blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Na die "nee" in Europa: 'n Europese perspektief - Lank lewe ordentlike politiek! 2005-07-01
Slavoj Zizek

<>

Deur Slavoj Zizek, filosoof en navorser aan die Universiteit van Ljoebljana, Slowenië. Uit sy pen het onlangs verskyn Que veut l’Europe? (Parys: Climats, 2004) en Lacrimae Rerum (Parys: Editions Amsterdam, 2005)<>


*Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in The Guardian van 4 Junie 2005. Die Vrye Afrikaan bedank graag The Guardian vir sy goedgunstige toestemming om hierdie artikel in Afrikaans te publiseer.


Soos Amish-tieners is Europa se kiesers nie werklik `n vrye keuse gegun nie. Wat eerder gebeur het, is dat hulle moes kies soos voorgeskryf of die risiko loop om as onvolwasse en irrasioneel uitgekryt te word.


Amish-gemeenskappe beoefen die instelling van rumspringa. Op 17 word hulle kinders, tot dan toe onderworpe aan streng gesinsdissipline, vrygestel. Hulle word toegelaat en selfs aangemoedig om uit te gaan en die weë van die moderne wêreld te beleef – hulle bestuur motors, luister na popmusiek, kyk TV en raak betrokke by drank, dwelms en wilde seks. Nà `n paar jaar word van hulle verwag om te besluit: sal hulle terugkeer om volle lede van die Amish-gemeenskap te word, of dit vir altyd verlaat en gewone Amerikaanse burgers word?


Maar verre daarvan om permissief te wees en aan die jongelinge `n ware vrye keuse te gee, is so `n oplossing op die mees brutale wyse vooringenome. Dit is `n valse keuse as daar ooit een was. Wanneer die adolessente Amish na lang jare van dissipline en fantasering oor die verbode plesiere van die buitewêreld daarin gegooi word, kan hulle dit natuurlik nie verhelp om hulle aan uiterste gedrag oor te gee nie. Hulle wil dit alles beproef – seks, dwelms en drank. En aangesien hulle geen ervaring van die regulering van sodanige lewe het nie, beland hulle gou in die moeilikheid. Daar is `n weerslag wat ondraaglike angs genereer, sodat dit `n veilige raaiskoot is dat hulle nà `n paar jaar na die veilige afsondering van hulle gemeenskap sal terugkeer. Geen wonder dat 90% van Amish-kinders juis dit doen nie.


Dit is `n perfekte voorbeeld van die moeilikhede wat altyd die idee van `n “vrye keuse” vergesel. Terwyl die Amish-adolessente formeel `n vrye keuse gegee word, maak die toestande waarin hulle hulself ten tye van die keuse bevind die keuse self onvry. Ten einde te verseker dat hulle effektief `n vrye keuse het, sal hulle deeglik oor al die opsies ingelig moet word. Maar die enigste manier om dit te doen, sou wees om hulle uit hul verankerdheid in die Amish-gemeenskap te verwyder.


Nou wat het al hierdie dinge te make met die Franse “nee” vir die Europese Grondwetlike Verdrag (EGV), waarvan die naskokke nou alom versprei, en onmiddellik `n hupstoot gegee het aan die Nederlanders, wat die EGV met `n selfs hoër persentasie as die Franse verwerp het? Alles. Die kiesers is presies soos die Amish-jongelinge behandel: hulle is nie `n duidelike simmetriese keuse gegee nie. Die presiese terme van die keuse het die “ja”-drukgroep begunstig. Die elite het aan die mense `n keuse gebied wat effektief geen keuse was nie. Mense is opgeroep om die onafwendbare te bekragtig. Sowel die media as die politieke elite het die keuse voorgestel as een tussen kennis en onkunde, tussen kundigheid en ideologie, tussen post-politieke administrasie en die ou politieke passies van die linker- en regterkant.


Die “nee” is van die hand gewys as `n kortsigtige reaksie, onbewus van sy eie gevolge. Dit is aangekla as `n troebel vreesreaksie op die opkomende nuwe globale orde, `n instink om die gemaklike welsynstaattradisies te beskerm, `n gebaar van afwysing wat mank gegaan het aan enige positiewe alternatiewe program. Geen wonder dat die enigste politieke partye wie se amptelike standpunt “nee” was, dié op teenoorgestelde uiterstes van die politieke spektrum is nie. Ons word verder vertel dat die “nee” in werklikheid `n “nee” vir talle ander dinge was: vir Anglo-Saksiese neoliberalisme, vir die huidige regering, vir die invloei van immigrantewerkers, en so meer.


`n Veroordeling van die politieke en media-elite


Maar selfs al steek daar `n element van waarheid in al hierdie stellings, is die juiste feit dat die “nee” in beide lande nie deur `n samehangende politieke visie gedra is nie die sterkste moontlike veroordeling van die politieke en media-elite. Dit is `n monument vir hulle onvermoë om die mense se verlangens en ontevredenhede te verwoord. In plaas daarvan het hulle in hul reaksie op die “nee”-uitslae die mense behandel soos vertraagde leerlinge wat nie die lesse van die kenners verstaan het nie.


Ofskoon die keuse dus nie `n keuse tussen twee politieke opsies was nie, was dit ook nie `n keuse tussen `n verligte visie van `n moderne Europa gereed om die nuwe globale orde te omhels en ou, verwarde politieke passies nie. Wanneer kommentators die “nee” as `n boodskap van benewelde vrees beskryf, is hulle verkeerd. Die eintlike vrees waarmee ons te doen het, is die vrees wat die “nee” binne die nuwe Europese politieke elite ontketen het. Dit is die vrees dat die mense nie langer so maklik van hulle “post-politieke” visie oortuig sal word nie.


En daarom is die “nee” vir alle ander `n boodskap en uitdrukking van hoop. Dit is die hoop dat politiek steeds lewend en moontlik is, dat die debat oor wat die nuwe Europa sal en moet wees, steeds oop is. Dit is waarom ons aan die linkerkant die snedige insinuasies van die liberale, naamlik dat ons ons met ons “nee” in die geselskap van vreemde neofascistiese bedmaats bevind, moet ignoreer. Wat die nuwe populistiese regterkant en die linkerkant gemeen het, is slegs een ding: die bewustheid dat politiek self nog lewendig is.


Daar was `n positiewe keuse in die “nee”: die keuse van keuse self; die verwerping van die afpersing van die nuwe elite wat ons slegs die keuse bied om te konformeer met hulle kennerskennis, of so nie ons “irrasionele” onvolwassenheid te vertoon. Ons “nee” is `n positiewe besluit om te begin met `n ordentlike politieke debat oor die soort Europa wat ons regtig wil hê.


Laat in sy lewe het Freud die beroemde vraag gevra, “Was will das Weib?”, en sy verbluftheid met die enigma van vroulike seksualiteit erken. Getuig die deurmerkaarspul met die EGV nie van dieselfde verwarring nie: watter Europa wil ons hê?


Om dit onomwonde te stel: wil ons leef in `n wêreld waarin die enigste keuse dié tussen die Amerikaanse beskawing en die opkomende Sjinese outoritêr-kapitalistiese is? As die antwoord “nee” is, is Europa die enigste alternatief. Die Derde Wêreld kan nie sterk genoeg weerstand teen die ideologie van die Amerikaanse Droom genereer nie. In die huidige wêreldkonstellasie is dit slegs Europa wat dit kan doen. Die ware opposisie vandag is nie tussen die Eerste en die Derde Wêreld nie. Dit is eerder tussen die Eerste en Derde Wêreld (oftewel die Amerikaanse globale imperium en sy kolonies), en die Tweede Wêreld (oftewel Europa).


Na aanleiding van Freud het Theodor Adorno beweer dat wat ons in die eietydse wêreld met sy “onderdrukkende desublimasie” sien nie meer die ou logika van die onderdrukking van die id en sy drange is nie, maar `n perverse pakt tussen die superego (maatskaplike gesag) en die id (verbode aggressiewe drange) ten koste van die ego. Is iets struktureel soortgelyk nie vandag aan die gang op die politieke vlak nie?: die eienaardige pakt tussen postmoderne globale kapitalisme en die premoderne samelewings ten koste van moderniteit self. Dit is maklik vir die Amerikaanse multikulturalistiese globale imperium om premoderne plaaslike tradisies te integreer. Die vreemde liggaam wat dit nie doeltreffend kan assimileer nie, is Europese moderniteit.


Die boodskap van die “nee” vir almal van ons wat vir Europa omgee, is “nee: anonieme kennis waarvan die ware in ’n helderkleurige liberaal-multikulturalistiese pakket aan ons verkoop word, sal ons nie weerhou daarvan om te dink nie”. Dit is tyd vir ons, burgers van Europa, om bewus daarvan te word dat ons `n ordentlike politieke keuse moet maak oor wat ons wil hê. Geen verligte administrateur sal die werk vir ons doen nie.





 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=262
Artikel nagegaan:
    -