blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel in Le Monde diplomatique: Hoop na die Franse “nee” 2005-06-16
Ignacio Ramonet


Deur Ignacio Ramonet, redakteur
Vertaal deur Christel Cattin, [email protected]

    Op 29 Mei het rebelse Frankryk dawerend “nee” gesê vir die Europese Grondwetlike Verdrag, en so weer eens haar tradisie as `n “politieke nasie by uitnemendheid” gestand gedoen. Dit het `n skudding regoor die Ou Vasteland veroorsaak deur opnuut hoop by volke en besorgdheid by die gevestigde elite aan te wakker. Sy het haar “historiese roeping” uitgevoer en deur die moedige optrede van die burgery bewys dat dit wel moontlik is om aan die fataliteit en die traagheid van ekonomiese of politieke determinismes te ontsnap.

    Want hierdie “nee” het `n sentrale betekenis: dit plaas `n demper op die ultra-liberale  aanspraak om regoor die wêreld, en sonder inagneming van die burgery, `n enkele ekonomiese model af te dwing – die een wat deur die dogma van globalisering omskryf word.

    Hierdie model lok reeds sedert die middel 1990’s uiteenlopende teenkantings uit. Byvoorbeeld tydens die wye maatskaplike protes in Frankryk in November 1995. Of weer in Seattle (1999), waar wat later sou bekendstaan as die “alterglobalistiese beweging” gebore is, veral ná die eerste Maatskaplike Wêreldforum in Porto Alegre (2001), gevolg deur die gebeure in Genua (2001).  En so ook in verskeie state, van Argentinië tot Indië, asook Brasilië. Maar vir die eerste keer in `n land in die Noordelike Halfrond, en teen die agtergrond van `n georganiseerde politieke raadpleging, het `n gemeenskap die geleentheid het om amptelik “nee” te sê vir ultra-liberale globalisering.

    Die redaksie van dominante media, soos entomoloë geboë oor `n insek wat hulle geglo uitgesterf het, probeer om die massiewe Franse “nee” te verdraai. Die meerderheid onder hulle het meestal `n eensydige veldtog vir die “ja” gevoer deur die “populisme”, die “opswepery”, die “xenofobie”, die “masochisme”, ens., van hul teenstanders te veroordeel, en hulle skyn nie in staat te wees om hulle analises by die omvang van hul verpletterende nederlaag aan te pas nie. Sonderlinge selfgenoegsaamheid van hooggeplaastes wat nie verstaan nie – en dit nog minder verduur – dat die volk (`n woord wat hulle net gebruik met toegedrukte neuse) geweier het om in te val by die voorskrifte van die Europeesgesinde “kring van redelikheid”. Want dit is inderdaad die volk wat weer die pad na die stembus geloop het: slegs 30% nie-stemmers, teenoor 57% slegs een jaar gelede tydens die Europese Parlementsverkiesing.

    Hierdie mobilisasie, veral in werkersklasgeledere en ook onder jongmense, rondom `n droë tema – `n teks van 448 artikels, sonder om die annekse, verklarings en protokolle in ag te neem – is in sigself `n onverwagte sukses vir die demokrasie. Die burgery het sy groot terugkeer gemaak: gekonfronteer met `n gevoel van onteiening, druk hy sy behoefte aan toe-eiening opnuut uit.

    Sedert sy stigting in 1958, en veral sedert die Europese Akte van 1986, het die totstandkoming van die Europese Gemeenskap toenemende beperkings op alle nasionale besluite begin uitoefen. Die Maastricht-verdrag (1992), en die sogenaamde Stabiliteits- en Groeipakt (1997) het regerings van twee vername instrumente vir openbare aksie ontneem: monetêre en begrotingsbeleid. Die derde, fiskale beleid, verloor geleidelik sy outonomie, want dit strook met `n wydverspreide redenasie van “vrye en ongewysigde wedywering”.

    Die burgery het begryp dat die verdrag wat aan hulle voorgelê is vir goedkeuring, verskerpte wedywering op `n Europese skaal sou “konstitutionaliseer”, en nie net onder vervaardigers van goedere en dienste nie, maar ook onder maatskaplike stelsels in hul geheel wat in `n maalkolk vasgevang is. Die uiters skamele demokratiese “vorderings” van die Verdrag kon sekerlik nie opweeg teen die bedrieglikheid van die ultra-liberale model se finale vestiging nie, met die gevolg dat toekomstige verkiesings hul betekenis sou verloor.

    Die “nee”-stem was `n uiters goed ingeligte stem danksy duisende ontmoetings, debatte en lesings, met werke aangaande die Grondwet wat maande lank boekwinkels se topverkopers was. Burgers wou hulle eie opinie vorm teenoor die staat se propaganda wat deur die meerderheid van media oorgedra is. Hulle is bygestaan op grondvlak deur die nougesette werk van veelvuldige groeperings wat spontaan gevorm is regoor die hele Frankryk, en veral deur plaaslike komitees van Attac (Association for the Taxation of financial Transactions for the Aid of Citizens). Hierdie ontluiking het die demokrasie tot eer gestrek...

    Was hierdie `n nasionalistiese stemming? Nee, dit was merendeels pro-Europees. Wat dit betref,  het vakbondlede en aktiewe lede van verenigings in verskeie lande binne die Unie, òf op eie bodem òf deur hul deelname aan die veldtog in Frankryk, van hul saamhorigheid getuig in die strewe na `n ander Europa, gedra deur die lewenskragte van die “nee”-stem. Baie Europeërs wat nie die kans gegun is om hul standpunt in ‘n referendum uit te druk nie, het die Franse volmag gegee om namens hulle te stem!

    In die buiteland is hierdie “nee” deur sommiges vertolk as `n verswakking van Europa teenoor die Verenigde State wat die groot Amerikaanse moondheid sonder teenwig laat. Hulle is verkeerd: die Grondwet sou die Unie toenemend gelykstel (veral op militêre vlak) met Washington.

    `n Nuwe situasie is geskep, waarin die waardes en reëls om gesamentlik in Europa te wil leef, platgevee word. Hierdie wil om te leef sou nie afgeskaal kon word tot `n totale afplatting in vryheid van kapitaalvloei, goedere, dienste en selfs persone nie. Vanuit hierdie oogpunt maak die “nee” van 29 Mei geen deure toe nie. Dit gun wel ruimte vir alle hoop.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=247
Artikel nagegaan:
    -