|
||||
Yves Dalazay en Bryant Garth Waarom beweeg `n mens so maklik oor van `n pos as hoof van `n groot nie-regeringsorganisasie (NRO) na dié van `n baas van `n multinasionaal? Die gemeenskaplike maatskaplike en onderwysagtergronde, dikwels `n groot Amerikaanse universiteit, vergemaklik die toenadering en lei tot `n teennatuurlike “vennootskap” tussen groot ondernemings en NRO’s in die naam van `n gedeelde maatskaplike verantwoordelikheid. Deur Yves Dezalay, navorsingshoof by die Franse Nasionale Sentrum vir Wetenskaplike Navorsing (CNRS) en Bryant Garth, professor in regte en direkteur van die American Bar Foundation Vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois Die sosiologie het veel te sê in debatte oor globalisering (1). Want ofskoon die geleerde ontleders nie skroom om diagnoses daarvóór of -teen te maak nie, bly hulle baie swygsaam oor die praktyke van die deskundiges aan beide kante wat immers sleutelspelers in die veld is. Die studie van internasionale bestuur is `n hoogs ontwikkelde, winsgewende mark vir die vervaardigers van regs-, ekonomiese of politieke wetenskap (2). Oor die grense van hul wetenskaplike of ideologiese verskille heen, deel hierdie vervaardigers `n ernstige beskouing van dit wat op die globaliseringspel is. Deur dit as `n realiteit voor te hou – wat voorgestaan, teengestaan of beheer moet word –, mobiliseer hulle maatskaplike en owerheidshulpbronne wat bydra om die bestaan daarvan `n werklikheid te maak, as `n politieke inset maar ook as `n speelveld waar deskundiges mekaar verdring. Met hul oor-en-weer-aangee van die bal van die een forum na die ander, moet die hoofspelers uiters versigtig wees om nie hierdie nuwe magsruimte te ondermyn nie. Dit kan maklik gebeur as die dinamiek van die konfrontasie hulle daartoe lei om voorspelers uit te lig wat redelik soortgelyke kombinasies van intellektuele vaardigheid en maatskaplike kapitaal mobiliseer. In diens van strategieë wat soos eggo’s op mekaar weerklink. Die internasionale kundigheidsmark is elitisties en beskermd. Om dit te betree, moet `n mens oor kulturele en linguistiese vaardighede beskik. Voordat dit gesterk en gelegitimeer word deur peperduur internasionale akademiese opleiding, is die neiging tot internasionale aspirasies die prerogatief van erfgename uit kosmopolitiese bloedlyne. Dieselfde geld sekere teenstanders van globalisering, wat deel uitmaak van internasionale netwerke met `n dikwels merkbare Noord-Amerikaanse invloed. Want die groot multinasionale nie-regeringsorganisasies (NRO’s) werf ook hul jong beroepslui onder die room van gegradueerdes uit Ivy League-universiteite (3) in die VSA. Toegang tot hierdie elite instansies – waarvan die koste meer as 40 000 dollar per jaar kan beloop – is hoofsaaklik gereserveer vir die erfgename van `n liberale establishment wat, soos dit hul stand betaam, nog deurentyd `n sekere vorm van idealisme en universalisme gekweek het. Danksy hierdie werwing beskik sekere militante organisasies en sommige NRO’s oor `n voortdurend hernude teelaarde van kundigheid. Met `n hoë mate van motivering en erkenning, word hulle kritiese vennote in multinasionale maatskappye en regerings. Hierdie samewerking, finansieel dalk nie so lonend nie maar `n ryk bron van ondervinding, lei dan dikwels tot `n loopbaan in staatsinstellings, groot konsultasie-firmas of multinasionale maatskappye. Dié soort militante leerskole verskaf inderdaad sommige van die noodsaaklike sleutels in ons era van “globalisering”: waardevolle kontakte, maar ook politieke bedrewenheid wat die kuns van media-sigbaarheid en diskrete wandelgangpolitiek kombineer, asook `n reputasie wat uiters nuttig kan wees vir `n latere omskakeling na “etiese ondernemer”. Van Ford na General Electric Neem byvoorbeeld Benjamin Heineman, `n gegradueerde van Harvard, Oxford en Yale, wat sy professionele loopbaan afskop deur sy eerste drie jaar te wy aan `n regsfirma gespesialiseer in openbare belange, wat deur die Ford-stigting gefinansier word. Dit lei hom na hoë poste in die Carter-administrasie, voordat hy (vir die volgende sewentien jaar) hoof word van die regsafdeling by General Electric, die grootste multinasionale maatskappy ter wêreld. Vandag is hy die vise-president daarvan. `n Toonbeeld van `n loopbaanprofiel wat vir hom gepaard gaan met groot legitimiteit in die professionele en bestuurswêreld, waar hy hom beywer vir sake-etiek en groter maatskaplike verantwoordelikheid. Die kenmerke van die nuwe geslag globaliseringsaktiviste is nog te meer op hul voorlopers van toepassing. Die kulturele en linguistiese vermoëndheid wat van jongs af gekweek word in elitistiese opvoedkundige inrigtings, soos tweetalige skole veral in ontwikkelende (Franssprekende) lande, is `n paspoort vir latere toegang tot buitelandse universiteitsopleiding waarvan die koste, wat in `n groot mate deur die families gedek word, die effek van maatskaplike seleksie verhoog. Hierdie buitelandse opleiding van afhanklike lande se nasionale elite is `n oorblyfsel van die koloniale model, bygewerk deur `n nuwe imperialisme. Die VSA het sy heerskappy afgedwing deur middel van onderwysbeleggings, wat die universiteitsopleiding van toekomstige hoë regeringsamptenare meer in die rigting van ekonomie en politieke wetenskap geöriënteer het. Die groot, private Ivy League-kampusse word sodoende `n voorkeurbron vir die samestel van die nuwe elite, beide nasionaal en internasionaal. As kompensasie vir die verskerpte kompetisie in nasionale tersiêre opleiding, as gevolg van die toevloei van studente, stel ver en duur opleiding die onderskeie staatsbourgeoisieë in staat om hul erfgename te bevoordeel deur vir hulle toegang tot prestigeryke buitelandse grade te reserveer. Hierdie strategie, wat `n gemene deler onder baie lande se elite word, het bygedra tot “`n eenwording van die internasionale speelveld van bestuursopleiding (4) ”. Met die afsegging van ou koloniale ideologieë ten gunste van nuwe universele waardes – ontwikkeling, markgerigtheid, regstaat –, slaan die Amerikaanse leiersmag `n dubbele slag. Dit diskwalifiseer die invloedsnetwerke wat die voortbestaan van die Europese neo-koloniale model verseker het, en heroriënteer terselfdertyd die internasionale weë vir die opleiding van randstate se elite na sy eie kampusse. `n Bruikbare gevolg hiervan is die uitvloei van breinkrag na die mees lonende professionele markte. Die twee onderskeie ruimtes – nasionaal en internasionaal – is heg ineengeweef wat betref hul elite-produksiestrategieë. Op die internasionale kundigheidsmark is die leidende spelers dié met titels en grade wat deur hul land van oorsprong gewaarmerk is. Daarenteen verteenwoordig `n internasionale kapitaal van kundigheid en kontakte `n beduidende bate in nasionale magstrategieë. `n Graad van `n Franse administrasie- of politegniese skool doen beslis geen kwaad by die voortsit van `n loopbaan in internasionale liggame nie; net so staan `n graad van Harvard in niemand se pad om minister in Parys te word nie. `n Uitgelese groepie bevoorregtes kan gelyktydig op hul nasionale reputasie staatmaak om op die internasionale toneel hul merk te maak, en internasionaal belê om hul posisie in die nasionale magswêreld te versterk. In laasgenoemde geval hoef hul bloot aan te toon dat hulle sodoende hul land se belange beter op die internasionale kompetisieterrein kan bevorder. Dubbele rolle Hierdie dubbele-rol-strategieë is des te meer van toepassing op groot, private filantropiese instellings – soos die Ford-, Rockefeller- en Soros-stigtings – wat tans na die voorgrond van globalisering tree, al word hulle ook “mensliker” gemaak. Met hul finansiering van groot NRO’s wat hulle vir menseregte of die omgewing beywer, het hulle terselfdertyd bygedra tot die internasionale uitkring van kampusse wat die nuwe liberale regsinnigheid vervaardig en versprei: meer as die helfte van die presidente van sentrale banke het grade in ekonomie, en meestal van Amerikaanse universiteite; meer as `n derde het `n draai gemaak by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) of die Wêreldbank. Globalisering bevorder sodoende `n internasionale “beheer”ruimte waar instansies en praktyke op die Noord-Amerikaanse lees geskoei is. Teenstrydig genoeg put dié wêreldryk krag uit die tweespalt in sy midde. Die vernuf van die imperiale manier van doen (5) is dat dit sy interne geskille uitvoer: selfs die bevraagtekening van die Amerikaanse model is gebaseer op analises (multikulturalisme, vermenging) en strydmetodes (beroep op die “burgermaatskappy” en toevlug tot die media) wat algemeen in die VSA gebruik word. Om terug te kap na dié wat hul konserwatiewe beleid regverdig deur hulle te berus op die “internasionale liggame van die establishment” (IMF, Wêreldbank, ens.), put hul teenstanders hul argumente uit die wapenrusting van alternatiewe modelle wat in die NRO-netwerk die rondte doen. Beide in die middelpunt en aan die rand van die nuwe wêreldorde, is interne struwelinge dus besig om die dinamika van kulturele invoergoedere te voed én daarop te teer. `n Magspel waar die partye mekaar aanval maar ook aanvul. Danksy hul werwing op elite-kampusse, die finansiële steun van filantropiese stigtings en die talle voedingsbronne waaroor hulle beskik (in die akademiese veld maar ook internasionale liggame), kan Washington-gebaseerde NRO’s geredeliker strategieë en modelle uitwerk wat met nuwe politieke en wetenskaplike eise ooreenstem. Hulle is des te meer daarop gesteld om hierdie analises te versprei deurdat hulle hoop om in ruil die internasionale mening te kan inspan om hul invloed in Washington te versterk. Vir militante organisasies van ondergeskikte lande lê die probleem elders. Die karigheid van hul eie middele noop hulle daartoe om hulle op die internasionale weldoenersmark te beroep... wat in ruil sy slagspreuke en modelle, indien nie sy modegiere nie, op hulle afdwing. In sy proefskrif oor Le marché international de la solidarité (“die internasionale solidariteitsmark”), beskryf Benjamin Buclet die hele dubbelsinnigheid van die “vennootskap” tussen groot internasionale NRO’s en klein strukture wat op plaaslike vlak optree (6). Ten einde fondse vir hul militante aksie te bekom, moet laasgenoemde `n projek-rasionaal onderskryf wat met internasionale borge beding word. Deur projekte met mekaar te laat meeding, verseker hierdie finansiële bestuurders hul invloed beide op die definisie van “teikenbevolkings” en op die evalueringsdoelwitte en -vereistes. Daarby word hierdie administrateurs se prioriteite gerugsteun deur groot NRO’s wat sterk staan op die internasionale verhoog – wat hulle in feite in staat stel om die rol van `n beheermaatskappy te speel teenoor hul netwerk van klein, plaaslike NRO’s wat self nie oor die maatskaplike bronne beskik om hulle direkte toegang tot internasionale befondsing te gee nie. Hierdie meganisme kortsluit nasionale regerings en plaaslike hooggeplaastes, maar stel die “internasionale burgermaatskappy” (sic) in staat om sy waardes en prioriteite te versprei en om te bepaal wat ontwikkelingsbehoeftes of demokratiese verwagtinge is. Internasionale solidariteitsmark Terwyl hulle die voorstanders van monetarisme kritiseer wat hul dissipels – en hul leerstellinge – aan die hoof van nasionale finansiële instansies in ontwikkelende lande plaas, brei agente van die “internasionale solidariteitsmark” op plaaslike vlak die politieke heropbou-bedryf uit na randstate. Wanneer hulle probeer om hul geloofwaardigheid in die veld op te bou, ontkom die bestuurders van hierdie klein NRO’s nie aan die rasionaal van stemmevryery nie. As woordvoerders – maar ook “peetvaders” – van uiters afhanklike bevolkingsgroepe, tree hulle in kompetisie met hooggeplaastes wat tot op hede feitlik alleenreg op die plaaslike politieke mag gehad het. In sommige gevalle het die voordele wat militante op die internasionale terrein bekom het, hulle op plaaslike vlak duur te staan gekom: aangemoedig om werkswyses in te span wat deur demokratiese land en NGOs voorgehou word (vreedsame byeenkomste, op die voorgrond plaas van die mees charismatiese leiers van die beweging), kom hulle te staan teen magte wat nie voor druk wyk nie. Dit wat die beste werk in Westerse protesmetodologie, insluitend bemiddeling, maak `n skrale indruk op regimes waar die krag van onderdrukkingsmagte en die magsewewig nóg dié van Stockholm, nóg dié van Washington is (7). In die aangesig van `n stryd wat beide onseker en ongelyk is, kan sommige van hierdie stryders in die versoeking kom om te vlug na die groot verhoë van globalisering waar hulle, met die middele wat tot hulle beskikking gestel word, die indruk mag kry dat hul optrede nie alleen minder gevare inhou nie, maar ook doeltreffender is. So het verskeie, en van die bestes, van die Chileense militante wat pioniers van individuele regte onder Pinochet se diktatuur was, geëmigreer om hulle daarna in die voorste linies van die internasionale terrein te bevind. Sekeres moes daarmee verlief neem omdat hulle vervolg of uitgesit is, soos die regsprofessor Jose Zalaquett wat in 1976 by Amnestie Internasionaal aangesluit het, en drie jaar later die voorsitter daarvan geword het. Maar oorwegend val hul vertrek saam met die ondergang van Chileense NRO’s ná die demokratiese koalisie se oorwinning. Soms omdat die nuwe regeringspan hulle gebruik om uit hul legitimiteit voordeel te trek: Roberto Garreton, voorsitter van die regskomitee vir die beskerming van slagoffers van die diktatuur, wat binne die Aartsbisdom geskep is, is byvoorbeeld benoem tot menseregte-ambassadeur, voordat hy sy loopbaan voortgesit het by die VN as spesiale verslaggewer oor menseregte, onder andere in Zaïre. Meer dikwels omdat, toe Chili nie meer hoofnuus was nie, NRO’s se befondsing opgedroog het, ofskoon die mees onbevoorregte lae van die Chileense bevolking steeds slagoffers van polisiegeweld is. Om hul betrokkenheid te kan voortsit besluit sommige militante derhalwe om te emigreer, soos José Vivenco wat Washington toe trek waar hy een van die hoof-woordvoerders van America’s Watch word. Die internasionalisering van nasionale stryde waardeur die embrio van `n wêreldwye burgermaatskappy daargestel word, dra dus by om strategieë en `n werkwyse wat op die Amerikaanse politieke dinamiek geskoei is, as universeel voor te hou. Die oorwinning van Ronald Reagan het reeds paradoksale gevolge geskep deur byvoorbeeld aan “menseregte” (8) universaliteit te gee. Om `n soort teenvoeter vir die regse oorname van staatsinstansies daar te stel, val die dikwels demokratiese reformistiese faksie van die Foreign Policy Establishment terug op die bronne van privaat instansies wat hulle opgerig het en waarvan hulle steeds die beheer het. Gesteld daarop om die opgang van `n “burgermaatskappy” aan te moedig wat in staat sou wees om die rol van `n opposisiemag te speel, rig hulle teen die valke waarmee Ronald Reagan hom omring, `n universele etiek van individuele regte op. Filantropiese stigtings het die rol van moderator in burgerlike mobilisering gespeel. In die omgewingsbewaring byvoorbeeld het die Ford-stigting sy subsidies voorgegooi en sy wetenskaplike netwerke gemobiliseer om protesbewegings se omskakeling na “verantwoordelike” kwessies te bespoedig. Hy het byvoorbeeld druk op die bestuur van die Environment Defense Fund (EDF) geplaas om hul konfrontasie-strategie te laat vaar wat op die geregshof staat gemaak het om die openbare mening te mobiliseer: “Sue the bastards”, soos die gunsteling slagspreuk van die uitvinder van dié metode lui. Deur voor te hou dat hul burgerlike verantwoordelikheid as borge op die spel was, het die Ford-stigting se finansiers `n preseleksie van dossiere deur hooggeplaastes van die balie afgedwing. Terselfdertyd het die stigting onderhandeling tussen ekoloë en nyweraars aangemoedig. Eerstens deur die finansiering van die werk van `n span ekonome van Electricité de France, wat getoon het dat omgewingsbeskerming nie slegs onkoste behels nie, maar dat dit ook `n bron van wins vir firmas kan wees. Vervolgens deur druk op `n menigte klein aktivistegroepe te plaas om te hergroepeer binne verenigde strukture rondom professionele topbesture wat in staat sou wees om op grond van erkende wetenskaplike kundigheid te onderhandel (9). Groot NRO’s wat voortaan die internasionale omgewingsbewaringtoneel – gemoderniseer onder die titel “volhoubare ontwikkelingsmark” – oorheers, is die instrumente van hierdie teenoffensief wat deel uitmaak van die groot hervormingstradisie van Amerikaanse filantropiese kapitalisme soos uitgedink deur die plutokrate (10). Pierre Bourdieu stel dit onomwonde: “Die verwysing na die universele is die wapen by uitstek. (11)” Imperialisme kry dit reg om voort te marsjeer onder die vaandel van menseregte en (goeie) bestuur. Deur hul vennootskap met NRO’s op die voorgrond te stel, hoef multinasionale maatskappye hulle voortaan bloot as voorstanders van “volhoubare ontwikkeling (van kapitalisme)” voor te stel. _________ (1) Kyk “Sociologie de la mondialisation”, Actes de la recherche en sciences sociales, Parys: Maart 2004. (2) So bestee die groot internasionale finansiële instellings soos die Wêreldbank honderde miljoene dollar aan die bevordering van die reg en “goeie regering”, wat die repertorium van monetêre voorskrifte voltooi. Kyk Yves Dalazay en Bryant Garth (samestellers), Global Prescriptions. The Production, Exportation and Importation of a New Legal Orthodoxy, Ann Arbor: University of Michigan, 2002. (3) Die Ivy League is die agt Amerikaanse elite-universiteite. Lees Rick Fantasia, “Délits d’initiés sur le marché universitaire américain”, Le Monde diplomatique, November 2004. (4) Pierre Bourdieu, “Conclusions du colloque sur les instances de formation des cadres dirigeants”, Parys: Centre de sociologie européenne/ Maison des sciences de l’Homme, 1993, p.282. (5) Kyk Pierre Bourdieu en Loïc Wacquant, “Sur les ruses de la raison impérialiste”, Actes de la recherche en sciences sociales, Maart 1998 en Le Monde diplomatique, Mei 2000. (6) Kyk Benjamin Buclet, “Le marché international de la solidarité : les organisations non gouvernementales en Amazonie brésilienne”, proefskrif verdedig aan die Ecole des Hautes Etudes en Sciences Sociales, Parys: Junie 2004. (7) Lees Arundhati Roy, “Les périls du tout-humanitaire”, Le Monde diplomatique, Oktober 2004. (8) Kyk “L’impérialisme de la vertu”, Le Monde diplomatique, Mei 2000. (9) Kyk Robert Gottlieb, Forcing the Spring: The Transformation of the American Environmental Movement, Washington: Island Press, 1993. (10) Kyk Nicolas Guilhot, “Une vocation philantropique, George Soros, les sciences sociales et la régulation du marché mondial”, Actes de la recherce en sciences sociales, Maart 2004. (11) Kyk Pierre Bourdieu. Raisons pratiques, Parys: Seuil, 1994, p.242. |