blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


`n “Samelewing van eienaars”? Die skuif na die privatisering van die pensioenstelsel in die Verenigde State 2005-06-16
George Ross


Die Sosiaal-Demokratiese Party in Duitsland se nederlaag in sy historiese vesting in Noord-Rynland-Wesfalen op 22 Mei, sanksioneer veral die programme wat gemik is op die afskaling van maatskaplike uitgawes – Agenda 2010 en Hartz IV. Dit is een van vele tekens van weerstand in Europa teen sogenaamde “hervormings”-beleidsrigtings. In die Verenigde State het mnr. George W. Bush gedink dat hy die oorblyfsels van die staatspensioenstelsel sal kan privatiseer as hy verkies word. Maar sy projek is steeds geblokkeer.

Deur George Ross, Direkteur van die Navorsingsentrum vir Duitsland en Europa by Brandeis-University (Massachusetts, Verenigde State) en Navorsingsdirekteur by Harvard Universiteit
Vertaal deur Christel Cattin

    Na sy herverkiesing in November 2004, het mnr. George W. Bush aangekondig dat hy voortaan “politieke kapitaal” tot sy beskikking het en dat hy vasbeslote is om dit ten volle te benut. Versterk deur sy nuwe mandaat en deur `n vergrote meerderheid in die Kongres, het die President geen doekies omgedraai om voorstelle vir binnelandse beleidsinisiatiewe te maak nie, en by name `n hersiening van die pensioenstelsel deur middel van toedeling. Mnr. Bush het hierdie hervormings binne die raamwerk geplaas van die die skepping van, soos wat hy dit noem, `n “samelewing van eienaars”  (“ownership society”).

    In sommige sirkels is dit aaneemlik om die Amerikaanse president as `n cowboy te beskou wat homself lomp uitdruk en beperkte intellektuele vermoëns het. Of hierdie beskrywing juis is al dan nie - en dit is ongetwyfeld nie die geval nie (1) - vorm die “samelewing van eienaars” een van die hoekstene van die neo-konserwatiewe strategie wat daarop gemik is om die Amerikaanse gemeenskap radikaal te transformeer. Sonder om tot enkele simplistiese slagspreuke vereenvoudig te word, verskil hierdie uitgebreide strategie van klassieke neo-liberalisme. Wanneer dit eers geïmplementeer is, kan dit belangrike gevolge hê op `n internasionale skaal.

    Die Amerikaanse Federale pensioenstelsel is deur Franklin D. Roosevelt op die been gebring na die Groot Depressie van die 1930’s. Dit was die Social Security Act van 1935. Geïnspireer deur die stelsel wat deur Bismarck ingestel is aan die einde van die 19de eeu, funksioneer dit op die basis van toedeling. Salaristrekkers en werkgewers dra almal 6,2% loongeld by, maar die bedrag wat aan hierdie belasting ondergeskik is, is beperk tot $90 000. Die heffings, wat meer as `n kwart van federale belasting verteenwoordig, word aan huidige pensionarisse uitbetaal. Mettertyd, en na verskeie hervormings, het die gedeelte van pensioene wat aan toedeling ondergeskik is in die algehele stelsel verminder tot voordeel van pensioenskemas.

    Die vervangingsbedrae van staatspensioene – die pensioenbedrag wat uitbetaal word in vergelyking met die salaris van voorheen – is laag, tussen 25% en 30%, effens meer vir weduwees en gestremde persone (2). Desnieteenstaande het hierdie stelsel sedert die 1930’s die las van arm bejaarde persone op doeltreffende wyse hokgeslaan: dit het armoede byvoorbeeld tussen 1959 en 1979 met die helfte verminder. En tans verteenwoordig federale uitbetalings vir twee derdes van pensionarissee meer as die helfte van hul inkomste.

    Die pensioenstelsel van toedeling, gebaseer op idees van solidariteit en kollektiewe risikoverspreiding, is die hoeksteen van die Amerikaanse openbare maatskaplike beskermingstelsel se oorblyfsel (3). Maar net soos in Europa, hang daar `n vraagteken oor sy voortbestaan as gevolg van finansiële probleme. As gevolg van `n hoër lewensverwagting, dreig die aantal bydraers ontoereikend te word om die aantal begunstigdes te onderhou: die baby boom-geslag (gebore tussen 1945 en 1965) bereik aftree-ouderdom, terwyl die werkersbevolking konstant afneem. Sekere ramingsyfers bevestig dat pensioenuitbetalings dié van bydraes reeds teen 2018 gaan verbysteek, en dat die stelsel “bankrot” behoort te wees vanaf 2042.

`n ‘Krisis’ geproklameer

    Na aanleiding van hierdie voorspellings wat reeds bespreek is (4), het president Bush die bestaan van `n “krisis” geproklameer, ten einde die hervorming, wat grootliks op neokonserwatiewe idees gebaseer is, makliker te laat aanvaar. As die Withuis se projek aanvaar sou word, sal die jongste salaristrekkers 4% van hul bydraes belê in “individuele pensioenrekeninge (5)”, met `n aanvanklike plafon van $1000 per jaar. Sonder om hiertoe verplig te word, sou hulle sterk daartoe aangemoedig word, uit vrees dat die huidige stelsel ineen mag stort, en in die sekerheid dat hul pensioen gaan verminder. Die oudste werkers, wie se pensioen gewaarborg is, sou nie aan hierdie program kan deelneem nie.

    Die eerste argument ter stawing van hierdie beleggings wat op finansiële markte gedoen word, is dat hulle meer verdien as wat die regering se pensioenfondse kan behaal, aangesien laasgenoemde beperk is tot bydraes van die Amerikaanse Ontvanger. Die tweede argument: elke individu sou direk die eienaar wees van sy rekening en dit dus op sy eie kon bestuur. Laastens, `n bedekte toenadering tot die Demokrate, beplan mnr. Bush om pensioene wat aan welgestelde afgetredenes uitbetaal word, geleidelik te verminder, ten einde die minimum pensioen van die armste pensionarisse te verhoog (6).

    Die teenstanders van hierdie projek baseer hul teenkanting op een beginsel: solidariteit en kollektiewe risikodeling het hulself reeds ewe veel op morele as praktiese vlak bewys. Hieruit volg die vraag, hoekom daarvan afstand doen? Niks wys daarop dat die stelsel werklik in `n “krisis” gedompel is nie. Enkele verstellings, `n gewysigde skatting van  verhoogde produktiwiteit vir die volgende veertig jaar, sou inderwaarheid die onbalans wysig en die voortsetting van die stelsel verseker, ten minste op die mediumtermyn. Die vermindering van vervroegde pensioene sou ook groot bedrae kon insamel; persentasievlakke sou verhoog kon word en, bowenal, die verpligte maksimumbedrag sou ver bo $90 000 verhoog kon word, wat terselfdertyd die bydrae van hoër inkomstegroepe sou verhoog.

    Die individualisering van die kollektiewe sekuriteitstelsel gaan groot ongelykhede veroorsaak wat risiko betref. Om die waarheid te sê, soos wat die Enron-bankrotskap en die ander wat daarna gevolg het, aangetoon het, bly effektebeurse besonder duister (7). Dit kan dus sterk verwag word dat `n groot aantal onervare beleggers hulle pensioen sal sien verdwyn (dit het reeds verskeie kere gebeur (8)), terwyl die mees bekwame beleggers, dit wil sê in die meeste gevalle die rykste en bes ingeligte persone, gerieflike winste sal behaal.

`n Reusagtige verlies

    Die belangrikste beswaar is egter die koste tydens die oorgangstydperk. Die omswaaiing van `n deel van die bydraes na private rekeninge gaan inderwaarheid `n reusagtige verlies in uitbetalings van huidige pensioene meebring (meer as $1 000 miljard). Niemand skyn te weet waar die staat so `n bedrag gaan vind nie. Die Bush-administrasie stel voor om dit te leen, maar die belastingkortings wat aan hoë inkomstes toegestaan is het, reeds `n kolossale begrotingsverlies meegebring ($412 miljard, dit wil sê 3,6% van 2004 se BBP), sowel as `n verhoging in rentekoerse.

    Al hierdie besware en teenvoorstelle laat `n mens vermoed dat die Withuis werklik die pensioenstelsel van toedeling wil beskerm. Maar die mikpunt van die “hervorming” is, inteendeel, die stryd teen die logika van solidariteit en kollektiewe herverdeling van risiko. Wat hierdie onderwerp betref het President Bush dit baie duidelik gestel: “Wanneer `n mens iets besit, word die toekoms van jou land baie belangriker. Hoe meer eienaars daar in Amerika sal wees, hoe sterker sal dit wees, want die nasionale lotsbestemming sal in elke individu se gedagtes wees (9)”. Gevolglik gaan dit daaroor om private eienaarskap op elke vlak van die samelewing te laat binnedring, veel meer as net behuising (69% van Amerikaners is huiseienaars), en om die aanskaffing van aandele en obligasies te veralgemeen.

    Geïndividualiseerde pensioenskemas neig in hierdie rigting. En die “herverdeling” van pensioentoelae aan minder gegoede bydraers om die stelsel te herbalanseer, is ondergeskik aan die feit dat die middelklas steeds nader aan die privaatsektor gestoot word, terwyl afkeer jeens die werkersklas en die stelsel wat voortgaan om hulle te beskerm, verskerp.

    Die ander hervormings wat hierdie “samelewing van eienaars” wil bevorder, het dieselfde oogmerk: die skepping van private gesondheidversekeringsrekeninge (soortgelyk aan individuele pensioenfondse, maar gerig op mediese onkostes), die verlaging van belasting op bedrae wat belê word en die verlaging in inkomstebelasting, wat net gegoede huishoudings tot voordeel sal strek en die gemeenskap toenemend sal polariseer. `n Bykomende voordeel: aandeelhouers stem tot `n groter mate as ander mense vir die Republikeinse Party...

    Agter die maatreëls wat deur die Withuis voorgestel word, skuil `n ideologie wat net soveel van John Locke se filosofie geërf is, as die pioniersgees van die “Grens”: individue of eienaargesinne hanteer hul bates op `n meer rasionele wyse as die Staat. Vir die aanhangers van hierdie ideologie, is maatskaplike hulpprogramme skadelik, in die sin dat hulle burgers afhanklik maak van die gemeenskap.

Ware vryheid volgens Bush

    Ware “vryheid”, om mnr. Bush se gunsteling woord te gebruik, kom daarop neer om die mag te hê om alle besluite aangaande jou bestaan te maak en deur slegs jou eie situasie en dié van jou gesin in ag te neem. Ons bevind onsself hier volledig in teenstelling met die “liberale” ideologie (in die Amerikaanse sin, dit wil sê soortgelyk aan die Europese Sosiaal-Demokrasie), wat reken dat die doel van die staat se betrokkenheid daarop gemik is om vir die mark se ongelykhede en slegte gewoontes te kompenseer.

    Hierdie “samelewing van eienaars” het nie veel te make met die neo-liberalisme van mev. Margaret Thatcher nie. Die voormalige Britse Eerste Minister het die bestaan van `n “gemeenskap”, wat iets anders sou wees as die samevoeging van individue en verbruikers, openlik bevraagteken. Vir daardie groep neo-liberaliste, is die enigste toelaatbare maatskaplike realiteit, dié van die mark. Mev. Thatcher se anti-Europese nasionalisme was gebaseer op haar verwerping van maatreëls wat deur die Europese Gemeenskap en daarna die Europese Unie, opgelê is. Dit word veral duidelik wanneer daar opgelet word na die rol wat aan openbare gesag toegestaan word.

    Vir die neo-konserwatiewes moet die staat in die herorganisering van die gemeenskap ingryp om Amerikaners sodoende die geleentheid te gee om kapitaal te versamel en dit verstandig te belê. Nietemin gaan “hervormings” soos dié van die pensioenstelsel gepaard met enorme openbare besteding. Die aktivisme van die neo-konserwatiewes word dus nie tot buitelandse beleid beperk nie. Dit gaan wel hier om die skepping van `n nuwe “burger”, bevry van enige morele beperking wat aan kollektiewe solidariteit gebonde is.

    Is die “samelewing van eienaars” nie net `n nuwe retoriek wat daarop gemik is om doodgewone doelstellings van die Bush-administrasie verdoesel nie? So `n interpretasie kan versterk word deur die sinisme wat Republikeine openbaar, deur hulle te gedra asof alles hulle beskore is, in `n oorlogsituasie en wat binnelandse beleid aanbetref.

    Wat meer is, niemand het enige illusies – sedert 2001 kom dit duidelik na vore in fiskale prioriteite – dat die neo-konserwatiewes se program eerstens daarop gemik is om die rykes ryker te maak nie. Dit sou uiteraard onverantwoordelik wees om nie die oortuigings wat agter die presidensiële slagspreuk skuil, ernstig op te neem nie, want hierdie oortuigings getuig van die volgehoue lewenskrag van die Amerikaanse regtervleuel. Die huidige president se ondersteuners weet dat `n groot deel van die land toenemend ontvanklik vir hulle idees is. Die “samelewing van eienaars” is nie `n utopie nie, maar `n program wat toegepas sal word, sodra politieke omstandighede dit toelaat.

    Dit kan binnekort gebeur. Die Amerikaners het mnr. Bush met `n groter meerderheid herverkies as verwag en het hom so van `n versterkte meerderheid in die Kongres verseker (10). Weerstand vanuit staatsinstansies vir die presidensiële inisiatiewe is dus betreklik min. Desnieteenstaande vind die “samelewing van eienaars” sy kulturele oorsprong in Amerikaners se tradisionele agterdogtigheid jeens die begrip van maatskaplike beskerming in sigself. Gevolglik is die enigste ware universele programme op bejaardes gerig. Dié wat op armes gemik is, bly steeds baie beperk en bevat telkens `n strafmaatreël wat eerder stigmatiseer en uitsluit, as wat dit herstel.

Agteruitgang van mediese versekering

    In die Verenigde State was mediese versekering nog altyd eerder `n private as `n openbare aangeleentheid, in weerwil daarvan dat 15% van Amerikaners geen siektebeskerming geniet nie, dat gesondheidsonkostes hoër is as in enige ander land en dat die stelsel toenemend swakker funksioneer (11). In 1993 het President Bill Clinton wel beskroomd probeer on die tendens te verskuif, maar sy hervorming is deur die Kongres gekelder (nieteenstaande `n Demokratiese meerderheid), en die burgery is gedwing om volgens hul inkomste te “kies” tussen `n menige private mediese versekeringskemas wat wissel tussen die mees luukse tot die mees minimalistiese.

    In 1995 het die “hervormings” van die werkloosheidversekeringsprogram die straf-aspek van hulpprogramme vir armes beklemtoon en is stelsels van “aanmoediging om te werk” ingestel wat sodoende die geledere van die working poor aangevul het. Die Bush-administrasie het wel die terugbetaling van medisyne wat deur bejaardes aangekoop is, verbeter, maar op só `n wyse dat openbare besteding wat uit hierdie hervorming spruit, die farmaseutiese bedryf tot voordeel strek sonder om dit aan beheer te onderwerp. Die maatreël in sy geheel, versterk deur fiskale aansporings, moedig pensioenarisse aan om hulle toenemend tot private versekeringskemas te wend.

    Laastens is al die onlangse veranderings van die belastingwet in ooreenstemming met die ideologie van `n “samelewing van eienaars”: belastingvoordele vir lenings uitgeneem om eiendom aan te koop en vir skenkings aan liefdadigheidsorganisasies, lenings om kindersorg te finansier (meestal deur private organisasies waargeneem), lenings om die finansiering van tersiêre studie te vergemaklik, en verskeie soorte hulpskemas wat daarop gemik is om “individuele keuses” wat opvoeding betref, te bevorder (12).

    Met hierdie maatreël mik president Bush se span op kiesers wat tel. Die vernietiging van die Amerikaanse industriële sektor het die aantal working poor tienvoudig vermeerder, `n bevolkingskategorie wat uiters swak georganiseer is en wat selde stem. Die neo-konserwatiewes mik na die hoër “middelklas”, dit wil sê die 20% mees welgesteldes, sowel as diegene wat rede het, reël of ideël, om te glo dat hulle welvarend kan word. Tans ondervind hierdie deurslaggewende faksie van kiesers die behoefte om bates wat tel te versamel (behuising en beleggings), en hulle kinders se uiters duur opvoeding en sorg te finansier, danksy belastingvoordele. Dit is in so `n maatskaplike groepering wat `n mens die “eienaars” vind waaroor neo-konserwatiste droom.

    Sedert die begin van die 1980’s het ongelykheid baie vinniger in die Verenigde State ontwikkel as elders en maatskaplike mobiliteit na bo is merkbaar vertraag (13). Hierdie veranderings het `n ware gevoel van onveiligheid in die middelklas, wat deesdae behep is met die idee van kapitaal-oordrag aan sy nakomelinge (inkomste, opvoeding), meegebring. Op hierdie wyse het families wat die finansiële en kulturele vermoëns het, sorgvuldig gekies waar hulle hul vestig, sodat hulle kinders veilig kan leef en die bes moontlike skole en sosialiserings-“netwerke” tot hul beskikking het (14).

    Natuurlik verseker die groot universiteite kinders se toekoms, maar dit is moeilik om daar toelating te verkry, en hulle is bykans almal geprivatiseer. Met klasgelde en huisvestingsonkostes wat meer as $40 000 per jaar bedra, het Amerikaners wat gelukkig genoeg is om aan die middelklas te behoort, gewoond daaraan geraak om van hulle kapitaal afstand te doen (en selfs skuld aan te gaan) op 45- of 50-jarige ouderdom om hulle kinders se tersiêre opvoeding te finansier.

`n Maatskaplike gelukspel

    Die groot spel van maatskaplike mobiliteit het geleidelik na `n gelukspel oorgeskakel: `n mens kan baie verdien as `n mens bereid is om die grootste deel van jou besittings op die spel te plaas. Maar wanneer die spel verby is, is diegene wat van `n pensioen verseker is min. Onder die dekmantel van “keuse”, neig die wyse waarop die stelsel funksioneer, om berekening en egoïsme voort te bring, die twee voedingsbronne van die “samelewing van eienaars”. So `n transformasie van denkwyses word dan gebruik as argument om `n nuwe fase van die privatisering van die gemeenskap te vestig.
    
    Trouens, `n omvattende projek wat so ambisieus is, kan nie meer as fiksie-politiek beskou word nie. Die oorwinnings van die nuwe Amerikaanse regtervleuel het nóg sy vasberadenheid tot bedaring gebring, nóg sy soeke na “nuwe idees” afgeskaal. Min waarnemers besef in watter toestand van “verval” die linkervleuel homself bevind, Demokrate ingesluit. Maar intellektuele binne die nuwe regtervleuel besef dat, as Christelike fundamentalisme hulle in staat gestel het om `n deel van die werkersklas tot voordeel van die huidige president te mobiliseer, die verdelings wat dit laat herontwaak, die konserwatiewe projek in gevaar stel (15).

    In elk geval, ofskoon Amerikaners meer as enige ander nasie daaraan gewoond is om te sien hoe die mark hulle lewe “reguleer”, is die welgesteldes die enigstes wat waarlik voordeel trek uit die resultate wat daaruit voortvloei. Die ander verstaan dikwels dat die beleidsrigtings wat deur die Wall Street Journal en die sakegemeenskap aangemoedig word, hulle bestaan meer onleefbaar maak.

    Trouens die “samelewing van eienaars” is juis daartoe in staat om die slaggate te vermy deur staatsinmenging te herstel, selfs al laat openbare besteding in hierdie geval die privatisering van die gemeenskap in sy geheel versnel. Wat meer is, die grondslag van die neo-konserwatiewe projek is meer moreel of kultureel as religieus of ekonomies van aard. Op bedrewe wyse dra hierdie posisionering, hierdie inkleding, by tot `n etiese regverdiging van beleidsrigtings wat armes stigmatiseer, die middelklas paai en die welgesteldes toelaat om hulself verder te verryk.

    Op die oomblik is Amerika aan die beweeg; die geluid van sy stewels word in verskeie lande gehoor. Maar dit geld ook vir binnelandse en maatskaplike beleid. Alhoewel die neo-konserwatiste die land regeer, skyn niemand in die inhoud van hulle program geïnteresseerd te wees nie. Om hulle prioriteite te interpreteer as `n simplistiese weergawe van die idee dat die mark alle probleme oplos, is foutief. Inteendeel, hulle wêreldvisie is intervensionisties en, geïinspireer deur die outoritêre filosofie van Leo Strauss, is dit vergelykbaar met `n vorm van Leninisme wat aan die verdediging van die magtiges gewy is.

    In hierdie sin is die regerende regtervleuel gereed om op enige wyse in te gryp en om geld te bestee, ten einde die burgery te oortuig dat die konsep van die kollektief verwerp moet word. En as die Amerikaners, soos wat hulle is, nie met hulle projek saamstem nie, sal hulle getransformeer moet word om daarby in te val. Polities baie gevaarlik en reeds ongewild, sal die hervorming van die pensioenstelsel moontlik misluk, miskien hierdie keer, maar die neo-konserwatiewe idees gaan desnieteenstaande voort om wortel te skiet in die samelewing. Want die Amerikaanse regtervleuel het bewys dat hy kan wag.

    Alles wys daarop dat die Verenigde State vasbeslote is om sy mag te gebruik om die konsep van `n “samelewing van eienaars” uit te voer. Dit is `n projek wat binne `n kort tydperk sy grondslag kan vind, veral in Europa, waar die elite gehipnotiseer skyn te wees deur die Amerikaanse model, terwyl daar somtyds voorgehou word dat dit beveg word. Daar moet nietemin geen illusies bestaan nie: dit gaan hier oor die bevraagtekening van vele eeue se ondervinding en kollektiewe oorwinnings wat die Westerse wêreld gehumaniseer het.
_________
(1) Lees verder oor hierdie onderwerp Thomas Frank, “Cette Amérique qui vote George W. Bush”, Le Monde diplomatique, Feburarue 2004, en Serge Halimi, “Le petit peuple de George W. Bush”, Le Monde diplomatique, Oktober 2004.
(2) Hierdie uitbetalings word aangevul deur twee stelsels wat privaat gefinansier word. Komplimentêre pensioene wat per sektor onderhandel en deur maatskappye gefinansier word (wat na aan die vlak van toepassing in Europa is), is slegs aan minder as die helfte van salaristrekkers beskikbaar. Individuele pensioenfondse, meer onlangs geskep, is slegs voordelig vir die mees welgestelde salaristrekkers.
(3) Pensioenbesteding verteenwoordig 4,3% van die bruto binnelandse produk in die Verenigde State, teenoor 12,1% in Frankryk en 11,8% in Duitsland, volgens die Organisasie vir Samewerking en en Ekonomiese Ontwikkeling (OECD).
(4) Lees Mark Weisbrot en Dean Baker, “If It Ain’t Broke, Don’t Fix It”, The Washington Post, 23 Januarie 2005.
(5) http:/www.whitehouse.gov/infocus/socialsecurity
(6) Lees “President’s Big Social Security Gamble”, The New York Times, 30 April 2005.
(7) Kyk Thomas Frank, “Enron aux mille et une escroqueries”, Le Monde diplomatique, Februarie  2002, en Ibrahim Wardé, “Faiseurs de krachs boursiers”, Le Monde diplomatique, Augustus 2002.
(8) Kyk Martine Bulard, “Les retraités trahis par les fonds de pension”, Le Monde diplomatique, Mei 2003.
(9) Aangehaal uit `n mediaverklaring van die Withuis, 9 Augustus 2004.
(10) 55 setels in die Senaat (uit 100) en 232 in die Kamer van Verteenwoordigers (uit 435).
(11) Kyk Paul Krugman, “Passing the Buck”, New York Times, 22 April 2005. Lees ook Olivier Appaix, “Assurance-Maladie: Les patrons américains en rêvent”, Le Monde diplomatique, Julie 2004.
(12) Kyk Christopher Howard, The Hidden Welfare State, Princeton: Princeton Univerity Press, 1997.
(13) “Meritocracy in America”, The Economist, Londen, 1 Januarie 2005.
(14) Lees Rick Fantasia, “Les Mécanismes de reproduction de l’élite : délits d’initiés sur le marché universitaire américain”, Le Monde diplomatique, November 2004.
(15) Die wyse waarop Christelike fundamentalisme ingespan is om populisme teen die linkervleuel te draai is deur Thomas Frank geanaliseer in What’s the Matter with Kansas? How Conservatives Won the Heart of America, Metropolitan Books, New York, 2004.
 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=253
Artikel nagegaan:
    -