blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Dossier 1: Europa na die Franse “nee”: Europa: Teen mededingendheid en wedywering 2005-06-16
Bernard Stiegler


Die wêreld verwag baie van Europa. Dit is minstens die indruk wat deur onlangse boeke (1) geskep word. Die oproepe om `n “ander Europa” soos geformuleer deur die maatskaplike beweging op die Ou Vasteland gee ook blyke van hierdie verwagting. Europa sal nie gekonstitueer word nie tensy dit aan sigself die middele gee om aan hierdie verwagting te voldoen. Maar wat word egter verwag?

Deur Bernard Stiegler, filosoof en skrywer van onder meer Mécreance et discrédit en De la misère symbolique, Parys: Galilée, onderskeidelik 2004 en 2005. Hierdie artikel stel idees bekend wat ontwikkel word in Constituer l’Europe, wat in September 2005 by dieselfde uitgewer verskyn.
Vertaal deur Johann Rossouw

    Die wêreld verwag nie goeie voornemens nie: dit verwag dat Europa `n nuwe industriële model uitvind wat in staat is om `n einde te bring aan die proses van veralgemeende disindividuasie wat die Westerse samelewings ondermyn. Gilbert Simondon het die proses waardeur `n kollektiewe individu word wat hy is deur die psigiese individuasie van diegene waaruit dit saamgestel is, psigososiale individuasie genoem. So `n proses is `n dinamiek waar psigiese individuasie wesenlik deelneem aan sosiale individuasie deur tot hierdie individuasie by te dra. `n Ware Europese Grondwet sal `n nuwe proses van psigiese en kollektiewe individuasie van sy inwoners moet skep, op so `n wyse dat die bestaande prosesse van individuasie – die Europese nasies – tussen hulle moet saamvloei.

Kapitalisme en die krisis van individuasie

    Maar die kollektiewe en psigisiese industriële individuasie voortspruitend uit die eietydse kapitalisme beleef `n ongekende krisis. Dit ly aan `n ernstige en gevaarlike siekte: desublimasie, oftewel die onbeperkte opvangs en uitbuiting van die libidinale energie van produsente en verbruikers in alle domeine. Want vanaf die oomblik wat die libidinale energie van individue en groepe hegemonies verlê word na verbruiksobjekte, word alle ander objekte van die libido, en in besonder dié wat die konstituering van `n beskawing bemoontlik, disinvesteer en ernstig bedreig.

    Dit is die geval met die gesin, die onderwys – en dus die skool en kennis in die algemeen – maar ook die politiek en selfs die reg, en alle sublimasies van die gees, vrugte van dit wat die Duitsers Bildung noem. Die proses van kapitalistiese en industriële individuasie het in `n kontradiksie met homself getree en neig tot selfvernietiging deur `n afwaartse vermindering van libidinale energie wat vertaal word in `n verlies aan individuasie. Hierdie verlies ontneem individue van die moontlikhede om te eksisteer en is uiteindelik dodelik vir die handelsamelewing in sy geheel, omdat die libido en sublimasie in beginsel eweseer deel van die mark as van produksie is (2).

    As Europa sigself wil konstitueer, eksisteer, moet sy voorrang gee aan die stryd teen veralgemeende disindividuasie deur `n nuwe industriële beleid (3). Anders gestel, die hele wêreld en die Europeërs self wag op haar om die idee van `n industriële beskawing uit te vind, en dat sy bevestig dat industrie nie onvermydelik agteruitgang meebring nie.

    Die Europese Unie het egter gedurende die laaste jare die uitdrukking van `n uitgediende industriële model stelselmatig bevoordeel. Verder het sy van die omskakeling van alle maatskaplike praktyke – wat sodoende tot die arme status van verbruiksgedrag verskraal word – in markte haar enigste oogmerk gemaak. Sedertdien word die konstruksie van Europa toenemend beleef as `n proses van die destruksie van Europa.

    Hierdie gevoel van bedreiging het lewendiger geword in soverre die enigste oogmerk van die ontwikkeling van markte in al die sektore van bestaan steeds openliker nagestreef is in die naam van `n ideologie wat dit as absolute beginsel stel dat die Europese nasies met mekaar in mededinging gestel moet word. En dit sonder dat enige vergesig van `n meerdere eenheid bo die moontlike belangebotsings blootgelê en kragtig bevestig is. Die Europeërs weet egter uit die verlede waartoe mededinging tussen hulle nasies hulle gelei het: twee wêreldoorloë in die 20ste eeu wat die grootste gedeelte van Europa verwoes het, buiten dan ook nog die konflikte van vorige eeue. `n Soortgelyke bedreiging is nog tasbaarder in soverre desublimasie, wat spruit uit onbeperkte verbruikerisme, wat nou die enigste oogmerk geword het, die doodsdrif dra (4).

    Volgens alle getuienis vorm mededinging `n dinamiese, grondliggende faktor in elke proses van psigososiale individuasie. Die kritiek van die verstaatlikte ekonomie steun met goeie rede op die effekte van kontraprestasie en demotivering kenmerkend van die Kommunistiese lande ten einde te demonstreer dat mededinging van individuele belange die voorwaarde van alle ekonomiese lewenskragtigheid is.

    Tog bring die kapitalistiese organisasie van mededinging in die huidige stadium van die ultraliberale ideologie demotivering en “pessimisme” op `n massiewe skaal voort, soos soms betreur deur politieke hoofde (5). Daarbenewens bring dit ook kapitalistiese monopolieë voort.

    Die burgers van Europa vrees dit wat hulle minder en minder beleef as die konstruksie van Europa en meer en meer as haar destruksie omdat hulle met reg die valse en gevaarlike idee wantrou waarvolgens ons Europa kan bou deur haar lande met mekaar in mededinging te stel. Hoe kan `n gemeenskap haar konstitueer deur die mense wat haar moet konstitueer slegs in mededinging, dit wil sê in opposisie te stel?

Die gevare van verabsoluteerde mededinging

    Die konsep van mededinging wat hier in werking gestel word, hou homself voor as `n skadelike vereenvoudiging van wedywering soos wat die Grieke, wat dit éris genoem het, dit bedink het. Dat wedywering deel van die beginsel van die interne dinamiek van elke ekonomies-politieke gemeenskap is, skyn nie net denkbaar nie, maar onontkombaar. Dit moet nietemin diegene wat dit dinamiseer uitlig bo die besonderhede en daarin `n oerkrag van integrasie en individuasie wees.

    Mededinging kan dus nie die eerste eerste en nog minder die enigste beginsel van `n nuwe politieke en ekonomiese gemeenskap vorm. Dit is juis omdat die verhoudings tussen die lidlande van dieselfde politieke gemeenskap nie tot ekonomiese ruiling en mededinging beperk is nie – en `n meerdere belang bo besondere belange vooronderstel – dat ons onderskei tussen `n politieke unie van `n eenvoudige liga van ekonomiese belange, soos wat die Hansaliga byvoorbeeld was, of die Noord-Amerikaanse Vryehandelsooreenkoms (NAFTA) en talle ander sones van ekonomiese voorkeurruiling is. Dit gaan dus juis daaroor om deur die inwoners van die lande wat Europa vorm die konsekwentheid van `n Europese idee tot stand te bring, dit wil sê die bevestiging van `n Europese leefwyse.

    Hierdie Europese leefwyse moet uitdrukking gee aan `n Europese gees wat self histories gekonstitueer is deur `n idee van die rede wat `n tipies Europese erfenis is. Dit is egter ver van `n suiwer formele konsep: nà Freud moet dit as begeerte bedink en as motief beliggaam word. Maar begeerte is self intrinsiek `n krag van sublimasie. Dit wat van Hesiodus se éris – wat die jong Nietzsche so getref het – die krag van die polis self gemaak het, is dit wat impliseer dat die éris dit is wat tot die beste ophef: na die ariston. In Werke en Dae (6) bevind die kleinboer hom gewis in mededinging met `n ander kleinboer, maar dit is om hom te lei na iets beters.

    Hierdie iets beters, wat in Grieks die naam van die gode dra, is dit wat heenwys na wat die Griekse ontdekkers van die reg diké en aïdos – geregtigheid en skaamte – noem, wat nie bloot “waardes” is nie, maar inderdaad stigtingsbeginsels.

    Aïdos, wat ook as skroom en soms as eer vertaal word, lê aan die grond van éris. As dit nie die geval is nie, is éris nie meer “die goeie éris” nie, soos Hesiodus sê: dit word `n krag van selfvernietiging en druk die doodsinstink uit – wat tot oorlog lei. Maar onbeperkte mededinging, nie deur verenigende beginsels beperk nie, is wat lei tot `n wêreld sonder skaamte: dit is wat alles in die naam van doeltreffendheid altyd na `n laer vlak aftrek. Dit is wat eweseer televisieprogramme – soos skaamteloos verduidelik deur mnr. Patrick Le Lay, direkteur-generaal van die private TV-kanaal TF1 – as maatskaplike wetgewing aftrek.

    Europa is ongelukkig die vasteland van oorloë en dit is om eerstens ten alle koste teen hul terugkeer te stry wat `n politieke konstitusie van Europa nodig is. Europeërs vrees dat `n Grondwet gegrond op onbeperkte mededinging daarenteen die lande na nuwe konflikte sal lei. Hulle dink nie dat die “waardes” wat die projek van die Europese Grondwet postuleer enige verband het met die stigtingsbeginsels van `n politieke unie wat stry teen onenigheid wat die nodige dinamiese beginsel wat wedywering en mededinging organiseer, bevat. Sonder so `n beginsel bestaan daar ook nie in feite enige duursame motivering nie. Dit is waarom die retoriek van waardes, wat die onderwerp van Artikel 2 van die grondwetlike projek uitmaak, vals in hulle ore klink: hulle glo nie daarin nie, omdat hulle nie die beliggaming van enige motief daarin lees nie.

_________

(1) Lees byvoorbeeld Jeremy Rifkin, The European Dream, Plek onbekend: Jeremy P. Tarcher, 2004.
(2) In Afrikaans vertaal en ingelei deur Johann Rossouw as “Versmoorde begeerte, of hoe die kultuurindustrie die individu vernietig”, in Fragmente 12/13, 2004.
(3) Dit is die oogmerk van Ars Industrialis, Internasionale Vereniging vir `n Industriële Beleid van die Tegnologieë van die Gees.
(4) Richard Durn, moordenaar van agt stadsraadslede van Nanterre het te kenne gegee dat hy “kwaad gedoen het om minstens een keer in sy lewe te voel of hy bestaan”, Le Monde, 10 April 2002.
(5) Byvoorbeeld president Jacques Chirac in sy televisiegesprek met jong Franse op 14 April 2005.
(6) Die Griekse digter Hesiodus se groot werk.
(7) “Maar om seker te maak dat `n advertensieboodskap waargeneem word, moet die brein van die televisiekyker beskikbaar wees. Die oogmerk van ons uitsendings is om hulle beskikbaar te maak: dit wil sê om hom te vermaak, hom te laat ontspan om hom tussen twee boodskappe voor te berei. Wat ons aan Coca-Cola verkoop, is beskikbare tyd van die menslike brein…” Kyk Les Dirigeants face au changement, Parys: Editions du Huitième Jour, 2005.
 



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=249
Artikel nagegaan:
    -