel. Europa moet terug na die tekenbord.
Maar hoe kan die Europese Unie (EU) `n gevaarlike magsgedrog wees? Watter gifpil sien die gewone mense raak? Die antwoord lê in die heel gewone en welbekende betowering van groot, gladwerkende “speeldinge met enjins”. Gee EU kommisarisse en hul senior burokrate in Brussel, magshefbome, die permissie van die oorblufte Eurpopese kiesers en die verskoning dat hulle taak altyd regverdig en opbouend is, dan sal hulle met die hefbome begin speel, en aanhou speel todat iemand of iets die speelding kom opfoeter. Die Nederlandse en Franse kiesers kon nie die burokratiese Brusselmasjien opfoeter nie, maar hulle het darem `n handjievol sand in sy olie gegooi.
Die groot partyleiers in albei lande was onkant gevang en het gemaak of hulle verbaas is met hulle eie volke se reaksies. Hulle is óf baie goeie akteurs óf hulle het `n baie kort geheue. Ronald Veerman wys in die jongste Nederlandse Post (Junie/Julie 2005) daarop dat die Europese kiesers al lank waarsku. `n Meerderheid Dene het “nee” gestem vir die euro en die Franse het dit met `n skramse 51% goedgekeur – meeste ander lande het nie die kans gewaag on hulle eie mense inspraak te gee nie.
Die ironie is dat die nuwe EGV wel die EU doeltreffender sou gemaak het, maar juis hierdie einste doetreffendheid kon miskien die heroïese reus van die EU burokrasie nog gretiger gemaak het om met sy magshefbome te speel. Die kiesers het verskeie redes vir hulle afkeur gehad, maar onderliggend aan die meeste gesindhede is die probleem van politieke vervreemding.
`n Sterk ondersteuner van die nuwe verdrag, die Nederlandse Minister van Buitelandse Sake, dr. Bernard Bot, het self oor die gevaar van vervreemding gewaarsku in `n veelbesproke toespraak by die Humboldt Universiteit in Berlyn in Junie 2004. Onder meer het hy destyds verwys na: “Een gevoel van onbehagen over wat zij (gewone Nederlanders) zien als een dreigend verlies van hun nationale identiteit, over een Europese Unie die steeds directer in het dagelijks leven ingrijpt, zonder dat men precies begrijpt hoe de besluiten tot stand komen en zonder dat men het gevoel heeft daar enige invloed op te kunnen uitoefenen...Veel mensen... missen een gevoel van verbondenheid. Zij merken dat het klassieke maatschappelijke contract met hun nationale overheden wordt uitgehold door de overheveling van bevoegdheden naar de Europese Unie”. Bot praat verder van `n “ ... arrogantie van de macht (en) overmatige bemoeienis en regelgeving vanuit Brussel”. Hy vergelyk die EU met “ ... een ander federaal systeem, de Verenigde Staten, (waar) ... het Supreme Court scherp op de rechten van de individuele staten vis-a-vis de federale overheid let”.
Met sodanige insigte moes die Nederlandse koalisieregering nie verbaas gewees het met die terugslag van die peiling nie.
Die dominasie wat die brutale imperialistiese heerskappye van vroeër kan vervang is dus in een sin baie gevaarliker. Omdat dit besorg, rasioneel en vol goeie bedoelings is, word mense vir lang tydperke gerusgestel, gepaai en verlei, totdat hulle op `n dag besef dat hulle onteien is van hulle eie gemeenskapsterrein. Dan, half verstrengel in burokratiese rompslomp en met hul selfvertroue deur beterwetende burokrate met doktorsgrade in `n verre super-hoofstad ondermyn, moet hulle begin terugveg.
Die Europese Unie is waarskynlik nou tot besinning gedwing. Maar wat gebeur met mense in die verre uithoeke van die wêreld wat veel meer kwesbaar is vir “sagte” sentrale dominasie? Soos hier by ons in Suid-Afrika waar ons die ou munisipaliteite met hul leefbare grootte en verantwoordbaarheid moes opoffer vir “Unicities” en massiewe derdevlakstreeksregerings, ter wille van “doeltreffender” dienslewering en die arrogansie om plekname te wil verander sonder ordentlike raadpleging. Sal ons regering die onlange proteste en opmarse oor swak dienste as ons weergawe van `n referendum sien? Met leiers wat al te graag alle magte wil opwentel na hoogtes van vervreemding, twyfel ek sterk.
Wie moet ons blameer? Dit is nie meer die “kommuniste” nie, ook nie die imperialistiese Engelse nie. Uiteindelik moet ons die universiteite daarmee takseer, omdat hulle, sonder enige nederigheid of blootstelling aan praktiese werklikhede, al die modelle in “governance”, “policy studies” en rasionele bestuur ontwikkel het waarbinne die nuwe burokrate hulle verlustig. Ons word nie meer op brandstapels verbrand of met swaarde onthoof nie, maar soms word ons deur goeie bedoelings versmoor.
|