|
||||
Anne-Cécile Robert Deur “nee” te sê vir die Grondwetlike Verdrag het die meerderheid Franse ook “ja” gesê vir ingrypende veranderinge, in hulle eie land maar ook op die vlak van die hele Europa. Hier is die eerste rigtings vir die toekomstige debatte. Deur Anne-Cécile Robert, joernalis en Afrikaredakteur, Le Monde diplomatique Vertaal deur Johann Rossouw Asof hulle moes inbreek, het die mense die Europese debat binnegedring: op 29 Mei 2005 verwerp die Franse die Grondwetlike Verdrag onomwonde, op 1 Junie gevolg deur die Nederlanders. Dit is bevestig deur mnr. Tony Blair se besluit om die beplande referendum daaroor in die Verenigde Koninkryk af te stel, terwyl die Tsjeggiese president in Praag aangekondig het dat hy dieselfde gaan doen. “In die geval van `n referendum sou die Duitsers ook ‘nee’ stem,” reken `n parlementslid van die Duitse Christen-Demokratiese Unie, mnr. Peter Altmaier (1). Terselfdertyd verwoord die volgehoue oproep om “`n ander Europa” `n verwagting wat die fatalistiese betoë van die leiers nie kon verdoof nie. Die Europese projek moet antwoord op die maatskaplike behoefte en die demokratiese vereiste op gevaar af daarvan om sy bestaansreg te verloor. As “onontbeerlike dog onvolmaakte” kompromieë vir hulle skrywers lei verdrae nie tot lidmaatskap nie, nie eens teësinnig nie. Trouens, waarom Europa bou as dit nie bydrae tot die verbetering van lewensgehalte (werk, die stryd teen arbeidsonsekerheid, koopkrag, die omgewing) nie? Vir die eerste keer het die kiesers die verband getrek tussen die beleide – veral ekonomies – wat op hulle toegepas word, en die keuses wat op die vlak van die Europese Unie uitgeoefen word. Dit lyk asof hierdie besef strek oor die 25 lidlande en hulle 456 miljoen inwoners heen soos reeds gesuggereer deur die maatskaplike fora van Florence (2002), Parys (2003) en Londen (2004). Die verbasing en onbegrip van die Europese en nasionale leiers oor die verwerping van die Grondwetlike Verdrag, en hulle soms minagtende reaksies bevestig die noodsaak vir `n demokratiese herbegronding van die Europese konstruksie. Reeds die idee om `n “Grondwet” buite die gepaste prosedures om te skryf het aan die Unie `n aristokratiese aard gegee: die projek wat deur die konvensie (2) sonder `n populêre mandaat geskryf is, herinner tot `n mate aan Lodewyk die Agtiende wat in 1814 aan die volk `n Grondwet “toegeken” het wat die grond vir die herstel van die monargie gelê het. `n Ekonomies-juridiese “monster” Die geldigheid self van besluite van die Unie moet met omsigtigheid bejeën word aangesien dit elke dag die alledaagse lewe van die burgers beïnvloed. In feite respekteer die instellings van Brussel nie die beginsel van die skeiding van magte nie, en vermeng hulle tegnokrasie, drukgroepinvloede, parlementêre besprekings en interregeringsonderhandelings ten koste van deursigtigheid en politieke verantwoordelikheid. Die petisiereg wat die Verdrag in die vooruitsig stel, en grootdoenerig as “reg op burgerlike inisiatief” bekendstaan, bevestig bloot `n reg inherent tot vryheid van spraak en vergoed geensins vir die strukturele tersydestelling van universele stemreg nie. Daarbenewens lyk dit asof Artikel I-47, wat die instellings aanmoedig om `n voortgaande dialoog met burgerlike verenigings te handhaaf, die marginalisering van die verkiesingsproses as `n voldonge feit beskou. Laastens simboliseer die Europese Sentrale Bank, wie se keuses met betrekking tot die euro en rentekoerse buite appél en die beheer van regerings val – die afwesigheid van `n Europese demokratiese model. Dit is `n formidabele ommeswaai vanaf die Universele Verklaring van Menseregte (1948) wat lyk asof dit hierdie aantasting van grondliggende regte veroordeel: “Die wil van die mense is die fondasie van die gesag van die openbare magte” (Artikel 21, paragraaf 3). Die demokratisering van die Unie hef `n stigtingstaboe op: federalisme, supranasionaliteit, nasionale soewereiniteit… Watter model moet gekies word? Hierdie vraag is tot heel onlangs versigtig vermy vanweë die moeilike debatte wat dit aan die orde stel (3). Dit skyn moeilik vermybaar te wees en moontlik sal daar besin moet word oor `n mengsel van verskillende modelle. Dit bring egter `n ander debat mee: waar word die demokratiese legitimiteit van die Unie geplaas? Wanneer `n volk aanvaar om `n verdrag per referendum te bekragtig, kom die vraag nie aan die orde nie; wanneer hy die verdrag weier, is die neiging om sy optrede te verkleineer: so is ons byvoorbeeld na die Franse stemming van 29 Mei daaraan herinner dat nege lande “wat 49% van die bevolking van die Unie verteenwoordig” reeds die teks bekragtig het. Het so `n stelling enige betekenis? Een ding is seker: die belang wat dit op die Europese vlak verwerf het verseker dat dit op geloofwaardige wyse polities sowel as demokraties verantwoordelik is (4). Hierdie verantwoordelikheid is des te meer noodsaaklik in soverre die inhoud van die Europese projek openlik uitgedaag word. Tot onlangs was die Europese konstruksie geskoei op die sogenaamde Monnet-metode, na Jean Monnet wat in 1951 die eerste van die Europese Gemeenskappe bedink het, naamlik die Europese Gemeenskap van Steenkool en Staal (EGSS). Dit bestaan daaruit om Europa te bou met opeenvolgende konkrete projekte volgens die spiraaltegniek. As oortuigde federalis wou Monnet sodoende sy oogmerk bereik om die openbare debat te systap, wat volgens hom `n bron van eindelose diskussies is wat dikwels op mislukking uitloop. Die verwerping van die Grondwetlike Verdrag laat die verbode vraag na dekades van obsessiewe systapping uit die bloute verskyn: wat is ten diepste die oogmerk van die Europese konstruksie? Die vredesideaal bied nie meer voldoende regverdiging vir Europese lidmaatskap en die opofferings wat dit vereis nie. Die doeltreffende Monnet-metode het egter `n “monster” geskep: `n tegnies-ekonomies-juridiese federasie buite die bereik van burgers en wat vir hulle belangrik is. Die paradoks is dat ofskoon die Unie lyk of hy hom met alles besig hou, hy nie by die essensiële uitkom nie: werk, maatskaplike vordering, internasionale reg, solidariteit met die Derde Wêreld… Hy skyn in staat te wees tot tegniese “prestasies” – byvoorbeeld die finansiële opstelling van die gemeenskaplike landboubeleid – maar onmagtig om `n maatskaplike model afkomstig uit die nasionale Europese geskiedenisse te verdedig. Ontkoppeling van Europa en liberale globalisering Die Europese konstruksie is toenemend geïdentifiseer met liberale globalisering, wat deur die laeklas en `n deel van die middelklas, toenemend vasgevang in die treknet, as `n oerwoud beleef word. As dié twee prosesse nie van mekaar ontkoppel word nie, kan `n mens kwalik sien hoe die Europese konstruksie `n eie identiteit kan bevestig en die Europese bevolking se steun kan wen. Hierdie ontkoppeling is egter onontbeerlik vir die ontwikkeling van `n ander Europa, en dit sal `n veeleisende proses wees. Wat effektief die treffendste is, is nie soseer die onvermoë van die Europese Unie om `n eiesoortige politieke en maatskaplike model te bou nie, maar sy hardnekkige weiering om hom vir hierdie taak in te span. Die Unie streef nie net daarna om hom van hierdie internasionale beperking los te maak nie, maar hy moedig dit aan. Met `n mandaat van die nasionale Europese regerings sing die Europese Kommissie voor in die vryehandelkoor in die onderhandelinge van die Wêreldhandelsorganisasie, soos veral geblyk het tydens die konferensies van Doha (2001) en Cancún (2003). Dit is nie vir die Unie genoeg om hom te onderwerp aan die logika van liberale en finansiële globalisering nie: hy dwing dit met ywer af op die lande van die Suide (Cotonou-Verdrae) (5). Hierdie liberale samespanning is nie in sy gene geskryf nie. Die Verdrag van Rome waarmee die Europese Ekonomiese Gemeenskap in 1957 gestig is, het `n gemeenskapsvoorkeur vir landbouprodukte ingestel. Dit het ook nie geskroom om die vryehandelsdogma af te wys ten einde die lande van die Suide te help nie, by name met die Lomé-verdrae (6). Nadat hy die wêreld se voorste handelsmoondheid geword het, vertoon die Europese Unie sodoende sy grondliggende wil om nie `n ander beeld van die globale verhoudinge in ooreenstemming met die belange van sy volke neer te lê nie. Hier word uit twee monde gepraat: die Europese verdrae, altyd nóg meer gerig op vryehandel en kommersieel, word voorgehou as middele om die Europese Unie op die wêreldtoneel te verstewig. Hier is `n perversiteit: dit is in die naam van solidariteit met die lande van Middel- en Oos-Europa wat ons `n Europese Unie vergroot wat die volke in wedywering met mekaar plaas. (Kyk Bernard Stiegler se artikel elders in hierdie uitgawe). Anderkant die lofsange oor Europa as alternatiewe moondheid vir die Verenigde State, weier Europa om die waardes eie aan hom en wat sy identiteit onderskei, te verdedig. “Europa vermenigvuldig ons kragte” het president Jacques Chirac in sy TV-uitsending van 31 Mei 2005 verklaar. Die Amerikaanse oorlog in Irak het egter die afwesigheid van die Unie in die globale geopolitiek blootgelê. Dit was die soewereine weiering van Frankryk – en van sy bondgenote van die “vredeskamp” – wat `n ander Europese stem as dié van mnre. Tony Blair, José Manuel Barroso en José Maria Aznar moontlik gemaak en die Verenigde Nasies gered het. Redes vir die weiering om te bestaan Hierdie weiering om te bestaan het verskeie oorsake wat nou die stryd aangesê moet word. In die eerste plek lei die Monnet-metode tot `n oorerflike verwerping van die openbare debat. En in `n Europa bestaande uit vyf-en-twintig state dwing die kleinste gemene deler hom af: die gemeenskaplike mark. In die tweede plek verhoed die kwasi-Freudiaanse verhouding van sommige lande met die Verenigde State die politieke bevryding van Europa. Die vrees om `n historiese alliansie in gevaar te stel smoor die erkenning van Europese waardes: die verhouding met oorlog en die reg, met geweld en die doodstraf, die status van individue en minderhede. In die derde plek word die gewig van die geskiedenis nie opgeneem nie: byvoorbeeld die omskrywing van `n politieke Europa stuit op die vrees vir mag, `n vrees voortspruitend uit die koloniale en imperiale, selfs fascistiese, verlede van sekere lande. Sodanige afwykings is egter nie fataal nie en die erfenis van die pasifistiese, anti-koloniale, verenigings- en vakbondbewegings bestaan net soveel as die ander een. `n Ander Europa, maatskaplik sowel as polities, sal nie sonder die verwydering van hierdie blokkasies gebou kan word nie, want hulle verhoed die Unie om sy gemeenskaplike belang te omskryf. Deur byvoorbeeld deel te neem aan die Amerikaanse oorlog teen terreur ontwikkel dit bloot `n sekureiteitsbeeld van sy verhoudings met die lande van die Suide, van wie baie burgers na die Unie emigreer en tot sy ontwikkeling bydra. Samewerking met hierdie lande bestaan nie meer net daaruit om vryehandel uit te brei nie, en die Euro-Mediterreense vennootskap bly tot hierdie inkantasies beperk. `n Omvattende en verbeeldingryke hersiening van die Europese projek blyk sig dus in die belang van die Unie en sy inwoners af te dwing. Dit impliseer `n verheldering, selfs `n heromskrywing, van die Europese bevoegdhede: die spiraalmetode lei tot `n sneeubaleffek, met die bevoegdhede wat by mekaar aanskakel. Die gemeenskaplike mark het sodoende uitgeloop op die skepping van een geldeenheid en een Sentrale Bank buite die beheer van regerings, anders as wat die geval in die Verenigde State is, waar die Federale Reserwebank sy strategie versigtig met die Withuis koördineer. Maar die keuses van hierdie Sentrale Bank bepaal tot `n groot mate die kredietbeleid in elkeen van die lidlande, en veral die begrotings- en fiskale rigtings, en dus uiteindelik die wel en wee van die bevolking se koopkrag. `n Motor vir werkskepping Hierdie opvatting van die gemeenskaplike mark het gelei tot `n vermeerdering van norme in baie verskillende domeine: omskrywing van die inhoud van produkte (kyk die sinnebeeldige geval van sjokolade [7]), sanitêre reëls, veral binne die kader van die gemeenskaplike landboubeleid, of die omgewing. In `n Europa van vyf-en-twintig loop hierdie allesdekkende logika die risiko om die gebrek aan rasionaliteit en deursigtigheid nog verder te beklemtoon. Ten einde die gesag van die Unie en sy goeie funksionering te verseker, maak sommige mense die afleiding dat federalisme ingestel moet word, sonder om hulle met die politieke legitimiteit van so `n projek te bemoei (8). Die bestaande wanorde sou in `n sekere sin dan `n bykomende stuk geweld teen die mense regverdig. Moet die Europese bevoegdhede nie eerder hersentreer word rondom sekere asse soos werkskepping, maatskaplike vordering, wetenskaplike en nywerheidsamewerking en vrede nie? Duitsland se voorneme om die gemeenskaplike landboubeleid te renasionaliseer, weliswaar om finansiële redes, toon dat `n nuwe verdeling van magte tussen die lidstate en die Unie moontlik is. Anderkant die globale kritiek van ekonomiese liberalisme en vryehandel is die daarstelling van `n maatskaplike Europa gedeeltelik verwant aan hierdie kwessie. Moet `n soort maatskaplike integrasie met `n beweging in die rigting van `n homogenisering van die beskermingstelsels van bo-af daargestel word in die aangesig van ekonomiese integrasie? Is `n verdrag oor die inhoud van so `n beleid moontlik soos wat dit byvoorbeeld moontlik was met die daarstelling van `n gemeenskaplike mark en die euro? Minstens is die algemene instelling van `n klousule van nievermindering oënskynlik nodig: dit verhoed dat die Europese reël gebruik kan word om nasionale wetgewing agteruit te laat gaan. So `n klousule kan nietemin slegs neerkom op papierbeskerming in die mate waartoe regerings van regs én links, deurdrenk van ekonomiese liberalisme, nie `n Europese verpligting benodig ten einde die maatskaplike voordele te bevraagteken nie. Die toepassing hiervan moenie oorgelaat word aan die waardering van die Geregshof van Luxemburg nie, `n jurisdiksie wat per definisie buite alle politieke beheer val (9). Die Bolkestein-riglyn penaliseer die salaristrekkers van nuwe lidlande eweseer as dié van ander lande: in eersgenoemde moedig hy die handhawing van lae salarisse in die naam van die verowering van eksterne markte aan; in laasgenoemde plaas dit in die naam van mededingendheid druk op salarisse. Hierdie riglyn moet vir altyd aan die verlede toevertrou word. Anderkant die klousules van maatskaplike reg self moedig die uitbarsting van die mense ons aan om die hele Europese argitektuur te herdink en `n ander motor wat in staat is om te antwoord op die grondliggende vraag van werkskepping, te verbeel. Dit is des te dringender gegewe die mate waartoe die Franse kamp van die “nee” saamval met dié van werkloosheid, wat ook nie gegradueerdes spaar nie. So het navorsers dan ook in hulle stryd om navorsing in Frankryk te red klem gelê op die behoefte aan vernuwende beleid in Frankryk sowel as Europa ten einde middele en eksperimente te versoen. So het die idee van fiskale en kredietbeleide wat `n nuwe verdeling van toegevoegde waarde aanmoedig ten gunste van werkskepping en salarisinkomste – wat die afgelope tien jaar gemiddeld tien punte gedaal het – en die nasionale en Europese vlakke aaneenskakel dan ook in die openbare debat verskyn. `n Eiesoortige Europese maatskaplike model Dit gaan in `n sekere sin oor die herbegronding van `n eiesoortige Europese maatskaplike model. Openbare dienste moet weer `n sentrale plek daarin verkry. As draers van maatskaplike en territoriale solidariteit is hulle onontbeerlike vektore van die stryd teen ongelykhede en werksonsekerheid. Maar sedert die Lissabon-spitsberaad word hulle metodiese vernietiging geprogrammeer en in werking gestel. Onder die naam van dienste van algemene ekonomiese belang (DAEB) word hulle aan mededinging onderwerp wanneer selfs die uitvoering van hulle roeping – gelykheid van regte, solidariteit, stads- en streeksbeplanning – vereis dat hulle daarvan vry is. Hierdie eiesoortigheid moet minstens binne die kader van respek vir nasionale bevoegdhede erken word. Maar dit kan ook gestel word op die vlak van transnasionale openbare dienste, soos byvoorbeeld vervoer. Die vrystelling van die reëls van globale vryehandel - wat die Europese mark sonder beskerming laat in die aangesig van byvoorbeeld sekere Chinese produkte, soos tekstielware – impliseer ten minste `n heraktivering van die beginsel van gemeenskapsvoorkeur (10). Laastens impliseer `n ander Europa `n hernude visie van globale verhoudings. Die historiese verbande wat polities in die spel is en migrasiestrominge vereis dat die Europese Unie `n gepaste beleid formuleer ten opsigte van die Suide, gegrond op solidariteit en vrygestel van die ongelyke reëls van liberale globalisering. Bande wat sodoende gesmee word met talryke state wat grootliks verwaarloos is, sal die geopolitieke gewig van die Unie vergroot. Die volke van die Ou Vasteland het hulle welvaart geduldig geskep: hulle ken die prys daarvan, asook die omvang van sy voordele. Die vryehandels- en mededingingsobsessie skyn dus `n formidabele negering van die geskiedenis te wees. Maar dit skyn ook `n wraak van die besittersklas te wees op alles wat die afgelope drie eeue van hulle ontworstel is, vanaf universele stemreg tot maatskaplike beskerming. Hierdie spiraal van menslike agteruitgang word goed saamgevat deur die Grondwetlike Verdrag wat “vrye, ongehinderde handel” en die waardes van vryheid en geregtigheid op dieselfde vlak plaas. Dit vereis `n groot sprong om die twyfel te oorkom wat lyk asof dit die burgers in die aangesig van die Europese konstruksie beetgepak het. __________ (1) Le Monde, 1 Junie 2005. (2) Lees “Coup d’Etat idéologique en Europe”, Le Monde diplomatique, November 2004. (3) In 1999 het die “federalistiese” voorstelle van mnr. Gerhard Schröder `n debat ontketen tussen die Franse Minister van Buitelandse Sake, Hubert Védrine, en sy Duitse eweknie, Joschka Fischer. (4) Lees André Bellon, Pourquoi je ne suis pas altermondialiste, Parys: Mille et une nuits, 2004. (5) Lees Raoul-Marc Jennar, “Die ooreenkomste wat Brussel op Afrika afdwing”, Die Vrye Afrikaan-Intussen saam met Le Monde diplomatique, 11 Februarie 2005. (6) Lees Anne-Marie Mouradian, “Menaces sur la convention de Lomé”, Le Monde diplomatique, Junie 1998. (7) In verskeie Europese lande, waaronder Frankryk, kan sjokolade slegs met kakaobotter vervaardig word. Sedert Augustus 2003 en onder druk van die voedsel- en landboubedryf het die Europese Kommissie en later die Parlement die invoeging van banale plantvetstowwe toegelaat terwyl die naam “sjokolade” nog gehandhaaf word. (8) Lees Arnaud Leparmentier, “Le refus de la souveraineté partagée”, Le Monde, 1 Junie 2005. (9) Lees Christophe Ramaux, “L’Europe sociale, mythe ou réalité?”, Le Monde, 13 April 2005. (10) Lees Bernard Cassen, “Les ‘dix commandements’ de la préférence citoyenne”, Le Monde diplomatique, Mei 1998. |