|
||||
Joernaliste wat hulle besig hou met wie die nuusmaker van die jaar behoort te wees, sou tot op hierdie stadium van die jaar 2005 nie veel verder as die ANC self hoef te soek nie. In die elfde jaar van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie handel vele van die nuusbrandpunte tot dusver vanjaar oor die siel van ANC self – om nou na een van hierdie nuusbrandpunte te verwys, William Mervin Gumede se Thabo Mbeki and the Struggle for the Soul of the ANC. Een van die talle ironieë hiervan is dat, ofskoon die struggle-jare steeds met groot effek vir massamobilisasie deur president Mbeki en die leierskap van die ANC ingespan word, die hantering van die mag van die koloniale staatstruktuur in Suid-Afrika besig is om die eintlike struggle na die ANC self te verskuif. Enkele voorbeelde hiervan sedert November verlede jaar sluit in: die botsing tussen emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en president Thabo Mbeki, wat die vraag oor die ware omvang van `n oop nasionale debat buite en veral binne die ANC aan die orde gestel het; die wyse waarop mnr. Andile Ngcaba, voormalige direkteur-generaal van die Ministerie van Kommunikasie en mnr. Smuts Ngonyama, kommunukasiehoof van die ANC, groot munt geslaan het uit die privatisering van Telkom, wat die vraag oor die verhouding tussen ANC-binnestanderskap en omvattende swart ekonomiese bemagtiging (of die gebrek daaraan) sentraal gestel het; so ook die beweringe rondom Imvume wat effektief R18 miljoen se belastingbetalersgeld verlede Desember aan die ANC sou oorbetaal het, tot die muilbanding van die Mail & Guardian die eerste maal sedert 1994 gelei het, en die vraag na die verhouding tussen party en staat opnuut aan die orde gestel het, om oor hernude mediasensuur maar te swyg. En nou kom die dilemma rondom adjunkpresident Jacob Zuma nà die skuldigbevinding van sy (voormalige?) “finansiële adviseur”, mnr. Schabir Schaik. Volgens regter Hillary Squires was daar sprake van `n “algemene korrupte verhouding” tussen Schaik en Zuma. Indertyd is die slagordes vir en teen mnr. Zuma opgestel, en het onderdele van die Zuma-dilemma nou na vore getree. In die eerste plek het president Mbeki se omstrede besluit enkele jare gelede om die nou bykans vergete dog hoogs bekwame oud-regter Willem Heath se ondersoekeenheid te sluit, nou by hom kom spook. Toe die Heath-eenheid destyds gesluit is, was daar sterk aanduidings dat dit te make had met die moontlike skadu wat dié eenheid in sy ondersoek van die wapenskandaal oor mnr. Zuma kon werp. Volgens Gumede was verhoudinge tussen Mbeki en Zuma in daardie stadium nog eersteklas, juis omdat Zuma nie presidensiële ambisies had nie, sodat `n mens kan spekuleer dat Mbeki Zuma wou beskerm teen verleentheidswekkende onthullings oor moontlike korrupsie. Enkele jare later het aspekte van daardie moontlike korrupsie nou aan die lig begin kom, ofskoon Mbeki nou in `n veel swakker posisie as destyds is om teen Zuma op te tree. Met ander woorde, soos met Vigs, Zimbabwe en ander sake het president Mbeki nogmaals vir homself `n yslike krisis geskep. In die tweede plek – om nou nóg `n spook uit die verlede by te haal – het die moontlike afdanking van mnr. Zuma potensieel ernstige implikasies vir die brose vrede in Kwazulu-Natal. Terwyl Mbeki juis in die begrotingsdebat oor sy pos op 25 Mei in die parlement die gevaar van etniese mobilisasie onder die Zoeloes as een van drie “foutlyne” in ons demokrasie uitgesonder het, het die aardkors rondom hierdie “foutlyn” intussen heelwat verhit. Die feit van die saak is dat die bloedige semi-burgeroorlog gedurende die 1980’s en 1990’s in Kwazulu-Natal – waaruit die ANC op dubbelsinnige wyse sterker as voorheen teenoor die IVP na vore getree het – onder meer weens die uiteindelike vredemakersrol van mnr. Zuma beëindig is, ofskoon sporadiese konflikte intussen onheilspellende tekens is dat die potensiaal vir groter hernude intra-etniese geweld nog glad nie iets van die verlede is nie. Zuma was tot dusver sentraal in die ANC se werwing van steun onder Zoeloes daar te lande, en ook `n belangrike figuur waarmee Zoeloes in die regering kon identifiseer. Ofskoon die sogenaamde “Xhosa Nostra” in die ANC oor die algemeen oorskat word, bestaan die persepsie dat daar so iets is weldeeglik, en kan die afdanking van Zuma baie maklik tot hernude vervreemding onder Zoeloes lei. Die feit dat koning Goodwill Zwelithini die afgelope Maandag ook sy steun aan Zuma toegesê het, sal ook nie juis help om Mbeki se onrus oor dié “foutlyn” in ons demokrasie te besweer nie. In die derde plek is daar natuurlik die heftige interne debat oor Mbeki se opvolger. Soos Gumede in sy boek aantoon, het Mbeki inderdaad die afgelope jare die SAKP en Cosatu die harnas ingejaag, waarop Zuma indertyd gekapitaliseer het deur by die een na die ander vakbondkongres op te tree, en veel meer beskikbaar as Mbeki te wees. Op die koop toe is daar ook nog onrus onder die jongelinge, met die ANC-Jeugliga self wat ook hulle steun aan Zuma toegesê het. Om Zuma af te dank, gaan ongetwyfeld die druk op die driepartyalliansie asook binne die ANC self verhoog, sodat Mbeki dalk met nie net `n onvoorspelbare opvolgingstryd te kampe gaan hê nie, maar met `n breuk in die alliansie – hoewel `n mens laasgenoemde waarskynlik eers gaan sien na die perde horings gekry het. In die vierde plek – en dit is waarskynlik die moeilikste van Mbeki se dilemmas – moet hy aanstaande maand die sleutelgeleentheid van die G8-beraad by Gleneagles in Skotland bywoon, waar hy en Tony Blair onder meer gaan probeer om groter Westerse steun vir Afrika te werf. As hy daar opdaag met Zuma nog in sy amp, gaan dit vir Mbeki net soveel moeiliker wees om ernstig oor sy stryd teen korrupsie en vir regstaatlikheid gesien te word. Trouens, waar sy geloofwaardigheid as demokratiese pleitbesorger vir Afrika reeds `n knou met Zimbabwe weg het, is dit moeilik om te sien hoe hy hierdie ronde met Zuma steeds in sy amp gaan oorleef. Die Zuma-dilemma lê egter nóg `n foutlyn bloot, naamlik een in Mbeki self, te wete sy voorkeur vir die elites bo die gemeenskap. Terwyl Zuma `n slag met die mense op voetsoolvlak het, is Mbeki die intellektueel besig met hoë magspolitiek ver van die massa. Dit is juis hierdie gaping wat Zuma meesterlik uitgebuit het, in so `n mate dat Mbeki se Afro-nasionalistiese projek nou in die moeilikheid is by die einste elites van die wêreld aan wie hy dit so graag wil verkoop. Dit ly geen twyfel nie dat, as Zuma in sy amp voortgaan, dit vir Suid-Afrika se aansien as leidende Afrikaland `n harde slag sal wees. Hierdie keiharde politieke feit laat Mbeki tussen al hierdie dilemmas met miskien net een moontlike uitweg: dat Zuma “self” bedank. |