blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesweek se kommentaar: Laerskool Mikro en moedertaalonderwys 2005-07-01

Vandeesweek se kommentaar: Laerskool Mikro en moedertaalonderwys


Die Appélhof in Bloemfontein het op Maandag 27 Junie bevind dat die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys nie geregtig daarop was om Laerskool Mikro te dwing om 21 leerlinge wie se ouers hulle in Engels wil laat onderrig, in te neem nie. Daarmee saam het die Appélhof bevind dat die reg op moedertaalonderrig swaarder weeg as die reg op toegang tot gehalteonderwys.


Laasgenoemde uitspraak bots reëlreg met die regering se uitgesproke voorkeur vir die reg op gehalteonderwys bo die reg op moedertaalonderrig, wat voortspruit uit die regering se gebrekkige toepassing van sy eie beleid van moedertaalonderrig vir almal, wat die meeste Suid-Afrikaanse kinders effektief dompel in `n situasie van tweede- of derdetaalonderrig, oftewel hulle van gehalteonderwys uitsluit.


Dit is verstaanbaar dat die Afrikaanse publiek en media op die oog af dié uitspraak met groot vreugde begroet het, en dit is `n vreugde waarin Die Vrye Afrikaan deel. Dit mag egter `n vreugde van korte duur wees. Die regering het byvoorbeeld nog elke jaar sedert 1996 wysigings aan die onderwyswetgewing aangebring, en `n amptenaar van die Nasionale Departement van Onderwys het vroeër vanjaar onomwonde aan mense betrokke by die FAK se onderwysaksie verklaar dat die regering nie sal huiwer om wetgewing by hulle oogmerke aan te pas nie.


In die tweede plek het die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, mnr. Cameron Dugmore, in sy reaksie op die uitspraak geen blyke gegee dat hy gaan afsien van sy hardnekkige ideologiese omgang met taal in die onderwys nie. Om die waarheid te sê, is die moontlikheid glad nie uitgesluit nie dat hy die saak nog na die Grondwetlike Hof kan neem, waarvan `n regter ook vroeër vanjaar verklaar het dat hulle so `n saak sal verwelkom. Dieselfde regter het ook gesê dat hulle die reg op toegang selfs hoër as die reg op lewe ag, wat niks goeds voorspel vir die Appélhof se bevinding dat die reg op moedertaalonderrig swaarder as die reg op toegang weeg nie.


In die derde plek is die Mikro-oorwinning maar een slag wat gewen is terwyl die oorlog landwyd woed. Betrokkenes by die FAK se onderwysaksie het tydens `n vergadering op Woensdag 22 Junie kennis gegee van iets tussen vyf en tien skole in noordelike provinsies wat tans aan presies dieselfde behandeling blootgestel is wat Mikro ondergaan het. Intussen weier president Mbeki steeds om te reageer op die ope brief wat die FAK vroeër vanjaar oor die kwessie van moedertaalonderrig aan hom oorhandig het. Met ander woorde: niks dui daarop dat die politieke konteks waarbinne (Afrikaanse) moedertaalonderrig bedreig word, verander het nie. Om die waarheid te sê, mag die Appélhof se uitspraak net nog meer water op die meul werp van diegene wat die regbank verder wil transformeer, dit wil sê meer dienstig aan die politieke owerheid van die dag wil maak, nadat dié die afgelope twee jaar verskeie kere slae gekry het in die howe vir sy hardnekkige ideologiese sentralisme wat toenemend belangriker as ons Grondwet word.


Die boodskap vir alle demokrate wat omgee vir moedertaalonderwys is duidelik: in betrokkenheid en mobilisasie lê die redding van moedertaalonderwys.




 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=257
Artikel nagegaan:
    -