blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Na die “nee” in Europa: `n Franse perspektief 2005-07-01
Alain de Benoist


Deur Alain de Benoist, politieke filosoof, redakteur van die tydskrif Éléments en die skrywer van tientalle boeke, waarvan Au-delà des droits de l’homme : pour défendre les libertés (Parys: Krisis, 2004) die jongste is

Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw


Die stem waarmee die Franse die projek van die Europese Grondwetlike Verdrag (EGV) wat per referendum aan hulle voorgelê is op massiewe skaal verwerp het, is ooglopend `n historiese stem. Maar dit is nie slegs deur sy uitslag histories nie: 55% “nee” vir `n deurmekaar teks waarin `n mens terselfdertyd positiewe maar ook en veral algemeen onaanvaarbare rigtings kan vind. Die stem is dit des te meer omdat dit opnuut op verwoestende wyse die gaping wat die mense skei van die media-politieke klas en sy gewaande “verteenwoordigers” aan die lig gebring het.


Op die 28ste Februarie vanjaar het die Franse parlementslede en senatore saam te Versailles die EGV met 91,7% in aanloop tot die bekragtiging van die verdrag aanvaar. Ingeval die teks in Frankryk slegs aan `n parlementêre stem voorgelê is – soos dit die geval was in Italië, Duitsland en Oostenryk – sou die teks dus met `n stem van meer as 90% aanvaar gewees het. Maar dit is deur 55% van die kiesers verwerp, met `n stempersentasie van 70% en `n gaping van 2,5 miljoen kiesers tussen die “nee” en die “ja”. 90% aan die een kant, 55% aan die ander kant: die eenvoudige newestelling van hierdie syfers wys dat nasionale verteenwoordiging niks meer verteenwoordig nie.


Al die groot “regeringspartye”, beginnende by die Sosialiste Party en Jacques Chirac se Presidensiële Uniebeweging (UMP) het hulle in werklikheid ten gunste van die “ja” verklaar. Dieselfde het die groot dagblaaie gegeld, die groot weekblaaie, die groot TV-kanale en radiostasies, die groot rubriekskrywers – kortom, diegene wat in Frankryk beveel, vol is van hulself, moraliseer en voorgee dat hulle in die naam van die openbare mening praat. Tog het die “nee” gewen. So meet ons die gaping tussen die bekommernisse van die burgers en die reaksies van die oligargie wat die mag het.


By hierdie kontras tussen die mense en die elites kom nog die gaping wat die kiesers van die partyleiers skei. Dit is besonder duidelik aan die linkerkant. Die Sosialiste Party, wie se leierskap hulle ten gunste van die “nee” uitgespreek het, is op groot skaal deur sy kiesers afgewys (55% “nee”). Dieselfde het die Groenes gegeld (62% “nee”), wat nou al etlike jare volhou met `n teennatuurlike bondgenootskap met die Sosialiste, en `n onhoorbare, onoortuigde veldtog vir die “ja” gevoer het.


Die sekretaris-generaal van die Sosialiste Party, François Hollande, reeds bekend vir sy gebrek aan charisma en gesag, het `n persoonlike neerlaag gely wat sy posisie bedreig. Hy bevind hom opnuut aan die hoof van `n verskeurde party in totale wanorde, waar die skok van ambisies die pas meer as ooit bo die konfrontasie van idees gaan aangee, en wat die presidentsverkiesing van April 2007 in die swakste moontlike posisie gaan betree, sonder `n duidelike politieke lyn of `n onbetwiste leier.


Die referendum vertaal in werklikheid wat die sentris François Bayrou `n “ernstige Franse krisis” noem - `n krisis wat nie deur die stemming geskep is nie, maar wat die stemming skerp aan die lig gebring het.


Die breuk is nie slegs polities nie, maar ook sosiologies. `n Ontleding van die stemming wys dat 60% van die jeug, 80% van die werkers en 60% van die werknemers “nee” gestem het. Maar ook, anders as in die geval van die referendum vir die Maastricht-verdrag, dat dit die meerderheid van salaristrekkers gegeld het, waarvan 56% van die gemiddelde verdieners in 1992 38% “nee” gestem het. Die “ja” was oplaas slegs in die meerderheid in die hoë burgerlike stand, by die hoogste verdieners, die onaktiewes en die pensioenarisse. Hierdie oorhelling van `n beduidende gedeelte van die middelklas na die “nee”-kamp is `n nuwe verskynsel.


Wat die links-regs-verdeling betref, blyk dit nogmaals volkome agterhaal te wees, omdat daar aan sowel die linker- as die regterkant “ja” en “nee” was. Die voorstanders van die “ja” het deur hulle afwysing van die uiteenlopende steun van die “nee” dit bowendien laat klink of die “ja” van die regse oud-president Valéry Giscard d’Estaing of die huidige ster van Chirac se regse party Nicolas Sarkozy pasbaar was met dié van François Hollande of die voormalige Sosialistiese premier, Lionel Jospin. Hulle wou wys dat die links-regs-verdeling nie meer bestaan nie, sodat dit nie anders vertolk kon word nie!


Maar die merkwaardigste van alles die dag na die stemming was om te konstateer dat die media-politieke klas, wat aanvanklik geglo het dat die “ja”-stem `n voldonge feit was, oënskynlik niks uit sy verwerping geleer het nie. In plaas daarvan om selfkritiek te beoefen, had dit bloot bittere berou dat dit `n referendum verkies het. Oftewel dat dit regstreekse demokrasie beoefen het deur `n stem aan die mense te gee. Die gevolgtrekking wat dié elite duidelik maak, is ooglopend dat die mense, wie se “onvoorspelbare” gedrag altyd gevrees moet word, so selde as moontlik `n stem gegee moet word.


Dieselfde geld Jacques Chirac wat, nadat hy op kragdadige wyse persoonlik betrokke geraak het by die “ja”-veldtog op die gevaar af dat hy sy politieke teenstanders gelyk sou gee in hulle “nee”-keuse, hom geroepe gevoel het om `n “nuwe impetus” te verklaar, oftewel die aanwysing van `n nuwe premier, terwyl hy `n ongelooflike persoonlike afjak gegee is en sy gewildheid in vrye val is, soos dit die geval is met premier Silvio Berlusconi van Italië, premier Tony Blair van Brittanje en kanselier Gerhard Schröder van Duitsland.


`n Mens verstaan dat onder die voorstanders van die “nee” die verregse leier Philippe de Villiers, wat gevra het om `n algemene verkiesing, nie die geleentheid misgeloop het nie om die gevierde woorde van Bertold Brecht aan te haal, wat ironies opgemerk het dat in geval van `n totale skeiding tussen die mense en die regering daar slegs twee oplossings is: verander die regering of verander die mense!


Soos die sosioloog Jean Baudrillard geskryf het, dui dit alles op “die mislukking van die beginsel van verteenwoordiging self in die mate waarin die verteenwoordigende instellings glad nie meer in `n demokratiese sin funksioneer nie, dit wil sê vanaf die mense en die burgers na mag, maar presies andersom, vanaf mag na benede.”


Nietemin het `n debat rondom die EGV plaasgevind. Dit was vir die eerste keer in `n lang ruk `n ware debat waarin inligting wat oor die Internet versprei is, `n voorbeeldige rol van `n kontra-mag gespeel het. Meer as een miljoen boeke oor die EGV is in die weke voor die stemming verkoop, wat iets van die omvang daarvan weerspieël.


Op die 29ste Mei het die Franse nasie `n stem met die aanskyn van `n demokratiese opstand uitgebring. Deur haar reg tot selfbeskikking uit te oefen, het sy sowel haar pessimisme as haar woede uitgedruk. Sy het haar nie teen Europa uitgedruk nie, maar teen die huidige rigting van die Europese konstruksie. In talle van die gevalle was haar “nee” `n “pro-Europese nee”, soos die Sosialis Jean-Luc Mélanchon opgemerk het. `n “Nee” vir wat al jare lank as die “Goeie Ryk” voorgestel word, `n “nee” vir `n tegnokratiese Europa en liberale globalisering – wat haar nie sal verhoed om môre “ja” te sê vir `n ander Europa nie.


Die laaste en gewis nie die minste les van die stem nie, is dat die omvattende oorwinning van die “nee” slegs moontlik was weens die samevoeging van die “regse nee” en die “linkse nee”, want nie een van die twee sou die oorwinning op sy eie behaal het nie. `n Stelling om te oordink.





 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=260
Artikel nagegaan:
    -