blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


`n Groeiende gaping tussen die swart elite en die swart massa?: Elites en politieke en ekonomiese verandering in Suid-Afrika sedert die Anglo-Boereoorlog 2005-07-01
Moeletsi Mbeki


`n Groeiende gaping tussen die swart elite en die swart massa?: Elites en politieke en ekonomiese verandering in Suid-Afrika sedert die Anglo-Boereoorlog

Deur Moeletsi Mbeki, politieke ekonoom


Wanneer daar vandag in Suid-Afrika oor die “gaping tussen die swart elite en die swart massa” gepraat word, is die onderliggende aanname dikwels dat 1994 `n radikale historiese breuk gebring het. Ofskoon daar sprake was van `n radikale simboliese breuk met die Suid-Afrika van voor 1994, is die feit van die saak dat Suid-Afrika steeds onderlê word deur dieselfde strukture wat meer as `n eeu gelede deur die Britte opgerig is, soos Mbeki hier aantoon. Daar kan `n saak voor uitgemaak word dat hierdie strukture – by name die koloniale staat – uiteindelik ook tot die ondergang van Afrikaner-nasionalisme gelei het, net soos wat Afro-nasionalisme tans nie werklik daarin slaag om die gaping tussen elite en massa te oorbrug nie. Vir post-nasionale Afrikaners is hierdie kwessies van die grootste belang, want dit is uiteindelik hulle wat saam met Afrikane na `n demokratiese Suid-Afrika anderkant die herhalende siklus van nasionalismes sal moet soek na `n land waar die gaping oorbrug word – Johann Rossouw, redakteur



Toe die Britte uiteindelik al die onafhanklike gemeenskappe in Suid-Afrika verower het deur die Boerepublieke in 1901 te vermorsel, het hulle vrye toegang tot die land se minerale bronne en in die besonder die goudneerslae van die Transvaal verkry.


Die Britte het egter gou besef dat hulle met `n tameletjie sit aangesien die oorwinning oor die Boere nie aan hulle toegang verleen het tot die omvangryke goedkoop arbeid wat hulle benodig het om die goudneerslae mee te myn nie. Ten einde die massiewe belegging wat hulle in die stryd teen die Boere gemaak het gou voor die volgende uitbarsting terug te wen, het die Britte arbeiders uit Sjina ingevoer wel wetende dat dit `n korttermynoplossing was, aangesien sowel wit as swart Suid-Afrikaners hierdie invoere binnekort sou weerstaan.


Die langtermynoplossing was om landelike Afrikane in Suid- en Suider-Afrika te mobiliseer as arbeid vir die myne, landbou en die ontwikkeling van vervoerinfrastruktuur.


In die aangesig van hierdie uitdaging het die Britte die South African Native Affairs Commission in 1903 opgerig, wat Suider-Afrika vir bykans twee jaar deurkruis het om potensiële bedreigings vir hulle nuwe kolonie deur Afrikane sowel as moontlikhede vir arbeidsbronne te ondersoek. So is Wenela en die NRC (??) (later Teba??) enersyds gebore, en andersyds hoofbelasting, hutbelasting en uiteindelik die Native Land Act en die Bantoestans wat almal uiteindelik tot die ondergang van Kaapse (en Natalse) liberalisme gelei het.


In die vyf kort jare vanaf die ondertekening van die Vrede van Vereeniging in 1902 tot die oprigting van Verantwoordelike Regering in die Transvaal- en Oranjerivierkolonies in 1907 het die Britte Suid-Afrika geplaas op `n politieke, ekonomiese en maatskaplike trajek wat tot vandag feitlik ongeskonde oorleef. Hoe het dit gebeur?


Suid-Afrika se elites


Die strategieë wat die Britte vanaf 1902 tot 1907 ingestel het om vir `n honderd jaar lank na hulle belange in Suid-Afrika om te sien, was natuurlik nie `n geniale set nie. Dit was eerder die gevolg van ervaring van meer as `n eeu se regering in Suid-Afrika sedert hulle die eerste maal die Kaap by die Nederlanders oorgeneem het in 1795.


Aan die begin van die 20ste eeu na die Anglo-Boereoorlog het Suid-Afrika drie elites gehad, naamlik die Afrikaner-elite, die Afrikaan-elite en die Engelse kommersiële elite. In die jare wat hulle in Suid-Afrika regeer het, het die Britte lankal besef dat hulle nie die sake van die land sonder die deelname van hierdie elites kon bestuur nie. Wat belangrik was omtrent hierdie elites, is dat hulle almal die skepping van die kapitalistiese stelsel was en dus gereken het dat hulle belange gedien word deur die verskansing van die kapitalistiese stelsel. Dit is wat die moderne elites in Suid-Afrika onderskei het in Afrika suid van die Sahara en ook van moderne elites in Asië – die moderne elites in Asië is `n voortsetting van pre-koloniale elites. Selfs in die geval waar Asiese elites die kapitalistiese stelsel omhels het, het hulle hul eie kapitalistiese stelsel geskep eerder as om die koloniale kapitalistiese model te herskep, soos wat die geval in Suid-Afrika en die meeste van Afrika was.


Hierdie drie elites was dus potensiële vennote van die Britte.


Die Engelse kommersiële elite


As betreklike nuwelinge in Suid-Afrika wat op verskillende tye aangekom het en vanaf 1820 deur verskillende omstandighede na Suid-Afrika aangetrek is, het hierdie groep min kohesie en geen onafhanklike politieke magsbasis om van te praat gehad nie. Die magtigste onder hulle, soos die Randlords, het mynbeleggers in die Stad Londen verteenwoordig.


Elemente van die Engelse kommersiële elite het dus ekonomiese mag gehad, maar hierdie ekonomiese mag is nie in politieke mag vertaal nie, soos die Jameson-inval en sy afloop gewys het. Hulle ekonomiese regte moes dus deur die Britse regering onderskryf word. Die Engelse kommersiële elite kon dus nie `n onafhanklike politieke mag wees nie.


Die Afrikaner-elite


Dit was `n gans ander verhaal met die Afrikaner- en Afrikaan-elites. Beide hierdie elites had die potensiaal om formidabele onafhanklike politieke spelers te word. Vir die Britte het dit beteken dat een van of beide hierdie elites potensiële bondgenote in die bestuur van Suid-Afrika namens Britse kommersiële belange was. Die moeilikheid vir die Britte was dat die Afrikaner-elite, en veral die Grensboere, hul belange as antagonisties met betrekking tot dié van die Afrikaan-elite beskou het. Die Britte moes dus `n keuse tussen hierdie twee elites maak en hulle het die Afrikaner-elite gekies.


Verskeie faktore het tot hierdie voorkeur gelei. Die Afrikaner-elite, waarvan die kern Suid-Afrika as Grensboere verower het, had `n militêre vermoë wat hulle tydens die Anglo-Boereoorlog demonstreer het. Tweedens had die Grensboere die vermoë om `n staat te stig en te bestuur. Dit het hulle met die stigting van die Boererepublieke bewys. Laastens en die belangrikste vir Britse kommersiële belang, het die Afrikaner-elite `n lang geskiedenis van die uitbuiting van Afrikane en van Afrikaan-arbeid gehad. In die era van goudmyning was hierdie vaardighede `n premie.


Die Afrikaner-elite het egter `n aantal probleme vir die Britte ingehou. Eerstens had hulle die potensiaal om met Brittanje se vyande saam te span, veral die Duitsers, Russem Franse en Amerikaners, soos hulle tydens die Anglo-Boereoorlog probeer doen het. By die draai van die 20ste eeu was Britse seemag egter van so `n omvang dat hulle so `n bedreiging kon hanteer. Tweedens en van groter belang had die Afrikaner-elite `n aantal duidelik gedefinieerde faksies waarvan sommige problematies vir Britse belange kon wees.


Na die Anglo-Boereoorlog het drie hooffaksies onder die Afrikaner-elite na vore getree. Daar was eerstens die akkommodistiese faksie. Hierdie faksie is gelei deur Generaals Louis Botha en Jan Smuts. Die tweede faksie was die nasionalistiese faksie mees prominent verteenwoordig deur Generaal J.B.M. Hertzog. Laastens was daar die Bittereinders gelei deur Generaals de la Rey en de Wet. Die Britte het gewaag op die krag en uithouvermoë van die akkommodistiese faksie. Aangesien die Britse leër en vloot nog vir talle jare na 1907 in Suid-Afrika gebaseer was, was dit `n versekeringspolis wat van tyd tot handig te pas gekom het wanneer die mag van die akkommodasioniste uitgedaag is, byvoorbeeld deur die Bittereinders in 1914 en deur blanke werkers in 1913 en 1922.


Die Afrikaan-elite


Die Afrikaan-elite had daarenteen aan die begin van die 20ste eeu geen van die sterkpunte wat die Britte wou hê nie, maar verskeie swakpunte, wat van hulle `n potensiële swak skakel gemaak het.


Aan die begin van die 20ste het die Afrikaan-elite geen van die sterkpunte gehad wat die Britte wou hê nie, en wat hulle onder die Afrikaner-elite gevind het. Die ou aristokratiese Afrikaan-elite wat Afrikasamelewings voor kolonisasie regeer en die weerstand teen kolonisasie gelei het, is fisies uitgewis deur die Britte gedurende die 19de eeu. Die Afrikaan-elite wat teen die draai van die 20ste eeu bestaan het, was dus `n nuwe elite wat gedurende die koloniale era as deel van die Britse koloniale projek na vore getree het. Hierdie was die nuwe geakkultureerde, gekerstende elites wat in die Kaapse en Natalse kolonies na vore getree het, eers deur sendelinge bevorder en later deur die Britse regering as waardevolle bondgenote in die militêre veldtogte om die onafhanklike stamme van Suid-Afrika te verslaan.


Soos die Afrikaner-elite had die Afrikaan-elite ook hulle faksies, maar anders as die Afrikaners had hulle slegs twee faksies: die akkommodasionistiese faksie en die swakker nasionalistiese faksie. Die posisie van hierdie akkommodasionistiese faksie is opgesom deur ene Macah Kunene, `n prominente Natalse boer, toe hy in 1905 deur die SA Native Affairs Commission gevra is of hy wou hê die Britte moet Suid-Afrika verlaat. Hy het gesê: “As die witmense en die Koning ons nou verlaat en ons hier agterlaat, is daar `n groot gedeelte van ons wat die witman se weë en handelswyses tot `n groot mate ons eie gemaak het; en daar is `n groot aantal van ons wat glad nie gevorder het nie, wat prakties gebly het soos in hulle vroeër dae was. Ek is bang dat diegene wat in hulle vorige toestand gebly het ons almal sal doodmaak, veral beskaafde inboorlinge, omdat ons grond gekoop het en hulle nie grondbesit goedkeur nie. Hulle weet ook dat wanneer daar ook al `n oorlog teen Inboorlinge soos onsself was, ons altyd saam met die regering was, en uitgegaan het om hulle in daardie oorloë by te staan… Daarom voel ons dat ons veel beter af is onder ons regering, en dat ons beter af is as wanneer ons verlaat en aan die genade van die mense oorgelewer sou word.”


Die swakker nasionalistiese faksie, wat geglo is aan die 20ste eeu onder die sterk invloed van swart Amerikaners en in die besonder die Africa Metodiste Episkopale Kerk (AME) te staan, het nooit baie veld gewen onder die Afrika-elite in Suid-Afrika.


Die aandrywers van verandering in 20ste eeuse Suid-Afrika: die opkoms en val van Afrikaner-nasionalisme


Vanuit hierdie kort oorsig van Suid-Afrika se elites aan die begin van die 20ste eeu behoort dit duidelik te wees wie Suid-Afrika gedurende die grootste gedeelte van die 20ste eeu gevorm het. Dit was enersyds hoofsaaklik Britse kapitaal en andersyds die Afrikaner-elite en in die besonder die nasionalistiese faksie. Die Britte het primêr in Suid-Afrika se minerale belanggestel, veral goud en diamante. Tot `n mindere mate was hulle belangstelling in die voorsiening van verbruikersgeodere en finansiële dienste in samewerking met die Engelse kommersiële elite aan die binnelandse Suid-Afrikaanse mark. Dit is hoe die Suid-Afrikaanse ekonomie vir die laaste honderd jaar geopereer het.


Die Afrikaner-elite was hoofsaaklik geïnteresseerd in staatsmag en die aanwending daarvan ter bevordering van sy ekonomiese belange – veral sy landboubelange – asook in die ontwikkeling van `n professionele Afrikaner-klas wat die vereiste vaardighede vir die staat- en semi-staatsektore kon lewer. Ten einde laasgenoemde oogmerk te verwesenlik, het die Afrikaner-elite die opkoms van ondernemings in staatsbesit bevorder – Eskom, SAS&H (Transnet), Landbank, SAUK, YSKOR, Onafhanklike Ontwikkelinskorporasie, Telkom, Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika, Krygkor en SASOL. Hierdie ondernemings in staatsbesit was egter grootliks afhanklik van ingevoerde Britse tegnologie en lenings. Die opheffing van die armblankes was gevolglik deel van die poging om `n poel vaardighede van `n toesighoudende, bestuurs- en tegniese klas te skep.


Gemene grond het dus vir die grootste gedeelte van die 20ste eeu bestaan tussen die Britse kommersiële belang (later geopen vir ander Westerse beleggers), die Afrikaner-elite en die Engelse kommersiële elite. Beleggers in die mineralebronnesektor had `n gemeenskaplike agenda in die bevordering van `n aanbod van goedkoop arbeid met die Afrikaner-elite wat ook groot besitters in die graanproduksiesektor was, veral mielies en koring. Die graanproduksiesektor het ook `n groot aanbod van goedkoop arbeid vereis.


`n Honderd jaar van politieke vertoog oorheers deur kwessies van ras en etnisiteit het die meeste Suid-Afrikaners daarheen gelei om te dink dat politiek onafhanklik van die maatskaplike struktuur is. Bykans `n halfeeu van apartheid het baie mense oortuig dat dit (ras)bewustheid en ander ideologieë eerder as sosio-ekonomiese strukture is wat politiek bepaal.


`n Leidende eksponent van hierdie siening was wyle Andrew Asheron in sy beroemde artikel uit 1969, Race and Politics in South Africa. Asheron het aangevoer dat terwyl kapitalisme oorheersend was in Suid-Afrika, was die rasseverdeling van die samelewing soos bevorder deur die Afrikaner-staat oorheersend op die maatskaplike en politieke vlak, en het dit ook uiteindelik die verdere ontwikkeling van die kapitalistiese ekonomie self beperk. Hy het aangevoer dat selfs die magtige kapitalistiese stratum – “mining magnates and English-speaking politicians” – hulle aan hierdie besondere vorm van maatskaplike organisering moes onderwerp. Asheron het die ekstra-ekonomiese mag van die Afrikaner-staat toegeskryf aan “an historical process whereby race discrimination, prejudice and ideology has, at one level, cut loose from its original economic and political functional aspects to become an autonomous entity which in itself circumscribes any movement towards reforms by the white elite.” Met ander woorde ideologie (rassisme) was die finale determinant waarvan verdere maatskaplike verandering afgehang het.


In die drie dekades sedert hierdie uiteensetting gemaak is en konvensionele wysheid geword het, het Suid-Afrika deur betekenisvolle veranderings beweeg. Afrikaner-nasionalisme is vermorsel, asook die Afrikaner-staat wat volgens Asheron prakties onveranderbaar was. Wat het gebeur? Waarom het Afrikaner-nasionalisme geslaag toe dit het, en waarom het dit misluk toe dit het?


Afrikaner-nasionalisme het geslaag omdat dit `n formule gevind het om Suid-Afrika se omvattende minerale bronne teen mededingende pryse aan wêreldmarkte te lewer. Ewe belangrik is dat Afrikaner-nasionalisme die minerale bronne kon lewer met die minimum gebruik van geweld teen die arbeidsmag. Die omgekeerde was egter ook waar. Afrikaner-nasionalisme het misluk toe dit nie langer die produk aan wêreldmarkte kon lewer sonder die groter en groter gebruik van geweld teen die arbeidsmag nie.


Twee dinge het gevolglik gebeur. Toe Afrikaner-nasionalisme die regte formule vir die lewering aan wêreldmarkte had, het dit gekwalifiseerde steun ontvang van beide binnelandse en buitelandse kapitaaleienaars – veral van mynkapitaal – maar ook van die multinasionale maatskappye wat in die vervaardigings- en finansiëledienstesektore belê het. Dinge het egter begin verander toe Afrikaner-nasionalisme nie langer aan wêreldmarkte kon lewer nie sonder `n groter gebruik van geweld teen die swart arbeidsmag. Vanaf die middel 1970’s moes Afrikaner-nasionalisme vanweë die heropkoms van militante vakbonde onder die swart arbeidsmag meer gereeld terugval op die groter gebruik van krag om arbeidskapitaal te lewer. Dít was nie net ontwrigtend vir die produksieprosesse nie, maar dit het ook die afkeurende aandag van die internasionale openbare mening op Suid-Afrika gevestig. Dit het `n groeiende beweging vir sanksies teen Suid-Afrika in die lande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling gelei.


Gedeeltes van binnelandse kapitaal het hulle steun aan Afrikaner-nasionalisme ook geleidelik begin onttrek en vra om veranderinge in arbeidsverhoudingewetgewing. Teen die middel 1980’s het binnelandse kapitaal gesprekke met verbanne politieke partye geopen in `n poging om `n plaasvervanger vir Afrikaner-nasionalisme te identifiseer.


Hierdie inisiatiewe het uitgeloop op die weiering van Amerikaanse banke om Suid-Afrikaanse lenings te handhaaf en tot – nà openbare veldtogte – die Amerikaanse Kongres wat die Omvattende Anti-Apartheidswet teen `n veto van president Ronald Reagan deurvoer. Aan die anderkant het dit uitgeloop op die ontbanning van politieke partye, die vrystelling van hulle leiers uit die gevangenis en die terugkeer van andere uit politieke ballingskap.


Uit hierdie kort beskrywing van wat tot die ondergang van Afrikaner-nasionalisme gelei het, behoort dit duidelik te wees dat dit allereers die groot maatskaplike magte is wat die huidige Suid-Afrikaanse maatskaplike struktuur vorm – in die besonder georganiseerde arbeid, groot sake en buitelandse beleggers – wat Afrikaner-nasionalisme in die laaste ontleding vernietig het.


Afrika-elite terug op die verhoog


Soos ons gesien het, is die Afrikaan-elite deur hulle Britse bondgenote van die 19de eeu in 1907 uitgelewer aan die genade van die Afrikaner-elite en Britse kapitaal. Vir die grootste gedeelte van die 20ste eeu was die Afrikaan-elite gevolglik gemarginaliseer en weggedruk van die verhoog van die Suid-Afrikaanse politieke en ekonomiese lewe, buiten vir kort oomblikke, byvoorbeeld in die 1950’s, toe hulle `n bietjie aandag gekry het weens die mobilisasie van die stedelike massa in protesbewegings. Dit was gevolglik slegs in die middel 1980’s wat die Afrikaan-elite die verhoog herbeset het as die leidende kandidaat om Afrikaner-nasionalisme te vervang.


Hier was dus iets van die geskiedenis wat homself herhaal. In 1906-07 is die Afrikaner-elite deur die Britte gesalf om Suid-Afrika te regeer. In die 1980’s is die Afrikaan-elite weer eens eerstens deur Suid-Afrikaanse groot sake gesalf, asook deur buitelandse beleggers en deur die Britte en die Amerikaners.


Die Afrikaan-elite het egter iets van `n tameletjie ontvang. In die vroeë 20ste eeu tor die Afrikaner-elite politieke mag van die Britte ontvang het, was Suid-Afrika `n onderontwikkelde land met `n enorme potensiaal om te groei vanweë sy minerale en landboubronne. Gedurende die 20ste eeu is `n deel van hierdie potensiaal verwesenlik en het Suid-Afrika `n middelinkomsteland geword.


Die land wat die Afrikaan-elite erf is `n stagnante middelinkomsteland wat deur deïndustrialisasie bedreig word as gevolg van die mededingende druk op sy vervaardigingsektor van Asië, veral Sjina. Vyf-en-twintig jaar gelede was `n kwart van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk gegenereer deur vervaardiging; vandag het dit gedaal tot slegs 16%. Die goudneerslae wat as die ruggraat en groeigeleier van die ekonomie in die 20ste eeu gedien het, is nou grootliks uitgeput. Laastens word Suid-Afrika ook bedreig deur `n majeure demografiese ontwrigting as gevolg van die vordering van MIV/Vigs-pandemie.


Die Suid-Afrikaanse ekonomie is vasgevang in `n lang siklus van stagnering wat in die 1970’s begin het. Dié stagnering manifesteer op twee belangrike maniere:

- Dalende en of stagnante per capita-inkomste van veral die armes

- Die onvermoë van die formele sektor om arbeid te absorbeer


Enklawe-ekonomie


Suid-Afrika ly gevolglik aan geweldig hoë werkloosheidsvlakke geskat op tussen 30% en 40%. Die ekonomie wat die Afrikaan-elite geërf het, is gevolglik beskryf as `n enklawe-ekonomie waar die groot meerderheid van die bevolking in armoede leef, terwyl diegene binne die moderne enklawe vooruitboer. Daarenteen het die Afrikaner-elite `n groeiende ekonomie geërf, wat die duursaamheid van hulle heerskappy verklaar.


Die huidige krisis wat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die gesig staar word veroorsaak deur die grense van die ekonomiese ontwikkelingsmodel wat tussen die twee Wêreldoorloë ontwikkel is. Hierdie model het uit die volgende bestaan:

- Invoervervangingsindustralisasie gedryf deur buitelandse multinasionale korporasies en semi-staatsondernemings

- Fokus op die ontginning van minerale bronne vir uitvoer deur die Minerale Energiekompleks (MEK) en sy verwante infrastruktuur

- Grootskaalse kommersiële landbou gedryf deur staatsubsidies en verwante gesubsideerde infrastruktuurdienste en goedkoop arbeid

- Onafhankliek finansiële sektor oorheers deur die Britse banke


Kenmerke van bogenoemde sluit die volgende in:

- Afhanklikheid van ingevoerde tegnologie, byvoorbeeld selfs vandag word alle platinumgroepmetaalverwante navorsing vir Anglo Platinum hoofsaaklik buite Suid-Afrika en grootliks in Brittanje gedoen.

- Afhanklikheid van ingevoerde kapitaal. Dit wad die regverdiging vir etlike leidende Suid-Afrikaanse maatskappye om hulle hoofnoterings na Londen te verskuif.

- Afhanklikheid van `n ryk aanbod van goedkoop ongeskoolde arbeid

- Afhanklikheid van beperkte wit Suid-Afrikaanse en ingevoerde bestuurs- en tegniese vaardighede


Die resultate van die beperkings van hierdie model sluit in:

- Hoë strukturele werkloosheid geskat op tussen 30% en 40%

- Ekonomiese stagnering

- `n Wisselvallige wisselkoers

- Misdaad

- Hoë armoedevlakke en hoë inkomsteongelykheid

- Kapitaal- en vaardigheidsvlug


Sal die Afrikaan-elite wat tans politieke mag in Suid-Afrika beheer in staat wees om `n ekonomiese model te ontwikkel wat die oorgeërfde onderontwikkeling van `n enklawe-ekonomie vir oorgrote meerderheid van die bevolking impliseer kan afbreek? Op sterkte van die beleide wat sedert die middel 1990’s toegepas is, moet die antwoord negatief wees.


Gevolgtrekking


Ontwikkelingsontleders dink al lank en hard oor waarom sommige lande ontwikkel en ander nie. Dit is nie `n geheim wat `n land moet doen om te ontwikkel nie – die eintlike vraag is waarom sommige lande doen wat gedoen moet word, en ander nie. Die VSA en Haïti is `n goeie voorbeeld. Een, die VSA, is die rykste land ter wêreld en die ander, Haïti, die armste. Suid-Afrika verleen aan ons in hierdie opsig iets van `n gekontroleerde eksperiment.


Die Afrikaner-elite waaraan die Britte staatsmag in 1907–10 oorhandig het, was `n klas van grootgrondbesitters wat stukke grootliks onontwikkelde grond besit het. Ten einde hulle grond te ontwikkel het die eienaars goedkoop, omvattende arbeid, markte, vervoer na markte, finansies en kennis benodig. Die Afrikaner-elite het staatsmag gebruik om hierdie bottelnekke op te los. Die arbeid had hulle reeds in die vorm van woonarbeiders en deelsaaiboere gevestig op hulle plase. Die nuwe goudmyndorpe het die markte voorsien.


Die Afrikaner-elite het gevolglik staatsmag gebruik om die omvattende spoor-, pad- en graanstoorstelsel wat Suid-Afrika vandag het, te ontwikkel. Hulle het ook hul beheer van die staat gebruik om die Landbank, Sanlam en ander staat en Afrikaner finansiële instellings te ontwikkel. Om die kroon te span, het hulle opvoedkundige instellings ontwikkel om boere se finansiële kundigheid te versterk, asook om navorsing te onderneem oor `n wye verskeidenheid kwessies in die landbou soos dieresiektebeheer, besproeiing, die ontwikkeling van hoë opbrengste, siektes, droogtebestande gewasse, ens. Die Afrikaner-elite het dus `n ontwikkelingstaat geskep, alsy dit `n radikaal skeefgetrekte een.


Die Afrikaan-elite is egter nie eiendomsbesitters nie. Hulle kan gevolglik nie staatsmag gebruik om stelsels en strukture te skep om die eiendom wat hulle nie het nie te verbeter. In die hande van die eiendomlose Afrikaan-elite word staatsmag dus `n instrument om rykdom ten gunste van die elite te herversprei, eerder as om rykdom te verlê vanaf verbruik na produktiewe belegging. Die groeiende ongelykheid tussen die swart middelklas en die swart massas is `n duidelike blyk van hierdie herverspreiding van rykdom.


Die Suid-Afrikaanse staat is vandag meer van `n herverspreidingstaat as `n ontwikkelingstaat. Swart ekonomiese bemagtiging is die sluitstuk van hierdie herverspreidingstrategie. Aangesien die Afrika-elite nie `n ondernemersklas is nie, word die rykdom na hulle verlê nie vir belegging gebruik nie, maar vir verbruik.


Soos ons gesien het, is die hoofuitdaging Suid-Afrika se betreklik stagnante ekonomie. Die herverspreidingstaat het beperkte of krimpende rykdom om te herversprei. Dít het talle implikasies: ons het reeds verwys na die groeiende mededinging tussen die swart middelklas en die swart massa vir staatsinkomste.


Die mees dramatiese gevolg van die mislukking van die herverspreidingstaat is die dalende lewensverwagting in Suid-Afrika, wat na verwagting binne enkele jare sal lei tot `n oorhoofse daling in die bevolking. `n Dalende lewensverwagting word verkeerdelik voorgehou as die gevolg van die toename in die MIV/Vigs-pandemie. Die werklikheid is eintlik omgekeerd. Die gebrek aan belegging in gesondheidsdienste, gesondheidsnavorsing, ens. het tot die omvang van die MIV/Vigs-pandemie gelei.


Nog `n belangrike gevolg van die herverspreiding van rykdom vir elite private verbruik, is die groeiende invoer van goedere en dienste ten koste van Suid-Afrikaanse produsente.


Al hierdie neigings wat saamgaan met `n herverspreidingstaat – en daar is talle ander waarop ons nie nou hier kan ingaan nie – versnel uiteindelik die krimping van Suid-Afrika se produktiewe vermoë.


Alles is egter nie verlore nie. Daar was al gevalle waar niebesitters van eiendom `n ontwikkelingstaat geskep het wat daarin geslaag het om die land te industrialiseer. Die mees ooglopende voorbeeld was die Kommunisteparty van die Sowjet-Unie. Die Sowjet-industralisasiemodel was egter gebaseer op die oordrag van rykdom vanaf die welvarendes, byvoorbeeld die Koelakke, na produktiewe belegging eerder as eliteverbruik. Nog `n voorbeeld is Suid-Korea waar die weermag `n ontwikkelingstaat geskep het.




 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=266
Artikel nagegaan:
    -