blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Groter vryheid in en van Suid-Amerika: “Bolivariaanse” Venezuela: `n Deelnemende demokrasie 2005-06-16
Margarita Lopez Maya



Die onmoontlikheid om in analises op klassieke definisies staat te maak, het reeds dikwels daartoe gelei dat die Bolivariaanse rewolusie gekarikaturiseer word. Nietemin, en in weerwil van struikelblokke, verander dit die aspek van Venezuela sedert 1998. Terwyl oliebronne gebruik word, sodat die armste inwoners daaruit kan voordeel trek, word daar onder deelnemende demokrasie verstaan dat die die werkersklas ingesluit word in die samestelling, uitvoering en beheer van die bestuur van openbare belange, dat die struikelblok van die “diktatuur van die media” verbreek word, en dat burgers aan die woord gestel word op gemeenskapsradio- en televisie-uitsendings, terwyl `n wyer solidariteit tussen Suid-Amerikaanse en Karibiese nasies voorgehou word.

Deur Margarita Lopez Maya, historikus, Besoekende Professor aan die Institute of Latin American Studies (ILAS) van die Universiteit van Columbia, New York.
Vertaal deur Christel Cattin en Johann Rossouw

    Anders as anders lande aan die suidelike punt van Suid-Amerika, het Venezuela nie gebuk gegaan onder `n diktatuur in die 1960’s en 1970’s nie. Om hierdie rede, was `n “demokratiese oorgang” nie nodig nie. In teenstelling daarmee, het die aantal maatskaplike bewegings wat sedert die 1980’s vermenigvuldig het, nog altyd `n “hervorming” van die Staat geëis om `n “dieper”, meer “integrale” demokrasie te bereik. Hierdie eis is onvervuld gelaat deur die verskillende verkose regerings: dié van President Jaime Lusinchi (1984-1989) – mislukking van die hervorming van die Staat – tot en met mnr. Rafael Caldera (1994-1999) – uitgestelde grondwetlike hervorming, en tussendeur mnr. Carlos Andrés Pérez (1989-1993) en sy neo-liberale hervormings wat gelei het tot die “Caracazo” van 27 Februarie 1989 (1). Die “deelnemende” demokrasie is mnr. Hugo Chávez se regering se antwoord op die aspirasies van bykans alle sektore binne die gemeenskap.

    Slegs die “Bolivariane” het inderdaad hul belofte gestand gedoen deur `n grondwetgewende vergadering op 25 April 1999 te verkies. Die nuwe Grondwet, goedgekeur deur middel van `n referendum, voldoen uiteindelik aan die burgery se verwagtinge. Die uiteensetting van sy doelstellings bevestig dat die Republiek “hergefundeer” word om “`n gemeenskap wat meer demokraties is” te skep. “Dit is nie meer slegs die staat wat demokraties moet wees nie, maar ook die gemeenskap (2)”.

    Die “deelneemende” demokrasie wat daaruit opgebou word, vind sy wortels in die progressiewe liberale denkskool (van Jean-Jacques Rousseau en John Stuart Mill), maar ook in die demokratiese sosialisme van Nikos-Poulantzas (3), wyd verkondig en gedebatteer in Suid-Amerika in die sewentigerjare, voordat dit eenkant geskuif is om plek te maak vir `n formele demokrasie. Hoe dit ook al sy, Venezuela is goeie teelaarde hiervoor, soos dit na vore kom in Hoofstuk 4 van die Grondwet. Laasgenoemde is gewy aan die reg van burgerdeelname op “direkte, semi-direkte en indirekte” wyse, nie net in die uitbring van `n stem nie, maar ook in die proses van “vorming, uitvoering en beheer van openbare bestuur”.

    “Deelname” in alle sfere van die staat word van meet af aan die sentrale praktyk om diepgesetelde ongelykheid in magsverhoudings te transformeer (Artikel 62). Die “Algemene Temas” van die Ekonomiese en Maatskaplike Ontwikkelingsplan 2001-2007 – wat die Plan vir die Nasie word vir die huidige wetgewende periode – ondersteun die beginsel dat deelname selfontwikkeling bevorder, skerp gesamentlike verantwoordelikheid in en moedig die “protagonisme” van burgers aan. Laasgenoemde is die pilare waarop `n gelykmakende, solidêre en demokratiese gemeenskap gebou moet word.

    Binne hierdie raamwerk gaan dit nóg daaroor om die Staat van sy verpligtings te onthef, nóg om afstand te doen van sy sentrale rol. `n Taak as “gids”, as skepper van omstandighede wat die “magsoorname” van burgers skep, word aan hom opgelê. Gesinne en georganiseerde gemeenskappe word “transformerende” en “getransformeerde” rolspelers.

    In die Grondwet van 1999 is verskeie instrumente vir direkte deelname in die politieke sfeer aanvaar, soos byvoorbeeld verskillende soorte referenda (raadplegend, afskaffend, herroepend) (4), wetgewende, grondwetlike en konstituerende inisiatief, vrye optrede van drukgroepe en vergaderings van burgers (Artikel 70). Die aanvaarding van die Grondwet in 1999 en die herroepende referendum teen die President, uitgeroep en verloor deur die Opposisie op 15 Augustus 2004, is konkrete bewyse van die uitvoering en ontwikkeling van hierdie nuwe reg.

    Op soortgelyke wyse erken en vergemaklik die Grondwet in die ekonomiese en maatskaplike sektore die aksie van gesamentlike en selfbestuursinstellings, koöperasies, en enige assosiatiewe struktuur wat gelei word deur beginsels van wedersydse samewerking en solidariteit. Hierdie maatreëls het die vorm van verskeie wetlike instrumente aangeneem, soos die Wet vir Plaaslike Rade vir Openbare Beplanning (2002) wat die gesamentlike bestuur van `n plaaslik-georganiseerde gemeenskap en dié van openbare gesag uiteensit.

    `n Ander voorbeeld word verskaf deur “Tegniese Komitees vir Water” en “Gemeenskaplike Rade vir Water”, deur wie se bemiddeling openbare watervoorsieningsmaatskappye bystaan met die organisasie van gemeenskappe, sodat laasgenoemde, op hul beurt, aan die bestuur van hierdie openbare maatskappye kan deelneem (5). Andersyds het verskillende soorte koöperatiewe aansienlik ontwikkel, gestimuleer deur die staat se inisiatiewe, soos die toegang tot mikro-krediet of `n aankopingsbeleid  deur middel van “tafelrondes”: openbare maatskappye, soos die oliemaatskappy PDVSA,  reik tenders uit en gee voorkeur aan koöperatiewe en aan klein en middelgrootte plaaslike nywerhede.

    “Bolivariaanse” skole is sedert 1999 geopen. In hierdie 3750 instellings verkry arm kinders bo en behalwe gratis onderwys twee maaltye per dag, sowel as `n uniform, handboeke en skryfboeke. In 2004 het die opvoedingsbegroting 20% van die nasionale begroting uitgemaak en in 2005 kan aanvaar word dat daar geen meer analfabete is nie. Dit is `n situasie wat kontrasteer met die nasie se verlede en met die huidige stand in verskeie ander state in die streek.

    Onder die onderwyssendings staan die Robinson I en Robinson II-sendings uit. Hulle was gerig op die uitwissing van ongeletterdheid en op toegang tot primêre onderwys vir alle Venezuelane. Deur te steun op programme wat daarna streef om `n “individualistiese” opvatting van die burger te oorkom en die waardes van solidariteit in te skerp, is hierdie instrumente onteenseglik gemik op die konsolidasie van deelnemende demokrasie.

    Die Barrio Adentro-sending (“In die woongebiede”) is moontlik die mees markante maatskaplike program. Danksy `n ooreenkoms met die Kubaanse regering het hierdie sending meer as 15 000 Kubaanse dokters in die arm woongebiede geplaas. Daar bied hulle 24 uur per dag voorkomende sorg. Nà aanvanklike reaksies van verwerping, voorbehoud en vrees, het die Venzuelaanse dokters hulle uiteindelik laat verlei en sedert enkele maande gelede bied die regering aan hulle opleiding in maatskaplike en gesinsgeneeskunde. Sowat 1500 van hulle is reeds by die sending ingeskakel.

    Niemand sal ontken dat deelnemende demokrasie `n utopiese vergesig besaai met struikelblokke om te oorkom en uitdagings om te oorwin. As olieland het Venezuela die afgelope jare buitengewone inkomste geniet wat die finansiering van hierdie inisiatiewe bemoontlik het. Maar die Venezuelane wat reeds jare van oorvloed en vrygewigheid van `n oliestaat geken het, weet ook watter spronge terug gegee kan word as die oliepryse daal. Kommer bestaan met betrekking tot die juridiese stewigheid van hierdie verskillende programme en die waarborg van hul finansiering op die mediumtermyn as die jare van olievoorspoed eendag iets van die verlede moet wees. Aan die ander kant bly sekere aantygings van ondoeltreffendheid en korrupsie sonder bevredigende antwoord van regeringskant. `n Werklike verdieping van die demokrasie sal afhang van die vermoë om hierdie hindernisse te oorkom.

    Mnr. Chavez se beleid gee nietemin rekenskap van `n ondersteunde betrokkenheid by die projek van deelnemende demokrasie. Ofskoon dit `n groot bron van konflik was, sal die regularisering van stedelike en landelike eiendom danksy die vestiging van wetlike instrumente `n demokratisering van toegang tot eiendom moontlik maak. Dit is `n sleutelfaktor vir die volle burgerskap van miljoene Venezuelane wat tot nou toe van so `n reg uitgesluit was.

    Die staat se steun vir verskillende variante van maatskaplike ekonomie soos koöperatiewe en die skepping van die Mercal-sending – kringlope van gesubsideerde voedselverspreiding buite die private monopolieë – weerspreek die opposisie se aantygings wanneer hulle `n demagogiese, outoritêre regering oproep wat bloot op die handhawing van sy mag ingestel is.

(1) Verhonger deur `n strukturele aanpassingsplan wat deur die Internasionale Monetêre Fonds afgedwing is, rebelleer die bevolking in Caracas. Die onderdrukking lei tot 3 000 sterftes.
(2) Grondwet van die Bolivariaanse Republiek van Venezuela, “Uiteensetting van doelstellings”, Caracas, 15 Desember 1999.
(3) As Griekse Marxistiese teoretikus, beïnvloed deur Louis Althusser, het Nikos Poulantzas (1936-1979) veral werk gedoen oor die moderne staat.
(4) Raadplegend: aangaande temas van algemene belang wat die nasie interesseer. Afskaffend: dit veroorloof `n wet deur referendum as die Parlement weier om dit te doen. Herroepend: dit veroorloof die herroeping van `n President, goewerneurs, verteenwoordigers en burgemeesters tydens hulle mandaat.
(5) Lees Edgardo Lander “La búsqueda de un proyecto contrahegemónico », Questión, año 3, n° 25, Caracas, Augustus 2004.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=251
Artikel nagegaan:
    -