| ||||
Auke Compaan Onskuldige familiekuiertjie of verspeelde geleentheid? `n Terugblik op die NG Kerk-predikantekonferensie Deur Auke Kompaan, predikant in die NG-gemeente Sonstraal, Durbanville, Wes-Kaap en skrywer van `n proefskrif oor die pluralisering van die openbare sfeer en die impak daarvan op die kerk Van 20 tot 23 Junie 2005 het die NG Kerk se predikante en gelegitimeerdes in Bloemfontein saamgetrek, om nie alleen oor predikante se persoonlike roeping nie, maar ook oor die roeping van die NG Kerk as kerkverband in Suider-Afrika te besin. Dit was inderdaad `n gulde geleentheid wat die leierskap van die NG kerk geskep het om leiding te gee, veral as in gedagte gehou word dat dit die eerste keer in 350 jaar is dat die kerk se leiers op so `n wyse byeen is, die NG Kerk steeds die grootste historiese hoofstroomkerk en ook gereformeerde kerk in Suid-Afrika is, en meer as 80% van dié kerk se predikante en gelegitimeerdes (± 1400) die geleentheid bygewoon het!
Die belangrikheid van die byeenkoms tree veral na vore as in gedagte gehou word dat kerke met `n reformatoriese agtergrond in vergelyking met charismatiese kerke wêreldwyd gekenmerk word deur `n ervaring van hulpeloosheid, uitputting en verlamming. Gereformeerde teoloë voer hiervoor veral drie redes aan: 1) Ten eerste beleef gereformeerde kerke `n ineenstorting van wat die Duitse teoloog, Jürgen Moltmann, klassieke bourgeoisteïsme noem. Hiermee bedoel hy dat `n godsbeeld en wêreldbeskouing wat veronderstel dat God absoluut in beheer van die werklikheid is en alles tot in die fynste detail beheer, die afgelope dekades as `n fantasieproduk of papiergod wat eintlik maar die belange van die middelklas dien, ontmasker is. Baie min gelowiges kan na die Joodse Volksmoord, twee wêreldoorloë, die globale ekologiese vernietiging en die duisende ervarings van lyding wat die media elke dag openbaar maak, nog vashou aan `n transendente persoonlikheid wat "almagtig", "alomteenwoordig" en "alwetend" sigself en die hele werklikheid voortbring en beheer. Dit lei wêreldwyd tot die verlies aan lidmaatgetalle in hoofstroomkerke. Teoloë en kerkleiers wêreldwyd staan dus voor die massiewe uitdaging om God en God se handelinge in die wêreld teologies nuut te verstaan. Die verhouding tussen God se openbaring in Christus en God se handelinge in die wêreld aan die een kant, en God se afwesigheid en afstand in die wêreld aan die ander kant, moet radikaal herdink word. 2) Saam met die ineenstorting van `n middelklas teïstiese godsbeeld is gereformeerde teoloë wêreldwyd dit eens dat die subjektiewe en personalistiese taal en metafore waarin daar oor God gedink en gepraat word mense nie werklik help om sinvol in ons komplekse postmoderne wêreld te leef nie. Die politieke kultuur wat die regte en vryheid van die individu bo enige vorm van gemeenskap verhef en die ekonomiese kultuur wat die korttermyn gerief en genot van individue beklemtoon, skep narcistiese, na-binne gerigte mense wat lynreg teenoor die Bybel staan. Die NG Kerk beleef die druk hiervan deur die toenemende verlies van lidmate aan charismatiese kerke en voordurende druk om self te charismatiseer. Uit onlangse opnames in die voormalige Transvaal het dit geblyk dat meer as 50% van gemeentes in `n oorlewingstryd gewikkel is. Geen wonder nie dat predikante en lidmate daarom maklik in die slaggat val om te vra na hoe daar meer energie geskep kan word om mense te trek, wat maklik lei tot oppervlakkige liturgiese eksperimentering en `n soeke na doeltreffende metodes om korttermynbehoeftes te bevredig. 3) Derdens sukkel historiese kerke om los te kom van maatskaplik-moralistiese denke. Hiermee word bedoel dat die vooruitgang en vooruitgangsdenke van die moderne tyd die illusie skep dat alle handelinge en gedrag gemeet kan word op `n skaal van òf beter, òf slegter. Dié soort denke werk met die idee van vooruitgang en die hipotese dat alle mense in `n beweging is van slegter na beter, van gebondenheid na vryheid. Dit lei daartoe dat die kerk voordurend onder druk is om reg- of-verkeerd-, swart-of-wit-antwoorde te moet gee op komplekse kwessies waarvan die homoseksualiteitsdebat tans die beste voorbeeld is. Moralisme as vooruitgangsdenke word op `n naïewe vlak ook maklik met die bevryding van die Gees verbind en word maklik gelykgestel aan voorspoed en sukses soos dit in ryk kapitalistiese lande gestalte kry. Voorspoedsteologie wat deur populêre predikers soos Bruce Wilkenson in Suid-Afrika ingebring word en wat op groot skaal deur NG Kerk lidmate gelees word en op kansels aangehaal word, is slegte nuus vir kerke wat hulle binne Afrika met sy vraagstukke van VIGS, armoede en werkloosheid moet oriënteer.
Voeg by bogenoemde, spesifiek Westerse kulturele ervaring die feit dat die NG Kerk vir die eerste helfte van die 20ste eeu die vernaamste instelling was wat die maatskaplik-politieke belange van Afrikaners en Afrikaanse Christene in die openbare sfeer in beskerming geneem het en in die tweede helfte van die vorige eeu ten nouste met die opkoms van Afrikanernasionalisme verweef was, en sigself nou in `n liberale, demokratiese staatsbestel nuut moet herorïenteer, en `n konferensie oor "roeping" verkry `n besonderse geladenheid. In die lig van bogenoemde ontleding was die konferensie op pastorale vlak vir baie leraars voorwaar `n wonderlike ervaring. Die blote saamwees van soveel mense uit dieselfde tradisie het by baie die ervaring gelaat dat hulle nie alleen is in die dramatiese oorgangstye waarbinne ons leef nie. Dit was `n geleentheid om klasmaats weer te sien, met ander gelegitimeerdes te skakel, en nuwe vriendskappe te sluit. Daar is ook mooi verhale van leraars wat in klein gemeentes op die platteland sit wat oor jare heen swaarkry en vereensaam het en wat met heling en hoop teruggekeer het huis toe. Ook op `n liturgiese vlak was die konferensie `n fees. Die sang, musiek, verskeidenheid van kunstenaars wat opgetree het, asook die aanbiddingsgeleenthede was soms oorweldigend in skoonheid. Leraars kon by verskillende geleenthede onder meer luister na jong kunstenaars soos Jak de Priester, die operasanger Jannie Moolman, die Universiteitskoor van die Universiteit van die Vrystaat, en kon aanbid onder leiding van briljante klassieke begeleiding van viool, tjello, klavier, en vele ander instrumente. Daar is uitmuntend getoon dat veel meer skeppende opsies vir kerkmusiek en aanbidding bestaan as om bloot in te koop op trom, kitaar en "rock ‘n roll". Ongelukkig het die konferensie op `n profetiese en visioenêre leierskapsvlak misluk. Bykans die hele konferensie het `n a-historiese en a-kontekstuele karakter gehad. So is die hele eerste dag byvoorbeeld afgestaan aan lesings deur Eddie Gibbs, professor in evangelisasie en kerkplanting aan die Fuller Theological Seminary in Amerika. In die meeste ander sessies was daar bykans geen verwysing na die spesifieke tydvak waarin die NG Kerk haarself bevind of enige bemoeienis met die NG Kerk se unieke storie in die land, die unieke uitdagings en die unieke rol wat die kerk daarin kan speel nie. Daar is in geen stadium ontledings aangebied wat predikante kon help om krities te kyk na die opkoms van charismatiese kerke of om die invloed van die ekonomiese sfeer op die kerk te verstaan nie. Die interaksie of selfs worsteling met ons unieke konteks was beperk tot enkele verwysings in liturgie, lied en leiding. Die weglating van enige verwysing na die Belharbelydenis en die hereniging met die VGK was opvallend en teleurstellend, as verstaan word dat `n verbintenis aan Belhar en kerkhereniging `n verbintenis aan evangeliese en kontekstueel relevante waardes sal wees! Dit was duidelik dat die organiseerders van die geleentheid alle historiese, of maatskaplik-politieke verskille en moontlike konflik teen elke prys wou vermy. Vanuit `n sekere hoek kan die hele konferensie gesien word as `n hartlike familiekuier waarin alle konflik doelbewus vir eers op die ys geplaas is. Dit is soos wanneer jy vir Kersfees saam met familie kuier en jy weet julle gaan net vir `n paar dae bymekaar wees en daarom alle krapperighede ter wille van harmonie tydelik onder `n kombers toemaak. Vanuit `n ander hoek was die konferensie egter `n verspeelde geleentheid om predikante te help om te verstaan wat rondom hulle gebeur en hoe gereformeerde kerke in ander kontekste met die kultuur van die dag omgaan. Trouens, die konferensie het geen ekumeniese bewussyn gehad nie, en `n mens kan maklik die indruk kry dat die kerk nie alleen in `n kulturele en historiese nie, maar steeds in `n ekumeniese lugleegte sweef. Die vermyding van konflik, die poging van die leierskap om alle stemme binne die kerk te akkommodeer, kan die kerk op die lang termyn duur te staan kom. Dit is baie duidelik dat die stad brand en dat gewone lidmate op soek is na sterk profetiese leierskap. Die religieuse, kulturele en maatskaplike vraagstukke van ons dag gaan immers nie verdwyn nie! Ten slotte: Teen dié tyd weet ons almal dat daar nie werklik iets soos `n a-historiese en a-kontekstuele konferensie, bestaan nie. Daar is altyd bepaalde historiese, kulturele en maatskaplike kragte wat ontken òf gehandhaaf word. Indien jy nie doelbewuste keuses maak nie, handhaaf jy bloot die status quo. In dié sin loop die NG Kerk duidelik die gevaar om die nuwe maatskaplike en kulturele kragte wat vandag die middelklas definieer, kritiekloos te omhels. Dit sou beteken dat die ou Afrikaner-middelklaskerk eintlik maar net besig is om gestalte te gee aan `n nuwe middelklaskerk wat uitgelewer is aan liberale individualisme, privatisering en die ekonomisering van die lewe met die gevaar om `n kommoditeits- en verbruikerskerk te word. Op die lang termyn sal dit die permanente marginalisering van die NG Kerk uit die openbare sfeer van die Suid-Afrikaanse samelewing beteken. Daarom vra baie jong teoloë nà die konferensie vir `n dringende historiese en kontekstuele herinterpretasie van ons roeping as gereformeerde kerk in Afrika en dapper, profetiese leierskap om te doen wat ons moet doen! |