|
||||
Maurice Lemoine Die eerste spitsberaad van Suid-Amerika en die Arabiese Bond wat die 11de Mei in Brasilië ten einde geloop het, dui op die onafhanklikheidswil van dié suidelike vasteland en sy weiering van die tradisionele Amerikaanse unilateralisme. Die VSA is nou oral in Suid-Amerika op die agtervoet, gekonfronteer met die rommeling van maatskaplike bewegings, linkse regerings of die val van die presidente wat hulle bondgenote was. Dit beteken egter nie dat Latyns-Amerika teen dieselfde pas marsjeer nie. Deur Maurice Lemoine, joernalis, Le Monde diplomatique Vertaal deur Jeanne van Dyk Volgens oorlewering was daar `n tyd toe journaliste in La Paz (Bolivia) `n voorliefde vir `n sekere hotel op die Plaza Murillo reg oorkant die Regeringsgebou gehad het, danksy die “uitsig op die staatsgreep”. `n Hedendaagse legende sou lui dat `n pas verkose president ter wille van sy eie veiligheid vir “`n kantoor wat op die helikopter uitloop” vra. Na die Argentyn Fernando de la Rua in 2001, en die Boliviaan Gonzalo Sanchez de Lozada in 2003, vlug die Ecuadoriaanse staatshoof, Lucio Gutierrez ook danksy hierdie tipe reddingstuig op 20 April vanuit sy presidensiële hoofkwartuur (Palacio Carondelet). Wat `n hartseer lot vir `n man wat gelyk het asof hy `n bestiering van bo was. As kolonel was Gutierrez een van die leiers van die kortstondige staatsgreep wat in Januarie 2000, aangehelp deur `n volksonlus hoofsaaklik onder inheemse bevolkingslede, President Jamil Mahuad se ondergang beteken het. Effens oorhaastig as `n “Ecuadoriaanse Chavez” bestempel, palm hy na sy skorsing uit die weermag en ses maande tronkstraf die 2002 presidensiële verkiesing in, danksy ondersteuning van die Pachakutik-beweging. Dié beweging is die politieke vleuel van die Konfederasie van inheemse volke van Ecuador (Conaie), `n magtige organisasie van outochtoonse volke (1). Na slegs `n paar maande laat Guttierrez egter almal in die steek (veral die ministers uit die Pachakutik-beweging), val in by die beleid van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en verklaar homself tot “Bush se grootste bondgenoot” in die gebied. Ondanks ongewilde wette en politieke gekonkel oorspeel Gutierrez egter eers op 8 Desember 2004 sy hand deurdat `n parlementere meerderheidsgroep “onder sy bevel” 27 van die 31 regters van die Hooggeregshof vervang. Op 31 Maart 2005 kanselleer die pasgenoemde magistrate die onafgehandelde sake teen die voormalige presidente Gustavo Noboa (aangekla van korrupsie en in Februarie 1997 onthef) en Abdala Bucaram (gedwing om te bedank te midde `n ondersoek na die misbruik van publieke fondse). Die terugkoms van die twee voormalige leiers uit bannelingskap (onderskeidelik uit Panama en die Dominikaanse Republiek) is met volksonluste begroet. Nie net die gedestabiliseerde weermag nie, maar ook die Kongres laat Gutiérrez in die steek: 60 van die 100 parlementslede onthef hom – moontlik om hulle eie bas te red. Die voorgehoue (en amptelike) rede, naamlik "ampsverlating" (Gutierrez is beskuldig van ”Grondwetoortreding”), lok egter hewige teenstrydigheid uit. Ten spyte van Gutierrez se sterk steun tot op die laaste oomblik aan sy bondgenoot, kom Washington nie tot sy redding nie. Almal ag dit die belangrikste om die "instellings" en die "geloofwaardigheid van die politieke stelsel" te bewaar. `n Suid-Amerikaanse tydbom Weens die jarelange liberale fundamentalistiese oorheersing – 225 miljoen armes (43,9 % van die bevolking) – sit Latyns-Amerikaanse regerings op `n tydbom. Ten spyte van die "waghonde" se vasberadenheid om die stand van sake te behou – “Aanvaar jou lot. Selfs in tye van ekonomiese krisis, bring geld nie geluk nie (2)" – lyk dit asof die tyd dat die bevolking net sit en toekyk vir goed verby is – "Maatskaplike geregtigheid? Dit kom elke dag nader en nader – nes die horison!". Vir die eerste keer sedert die 1960’s beoog menige linksgesinde regerings (waaronder Argentinië, Brasilië, Uruguay en Venezuela) nou om die situasie in hierdie republieke waar die volk al so lank verag en uitgesluit is, te verander. Desnieteenstaande is die Venezuelaanse president Hugo Chavez, buiten Fidel Castro, die enigste president wie se ontwikkelingsmodel sterk van Washington se standpunt afwyk. Die Verenigde State beveg hierdie teenstrydigheid vanuit beide halfronde deur sy band met sy onvoorwaardelike bondgenote te verstewig - Mexiko en Sentraal-Amerika, die Andes waarvan Colombia en Gutierrez se Ecuador (saam met Sanchez de Lozada se Bolivia) `n sleutelrol speel. Sedert die 1990’s slaan Washington met vrye handelsverdrae toe. Eerstens die Noord-Amerikaanse Vryehandelsverdrag (NAFTA [3]), gevolg deur die omvattender Amerikaanse Vryehandelsone (ALCA in Spaans) in Januarie 2005, met die doel om die ultra-liberale virus oor die hele kontinent te versprei. Laasgenoemde projek kry egter teenstand van maatskaplike bewegings soos die Kontinentale Campagna teen ALCA, die verwerping van die Enkelmark van die Suide (Mercosur[4]) en weerstand vanuit Venezuela. Politiek by wyse van handelsverdrae Om probleme te ontduik teken die VSA haastig bilaterale verdrae met Sentraal-Amerika en die Dominikaanse Republiek (Central American Free Trade Agreement - CAFTA), Ecuador, Colombia en Peru (5). Soos ALCA van ouds gaan hiedie vryehandelsverdrae (TLC in Spaans) net so veel oor strenggesproke ekonomiese aangeleenthede as oor die bestuur van die Staat, arbeidswette, intellektuele besit, die omgewing, natuurlike- en energiehulpbronne, gesondheid en onderwys. Tydens die skynonderhandelinge slaag Suid-Amerikaanse lande slegs daarin om geringe wysigings in te voeg. Washington sien net na sy eie belange om en weier om enige beduidende toegewings te maak. Sulke blatante neokolonialisme laat die volke egter nie koud nie. "Ek glo hulle mag selfs die staat privatiseer" is die soort opmerking wat mens hoor. "As dinge so aangaan, word ons dalk een oggend wakker om uit te vind die hele land behoort nou aan Coca-Cola!". Sentraal-Amerika is op die voorpunt van protes. `n Petisieveldtog in Peru en Ecuador is daarop gemik om regerings te verplig om die bevolking te raadpleeg voor enige verdere verdrae gesluit mag word. Met die hulp van volksverteenwoordigende organisasies is in Bolivia verhinder om voort te gaan met onderhandeling oor vrye handelsverdrae (TLC), herdoop na "Total locura capitalista" (totale kapitalistiese malligheid). Die onlangse oorgawe van die Boliviaanse en Ecuadoriaanse staatshoofde het egter tot dusver net verdere onsekerheid oor die toekoms meegebring. Soos in Argentinië in Desember 2000, lui slagspreuke tydens straatoptogte in Ecuador "Que se vayan todos" (weg met hulle almal!). Hierdie self-uitgeroepte opstand wat die steun van verskeie klasse van die samelewing geniet (onafhanklike radiostasies het `n belangrike rol gespeel) sluit politieke partye en leiers uit. Die onluste in La Paz en in Buenos Aires het selfs die Conaie en die Pachakutik-beweging buite rekening gelaat as gevolg van hulle verteenwoordiging in Gutiérrez se regering. In Bolivia is Sanchez de Lozada deur sy Adjunk-president Carlos Mesa (onafhanklik van enige politieke party) opgevolg, en in Ecuador is Gutiérrez deur sy regterhand Alfredo Palacio (`n dokter sonder politieke betrokkenheid) vervang. Die gevolg is dat nie een van hulle oor die nodige ondersteuning beskik nie. Natuurlik was President Nestor Kirchner (voormalige Peronis nou sentrum-linksgesind) se bewindsoorname in Buenos Aires onder omstandighede as `n welkome verrassing gesien. In teenstryd met die IMF roep sy regering `n moratorium teen die land se private skuld uit. Hierdie maatreël het in Maart 2005 tot `n einde geloop, nadat die skuldeisers aanvaar het om 65,6 % van die verskuldigde som af te skryf. Op 10 Maart, danksy die onmiddellike ondersteuning van honderde betogers wat vulstasies beset het, het Kirchner `n beroep op die bevolking gedoen om die petrolmaatskappye Shell en Esso te boikot weens die onlangse 3% verhoging in die brandstofprys. Dit het egter min gedoen om maatskaplike ontevredenheid te demp. `n Plofbare Ecuador Die situasie in Ecuador met die nuwe President Palacio aan die stuur is net so plofbaar. Uit oortuiging of om die bevolking te paai, beweer die Minister van Ekonomie, Rafael Correa, dat "die handelsooreenkomste gerespekteer moet word, maar dat die volk nie soos slawe hoef te onderhandel nie (6)". Die Minister van Binnelandse Sake, Manuel Gándara kondig egter die volgende aan: die onderbreking van TLC-onderhandelinge, die herondersoek van alle mynbou- en brandstofkontrakte, Ecuador se distansiëring van die Colombia Plan, die bestudering van `n moontlike verbreking van die 1999-ooreenkoms met die VSA wat aan dié land die militêre basis van Manta beskikbaar stel (500 Amerikaanse soldate is tans in hierdie stategiese Southern Command-basis ontplooi, hoofsaaklik om die Colombiaanse guerillastryders te beveg) (7). Maar na `n ete met die Amerikaanse ambassadeur Kristie Kenney, moes President Palacio egter van die laaste punt afsien. Is Ecuador besig om dieselfde paadjie as Bolivia te volg? Betogings teen privatisering in Bolivia tydens `n sogenaamde "wateroorlog", gevolg deur `n "gasoorlog" (waartydens 80 mense dood en 500 beseer is) het die ultra-liberale Sanchez de Lozada op die vlug laat slaan (8). Op 18 Julie 2004, roep sy opvolger Carlos Mesa, met die steun van die grootste opposisieparty "Beweging na sosialisme" (MAS in Spaans) van Evo Morales, `n "gasreferendum" uit waartydens die oorgrote meerderheid van die bevolking hulle ten gunste van `n hernasionalisering van die brandstofbedryf uitspreek. Die maatskaplike beweging stel gesamentlik eise: die sameroeping van `n grondwetgewende vergadering (soortgelyk aan dié wat die fondasie vir die Boliviaanse revolusie in Venezuela gelê het), die verwerping van AFTA en/of die TLC, die uitsetting van die transnationale Aguas de Illimani (Suez Lyonnaise des Eaux), en `n wet op brandstof wat onder andere `n 50% heffing (soos per referendum bekragtig) op die ontgunning deur transnationale konsortiums plaas. Vasgevang tussen burgerlike onluste aan die een kant, en die IMF, die Wêreldbank en multinationale maatskappye aan die ander kant, beweer Mesa tans dat dit "onmoontlik" is om hierdie wet (wat reeds deur die Kongres goedgekeur is), deur te voer, omrede teenkanting van die internasionale gemeenskap (9). Hierdie omstandighede maak dit vir hom onmoontlik om te regeer. Die opposisie baat nie regtig by die situasie nie, ofskoon hy oor `n soort vetoreg beskik, danksy die algemene burgerlike ongehoorsaamheid. Weens `n tekort aan ideologie en volksverteenwoordiging, speel die sogenaamde tradisionele politieke partye slegs `n geringe rol in gebeure. Selfs tradisionele radikale soos Felipe Quispe (Inheemse Pachacuti Beweging, MIP) en Evo Morales (MAS), voorheen persoonlik beskuldig van sameswering met Mesa, loop nou die risiko om veroordeel te word as hulle nie die ooreenkoms met Mesa nakom nie, want dit sou as teenstrydig met die nuutgevonde trots en soewereiniteit van die Boliviaanse volk onder leiding van die Boliviaanse Werkersentrale (COB) beskou word. Van katastrofe na ramp in Peru Die situasie in Peru waar die katastrofe Alberto Fujimori deur die ramp Alejandro Toledo opgevolg is, is net so plofbaar: Padblokkades, besetting van staatspersele, mislukking van weermagoptredes (op 1 Januarie 2005 a.g.v. `n groep ultra-nationalistiese oud-weermaglede, bekend as die Etnocaceristas), konfrontasie met die polisie en die weermag, ens. Die alomteenwoordige korrupsie in alle lae van die staat en die maatskaplike onlus bring die volgende vraag na vore: Moet Toledo tot 2006 aan bewind bly of moet daar vroeër van hom ontslae geraak word? Ongelukkig, weens die algemene verwerping van politieke partye en hulle leiers, doen geen voldoende politieke alternatief hom voor nie. Nicaragua is geen uitsondering nie. Die land is in April en Mai vanjaar geskud deur gewelddadige betogings teen die verhoging in die brandstofprys waartydens meer as 80 van die 152 municipios (munisipaliteite) vereis het dat President Enrique Bolanos òf die energiekrisis ontlont, òf bedank. Dit is egter onseker of die Frente Sandinista de Revolucion Popular (FSLN) in staat sal wees om te regeer as Bolanos nie meer aan bewind is nie. Die situasie is kritiek en die tekort aan inheemse volksverteenwoordiging vervreem `n groot aantal ondersteuners en oud-aktiviste. Hierdie voorbeelde spreek meer van onsekerheid en vrees vir wanorde as van `n moontlikheid om waarlike alternatiewe te vind. Nietemin is Washington besig om stadig maar seker sy pionne te verloor. Soos Generaal Bantz Craddock, hoofbevelvoerder van die Southern Command dit stel: "In Bolivia, Ecuador en in Peru is dit die wantroue in die staatkundige instellings wat anti-Amerikaanse, anti-globalisasie en anti-vryemark opswepers aanhuts (10)". Erger nog. Die Brasilië-Argentinië-Uruguay-Venezuela-as (met Kuba in hierdie geval in die agtergrond) ry alle pogings van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake om beheer van sake te neem, in die wiele. Toe die VSA voor die Algemene Vergadering van die Organisasie van Amerikaanse State (OAS) in Julie 2004, in Fort Lauderdale (Florida), voorstel om die Interamerikaanse Demokratiese Stigtingsakte te wysig om lande wat "geleidelik van demokrasie afwyk" te isoleer of om in sulke lande se sake te kan inmeng (soos in die geval van Venezuela), het dit net `n hoflike glimlag uitgelok. Natuurlik was niemand verbaas toe Venezuela, Brasilië en Bolivia tydens `n samekoms van die Ministers van Verdediging (van 16 tot 18 November 2004, in Quito) die voorstel van die Amerikaanse Minister van Verdediging, Donald Rumsfeld, gesteun deur Colombiaanse en Sentraal-Amerikaanse leiers, om `n nuwe konsepsie van "voorkomingssekuriteit" aan te wend en `n multinasionale Latyns-Amerikaanse mag onder bevel van die Pentagon saam te stel, verwerp nie. Amerikaanse mislukking in Colombia Selfs in Colombia, onder leiding van sy mees getroue bondgenoot, Alvaro Uribe Velez, skiet die Amerikaanse beleid erg tekort. Ten spyte van die 3.3 miljard dollar militêre ondersteuning aan Bogota oor die laaste ses jaar, die verskaffing van meer as 65 Blackhawk- en Huey-helikopters, die opleiding van drie nuwe uitsoekbataljonne, raak die Colombiaanse weermag al dieper in interne konflikte verstrengel. Die Patriot Plan, die mees ambisieuse aanval wat ooit teen die Revolusionêre Gewapende Magte van Colombia (FARC) geloods is, waaraan meer as 17 000 soldate in die suide van die land deelneem, was tot dusver onsuksesvol teen die mobiele guerillastryders. Die guerillas se ratsheid en hulle verrassingstegniek in bergagtige en oerwoudagtige terrein gee hulle maklik die oorhand oor onbeweeglike bataljonne. Toe die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake Condoleezza Rice, op besoek aan Bogota op 27 Avril 2005 die amptelike einde van die Colombia Plan vir September vanjaar aankondig, (maar nie die einde van Amerikaanse hulpfondse nie), was die situasie in die weermag kritiek en die regeringsoldate besig om groot verliese in die suid-ooste van die land te lei. Die ontheffing van vier generaals (11) wys op die diepliggende krake in hierdie getraumatiseerde instelling, veroorsaak deur beleidsveranderinge afgedwing deur die Pentagon en mislukkings op grondvlak. Rice het in Februarie vanjaar "die slegte invloed wat Venezuela op Latyns-Amerika uitoefen" as nog `n stok in die wiel vir Washington bestempel. Hewige diplomatieke druk om die Venezuelaanse president te "Lulaliseer (12)", misluk egter. Bowendien is Chavez nie iemand wat hom maklik laat manipuleer nie. In April vanjaar, tydens die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake se vierlandige toer in die vasteland (Chili, Brasilië, Colombia, El Salvador) kon sy geen kritiese uitlating oor die Bolivariaanse Revolusie uitlok nie en is sy hoflik in Santiago die deur gewys. Nie dat Chavez se wegbreekpolitiek groot geesdrif onder sy bure uitlok nie. Oor Mercosur se integrasiemodel wat hy as "onderhewig aan kapitalistiese diktators en merkantilisme" bestempel sit hy nie rondom dieselfde vuur as `n land soos Brasilië, wat na sy bekering tot "realisme" die erkenning van die IMF geniet, nie. Chavez verkondig hoog en laag die implemetering van die sogenaamde (oorheersend sosialistiese) Bolivariaanse Alternatief vir die Amerikas (ALBA [13]). Op 4 Maart het hy selfs so ver gegaan as om te verklaar: "Ons moet die nuwe Sosialisme vir die 20e eeu bepaal. Kapitalisme kan nie meer as `n model vir volhoubare ontwikkeling beskou word nie". Daar is egter meer eensgesindheid oor die versterking van die Suid-Amerikaanse Stategemeenskap (CSN [14]) wat op 8 Desember 2004 in die lewe geroep is, asook oor `n internationale beleid teen unilateralisme, gebaseer op die beginsel van gelykheid van alle State. Ekonomiese verdrae (soos dié in die energie- en nywerheidsektore) sorg vir die res. Venezuela voer byvoorbeeld goedere en dienste ter waarde van 5 miljard dollar van die VSA af in vir sy oliebedryf. Chavez beweer dat 25% van hierdie aankope voortaan uit Argentinië en Brasilië moet kom. Ongeag van wat hierdie leiers dink, kan die volk egter nie buite rekening gelaat word nie. Die alombekende Argentynse piqueteros of die landlose Brasiliaanse boere voel dat Chavez hulle beter as hulle eie presidente verteenwoordig. `n Nuwe sekretaris-generaal Dis nog nie die einde van Washington se probleme nie. Sedert Oktober 2004 is die Organisasie van Amerikaanse State (OAS) sonder `n sekretaris-generaal nà die bedanking van Miguel Angel Rodriguez na slegs 17 dae. Hierdie voormalige president van Costa Rica is deur `n korrupsieskandaal in sy eie land ingehaal en beskuldig van die aanvaarding van 2,4 miljoen dollar omkoopgeld van die Fraanse maatskappy Alcatel. Drie kandidate het na vore gekom om hom op te volg: Luis Ernesto Derbez uit Mexiko (konserwatiewe minister van buitelandse sake en vorige raadgewer vir die Wêreldbank); José Miguel Insulza, die Chileense minister van binnelandse sake, en voormalige adviseur van Salvador Allende, wat ministeriële funksies sedert sy ampsaanvaarding in buitelande sake in 1994 verrig; en laastens die Wit Huis se kandidaat, die voormalige president van El Salvador, Francisco Flores. Laasgenoemde het tydens sy bewind `n simboliese militêre kommando na Irak gestuur (tans steeds daar). In die sestigjarige bestaan van hierdie organisasie van 34 Amerikaanse en Karibiese lande (Kuba uitgesluit), het geen kandidaat nog sonder die steun van die Wit Huis die paal kon haal nie. Selfs nog voor die eerste rondte van die verkiesing op 11 April, te midde van hewige druk, blyk Flores so geïsoleer te wees dat Washington hom versoek om te onttrek om hom `n vernedering te spaar. Op die oog af lyk dit asof die VSA nie veel geskille met Chili het nie. Hierdie land het nie van suiwer mark-ekonomie weggebreek nie en net met Mexiko in 2004 (lid van Nafta) `n vryehandelsverdrag onderteken. Nietemin het Santiago aansieklik meer beweegruimte as Mexiko. Washington kan druk op sy nabye suidelike buurland uitoefen deur `n moontlike wettigverklaring van die 4 miljoen (of meer) onwettige Mexikaanse emigrante, as lokaas te gebruik. Laasgenoemdes het na beraming 38 miljard dollar in 2003 huis toe gestuur - `n bedrag wat die toerismeinkomste oorskry en gelykstaande is aan die helfde van die totale uitvoerinkomste. Die Chileense kandidaat Insulza kan egter op Hugo Chavez se ondersteuning staatmaak om `n paar redes: Buiten `n sekere "Suid-Amerikaanse" solidariteit is daar ook die goeie vriendskap tussen die Mexikaanse president Vicente Fox en George W. Bush; die destabiliseringsveldtog geloods deur die Mexikaanse regering teen die linkse burgemeester Andres Manuel Lopez Obrador, die Revolusionêre Demokratiese Party (PRD) se kandidaat vir die 2006 presidentiële verkiesing; en die feit dat Mexiko teen Kuba gestem het in die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie (15). In opdrag van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake beywer die ondersteuners van Flores hulle voortaan vir die Mexikaan Derbez. Na 5 rondtes bly die twee kandidate egter kop aan kop met 17 stemme elk (18 stemme word benodig om verkies te word). Brasilië, Argentinië, Uruguay, Paraguay, Ecuador, Venezuela, die Dominikaanse Republiek en tien Karibiese lande ondersteun die Chileense kandidaat. Op die vooraand van die 2de Mei, die vasgestelde datum vir `n nuwe stemming, lyk dit of die uitslag in Insulza se guns gaan val, ten spyte van Washington se wanhopige pogings om dit te voorkom. Uitsluitsel sou reeds op 29 April verkry word tydens `n byeenkoms tussen Condoleezza Rice en verskeie Ministers van Buitelandse sake (El Salvador, Paraguay, Colombia, Chili, Canada), waarby Derbez en Insulza ook teenwoordig sou wees. Maar na afloop van hierdie samekoms het die Mexikaan Derbez almal verras deur aan te kondig dat hy hom onttrek. Volgens Peter Hakim, aan die stuur van Interamerican Dialogue, `n organisasie met sy hoofkantore in Washington "het Condoleezza Rice begryp dat haar ondersteuning aan Derbez net op `n ramp kon afstuur". “In geval van `n meerderheid van een of twee stemme sou dit lyk asof die VSA die vasteland in twee verdeel. En in geval hy sou verloor, wat hoogs waarskynlik was, sou dit `n groot terugslag vir die VSA beteken (16)”. Onder omstandighede was dit dus wyser vir Washington om die weg vir Insulza oop te laat. As "konsensuskandidaat" is hy toe uiteindelik op die 2de Mei met 31 stemme (twee onthoudings en een leë stem) verkies. In weerwil van hierdie maneuver op die laaste oomblik, kon Washington egter nie verhoed om as die groot verloorder voor te kom nie. Nietemin sou dit verkeerd wees om te dink dat die oorwinning van die voormalige Chileense Minister van Binnelandse Sake beteken dat daar nou `n voorstander van vooruitgang in beheer van hierdie kontinentale organisasie is. Volgens `n diplomaat wat die laaste onderhandelinge van naby aanskou het, "dui `n groot aantal elemente daarop dat voordat die weg vir hom gebaan is, die VSA vele beloftes van Insulza, asook van die Chileense regering, bekom het oor die beleid wat die OAS ten opsigte van Venezuela en Kuba moet handhaaf". In ieder geval, in hierdie politieke "agterplaas" wat meer verdeeld as ooit is, lyk die kanse maar skraal dat die nuwe sekretaris-generaal, in geval hy sou besluit om die VSA se koers in te slaan, `n totale vrye hand sal hê. ___________ (1) Lees Laurent Tranier se artikel “Die inheemse gemeenskappe van Ecuador kom voor `n evangeliese uitdaging te staan: Strategieë van geestelike oorlewing” in Die Vrye Afrikaan-intussen saam met Le Monde diplomatique, 15 April 2005. (2) Cromos, Bogota, 20 Desember 1999. (3) Nafta bestaan sedert 1994 uit Mexiko, die VSA en Kanada. (4) Die stigters van Mercosur in 1994, Argentinië, Brasilië, Paraguay en Uruguay is later deur die Bolivia en Chili (1996), Peru (2003), Colombia, Ecuador en Venezuela (2004) gevolg. (5) In Oktober 2003 was die Chileense parlement die eerste om `n vryehandelsverdrag geldig vanaf Januarie 2004, goed te keur. El Salvador, Honduras en Guatamala het ook die Cafta-verdrag onderteken (nog nie deur die Amerikaanse Kongres goedgekeur nie). (6) Sally Burch, “Ecuador, cambio de rumbo?”, Alai, Quito, 22 April 2005. (7) Lees Hernando Calvo Ospina, “Aux frontières du plan Colombie”, Le Monde diplomatique, Februarie 2005. (8) Lees Ignocio Ramonet, “Bolivie”, Le Monde diplomatique, November 2003. (9) 34 klagtes is teen Argentinië geloods in die Internationale Sentrum vir die Oplossing van Beleggingsgeskille (Ciadi) van die Wêreldbank (Raul Zibechi, La Jornada, Mexiko, 1 April 2005.) (10) Verklaring voor die Amerikaanse Kongres op 9 Maart 2005. (11) Generaal Roberto Pizarro, tweede in bevel en stafhoof van die interne weermag; Fabio Garcia, operasieleier; Hernan Cadavid, hoof van ontwikkeling; Jairo Pineda, algemene weermaginspekteur. (12) Verwysing na die gematigde politiek van die Brasiliaanse President Luiz Inacio “Lula” da Silva. (13) Die eerste byeenkoms tussen Kuba en Venezuela om die Bolivariaanse Alternatief vir die Amerika’s te implementeer op 28 April in Havana het ekonomiese samewerking tussen die twee lande verstewig. (14) Lopez Obrador is deur die Mexikaanse justisie aangekla daarvan dat hy wederregtelik `n pad na `n hospitaal oor `n privaaterf opgerig het. Die verlies van sy parlementêre immuniteit oor hierdie belaglike oortreding verbied hom om te staan vir die 2006 presidensiële verkiesing, ofskoon meningspeilings hom as die voorloper uitwys. `n Miljoen Mexikane het op 24 April in die strate betoog teen wat hulle as `n gekonkel deur politici en die gereg beskou. Hierdie aksie het daarin gelaag om die regering van plan te laat verander. In `n poging om die krisis te beeindig, is die Algemene Staatsaanklaer afgedank. (15) Die Latyns-Amerikaanse lande wat lede van die Menseregtekommissie is en ten gunste van die VSA se beskrywingspunt teen Kuba gestem het, sluit in: Mexiko, Costa Rica, Guatemala en Honduras. Argenië, Brasilië, die Dominikaanse Republiek, Ecuador, Paraguay en Peru het buite stemming gebly. (16) BBC Mundo, Londen, 2 Mei 2005. |